VDG
Wat is ’n helmteken?
DIE antwoord op hierdie vraag is eenvoudig: dis daardie deel van ’n heraldiese wapen wat bo-op die helm verskyn – met ander woorde, dit is altyd heel bo.
In die samevoeging van die wapen as geheel, lê die helm bo-op die skild, en die helmteken is aan die helm stewig vasgemaak.
Swak heraldiese tekenings sal dikwels ’n helmteken toon wat bloot bo-op die skildrand lê, maar eintlik is dit die helm wat getoon moet word soos dit op die skild rus, met die helmteken daaraan vasgemaak. (Nog ’n fout wat soms gemaak is, is dat die helmteken bo die helm in die lug sweef.)
Middeleeuse ridders sou die helmteken aan die helm met boude vasmaak. Om die boude weg te steek, sou ’n ridder twee (soms drie, by uitsondering vier) stukke sykoord in die hoofkleure van sy skild, dit om die helmtekenbasis draai en vasbind.
Hierdie gedraaide sy, wat ’n wrong genoem word, sou dan aan die voet van die helmteken verskyn.
Indien die helmteken alleen (sonder die helm) as simbool van eienaarskap gebruik word, verskyn dit altyd met die wrong – met twee uitsonderings.
Die eerste uitsondering kom waar ’n helmteken so gedefinieer word dat dit uit ’n kroon oprys – gewoonlik ’n helmtekenkroon (in Engels, crest coronet), maar soms ’n vlootkroon (aan sekere uitblinkende vlootfamilies verleen) of ’n muurkroon (verskeie tipes word in verskillende lande se munisipale wapens gesien). Die kroon word dan aan die helm vasgebind, en die res van die devies spruit uit daardie metaalring.
So ’n helmteken verskyn met die kroon onderaan, in plaas van ’n wrong.
Die tweede uitsondering in Britse wapens is waar die helmtekens van sekere Skotse baronne en van enkele ou Engelse families nie op ´n wrong of kroon staan nie, maar op ’n heerlikheidsmus of chapeau. Dit word ook in Engels ’n cap of maintenance genoem.
Gewoonlik word die heerlikheidsmus eerder binne die kroon van ’n heer of koning geplaas. In so ’n geval word die mus dan ’n kroonmus genoem. Maar sulke krone verskyn gewoonlik bo-aan die skild, met die helm en helmteken daarbo. (Kyk die groot illustrasie onder die inskrywing wapen.)
Terwyl die meerderheid wapens in lande wat die tradisies van Wes-Europe helmtekens insluit, is daar ook veel wapens wat die helmteken nie insluit nie. Die wapen-inskrywing gee twee voorbeelde, altwee van deviese wat deur die College of Arms verleen is.
Binne Wes-Europe is daar egter een land wat ’n uitsondering is op die universaliteit van helmtekens: dit is Frankryk. Oor die afgelope vier eeus of wat, het helmtekens feitlik geheel en al uit die heraldiek van daardie land verdwyn, en selfs families wat vroeër een gevoer het, het blykbaar vergeet dat hulle ooit so gemaak het.
Opmerkings, navrae: Mike Oettle