Armoria academica
http://www.oocities.org/wapenskild

LAERSKOOL MOREGROVE / MOREGROVE PRIMARY SCHOOL, Cotswold-uitbreiding, Port Elizabeth.

Laerskool Moregrove

Wapen 19 Junie 1989 met die Buro vir Heraldiek geregistreer, wapenbrief No 2060. Die blasoen (Afrikaanse teks) lui:

Wapen: In blou, binne-in ’n silwer ring, ’n rooi skyf belaai met ’n vlieënde silwer duif, die geheel binne ’n skildsoom, ook van silwer.

Wapenspreuk: Officium valeat.

Oor die wapen:
’n Ongerymdheid in hierdie blasoen is die kleur van die skyf, wat rooi genoem word, maar wat op die wapensertifikaat aangetoon word as maroen of donkerrooi (’n kleur wat in die Engelse heraldiektaal murrey genom word, en wat moerbeikleur beteken). Die woordeboek is onbehulpsaam, want die Engelse kleurnaam maroon word daar aangegee as kastaiingbruin, maar in werklikheid is dit meer rooi as bruin.

Die skool se kleure is blou, wit en maroen – en was daardie drie kleure lank voordat die wapen geregistreer is – en dit wil voorkom asof die skool miskien ’n verbeterde wapensertifikaat mag aanvra.

Die wit duif[1] is tradisioneel ’n simbool van vrede, en van Gods seën. Die skool verduidelik die keuse daarvan as aansluiting by die omgewing waar die skool geleê is, waar die strate almal voëlname het.

Die wapenspreuk of leuse, Officum valeat, vertaal as: “Doen jou plig.”

Oor die skool:
Laerskool Moregrove is ’n parallel-medium koëdukasie-laerskool (Grade 1 tot 7 of, volgens die ou Kaapse sisteem, Sub A tot St 5). Dit sluit ook pre-primêre klasse in.

Die skool is vanaf Januarie 1970 opgerig om leerlinge in die destyds nuut gestigte dorpsgebied Cotswold-uitbreiding te dien, noord van die N2-deurpad.

In 1971 is twee voorgestelde name vir die skool aan die Port Elizabethse Skoolraad voorgelê, en is die naam van die plaas waarop die dorpsgebied uitgelê is, gekies. Die ander naam wat voorgelê is, was Alouette, maar die ouers het Moregrove verkies.

Saam met mnr W C Nel as skoolhoof, het die personeel uit ses lede bestaan, en was daar 103 leerlinge: 47 Engelssprekend, en 57 Afrikaans.

In die begin het die skool nie sportgeriewe gehad nie, en ’n reëling is gemaak dat die kinders die sportterrein van die Laerskool Cotswold kan gebruik. Mettertyd het die Moregrove-skool uitgebreide sportgeriewe ryker geword.

In 1972 is die voël in vlug as skoolwapen gekies. Gordyne vir die skoolsaal is gekoop, waarvan die kleur maroen was.

In 1973 is die skool toestemming gegee om pre-primêre klasse aan te bied, en sulke klasse het in ’74 begin.

Teen 1976 het die skool meer as 300 leerlinge gehad, en in 1978 was dit 353.

In 1988 is die skoolwapen, tesame met die leuse, deur die Buro vir Heraldiek aanvaar. Die jaar daarop is die wapensertifikaat ontvang en formeel aan die skool gepresenteer.

Die skoollied is ook in ’88 in gebruik geneem. Die digter-komponis was Crescendo-wenner Greta Delport, wat destyds musiekonderwyseres was op die Hoërskool Andrew Rabie.

In 1991 is met ’n junior pre-primêre klas begin (vyfjariges).

Ook in 1991 is dit ingesien dat die twee laerskole, Cotswold en Moregrove, moet saamsmelt. Die Voorbereidende Skool Cotswold (ook parallel-medium) is egter uit hierdie onderhandelinge uitgesluit. (Die drie skole se persele het ’n driehoek gevorm van minder as ’n kilometer in lengte.)

Die uitkoms van die onderhandeling was dat die twee laerskole een geword het, en in Januarie 1992 het die kinders van die Cotswold-skool vanaf hulle skoolgeboue met die voetbrug oor die N2 gestap om by Moregrove aan te sluit. Die geboue van die Cotswold-skool het later die perseel geword van die Northern Lights-skool.

In 1993 het die skool onder die sogenaamde Model C-instelling vir die eerste maal leerlinge toegelaat wat nie uit die blanke bevolkingsgroep was nie. Vir meer inligting oor Model C, kyk hier. Die jaar daarop was die skool se toelating volgens die landswet nie meer op ’n rasse-basis nie.



[1] In Engels word daar onderskei tussen die groot duifspesies, wat pigeon genoem word, en die kleineres, wat die naam dove dra. Die wit duif is egter ’n witgeveerde pigeon, eerder as ’n dove.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: inligting en illustrasies deur die skool voorsien


    Terug na skole-indeks

    Terug na Armoria academica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle