Temas – mitiese en fantastiese kreature
Om meer oor die wapens wat hier verskyn, kliek op die beelde.
DIE Middeleeuse heroute was nie wetenskaplikes nie, maar militêre staf-offisiere wat geglo het wat die geleerde manne van die universiteite hulle vertel het. En as die geleerdes geglo het dat fantastiese kreature soos drake en griffioene bestaan het, wie was die herout om daaroor te stry? Dus het die vreemde diere wat die geleerdes van daardie tye in boeke beskryf het, hulle weg gevind in wapens. Diere wat werklik bestaan, maar wat dinge gedoen het wat vir moderne zooloë laf klink, is ook daar gevind, soos pelikane wat hulself gewond het om hul kleintjies te voed. Baie mitologiese kreature het in die heraldiek weens hul simboliek so diep gevestig geword dat dit feitlik onmoontlik was om hulle uit te roei, selfs toe die wetenskap bewys het dat hulle òf nooit bestaan het nie, of nie kon doen wat hulle kamstig gedoen het. Nie veel het hul weg in die Suid-Afrikaanse heraldiek gevind nie, maar om mee te begin kan ons kyk na die griffioen (’n mengsel van arend en leeu) en die feniks, ’n voël wat, volgens Egiptiese legende, 100 jaar lank geleef het en dan na sy nes teruggekeer het, waar dit in vlamme herbore is.


Die draak is ’n tradisionele simbool in beide Wallis en Engeland – dit is deur die konings van Wessex gebruik sowel as die Britse inboorlinge – en ook op die Europese Vasteland. Op die Vasteland het dit normaalweg twee bene en ’n lang stert, maar in Brittanje word daar onderskei tussen die tweebenige wyvern en die vierbenige dragon (draak). In albei vorms kan dit gesien word as slagoffer van óf die aartsengel Michiel óf Sint Joris.


Dan het jy die eenhoring, ’n kreatuur wat oorspronklik bok-agtig was, aldus die heroute, maar dikwels geteken as ’n perd met ’n enkele horing op sy voorkop. Let op die bossies hare aan die knieë van die tweede eenhoring wat hier getoon word. Sommiges hou vol dat die legende van die eenhoring gebaseer is op reisigersverhale van die gemsbok, waar die persoon wat dit gesien het, die twee horings vir een gesien het. Dit is ook geglo dat die horing towereienskappe het. Volgens legende kan slegs ’n maagd die kreatuur vang sonder dat òf sy òf die eenhoring beseer word. Die eerste eenhoring wat hier verskyn is uiters buitengewoon: dit is palomino-kleurig.
Terug na bo
Terug na temas-indeks
Terug na Armoria-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle