Armoria
http://www.oocities.org/armoria_frage

VDG

Wat is die regte taal vir ’n leuse?

Campbell

DIE beste taal vir ’n wapenspreuk of leuse is die een wat die beste die gedagte of sentiment uitspreek wat die wapen veronderstel is om oor te dra.

Gewoonlik beteken dit jou moedertaal, maar enige menslike taal sal dien. Eintlik sal selfs ’n fiktiewe (of buite-wêreldse) taal paslik wees indien dit aan genoeg mense sy betekenis oordra.

Leuses is dikwels nie iets waaraan heroute baie aandag gee nie. Die heroute van die College of Arms doen gewoonlik nie eens die moeite om die leuse in die blasoen, of tegniese beskrywing, van ’n heraldiese wapen in te sluit nie.

Die een uitsondering hierop is wanner ’n leuse (en dit kan een van twee of nog meer wees) deel van die skildontwerp uitmaak. Aangesien die skild nie gewoonlik die plek is vir bewoording – die Engelse heroute sluit gewoonlik bewoording slegs in die blaaie van ’n oop boek in – is dit ’n seldsame gebeurtenis.

Veral in England is ’n leuse iets wat na willekeur verander kan word. ’n Persoon sal ’n wapenverlening ontvang waarin die illustrasie een leuse illustreer. Die wapenvoerder[1] se seun mag miskien verkeis om ’n ander leuse te gebruik. Boutell[2] skryf (volgens my vertaling): “In Engeland is geen gesag nodig om ’n leuse te gebruik nie.”

In ander instansies sal ’n familie of dinastie dieselfde leuse oor die eeue heen behou.
Dieu et mon droit, die koninklike leuse van Engeland

Die leuse van die Plantagenet-konings van Engeland was Dieu et mon droit (“God en my reg”, wat Normandies-Frans is), en dit verskyn steeds in die Engelse weergawe van die Britse koninklike wapen.

Dit was blykbaar oorspronklik ’n strydkreet, en so ook die leuse van die Franse konings, Montjoye Saint Denis, wat bokant die pawiljoen in die koningswapen verskyn het.[3]
In defens, leuse van die Skotse konings

Die konings van die Skotte het In defens gekies (wat Latyns is), wat steeds in die wapen van Skotland verskyn, en in die Skotse weergawe van die wapen van die Verenigde Koninkryk. Ook met die Skotse kroon geassossieer is Nemo me impune lacessit (“Niemand skend my ongestraf nie”, ook Latyns), die leuse van die Orde van die Distel (Order of the Thistle), wat op die grond van die wapen van Skotland verskyn.

Die lakse Engelse benadering is egter nie universeel nie. Binne dieselfde eiland neem die Skotse gereg ’n ander houding. Fox-Davies[4] skryf spesifiek van Skotland (met verwysing na die praktyk van die Lyon-hof), en dan van Ierland[5] (weereens my vertaling):

wapen van Campbell, met die leuse ‘‘Fit via vi’’ oor die helmteken

“Die leuse word in die terme van die patent ingesluit, en word dus ook verleen. Dit word dus onvervreembaar behalwe in die geval van ’n hermatrikulering, en daarby spesifiseer ’n Skotse patent altyd die posisie waarin die leuse gevoer word. Dit is gewoonlik ‘in an escroll over the same’ (m.a.w. oor die helmteken), alhoewel dit by tye gestel word dat dit in ‘a compartment below the arms’ gevoer word.

“Die kwessie is in Ierland nie heeltemal dieselfde as in òf Skotland of Engeland nie. Soms word die leuse in die patent uitgespel – in werklikheid is dit tans wat gewoonlik gebeur – maar die reël is nie universeel nie, en in ’n sekere mate word die Engelse permissiwiteit erken. Miskien kan dit opgesom word in die opmerking dat indien enige leuse verleen is of met ’n spesifieke wapen in Ierland op rekord gestel is, word dit verwag dat dit die leuse is wat daarmee gebruik sal word.”

In Nederland sal wapendiplomas wat deur die Hoge Raad van Adel uitgereik is gewoonlik beide die lettersoort en die kleuring van ’n leuse spesifiseer – besonderhede wat, selfs in strenge Skotland, gewoonlik aan die keuse van die kunstenaar of die wapenvoerder oorgelaat word. Hieronder getoon is die leuse van die provinsie Zuid Holland, wat neergelê is met “Latynse” letters, rooi op goud.

Fox-Davies se kommentaar op Duitse gebruik lui so:

“In Duitsland word daar blykbaar onderskeid gemaak tussen hulle ‘Wahlsprüche’ (d.w.s. dié wat bloot deur persoonlike keuse aangewys word) en hulle wapenspreuke wat permanent en oorerflik aan die heraldiese wapen gekoppel word, soos die ‘Gott mit uns’ (‘God met ons’) van Pruise en die ‘Nihil sine Deo’[6] van Hohenzollern.”

Vigilate deo confidentes, wapenspreuk van die Nederlandse provinsie Zuid Holland

Ook in Duitsland vind ’n mens die verskynsel van wapenspreuke wat as voorletters uitgespel word, en selfs as raaisels. Voorbeelde wat Fox-Davies gee sluit in W G W (Wie Gott will – “Soos God dit wil” en W D W (Wie du willst – “Soos jy wil”), altwee waarvan algemeen voorkom. Hy noem ook nog een:

“Die vreemde maar welbekende alfabetiese of vokaal-leuse ‘A.E.I.O.V.’, van die keiser Frederik III is op verskeie maniere vertaal: ‘Aquila Electa Juste Omnia Vincit’ (‘Die uitverkore adelaar oorwin almal na regte’), ‘Aller Ehren Ist Oesterrich Voll’) ‘Van alle eer is Oostenryk vol’), of miskkien met meer waarskynlikheid, ‘Austriæ Est Imperare Orbe Universo’ (‘Die hele aarde is aan Oostenryk onderworpe’).

Maar om na die vraag terug te keer van watter taal ’n mens mag gebruik, of behoort om te gebruik, hang dit tot ’n groot mate af van waar ’n indiwiduele wapenvoerder vandaan kom of wat hy aan die wêreld wil oordra, of die gemeenskap wat deur ’n korporatiewe wapen verteenwoordig word.

Brooke-Little, in ’n voetnoot op Fox-Davies se teks, noem dit:

“Uit 125 leuses wat tussen 1965 en 1966 in gebruik geneem is, was 88 in Latyn, 25 in Engels en 12 in ander tale, vernaam Frans, Wallies en Grieks. Uit ’n gelyke getal leuses wat tussen 1822 en 1824 opgeneem is, was 105 in Latyn, 14 in Engels en 6 in ander tale, wat op ’n effense oorskakeling van Latyn na Engels, maar niks beduidends nie.”

Met betrekking tot vroue noem hy:

“Dit was blykbaar die gebruik om vir vroue leuses te ontsê. Die enigste voorbeeld wat ek gevind het van ’n vrou wat ’n leuse gehad het was dié wat aan barones Holland (Catherine, vrou van die H.Ed Henry Fox) toegewys is, toe sy 14 Mei 1762 skildhouers verleen is; maar op ’n manier is dit ’n swak voorbeeld, want die leuse Re E Marito aangewys is as vir die gebruik van houers van die adelstitel. Onlangs was daar blykbaar ’n verandering in die amptelike houding en, alhoewel ’n bevryde vrou steeds skild en helmteken[7] geweier word, sal miskien ’n saggeaarde aforisme op ’n lint onder haar ruitskild geplaas word.”

In Skotland vind ’n mens slogans[8] of oorlogskrete in Gaëlies, maar ook in Engels (standaard of dialek) en Frans (standaard of Normandies), asook formele wapenspreuke in Engels, Frans en Latyn. Dikwels sal ’n wapenvoerder beide oorlogskreet en formele wapenspreuk hê.

Kom ons kyk nou na Suid-Afrika. Hier het ons ’n groot aantal tale, alhoewel hierdie land in sy heraldiese gebruik geneig het om op Europese tale te fokus, òf lewende òf dooie tale.

In Oos-Kaap het die Hoër Tegniese Skool Port Elizabeth twee leuses saam met ’n onheraldiese wapen gevoer: “Doen dit nou” in Afrikaans, en die Engelse vertaling “Do it now.”

Enige van die twee kon aanvaarbaar gewees het, maar albei was te veel, en toe die skool ’n heraldiese wapen geregistreer het nadat dit sy naam verander het na Hoër Tegniese Skool Newton, het dit heel verstandig die leuse in Latyn vertaal: Nunc agita.

Dit is toe verduidelik as dat dit geverg is deur die reëls van die heraldiek, maar dit kan eerder gestel word dat die reëls van die heraldiek eenvoud verg, eerder as enige spesifieke taal.

Soos dit uitdraai was Latyn paslik omdat, in die verlede, dit ’n taal wat vir opgevoede mense uit beide die Afrikaans- en Engelssprekende sektore van die bevolking verstaanbaar was.

Deesdae het al hoe minder mense ’n kennis van Latyn, maar dit bly paslik, in baie gevalle, vir akademiese inrigtings, veral dié wat in beide Afrikaans en Engels onderrig gee.

Baie Afrikaanse skole, veral dié wat gestig is in die jare van intense Afrikaner-nationalistiese entoesiasme, het leuses in daardie taal, soos Handhaaf en bou (deur verskeie skole gebruik) en Blaas hoog die vlam (die leuse van die Hoërskool Despatch).

’n Leuse in die taal van die spesifieke gemeenskap waaraan onderrig gegee word is dikwels paslik, en as genoeg mense binne daardie gekeenskap dit verstaan, ’n ander taal, miskien uit Afrika.
sa k//?a: !aisi
?uisi, leuse van die Provinsie Noord-Kaap

Die Provinsie Noord-Kaap is bangerig oor die opneem van ’n nuwe naam, maar het vrymoedig ’n leuse uitgekies in ’n taal wat amper uitgesterf het,[9] dié van die /’Auni Boesmans van die Kalahari. Hierdie leuse, sa k//?a: !aisi ?uisi, is voorsien deur mev Elsie Vaalbooi, die laaste /’Auni-spreker wat leef.

Paslik genoeg vertaal die leuse as: “Strewe om ’n beter lewe.”

In 2000 het Suid-Afrika ook ’n Boesman-leuse, !KE E:/XARRA //KE, in gebruik geneem.

En aangesien die meerderheid Suid-Afrikaners sprekers is van die een of ander Bantu-taal, vernaamlik isiNguni en Sesotho, kan dit verwag word dat verskeie wapens in ons land leuses in daardie tale sal dra.
Ex unitate vires, leuse van die Unie van Suid-Afrika

Dit is tog ironies dat die leuses wat verskeie tuislandregerings in gebruik geneem het, vertalings was van die leuse van die Unie van Suid-Afrika, Ex unitate vires, al was dit in hulle eie taal.

Voorbeelde hiervan vind ons in die leuses van Transkei, Imbumba yamanyama (wat isiXhosa is), en QwaQwa, Kopano ke matla (Sesotho sa Borwa).

Nà die sukses in die rolprentwêreld van die Lord of the Rings-trilogie, sal dit glad nie verbaaslik wees om uit te vind dat wapenvoerders leuses aangeneem het in een of ander van die tale en alfabete wat J R R Tolkien uitgedink het, terwyl ander moontlik leuses mag neem van die volkere wat in die Star Trek-TV-reekse en -rolprente, soos die Vulcans en die Klingons.

Inskrywings in die runiese[10] karakters wat die Germane gebruik het vòòr die opneem van die Romeinse alfabet kan gebruik word, of in werklikheid enige alfabet.

Brooke-Little noem die gebruik van Grieks – blykbaar Klassieke Grieks – maar Moderne Grieks, Hebreeus, Sjinees en etlike ander tale en alfabete is ook gebruik.

Indien jy nie ingeperk is deurdat daar reeds ’n leuse is wat in ’n bestaande wapen neergelê word, is die keuse aan jou oor.



[1] ’n Wapenvoerder is iemand wat ’n heraldiese wapen besit en voer.

[2] Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little (Warne).

[3] Vir ’n voorbeeld, gaan na hierdie bladsy en gaan af na die derde illustrasie.

[4] A Complete Guide to Heraldry deur A C Fox-Davies, hersien deur J P Brooke-Little (Nelson).

[5] Toe Fox-Davies geskryf het, was die heraldiese gesag in Ierland die Wapenkoning Ulster, in die kasteel te Dublin. Die Ulster-kantoor is in die 20ste eeu in die College of Arms ingelyf, en die huidige heraldiese gesag in Dublin is die Hoof-Herout van Ierland.

[6] Niks sonder God.

[7] Selfs hierdie beperking het nou weggeval. Kyk hierdie artikel vir nadere inligting.

[8] Van die Gaëliese sluagh-ghairm, strydkreet.

[9] Miskien reeds uitgesterf; ek het geen inligting dat mev Vaalbooi miskien steeds leef.

[10] Die gebruik van runes is nie sonder risiko nie, want die nazi-bewind in Duitsland was ook daarvoor lief.


Counter

Vorige vraag

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: Engelse en Skotse koninklike leuses uit illustrasies van die wapens in Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little, Richmond-herout (Warne); wapen van Campbell uit A Complete Guide to Heraldry deur A C Fox-Davies, hersien deur J P Brooke-Little (Nelson); leuse van Zuid Holland uit ’n illustrasie van die wapen, met vergunning van International Civic Arms; leuse van Noord-Kaap uit ’n illustrasie van die wapen; leuse van die Unie van Suid-Afrika uit ’n illustrasie van die wapen in The National and Provincial Symbols of the Republic of South Africa der F G Brownell (Chris van Rensburg). Kleure met behulp van MS Picture It! ® aangepas.

    Terug na VDG-indeks

    Terug na Heraldiek-ABC-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle