Elwe en Feë
Dr Margaret A Murray
deur Ælf
DIE enigste inligting wat ek oor dr Murray het, is wat gevind het in haar drie boeke: The Witch Cult in Western Europe, The Horned God en The Divine King in England, almal deur die Oxford University Press uitgegee.
Hulle is rewolusionêr, en verdien om beskou te word as seminaal in die benadering van ’n tydperk toe die heidendom ’n werklike rol gespeel het in die samelewing van Wes-Europa. Instede daarvan raak die boeke op die bibliteekrakke stowwerig en die wêreld ignoreer hulle.
Die enigste eksemplare van hierdie boeke wat ek ooit gesien het is die volumes wat ek sowat 30 jaar gelede uit biblioteke in Pretoria geleen het. Ek het hulle nêrens anders raakgeloop nie, en hulle boodskap is vanuit die gesamentlike bewustheid uitgevee.
Psigiaters en sielkundiges verkies om die houding te neem dat hekse en toordery ’n waan of delusie is wat kenmerkend is van geestelike versteuring.
Die woord “heks” word gebruik om geheel en al onverwante verskynsels uit ander kulture te vertaal, wat verder die gedagtes daaroor verwar.
Tegelykertyd glo ’n groeiende getal mense dat hulle die geheime van die heksegodsdiens herontdek het, en kom hulle bymekaar om die seisoene van die heidense almanak te vier. Veral in die Verenigde State verwag hulle dat werkgewers hulle uit die werk sal vrymaak weens ’n “godsdiens” of “religie” wat sommiges Wicca noem.
Daar is ’n beweging (weereens veral in die Verenigde State) wat die houding inneem dat die heksevervolgings in Massachusetts sowat drie eeue gelede – en die Middeleeuse vervolgings wat hulle met verdere eeue voorafgegaan het – ’n verskynsel was waarin die vooroordeel van Bybel-beheptes van geslote en verwronge gedagtes ’n hoofrol
gespeel het, die vervolging van onskuldiges wat niks ergers gedoen het nie as
om seksueel die perke te oorskry deur om vergaderings by te woon wat die Kerk
nie goedgekeur het nie.[1] (Daar is ook diegene wat die bestaan van heksevergaderings in hierdie verband ontken.)
Baie mense wat behoort om van beter te weet leef in ’n verbeeldingswêreld waarin eina-klein magiese kreature in hulle tuine leef, wat hulle dan feë noem.
En die woorde elf, feë (of dikwels die neerhalende “feëtjie”), dwerg, heks en towenaar word in fantasieverhale gebruik – waaronder sommige, maar geensins almal nie, wonderbaarlik vertel word – met betekenisse wat geheel en al geskei is van die realiteit waarin die gebruik daarvan ontstaan het.
[1] Ek besit tans geen inligting
oor die heksevervolgings in Massachusetts nie, maar die verskynsel van die
Middeleeuse vervolgings sal in hierdie bladsye bespreek word.
For English, click here
Terug na hoofbladsy vir Elwe en Feë
Skryf vir my:
Ælf