Armoria patrić
http://www.oocities.org/haigariep

Orange River Colony

Orange River Colony (1904)

Wapen aan die Orange River Colony verleen volgens Koninklike Akte 10 Desember 1904, die blasoen waarvan lui (volgens my vertaling):

Wapen: In silwer, op ’n grond ’n Springbok en op ’n blou skildhoof ’n Tudor-kroon, alles in natuurlike kleure.

Dit was die eerste voorkoms van die springbok (Antidorcas marsupialis) in enige amptelike heraldiese embleem (dit was reeds deel van die kolonie se vlagwapen op die Blou Vaandel). Dit was uit hierdie (heraldiese) wapen geneem om die regter skildhouer te word van die wapen van die Unie van Zuid Afrika, en het sodoende ’n nasionale simbool van die eerste belang geword.

Die kroon in die skildhoof was amper ’n provokasie teenoor die burgers van die Oranje Vrij Staat, aangesien dit die triomf van die Britse Ryk oor hulle republiek verteenwoordig het. Dit is dan verbasend om op te let dat hierdie wapen tot in 1925 deur die Provincie Oranje Vrij Staat gevoer is. Dikwels as ’n keiserlike kroon beskryf, is hierdie in werklikheid die Tudor-kroon, wat in daardie jare algemeen gebruik is (soos byvoorbeeld op vlae) om die Britse soewerein voor te stel. Vir nadere inligting in dier voege, kliek hier.

Oor die kolonie:
Britse magte onder die nuwe Britse hoofkommandeur (Suid-Afrika), Veld-Maarskalk baron Roberts van Kandahar, het 15 Februarie 1900 die beleg van Kimberley gelig – die diamantstad se dorpsgrense het aan die Oranje Vrij Staat gegrens. Hulle het amper dadelik die republiek binnegekom en gou oor die gebied beheer oorgeneem. Lord Roberts het 28 Mei die Union Jack in Bloemfontein gehys, en 10 Augustus is posseëls van Kaapkolonie uitgereik met die oordruk “Orange River Colony” – alhoewel daar nog nie so ’n kolonie bestaan het nie.

Die anneksasie was ten minste twyfelagtig onder die internasionale gereg, en het vir die Boere ’n twispunt gebly. Jan Christian Smuts (wie ten tye van die anneksasie steeds Prokureur-Generaal van die Zuid Afrikaansche Republiek was) sou die saak na die Eerste Węreldoorlog in die Volkebond lug. Daardie liggam het eensydige anneksasies van verowerde gebied onwettig verklaar en het ’n raamwerk van internasionale gereg geskep om gebeure van hierdie aard te dek.

Sir Alfred Milner, Hoë Kommissaris vir Suid-Afrika en Goewerneur van die Kaapkolonie, is as Goewerneur van die Orange River Colony aangestel en het as Goewerneur van die Kaap bedank. 3 Februarie 1901 is die Zuid Afrikaansche Republiek ook geannekseer onder die naam Transvaal Colony. Sir Alfred is ook Goewerneur van Transvaal aangestel, en in Meimaand is hy tot die adelstand verhoog as Baron Milner. In dieselfde maand is ’n Administrateur aangestel oor die Orange River Colony, as adjunk tot die Goewerneur.

Milner se baronie het effektief beteken dat die aggressor wat die oorlog ontketen het, nou vir sy optrede beloon is.

Selfregering:

Die kolonie het, saam met die Transvaal Colony, in 1907 selfregering behaal. 27 November het Abraham Fischer van die Orangia-Unie Eerste Minister van die kolonie geword.

Onder selfregering het die kolonie die Nederlandse taal weer erken, nadat dit onder direkte Britse beheer uit amptelike gebruik verdwyn het, en vanaf 1907 is dit moontlik om die kolonie ook met sy Nederlandse naam, die Oranje Rivier Colonie, te noem.

Gedurende 1909 het die Oranje Rivier Colonie deelgeneem aan wat die Nasionale Konvensie genoem is – gesprekke met die kolonies Natal, Transvaal en Kaapland (met sitting van waarnemers uit Rhodesië) met die oog op federasie of unie. Die gesprekke het uitgedraai met die passasie van die South Africa Act (1909) deur die Britse Parlement, wat die weg gebaan het vir die totstandkoming op 31 Mei 1910 van die Unie van Zuid Afrika. Die Oranje Rivier Colonie het nou die Provincie Oranje Vrij Staat geword.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Heraldiese bron: National and Provincial Symbols of South Africa, deur F G Brownell (Chris van Rensburg Publikasies).

  • Skandering met vergunning van die Evening Post.


    Terug na kolonies- en republieke-indeks

    Terug na Armoria patrić-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle