Elwe en Feë
Woordelys
’n Lys woorde
en die betekenisse daarvan wat hoofsaaklik in hierdie bladsye gebruik word.
Christelike Geloof / dertiental / feë / heks / imp / kat / Indo-Europees / oermense / witchcraft
besem, besemstok: hekse word konvensioneel aangetoon waar hulle in die lug rondsweef, waar
hulle op outydse stokbesems sit met die stokke agtertoe. Margaret A Murray maak
dit duidelik dat hekse, terwyl hulle op pad was na heksevergaderings (kyk dertiental), slegs in hul togas geklee sou wees, en met ’n besem tussen die bene sou stap. Op die besemstok is ’n dwelmmiddel gesmeer en die stok self het as leweringsmeganisme gedien. Die uitwerking van die dwelm was dat die heks die gevoel gekry het dat sy gevlieg het, terwyl sy steeds gestap het. Hieruit is dit duidelik dat die Harry Potter-films, met hulle sekwensies wat Quidditch-wedstryde aantoon, belaglik onmoontlik is.
brownie: Engelse woord,
gewoonlik as kabouter in Afrikaans vertaal, wat konvensioneel gedefinieer word
as ’n klein feetjie wat veronderstel is om snags hulpsame werk te doen, veral
huishoudelike take. Die American Heritage Dictionary stel dit so:
“The sprite was thought of as ‘a wee brown man’ ” – in werklikheid was dit ’n
klein bruinerige persoon, ’n fee (kyk). Die naam kom daarvandaan dat feë kleiner was en donkerder velle gehad het as Indo-Europeërs. Die “hulpsame feetjie” kon miskien ’n fee gewees het wat vanself besluit het om in ’n Christen-huishouding behulpsaam te wees, maar die moontlikheid bestaan ook dat hy op die een of ander wyse verslaaf was.
Christene: Volgelinge van die Geloof van Jesus Christus; in Middeleeuse Wes-Europa amper sonder uitsondering Rooms-Katoliek[1] en amper uitsluitlik Indo-Europeërs (kyk).
dans: heksevergaderings
het kenmerkend danspassies ingesluit. Waarskynlik hierom het die Kerk van tyd
tot tyd (en in verskeie plekke) dans verbied, alhoewel dit nie in die Skrif
verbied word nie. Koning Dawid het, in ’n efod geklee, voor die Verbondsark
gedans. (2 Samuel 6) Baie van die
dansstyle wat oor die afgelope vier of vyf eeue vanuit Europa self aan die
Christelike samelewing van Europa ingebring is (onder andere die wals) was van hekse-herkoms, en is in werkliheid heksedanse genoem. Aangesien geen substansie van die heksegeloof op hierdie manier aan die Christelike samelewing oordgedra is nie, is dit moeilik om in te sien watter skade dit kan aanrig.
dertiental: ’n
vergadering van 13 hekse. Heelwat bygeloof word as gevolg hiervan aan die
nommer 13 gekoppel. Dit dien egter opgelet te word dat daar tydens Jesus
Christus se Paasmaal op die vooraan van sy kruisiging 13 mense by was. ’n
Dertiental kan ook ’n heksevergadering genoem word, in Engels heet dit ’n coven
(kyk).
Duiwel: ’n woord wat nie
deur hekse self gebruik is nie, maar wat in die rekords van heksevervolgings
voorkom. Die hekse sou na die hoof, of priester, van hul dertiental verwys deur
om die naam van die god wat hy verteenwoordig het, te noem. Die ondersoekende
(Roomse) priesters het geweier om die naam van enige heidense god uit te spreek
of neer te skryf nie, en sou in plaas daarvan die woord “Duiwel” (of die
ekwivalent daarvan) gebruik. Indien ’n buitestaander in gewone gesprek van die
god sou praat wat plaaslik aanbid is, sou die gevolg hê dat dertientallede
hierdie inligting vir hul priester sou aangee, wie dan die persoon wat van hom
gepraat het, sou gaan besoek. Dit is hiervandaan dat die uitdrukking “Praat van
die Duiwel” ontleen is.
elf: ’n edellike fee (kyk); ’n feekoning of koningin. Hulle is so genoem weens die wit klere wat hulle habitueel gedra het. Die woord bestaan ook in Nederlands; die etimologie wat ek kon naspoor fokus egter op vroeëre gebruik in Engeland. [Middel-Engels elf; Oud-Engels ælf;[2] van Indo-Europese albho- (wit)]
fee: ’n lid van ’n Europese oer-gemeenskap, wat ’n heidense godsdiens of religie beoefen het. Die woord het ’n selfstandige bestaan in Afrikaans en Nederlands, maar die ontlening daarvan het ek nog nie opgespoor nie. Die aantekeninge wat volg is van toepassing op die Engelse ekwivalent, fairy. [Middel-Engels fairie. Die American Heritage Dictionary vind die herleiding in die Oud-Franse faerie, faierie (betowering), van fae (fee), en op sy beurt van Latyns fata (die skikgodinne), enkelvoud van fatum (lotsbestemming). Margaret A Murray vind meer van ’n konnotasie met fearie, iemand wat bevrees is.]
heks: ’n volgeling van
’n heidense godsdiens, veral een wat uit ’n Indo-Europese samelewing daartoe
gewerf is; ’n lid van ’n dertiental (kyk). Die woord is die Nederlandse ekwivalent van die Duitse Hexe, die ontleding waarvan tussen hakies verskyn. [Middelhoogduitse hecse, häxe, waarskynlik van Oudhoogduitse hagazussa, hagzissa, en van Indo-Europees kagh-, die betekenis waarvan verband hou met om vas te vat of te vang, ook met “heining” en “vlegwerk”. Kyk ook witch]
imp: Engelse woord wat huidiglik konvensioneel gedefinieer word as ’n rakker, klein ondeug of vabondjie, of in ’n ouer sin ’n duiweltjie of duiwelskind; sy argaïese betekenis is ’n oorentsel. Onder hekse was ’n imp nie ’n mens nie, maar ’n dier wat vir goëlary of divinasie gebruik is, dikwels ’n padda of ’n kat (kyk). [Middel-Engels impe, (ent, afstammeling of kind); Oud-Engels impa (lootjie, boompie), van impian (om aan te ent) (ontleen uit Latyns en Grieks)]
Indo-Europeër: ’n woord
wat in die moderne tyd geskep is, en wat soms voorkom as Indo-Germaans.[3] Dit dui op die verspreiding van die tale wat spruit uit ’n stamgroepering wat aanvanklik oor die steppe gewandel het, maar wat daarna beide Europa (en so ver noord-oos as Ysland) en die streke wat ons tans as Turkye, die Kaukasus, Iran, Afganistan en die Indiese subkontinent ken (sover suid as Sri Lanka) ingeval het. Dit dui ook op ’n rassetipe, langer in die lyf en met ligter velkleur as die oermense (kyk) wat in hierdie streke aangetref is.
kat: wat ’n mens vandag ’n huiskat sou noem, van die spesie Felis catus (of Felis domesticus); in die Middeleeue ongekend in Christen-huishoudings. Dit is eers onder die Egiptenare van die woestynkat Felis lybica makgemaak. In Middeleeuse Wes-Europa is hulle uitsluitlik deur hekse aangehou, as fokus vir waarsêery of divinasie (kyk imp); Christene was bygelowig bang vir hulle.
oermense, oerinwoners: Hierdie woord word hier gebruik om volkere aan te dui wat Europa (en ander streke waar Indo-Europeërs [kyk] hulself gevestig het) bewoon het vóór die koms van Indo-Europese invallers. Ons het min kennis van hulle rasse-herkoms of verskeidenheid, maar dit lyk asof hulle amper sonder uitsondering korter was en van donkerder velkleur as die invallers. Baie van hulle het ook sterk by hul eie heidense godsdiens gebly, asook ’n eiesoortige kleding, en ander praktyke en gedagterigtings wat vreemd was vir die Indo-Europeërs, veral nà die koms van die Christelike Geloof (kyk). Hierdie oermense was in werklikheid die feë (kyk).
ogre: hierdie Engelse
woord word konvensioneel gedefineer as “a fabled man-eating giant or monster”,
en in Afrikaans vertaal as “mensvreter” of “wreedaard”. Die American
Heritage Dictionary herlei die woord uit Frans, en waarskynlik van Orcus, Romeinse god van die onderwêreld, ontleen. Die Encyclopædia Britannica stel dit egter dat dit ’n korrupsie is van Hungar of Magyar,[4] en assossieer dit met die berugte wreedheid van hierdie invallervolk uit die steppe.
pixy, pixie: Engelse
woord konvensioneel gedefinieer as ’n klein feeagtige of elwe-kreatuur, van
onsekere herkoms. Hierdie woord is ook gebruik om mense van die fee-ras (kyk) aan te dui.
warlock: Engelse woord wat
konvensioneel gebruik word om ’n manlike heks (kyk), ’n towenaar of ’n demoon aan te
dui. Dit is nie deur Middeleeuse hekse gebruik nie, en die gebruik daarvan deur
Christene is as beledigend en verdoemend beskou. [Middel-Engels warloghe,
Oud- Engels wærloge, eedbreker (van wær, trou of belofte)]
Wicca: konvensionele naam
vir ’n kultus wat homself voorgee as ’n herlewing van Middeleeuse heksery (kyk witchcraft) of heksereligie, wat tans in die Verenigde State as ’n godsdiens erken word. Aangesien baie van die geheime van die Middeleeuse heksekultus saam met die beoefenaars daarvan uitgesterf het, is dit te betwyfel of moderne Wiccans, soos hulle hulself noem, in werklikheid veel van die religie (en toordery) van Middeleeuse hekse beoefen.
witchcraft: hierdie
Engelse woord is heelwat meer omvattend as die woord “heksery”. Dit word
konvensioneel gedefinieer as “swart toordery” of as “’n magiese of
onweerstaanbare invloed, aantreklikheid of aanloklikheid”. Dit omhels die hele
praktyk en kennis (Engels “craft”) van hekse (kyk), met inbegrip van hul orgiastiese religie. Voorstaanders van sogenaamde “white witchcraft” onderskei tussen hulle eie heilsame praktyke en dié van “swart hekse”. Die sogenaamde “wit toorkuns” behels egter ook handelings met geeste en ander sake wat in die Skrif aan Christene en Jode verbied is.
wizard: Engelse woord wat
towenaar (towernaar) beteken; in Engels ook dikwels gebruik om ’n manlike heks
(kyk) aan te dui. Die ouer betekenis is ’n wysaard. [Middel-Engels wysard; van wys, wis (wys of slim)]
[1] Daar was etlike uitsonderings hierop:
Die Baske – die etniese
groep wat die langste in Wes-Europa tuis is, wie se taal glad nie verband hou
met Indo-Europees nie en wie se bloedtipes selfs anders is – is vroeg reeds tot
die Christelike Geloof bekeer.
Die koningsfamilie van die Pikte van noord-Skotland is ook as Christene bekeer. Maar dit is heel waarskynlik dat die enkele Pikte wat in Engeland oorgebly het, ’n belangrike deel gevorm het van die feë-gemeenskappe wat tydens die Middeleeue in daardie land aangetref is.
Die Jode was natuurlik nie
Indo-Europees nie (die taal- en etniese groep waaraan Hebreeus behoort is
Semities), maar het gewoonlik die taal aangeneem van die land waar hulle
hulself tuis bevind het. Hulle het tydens die Middeleeue in Brittanje en die
meeste van Frankryk ’n gemeenskap gevorm wat yl versprei is, en dikwels weens
vervolging gedwing is om te trek. Daar was egter in suid-Frankryk ’n
aansienlike Joodse gemeenskap wat daar gevestig is in die dae toe Narbonne deur
die More verower is, en wat verband gehou het met die Joodse bevolking van
Spanje en Portugal wat in die tyd van die Inkwisisie daaruit verdryf is.
[2] Die letter æ is in Oud-Engels (ook Angel-Saksies genoem) gebruik om ’n klank aan te dui wat soos die a in die Engelse woord apple klink. Die letter a is gebruik vir ’n klank meer soos die a in die Afrikaanse of Nederlandse appel, of die Duitse Apfel.
[3] Die Indo-Europese volkere van Europa was die Kelte, die Italiese en Helleniese volkere, die Germane en die Slawiese volkere.
Die Griekse taal (Hellenies) is deur die verowerings van Alexander die Grote dwarsoor die oostelike Middellandse See-gebied versprei, terwyl die Romeinse Ryk die Latynse taal (Italies) oor Wes-Europa versprei het, en wat die oorsprong was van die Romaanse tale: Portugees, Castiliaans (ook Spaans genoem), Catalaans, Frans (met inbegrip van Provençaal, Oksitaans en Franco-Provençaal), Rumantsch, Italiaans, Sardinies en Romanies.
Die Kelte sluit in die
Galliërs van die huidige Frankryk en noord-Italië, die Britte, die Bretonne en
die Iere (wat in die Klassieke tyd Scotti genoem is), sowel as groepe soos die
Helvetii van die huidige Switserland, die Boii van Boheme, en die volkere wat
hulle name gegee het aan Galisië in noordwes-Spanje, Galicja in Pole en Galasia
in Klein-Asië.
Die Germane het
ontstaan met die samesmelting van Indo-Europeërs met die oer-inwoners van ’n
land in die omstreke van die huidige Niedersachsen wat Falia of Dalia genoem is
(hierdie naam oorleef in die Duitse streeksnaam Wesfale). Hulle het verdeel in:
Die Wes-Germane,
voorouers van die Angel-Saksers (wat Brittanje binnegeval het), van die Franke
(vourouers van die Nederlanders en Vlaamssprekende Belge, en van die Germane
wat Gallië ingeval het en daar ’n ryk gestig het), en van die verskeie stamme
wat Duitsland, Oostenryk en Duits-Switserland bewoon het.
Die Oos-Germane (wat
die Romeinse Ryk vanuit die huidige Bulgarye aangeval het [hulle het aanvanklik vir Konstantinopel aangeval], en daarna deur die Balkane, Italië, suid-Gallië, Spanje en Noord-Afrika verwoesting gesaai het voordat hulle nedersetters geword het). Hulle het die Wes- en Oosgote asook die Vandale ingesluit.
Die Noord-Germane (die
Skandinawiërs [met uitsondering van die Finne], wat ook as Wikings bekend
gestaan het, en wat die Noormanne ingesluit het).
Ook Indo-Europees is die Sigeuners (wat hulself Rom noem; hulle taal is Romany), ’n wandelaarvolk van Indiese herkoms wat omstreeks 1000 nC in Persië was en daarna Europa binnegewandel het. Hulle was aanvanklik heidene (Hindoe), maar het later die godsdiens van hul gaslande aangeneem. (“Sigeuner” is uit Hongaars geleen; die name vir hierdie volk in verskeie Europese tale reflekteer ’n wydverspreide onkunde oor hulle herkoms.)
[4] Die Magyar of Hongaarse volk, wie se taal verwant is aan Fins, Esties en ander tale wat in die verre noorde van Rusland gepraat word (familie Finno-Oeghries, groep Oeral-Altaïes), het relatief laat in Europa aangekom en het tydens die 9de eeu in hul huidige tuisland aangekom, waar hulle inwonende Slawwe en Hunne verower het, maar het ook verder weg strooptogte gevoer, so ver as Bremen, Orléans en Konstantinopel. Hulle is later wel gekersten.
For English, click here
Terug na hoofbladsy vir Elwe en Feë
Skryf vir my: Ælf