Armoria
http://www.oocities.org/armoria_frage

VDG

Kan ’n heraldiese wapen van een eienaar na ’n ander oorgedra word?

BEHALWE deur oorerwing, is die korrekte antwoord op hierdie vraag NEE.

Daar was egter, om verskeie redes, reeds etlike uitsonderings op hierdie reël. Die meeste daarvan kan glad nie regverdig word nie.

Die mees algemene verbrekings van die reël was in die gevalle van munisipaliteite wat aan verskeie liggame wat met die dorp of stad verwant is, verlof gegee het om die munisipale wapen as simbool te gebruik. Hierdie aanhaling (deur my vertaal) uit Civic Ceremonial deur J F Garner (Shaw and Sons) verwys wel spesifiek na die posisie onder die wette van Engeland, maar dit stel die punt duidelik:

“’n Plaaslike owerheid kan nie ander persone of liggame magtig om sy wapen wat deur die kroon verleen is nie, te gebruik nie, want dit sou (streng gesproke) ’n usurpasie wees van die koninklike privilegie om wapens te verleen; ook nie kan ’n plaaslike owerheid ’n ander persoon deur enige prosedure in die gewone geregshowe belet om sy wapen te gebruik nie.”

Garner verduidelik dan verder hoe ’n aanklag gebring mag word deur die Court of Chivalry (die Ridderlikheidshof, bestaande uit die graaf-maarskalk van Engeland en beamptes van die College of Arms wat as geregshof sit) om sulke misbruik te verhoed. (Kyk hierdie artikel vir nadere besonderhede.)

Met betrekking tot die spesifieke aspek van oordraagbaarheid, is dit duidelik dat ’n munisipale korporasie nie sy heraldiese simbole mag wegtestateer nie.
Wynberg

In ten minste een instansie het die Buro vir Heraldiek in weerwil van hierdie beginsel ’n wapen geregistreer, toe dit aan die Rolbalklub Wynberg die gebruik van die wapen van die Munisipaliteit Wynberg bevestig het.

Die gevolg van hierdie bevestiging is dat Wynberg Boys’ High School in terme van ’n sertifikaat wat in die rolbalklub se klubhuis hang, verhoed word om die dorpswapen te gebruik, ten spyte daarvan dat dit hierdie wapen sedert die 19de eeue as skoolwapen gevoer het, al sy dit in effens veranderde vorm.

Daar is wel gevalle waar familiewapens oorgedra is.
Bruce Bruce van Annandale

In die vroeë tyd van die heraldiek, voordat die konings van Engeland en Skotland wapenkonings aangestel het, sou ’n man dikwels die wapen van sy erfdogter-vrou se familie neem – nie as binneskild of kwartering nie, soos wat in latere eeue die geval mag wees, maar as sy eie wapen. (Kyk hierdie artikel en hierdie een vir verduidelikings van hierdie uitdrukkings.)

’n Beroemde voorbeeld hiervan is dié van Bruce van Annandale, waar die Bruce wat met die erfdogter van Annandale getrou het, sy skoonvader se wapen oorgeneem het, en sy eie familie se blou klimmende leeu op silwer laat vaar het (kyk hierdie artikel vir nadere inligting).

Hierdie wapen is deur Robert Bruce (*1274 †1329) gevoer totdat hy in 1306 homself as Skotse koning geproklameer het.

(Voorbeelde van die Annandale-wapen met breuke wat deur latere lede van die Bruce-familie aangebring is kan in hierdie artikel gesien word.)

Hierdie praktyk is egter grotendeels laat vaar toe wapens onder strenger beheer gekom het. Die naaste ekwivalent daaraan is dit wat in die regsgebruik van Engeland as ’n “name and arms clause” bekend staan.
wapen van John Spencer

’n Berugte voorbeeld, egter, van ’n wapen wat van een familie na ’n andere oorgedra is, het in die geval van die familie Spencer gebeur.

Die oorspronklike devies van hierdie huis was ’n blou skild belaai met ’n dwarsbalk van hermelyn tussen drie silwer seemeeukoppe.
wapen van Despencer latere wapen van Spencer

Hierdie artikel toon hoe ’n oneerlike herout van die Tudor-tydperk (Richard Lee, wapenkoning Clarenceux) ’n totaal ongesubstansieerde verbintenis met die Middeleeuse familie Despenser erken het, en die wapen van Despenser (met byvoeging van drie mantelskulpe) aan die Spencers verleen het.
wapen van die hertog van Marlborough, met Spencer in die tweede en derde kwartiere

Hierdie wapen word tot vandag toe gevoer nie net deur die grawe Spencer nie (prinses Diana se familie) maar ook (as kwartering) deur hul Churchill-neefs, die hertoë van Marlborough.

Dit is interessant dat toe prins William sy eie wapen toegewys is (die koningswapen met ’n baresteel met paslike breuk), hy gekies het om ’n mantelskulp te gebruik. Sy broer, prins Harry, gebruik drie mantelskulpe. (Kyk hierdie bladsy vir die illustrasies, sowel as ’n beeld van prinses Diana se wapen.)

Om mee af te sluit, is hier ’n totaal belaglike voorbeeld van ’n wapen wat (kan ’n mens dit amper sê) “oorgedra” is, wat ’n 19de-eeuse Britse ambassadeur wat in Washington DC gedien het, geval het.

Soos dit in daardie tyd die gebruik was, het hy saam met hom uit Engeland ’n koets gebring waarop sy wapen langs die kante geskilder is.

Die koets het in ’n wabouer se werf herstelwerk ondergaan toe ’n Amerikaanse klant van die wabouer die koets gesien het, en gevra het watter beeld langs die kante geskilder is.

Toe hy hoor dis die ambassadeur se wapen, was die Amerikaner se antwoord dat dit “mighty fine” was – en het hy dadelik versoek dat sy eie koets met dieselfde beeld geskilder word.

Etlike ander koets-eienaars het hierdie usurpasie nageaap, en is die ambassadeur ’n tyd lank aanhoudend verras (en heel waarskynlik geskok) dat sy wapen op ander mense se koetse verskyn.

Dit het heelwat oor onkundige aspirasies te sê, maar aangesien dit blote vertoon was, is dit miskien nie ’n ernstige instansie van heraldiese usurpasie nie.


Counter

Volgende vraag

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: wapen van Wynberg herkonstrueer vanaf ’n sigaretkaart; wapen van Bruce van Annandale uit Lines of Succession deur Jíri Louda en Michael Maclagan (Orbis); wapens van Bruce (die blou leeu), Despencer en Spencer met vergunning van The Baronage Press; wapen van Churchill uit Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little (Frederick Warne & Co). Kleure met behulp van MS Picture It!® aangepas.

    Terug na VDG-indeks

    Terug na Heraldiek-ABC-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle