Armoria
http://uk.oocities.com/binneskild

Temas – krone

Om meer oor die geïllustreerde wapens te leer, kliek op die beelde.

die Engelse leeu-en-kroon-helmteken van die Britse soewerein die koningswapen (dié van koning George IV) met ’n kroon in plaas van die helmteken

KRONE van die een of ander soort is deel van die amptelike simboliek in Suider-Afrika sedert die eerste aankoms van Groot-Brittanje as besettingsmag in 1795. Die Engelse helmteken van ’n goue staande aansiende leeu, wat op die koninklike kroon staan en wat self gekroon is, was ’n integrale deel van die wapen van die Verenigde Koninkryk sedert die Unie van die Krone, tydens die opvolging van koning James VI van Skotland tot die Engelse troon in 1603. Die Akte van Unie van 1707, waardeur Skotland en Engeland verenig is, en dié van 1800, wat Ierland tot die Unie toegevoeg het, het dit nie verander nie, ook nie die skeiding in 1922 van die meeste van Ierland uit die Unie. Skotland het die gebruik behou van sy eie koninklike helmteken, ’n rooi sittende aankykende leeu, met beide die wapen van Skotland alleen en die Skotse weergawe van die wapen van die Unie (met die Skotse leeu in die eerste en vierde kwartiere), maar die gebruik daarvan is tot Skotland beperk. Dus is dit die Engelse leeu-helmteken wat in die vele lande gesien is wat onder Britse heerskappy geval het. Streng gesproke behoort die leeu-helmteken altyde getoon te word wanneer die volle koninklike wapen vertoon word. Dit het egter dikwels gebeur dat die skild, skildhouers en leuse verskyn het met slegs ’n kroon bo-aan, terwyl die kroon self reeds eeue lank as simbool van koninklike gesag gebruik is. Verskeie vorms van die kroon is op verskillende stadiums gebruik, soos op hierdie bladsy verduidelik word. In vroeë jare van Britse regering aan die Kaap, was die konings van Groot-Brittanje ook die heersers van die Duitse staat Hannover (of Hanover, soos dit aan die Britte bekend geword het). Dit het as gevolg gehad die verskyning van twee ander deviese in die soewerein se wapen. Tot in 1814 was die Duitse titel wat deur die Britse soewerein gevoer is, keurvors van Hannover. Vanaf 1801, toe die wapen van Hannover as binneskild op die Britse koningswapen gevoer is, het ’n keurvorstelike mus bo-aan die binneskild gestaan. Soos van die krone links en regs bo gesien kan word, is die die gewone Britse praktyk dat daar binne die metaalkroon ’n heerlikheidsmus van fluweel en met hermelyn gevoer, gedra word. Die Hannoverse voorbeelde onder toon ’n mus sonder kroon, en ’n kroon sonder mus. ’n Derde kroon kan in albei binneskilde gesien word: die kroon van Karel die Grote, wat op ’n rooi hartskild gevoer is, om die amp van aartstesourier van die Heilige Romeinse Ryk voor te stel. Hierdie amp is deur die keurvors van Hannover behou.

wapen van die Britse soewerein 1801-14, met keurvorstelike mus bo-op die binneskildwapen van die Britse soewerein 1814-37, met die kroon van Hannover bo-op die binneskild

Van die state waaruit Suider-Afrika die afgelope eeu en meer bestaan het, het slegs drie Britse koninklike krone in hul eie heraldiese deviese ingesluit: die Orange River Colony (die wapen waarvan ook vir sowat twee dekades deur die Provinsie Oranje Vrystaat gevoer is), die Provinsie Natal (wat heel onregmatig ’n kroon van die verkeerde formaat gevoer het, waarbinne ’n heerlikheidsmus wat swart was in plaas van rooi), en die Kolonie Basoetoeland, wat in sy helmteken ’n koninklike kroon binne ’n Sotho-skild ingesluit het.

wapen van die Orange River Colonydie verkeerde kroon van die Provinsie Natalhelmteken van Basoetoeland, met ’n koninklike kroon op ’n Sotho-skild

Die vlootkroon, in sy Britse formaat, verskyn bo-aan die wapens van skepe van die Royal Navy, en is ook aan vloothelde toegeken. In Suid-Afrika het die dorp Woodstock ’n vlootkroon in sy helmteken gevoer.

vlootkroon in die helmteken van Woodstock

Munisipale wapens sluit dikwels muurkrone in. Voorbeelde hiervan kan gevind word in die helmtekens van Grahamstad, Port Elizabeth en Oos-Londen. Oos-Londen s’n word gebruik om twee ankers te assosieer, dié van Port Elizabeth is rooi van kleur en dra die drie ringe van Van Riebeeck, Grahamstad s’n drie volstruisvere het wat daaruit oprys, terwyl daar uit Ibhayi s’n ’n anker oprys wat voor vlamme staan.

muurkroon in die wapen van Grahamstadmuurkroon in die helmteken van Port Elizabethmuurkroon in die helmteken van Oos-Londenmuurkroon in die helmteken van Ibhayi

’n Oosterse kroon, met punte wat die sonstrale simboliseer, kan in die helmteken van die Afdelingsraad Albany gevind word.

Oosterse kroon in die helmteken van die Afdelingsraad Albany

Krone kom ook soms in persoonlike wapens voor. Dit is veral die geval by Europese adel; byvoorbeeld het die Britse lords elkeen ’n kroon (in Engels coronet) wat by hulle rang pas. Tans in Armoria is daar egter slegs een voorbeeld, en is dit ook nie van ’n adellike rang nie. Eerwaarde Roy Snyman het een (wat in Engels ’n ducal coronet genoem word) in sy helmteken wat vaagweg na die hertoë van Savoje verwys.

hertoglike kroon in die helmteken van eerw Roy Snyman

Dit kom vir my vreemd voor dat spesiaal ontwerpte krone kenmerkend is van die wapens van die nege nuwe provinsies van Suid-Afrika, wat sedert 1994 in gebruik geneem is. Dit lyk of Wes-Kaap die voorbeeld gestel het, met ’n kroon bestaande uit ’n ry kralewerk teen ’n goue raam, wat dat verhoog word met afwisselende proteabloeiwyses in goud en silwer, en ringe van goud. Gauteng het ook hierdie weg gevolg, met ’n kroon bestaande uit bye (wat van Pretoria geleen is, en verteenwoordigend van nywerheid) en simbole vir yster. Wat hierdie devies anders maak is dat dit streng gesproke nie ’n kroon is nie, aangesien die basis daarvan ’n wrong is, en die wrongkleure is goud en silwer; blou en goud sou meer gepas gewees het.

kroon of helmteken in die wapen van Wes-Kaaphelmteken van Gauteng

Kralewerk, in die tradisie van die Khoisan-volkere, word ook in die helmteken/kroon van Noord-Kaap aangetref. Gewasse verskyn in Vrystaat se helmteken, wat mieliestronke in sy kroon het, afwisselend met koring, terwyl Noordwes tussen twee horings ’n sonneblom vertoon.

kroon/helmteken van Noord-Kaapmielies en koring in die kroon/helmteken van Vrystaatsonneblom in die kroon/helmteken van Noord-Wes

Limpopo en Mpumalanga vat albei inheemse flora in hul krone/helmtekens saam; Limpopo het die Modjadji-broodboom, en Mpumalanga die Barberton-gousblom (wat om die een of ander rede goud gekleur word in plaas van sy kenmerkende rooi kleur). Dit is interessant om daarop te let dat die enigste provinsies wat geensins krone vir helmtekens voer nie, die twee predominant Ngunisprekende provinsies Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

Modjadji-broodboomblare in die helmteken/kroon van LimpopoBarberton-gousblomme in die helmteken/kroon van Mpumalanga


Counter

Terug na bo

For English, click here


Terug na temas-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle