Die Lancaster Rif Opgrawings.

Tweede verslag van die reddingsopgrawing van die Lancaster Rif grafte op die K13-roete. Opgrawings vanaf Dinsdag, 26 November 1996 tot Vrydag, 13 Desember 1996.

‘n Verdere 10 grafte is in die periode verwyder. ‘n Totaal van 14 grafte is dus in die reddingsfase ondersoek. Opmeting van die terrein en verspreiding van die sigbare grafte is ook gedoen. Hierdie is ‘n voorlopige verslag ten opsigte van die materiaal wat gevind is. Finale en volledige ondersoek en ontleding van die skeletale materiaal en kulturele oorblyfsel is nou onderweg.

Dinsdag, 26 November 1996.

Opgrawing van UP56.
Die graf se inhoud is versteur vanaf die sloot se kant. ‘n Sinkplaat bedek die boonste deel van die liggaam tot by die bekken. Die femurs steek uit onder die sinkplaat. Die graf is gegrawe tot in die sagte sandsteen onderlaag. Dit loop van wyd aan die koppenent nouer na oos by die voete.

Die skedel en regter humerus vermis moontlik as gevolg van grafrowery. Die torakale gedeelte van die skelet het baie sleg behoue gebly. Fragmente van die sternum en ribbe is wel teenwoordig. Lumbale werwels is wel gevind. Vanaf die lumbale werwels en laer het redelik goed behoue gebly. Die bekken is redelik goed behoue.

Die persoon lê op sy rug met sy arms en bene uitgestrek. Die linker arm is na binne gedraai met die linker hand op die pelvis. Die linker hak is bo die regter geplaas. ‘n Baie krom linker metakarpaal is gevind. Ongelukkig was die bros en het verkrummel. Knope met wit en groen materiaal is gevind asook ‘n metaal voorwerp. Dit was waarskynlik ‘n gespe. Baie materiaal is in die bekken, abdomen en femur gebiede en by die skouers gevind.

Woensdag, 27 November 1996.

Verwyder UP57 en UP58.
UP57 is ‘n graf aan die ooste kant van die sloot. Die grootste deel van die liggaam is verlore. Net die regter fibula en patella en die voetbene van links en regs is nog oor. Die voete was oos gerig. Die voete is teen die onderpunt van die graf en was hoër as die res van die liggaam. Baie materiaal, knope en koper armbande is in die graf teenwoordig. ‘n Growwe materiaal het die liggaam omring.

UP58 is in die weste kant van die sloot. Stukkies van die voorarms en bekken steek in die kant van die wal uit. Geen duidelike grafpit kan gesien word nie maar die kop is wel in ‘n holte. Die bene is bros.

‘n Skedel, linker en regter arms, werwelkolom en bekken is teenwoordig. Persoon lê oos-wes met kop wes. Die persoon lê op sy linker sy met regter arm bo werwelkolom en linker arm effens uitgestrek na noord. Die skedel kyk noord. ‘n Klein ring van koper by die regter oor was waarskynlik ‘n oorbel.

Maandag, 2 Desember 1996.

Opgrawing van UP59.
Die graf is in die westelike wal met die voete oos en die kop wes geleë. Die been is relatief goed behoue. Die skedel is regop aan westekant met materiaal links agter die skedel. Dit kon moontlik as stut in die graf geplaas word. Albei humeri se distale eindes is verlore. Die klavikels en boonste werwels is ook nog teenwoordig. Die persoon lê op sy rug met arms parallel.

Woensdag, 4 Desember 1996.

Besoek van terrein deur verteenwoordigers van die “Citizens Commision on Human Rights”. Die dag word ook gebruik om opmetings te maak van die ontblote grafte.

Donderdag, 5 Desember 1996.

Begin met opgrawing van UP60 maar reënerige weer verhoed die verwydering van enige skeletale materiaal. Die dag word gebruik om die bo-laag van ‘n aantal grafte te verwyder met pik en graaf in voorbereiding vir fyner werk borsels en troffels.

Vrydag, 6 Desember 1996.

Verdere werk aan UP60 en verwyder UP61. UP60 is ‘n graf aan die weste kant van die sloot. Die graf word net gedeeltelik oopgemaak. Die persoon is in ‘n kis begrawe. Dit bemoeilik werk ietwat. UP61 is aan die ooste kant van die sloot en slegs ‘n patella steek uit in die rand.

UP61.
Slegs ‘n patella is sigbaar in die wal van die sloot. Geen kleur, tekstuur of ander onderskeid kan van ‘n graf gemaak word nie.

Die skelet is volledig en die been het relatief goed behoue gebly. Die persoon lê op sy rug met bene en arms na wes oorgegooi. Die arms is gebuig en die bene geflekseer by heup en knie en die voete bymekaar. Die regter hand is onder die kop. Die linker hand lê onder die regter hand maar nie by die kop nie, maar net noord van die ken. Die metakarpale van links en regs is direk bymekaar. Die regter been is bo die linker been met die regter knie suid en hoër as die linker knie. Die linker voet is net noord van die regter voet.

Die persoon was relatief jonk. Beslis jonger as 20 jaar en waarskynlik selfs jonger as 16. Geen grafgoedere word gevind nie.

Dinsdag, 10 Desember 1996.

UP60.
‘n Grafpit lyn kan gesien word in die fyn sandlaag onder ‘n growwe bo-laag. Die bo-laag bestaan uit growwe grond met brokke sagte sandsteen. Die graf invul bestaan uit ligbruin grond. Rondom die graf is ‘n grysbruin tot donkerbruin grond. Groot hoeveelhede wortels groei teen en om been maar geen penetrasie van beenkorteks vind plaas nie. Die been het relatief goed behoue gebly. Die grootste deel van die skelet van die skouers af onder toe is teenwoordig.

Die kis is amper parallel met die sloot. Die kop lê suid en die voete noord. Ongelukkig is die kop weg in die sloot. Die linker proksimale humerus steek uit en werwels en ribbes is ook sigbaar. Hout en spykers is ook sigbaar. Die hout kom redelik goed uit. Dit sal baie waarskynlik geïdentifiseer kan word. Die kis vernou skerp na die voetenent vanaf ongeveer 40cm breed op die vlak van die bekken na 26cm by die voete. Die kis was ongeveer 1.9m lank en uitgevoer met ‘n swart materiaal. Dwarsversterkings van die kisbodem kon ook geïdentifiseer word.

Die persoon lê op sy rug binne die kis. Die regter arm is reguit met die regter hand langs die femur. Die linker hand lê bo die femurkop en die voete is langs mekaar. Drie knope met materiaal word in ‘n ry in die bekken area gevind. Onder die skelet is ‘n bruin materiaal. ‘n Metaal voorwerp, waarskynlik ‘n gespe, kom agter die werwelkolom uit. ‘n Duimskroef lê langs die borskas tussen die ribbes en humerus.

Woensdag, 11 Desember 1996.

Opgrawing van UP62 en UP63 en begin aan UP64.

UP62.
Die graf is aan die oostelike kant van die sloot. Ribbes steek in die kant uit. Die been het relatief goed behoue gebly. Die toraks en skedel van ongeveer net onder skouerhoogte is weg in die sloot. Die persoon lê op sy rug. Die linker hand lê op die linker proksimale femur. Die regter arm lê skuins oor die liggaam bo die bekken met die regterhand op die linker elmboog. Sy knieë en voete is bo-oor mekaar met regs bo. Ongeveer 8 koper spirale is gevind om die enkels aan die linker en regter kant. Materiaal bedek die koper spirale.

UP63. Die graf is aan die westelike kant van die sloot. Die bekken steek uit in die kant. Die persoon lê op sy rug met skouers teen die agterkant van die graf. Die skedel is hoog op teen die rand van die graf en het oorgeval na noord (links). Die regter bo-arm lê parallel met die werwelkolom; elmboog geflekseer en regter hand op linker skouer. Die linker arm is ook parallel met die werwelkolom. Die linker elmboog is amper 90° geflekseer met die linker hand net onder die regter elmboog en bo-op die bekken.

‘n Stuk koper spiraal armband met materiaal is rondom die regter gewrig gevind en twee knope by die bekken.

Donderdag, 12 Desember 1996.

Verwydering van UP64. Die graf is aan die westelike kant van die sloot. Die bene is by die distale eindes van die femurs afgesny. Die bene het medium tot swak behoue gebly.

Die persoon lê uitgestrek op sy rug met sy kop wes en voete oos. Sy bo-arms lê langs sy sye af en die femurs parallel. Die linker en regter elmboë is albei na binne gebuig. Die regterhand is oorgebuig na links op die linker arm. Die linkerhand lê inferior van die regter elmboog. Die skedel het oorgeval na suid (regs).

Teen die rand van die graf aan die regterkant van die graf is ‘n ysterhouer gevind. Dit is erg geroes en klippies het versmelt aan die metaal. Dit is geleë ongeveer 'n derde van die bokant van die skag van die femur. ‘n Blou bottel, ‘n boekie met rytjies syfers en spieël is gevind ongeveer in die gebied van wat ‘n hempsak sou wees aan die regterkant van die liggaam. ‘n Stuk kurk met ‘n pienk lagie aan die een kant kon moontlik ‘n prop vir die bottel gewees het.

Dowwe skrif kan op die blou bottel uitgemaak word:

(As iemand weet wat dit is, kontak my asseblief!!)

Vrydag, 13 Desember 1996.

Verwyder UP65 en UP66. UP65 is ‘n redelike diep graf aan die westelike kant van die sloot. UP66 het ‘n groot opening in die wal en is van die kant af geroof.

UP65.
Die graf is aan die westelike kant van die sloot. Die persoon lê op sy rug met sy kop wes en voete oos gerig. Die bene het baie swak bewaar gebly. Die been is bros en krummel met hantering. Selfs die tande is swak gepreserveer. Groot hoeveelhede wortels omring die been. Die bene vanaf die onderste deel van die femurs is in die sloot verlore.

Die bo-arms is parallel met die lyf. Die linkerarm lê langs die femur af. Die regter voorarm lê dwars oor die lyf met die regter hand waarskynlik op die linker elmboog. Albei bene is parallel. Die skedel het oorgeval na links.

‘n Gordel met ‘n koper gespe is om die lyf gevind. Stukke toue is in die gebied van die skouers gevind. Materiaal onder tussen die bene was moontlik ‘n broek.

UP66.
Hierdie gat wat geroof is, is regoor UP64 in die oostelike wal. Die tibia, stukke skedel, tande en ribbes is gevind. Die oorspronklike posisie van die skelet kon nie vasgestel word nie.

Oorsigtelike indrukke.

‘n Volledige antropologiese studie van die skelette en kulturele materiaal is nou onderweg. Die algemene indruk is dat hierdie begrafplaas ‘n relatief jong bevolking verteenwoordig. Die oudste persoon was nie ouer as 30 jaar nie met die jongste ongeveer 16 jaar oud.

Duidelike morfologiese verskille kan ook onderskei word tussen links en regs in dieselfde persoon. Sulke verskille word gewoonlik gesien as gevolg van verskille in spiergebruik tussen links en regs. Met ekstreme stress tydens die groeifase, word hierdie verskille nog verder beklemtoon.

Van die veertien skelette was slegs een in ‘n kis begrawe. Grafgoedere is meesal beperk tot persoonlike versiering (oorbel en armbande) en klere. ‘n Hele aantal is gladnie in klere begrawe nie en het soms net ‘n kleed om die liggaam gehad of net ‘n stut onder die kop. Die groep was dus van lae sosio-ekonomiese status.

Hierdie stem ooreen met die argief inligting wat daarop dui dat die begrafplaas hoofsaaklik die plaaslike myne gedien het. Meesal jong sterk werkers is gewerf om in die myne te werk. Die gesondheidstatus van die werkers was waarskynlik laag. Dit sal die lae ouderdom verklaar. Dit is belangrik dat meer inligting oor werwings en mynsterftes op die plaaslike myne gevind moet word.

Geen kaart kon nog gevind word wat die area as ‘n begraafplaas aantoon nie. Die oudste kaart van die gebied dateer uit 1968 en toon die sportsvelde langs die mynhoop. Dit is egter lank na die omskepping van die begrafplaas in ‘n sportsveld. Dit is egter die enigste sportsveld suid van die dorp en op myngronde. ‘n Meer presiese aanduiding van die grense van die begraafplaas is egter belangrik.

Volgens die argiewe is die oorskot van alle Chinese arbeiders wat tydens hul verblyf in Suid-Afrika gesterf het, weer gerepatrieer. Eienskappe wat sterk met persone van Chinese afkoms verbind kan word, is by van die skeletale materiaal waargeneem. Dit is egter nie eksklusief aan Chinese groepe nie, maar kom ook in wisselende persentasies by ander groepe voor. Tot ander getuienis na vore kom, kan waarskynlik aangeneem word dat die grafte waarskynlik die van swart mynwerkers is wat in diens van die myne was. Enige Chinese sal waarskynlik toevallig wees.


Main | Eerste Verslag | Vote for me on SAWChart | geoCities | Top

view with a browser © 1996 mloots@medic.up.ac.za Counter


This page hosted by GeoCities Get your own Free Home Page