Elwe en
Feë
Die mag van name
deur Ælf
IN
die verlede was name iets van geweldige belang. Die naam van ’n pasgebore kind
is met groot sorg uitgekies; ’n heiden wat in die Kerk gedoop is het ’n nuwe
naam gekies.
In die tyd van die Rigters het baie
Israeliete name aangeneem wat na heidense gode verwys het, want hulle het beide
God Almagtig en die vele gode en godinne van Kanaän aangebid. Gideon was onder
die naam Jeroebba’al[1] (’n verwysing na een van die Kanaänitiese gode wat ba’alim genoem is) bekend totdat hy met die Here ’n ontmoeting gehad het, waardeur hy geroep is om sy stam, Manasse, teen Midianitiese rowers te lei.
Toe die farao Amenhotep IV sy naam na
Agenaton verander het, het hy daardeur ’n rewolusonêre verandering
gesimboliseer: hy het die vele ou gode (waaronder sy naamgod, Amon) laat vaar
ten gunste van ’n enkele god, Aton. Die reaksie van sy volk teen hierdie
verandering het uitgedraai in die moord op sy skoonseun Tutangaten (wat onthou
word onder sy politheïstiese naam, Tutangamun II) en die herinstelling van die
politheïsme in Egipte.
Die name van vele heidense gode was
geheim gehou, en ’n aanbidder van ’n spesifieke god of godin is slegs daardie
naam vertel toe hy of sy in die spesifieke kultus geïnisieer is.
Die digter Robert Graves, in sy boek The White Goddess, herkonstrueer ’n gebeurtenis in prehistoriese Brittanje toe ’n sekere indiwidu beheer verkry het oor die belangrikste kultiese tempels van Brittanje deurdat hy korrek die naam geraai het van die god of godin waaraan elkeen toegewy is.
’n Meer onlangse boek, The Real Camelot,[2] herkonstrueer soortgelyk prehistoriese gebeure in Brittanje en kom tot die gevolgtrekking dat ’n vereniging van die kultusse van Brittanje – soos ek dit lees, dieselfde gebeurtenis wat in Graves se boek beskryf word – uitgedraai het in die vestiging van die reeds bestaande tempel te Stonehenge, op die vlakte van Salisbury in Wiltshire, as die hoof-kultussentrum van Brittanje.
Die moderne naam van daardie tempel
dui op die kenmerkende klipsirkel – wat heel waarskynlik opgerig is as ’n soort
observatorium waardeur die dae van spesifieke feestye bepaal kon word – wat
bestaan uit monoliete wat uit Wallis hul oorsprong het. Een van die raaisels
van Stonehenge is hoe daardie rotse vanaf die Prescelly-gebergte in die
eermalige Pembrokeshire, in Wallis, na Wiltshire gedra is.
As ons weer na name kyk, het Edward
Perronet ons hierdie onsterflike woorde gegee:
All hail the power of Jesu’s Name!
Let angels prostrate fall;
Bring forth the royal diadem
To crown Him Lord of all.
So magtig dat die engele neerval – ’n
geweldige eienskap vir ’n naam (of dan eerder die Goddelike Naam).
Deesdae word name nie meer met sulke
agting bejeën nie. Ouers gryp ’n naam uit nêrens uit vir ’n kind (of voeg hulle
brokkies van onverwante name saam), en vind hulle dan jare later uit dat dit ’n
betekenis het wat hulle nie in gedagte gehad het nie.
Die name in die Harry Potter-boeke is
in sekere opsigte baie soos hierdie verskynsel. ’n Mens sou beslis nie dink dat
jy te doen het met ’n geselskap evangeliese Christene nie. Hulle gegewe name is
vreemd: Rubeus Hagrid, Godric Gryffindor, Hilda Hufflepuff en Albus Dumbledore, om slegs enkeles te noem.
Daar is wel een naam wat met
bygelowige vrees beskou word as iets wat nie genoem moet word nie: Voldemort.[3] Maar nog Harry nog Dumbledore het enige vrees vir die noem daarvan; dit is slegs ander hekse wat met ’n ompad na hom verwys as He Who Must Not Be Named.
Daar is ook geen duidelike ondertoon
van enige ander godsdiens as die Christelike Geloof in Rowling se skryfwerk.
Terwyl die geloof van regte hekse
werklik ’n religie is, is daar in J K Rowling se boeke glad geen religieuse
aspek nie. Me Rowling is ’n kind van wat dikwels die nà-Christelike tyd genoem
word, waar agnostisisme ’n norm is en ateïsme amper so vreemd is as
godsdienstigheid.
Een van die einaardigste dinge oor die
lewe op Hogwarts is dat Sondag glad geen betekenis het nie. Tradisioneel was
Britse kosskole kerk-gesentreerde inrigtings waar die kapel die spil was waarom
die skoollewe gedraai het, en was Sondag die dag wie se godsdiensoefeninge
toonaangewend was vir die res van die week.
Was Me Rowling se boeke werklik oor
die heksereligie (waarvan glad niks genoem word nie), sou daar daarin die een
of ander verskynsel wees van kultiese aktiwiteit. (Die enigste kultiese
aktiwiteit waarna daar slegs verwys word – en nooit reguit uitgespel word nie –
dit is van Voldemort se volgelinge, die Death Eaters.)[4]
Wat is Sondag dan in Harry Potter se lewe? Bloot ’n dag wanneer daar geen skool is nie, en die leerlinge en
personeel van Hogwarts hulself kan vermaak, of aan hulle studies wy.
’n Wyd verspreide maar anonieme
artikel deur ’n persoon wat voorgee dat sy ’n heks was voordat sy haar lewe aan
Jesus Christus gewy het, vertel so oor jong Potter se voorstelling aan die
skoollewe (volgens my vertaling):
“Harry leer ook ’n nuwe woordeskat,
met inbegrip van woorde soos Azkaban, Circe, Draco, Erised, Hermes, en
Slytherin; almal waarvan die name is van regte duiwels of demone.”
Die skrywer gee geen bronne vir
hierdie lys name; sy ritsel dit maar net af. Azkaban, sal Potter-lesers weet,
is die towenaar-tronk; Draco is die voornaam van die jong Malfoy, wat vir Harry
so verpes; die Spieël van Erised staan in ’n afgeleë kamer van die kasteel op
Hogwarts; en Slytherin is die naam van een van die vier huise waaruit die skool
bestaan.
Terwyl ek sit en skryf kan ek nie dink
wie of wat Circe en Hermes in die boeke is nie, maar die name is bekend uit Griekse legendes: Circe ’n towenaares, en Hermes ’n god of demi-god.
Ek is vertel dat die ander name op ’n
lys verskyn wat deur ’n waansinnige non voorsien is, as behorende aan demone
wat haar besoek het.
’n Mens kan skaars so iets as
gesaghebbend neem vir demoniese name, maar dit moet ten eerste genoem word dat
demone gevalle engele is: die engele wat vir Luciferus gevolg het tydens sy
rebellie teen die Skepper. Tweedens is daar vele verskillende lyste van die
name van engele sowel as demone, om nie eens te praat van soortgelyke lyste van
die tipes engele en demone.
Ek is tot die gevolgtrekking gedwing
dat hierdie name in die wêreld van Harry Potter glad nie sulke betekenis het
nie. Om ander redes ook glo ek dat Me Rowling se boeke glad nie so gevaarlik is
as wat vertel word nie, en ek sal hierdie aspekte in verdere artikels
aanspreek.
[1] Hierdie naam word gewoonlik in Afrikaans as Jerubbaal geskryf. Maar die Afrikaanse neiging is verkeerdelik om die letter U met ’n Ü-klank uit te spreek, in plaas van as OE; en om die letters AA as enkele klank te beskou, waar die twee A’s in werklikheid deur ’n breek geskei word.
[2] The Real Camelot: Paganism and the Arthurian Romances, deur John Darrah (Thames and Hudson).
[3] Hierdie naam, wat met sulke vrees bejeën word, word in boek 2, Harry Potter and the Chamber of Secrets, as niks meer bewys as ’n herrangskikking van die letters in die naam van ’n Hogwarts-leerling.
[4] Die rituele van hierdie dissipels van die bose kan vergelyk word met die religie wat nooit werklikheid geword het nie, die nazi-geloof wat Heinrich Himmler veronderstel was om op te trek, maar hy het dit nooit gedoen nie.
For English, click here
Terug na Elwe en Feë se hoofbladsy
Skryf vir my: Ælf