deur Mike Oettle
WANNEER ’n
familie eeue lank reeds ’n sekere wapen gevoer het, is dit moeilik om te erken
dat dit nie sy reg op daardie wapen kan bewys nie.
Dit is
die situasie waarin die familie Oettle,[1]
van Württemberg[2] (en verskeie lande buite die Europese Vasteland),[3] homself bevind. Takke van die familie in beide Urbach[4] (naby Stuttgart) en Tübingen
het ’n sekere wapen reeds sedert voor die Dertigjarige Oorlog[5] gevoer.
Tog
behoort die wapen in werklikheid aan ’n familie in Franken[6] wat die van Oettel voer, en terwyl dit hoogs waarskynlik is dat daar ’n bloedverwantskap tussen die twee families is, kan dit nie deur verwysing na geskrewe rekords bewys word nie – juis weens die Dertigjarige Oorlog, aangesien parogiale registers in verskeie dele van Duitsland vernietig is.
Terwyl
dit steeds moontlik is dat DNS-toetsing wel ’n verbintenis mag bewys, lê dit in
die toekoms.
Die
gevolg is dat geen Oettle wetlike eienaarskap tot hierdie spesifieke wapen mag
bekom nie. En hierdie skrywer het tot die gevolgtrekking gekom dat dit nodig is
om ’n verandering te maak – om die waarheid te sê, vyf veranderinge.
Die
veranderinge wat hy gemaak het is geheel binne die tradisie van heraldiese
wisseling, veral soos dit in Duitsland gepraktiseer word.
’n
Lyntekening van die Oettel-wapen verskyn hierbo links.
Die nuwe wapen, met inbegrip van die vyf veranderinge, kan hier regs gesien word. Dit mag so geblasoeneer word:
Wapen: In rooi, blou gekap; oor alles heen ’n klimmende eenhoring van silwer, gewapen, gemaan en gepoot van goud, rooi getong, tussen drie goue golwende sterre van ses punte.
Wrong: Goud, blou, silwer en rooi.
Dekkleed: Regs goud en blou, links silwer en rooi.
Helmteken: ’n Uitkomende halwe koedoe, met horings en hoewe van goud, rooi getong, met silwer strepe langs die rug af.
Leuse: The fear of the Lord is a fountain of life.
Die
veranderinge, vanaf die middel van die skild, is:
1. Die eenhoring word nie meer tot die rooi gedeelte van die skild beperk nie, maar is oor alles heen (met ander woorde, ook deels oor die blou dele).
2. Daar is nou drie sterre, een in elke skildhoek, in plaas van ses, drie in elke blou segment.
Die rangskikking (2 en 1) is dieselfde, alhoewel
dit nou ver van mekaar is – dit kan gesien word as simbolies van die manier
waarop die familie die wêreld deur versprei is.
3. Die sterre is verander van gewone sespuntige sterre (Sternen, in Duits) na estoiles (sterre met golwende arms).
Dit het met ’n misverstand ontstaan. Die blasoen
vir Oettel, soos dit in Rietstap se Armorial Génèral verskyn, praat van étoiles. Die skrywer het, as tienderjarige, aanvaar dat die Engelse woord “estoile” bedoel word. Dit is egter gewone heraldiese sterre (in Engels “mullets of six points”). Nà vier dekades het die skrywer daaraan geheg geraak, en besluit om dit te behou.
4. Die laaste
verandering is dat die helmteken nie meer ’n eenhoring is nie, maar ’n koedoe (Tragelaphus strepsiceros), ’n Suid-Afrikaanse wildsbok wat in groot getalle naby Port Elizabeth gevind word, sowel as heelwat verder noord.
Die verandering van die helmteken ’n algemene
Duitse manier om aan te toon dat die wapen aan ’n nuwe familievertakking
behoort.
Aangesien die koedoe ’n gewilde wapenfiguur is,
het die skrywer besluit om dit in heraldiese kleure te toon. Dit maak dit nie
slegs uniek nie, maar laat ’n familieverwant toe om ’n koedoe in ander kleure
te voer, om sodoende te beklemtoon dat dit aan ’n ander familievertakking
behoort.
5. Nie soseer ’n
verandering nie, maar ’n toevoeging, is die leuse.
Dit word geneem van Spreuke 14:27 (in die Engelse
King James-weergawe). Die volle vers lees in Afrikaans: “Die vrees[7]
van die HERE[8] is ’n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk.”
Voor hierdie vers stel die Boek Spreuke dit (1:7)
dat die vrees van die HERE die beginsel is van die kennis, en in 9:10 dat die vrees van die HERE die beginsel is van die wysheid. Hierdie derde
verwysing is ’n bevestiging van die eerste twee, maar ook daarby ’n vervulling.
Die
bewoording is vir die skrywer so bekend as sy eie naam. Sy oer-grootmoeder
Marie[9] Oettle het dit dikwels gebruik, en het etlike houtskilde gemaak (een waarvan
hier links verskyn) wat in brandwerk hierdie inskrywing dra.[10] Een van hierdie skilde het drie dekades lank in die huis op Vredendal van Erich[11] Oettle gehang, en nog een hang in skrywer se studeerkamer.
Terwyl
die familie Oettle nie betrokke was by die inrigting van die Staten Bijbel[12] nie (hulle het in Suid-Afrika hoofsaaklik Engels gebruik), het heelwat van skrywer se voorsate daagliks uit daardie vertaling gelees. In die Staten Bijbel staan die leuse so: “De vreze des HEEREN is een springader des levens, om af te wijken van de stricken des
doods.”
Ewe
bekend was ’n stuk houtsneewerk wat deur Erich gemaak is toe hy ’n skoolseun
was, van die Oettel-wapen, wat in die ingangsportaal van sy huis op Vredendal
gehang het (die twee skilde was in werklik rug-teen-rug op dieselfde muur).
Die
skrywer het nie tans ’n illustrasie van hierdie stuk houtsneewerk, wat in die
hande is van sy neef Erich.[13]
Twee familielede het kopieë van die houtsneeskild laat maak. Die eerste was Theo[14] Oettle senior, wat omstreeks 1960 deur ’n professionele houtsnyer ’n kopié laat maak het, toe hy in Kaapstad woonagtig was. Hierdie kopié is blykbaar in die
hande van sy seun JT.[15]
Die
tweede was, interessant genoeg, Theo[16] Oettle junior, wie ook ’n professionele houtsneewerker gehuur het om in die middel-’70s ’n kopié te maak. Hierdie kopié – wat in Auckland, Nieu-Seeland is, waar Theo in 2005 oorlede is – word hier regs getoon.
Omdat
Theo jnr ’n aangenome seun was, het hy die houtsnyer opdrag gegee om die
gekoppelde ringe in te sluit wat sy uitkenningsmerk was.
Dr George[17] Oettle het in sy huis in Oaklands, Johannesburg, ’n volkleur-illustrasie van die Oettel-wapen (asook een van die Spühler-wapen) gehad.
Die
skrywer kon tot dusver nie ’n volkleur-illustrasie van die Oettel-wapen naspoor
nie. Die skets hierbo is deur herout Michael Waas van die heraldische Gemeinschaft Westfalen voorsien.
Twee van die skrywer se neefs het reeds negatiewe kommentaar op die maak van enige veranderings gemaak. Maar soos dit aan hulle uitgewys is, indien hulle geen veranderings maak nie, vertoon hulle die wapen van die Oettel-familie, met wie hulle geen verbintenis kan bewys nie.
Die
skrywer het gevolglik die wapen soos hierbo geïllustreer, aangeneem (die
aanneem van ’n wapen is in Suid-Afrika wettig). Dit sal egter op die lange duur
nodig wees om dit te laat registreer, aangesien daar geen ander manier is om
wetlik eienaarskap daarvan te vestig.
Enige ander Oettle in Suid-Afrika mag dieselfde skild voer (of as hy dit so verkies, na gewone sterre terugkeer eerder as estoiles). Dit sal vir enige ander Oettle nodig wees om ’n ander helmteken in gebruik te neem – dit kan ’n koedoe in ander kleure wees, of kan dit ’n helmteken wees van sy eie keuse. Die silwer eenhoring van die Oettel-familie sou egter nie ’n toelaatbare keuse wees nie.
Bo en
behalwe die volle heraldiese wapen (skild, helm, helmteken, wrong, dekkleed en
leuse), word twee heraldiese kentekens getoon – embleme in die heraldiese tradisie wat nie self wapens is nie, maar wat elemente van die wapen insluit.
Die
eerste toon die koedoe-helmteken binne ’n rooi ring waarop die leuse verskyn,
terwyl die tweede die drie golwende sterre toon op ’n agtergrond blou bo, rooi
onder, binne ’n goue ring.
Laastens word al hierdie embleme saamgebring in ’n ruiteryvlag, wat die wapen (die skildinhoud) aan die hyskant toon, terwyl die koedoe-kenteken en twee beelde van die sterre-kenteken op die skildkleure verskyn. Tussen die drie kentekens is twee wit strepe waarop die leuse verskyn.
Die
meeste van die kunswerk wat hier verskyn is deur Barrie Burr, en volg dit
hoofsaaklik Britse tradisies in die heraldiek. Die beeld hieronder is ’n tekening in ’n meer Vastelandse styl deur Nederlandse heraldiese entoesias Ton de Witte, en die laaste beeld (alweer van Burr) toon die volle wapen plus die ruiteryvlag op ’n lans, met ’n ster as finiaal.
Oettle en verwante name:
Die familie wat die van Oettle voer is een van ’n groep wat in verskeie dialekstreke van Duitsland gevind word, waarvan almal hul naam aan ’n verkleinvorm van Otto[18] ontleen.
In Nuwe
Hoogduits sou hierdie naam as Öttolein voorkom. Die naam word egter slegs in
dialekvorms aangetref. In beide Württemberg en Baden is dit Oettle; in die Duitssprekende dele van Switserland is dit Oettli;[19] in Franken is dit Oettel en in Oostenryk is dit Oettl.
Ander
name wat in ander dele van Duitsland aangetref word, mag ook hierdie ontlening
deel. Ek word ingelig dat Oertel[20] moontlik nog ’n variant kan wees. Nog ’n familie wat in Suid-Afrika verteenwoordig word, is Oettler – ek het geen inligting oor die deel van Duitsland waar dit vandaan kom.
Nie al
hierdie families is noodwendig aan mekaar verwant nie. Selfs in Urbach, die
tuisdorp van Georg Johann Oettle, is daar twee aparte groepe Oettles: dié wat
die wapen van Oettel voer, en dié wat heeltemal ’n ander wapen vertoon wat
mynbougereedskap bevat.
Die
Oettle-familie (dié wat die wapen van Oettel voer) glo nietemin dat hulle
afgestam is van ’n Middeleeuse biskop genaamd Otto. Hy het waarskynlik ’n
sendingtog aanvaar om die Evangelie na die heidense Avar-volk te dra. Hulle het
tussen die 6de en 9de eeue in sentraal-Europa ’n ryk gestig, en het tydens die
6de eeu hulself in die vlakte van die Donaurivier (die huidige Hongarye)
gevestig.
Volgens
die familie se oorlewering, het Otto ’n taamlike geslag seuns gehad wat almal
sterk na hul pa geaard het, dus die bynaam (en latere familienaam) wat as
“Ottotjie” vertaal kan word.
Dit word
veral deur Rooms-Katolieke korrespondente geargumenteer dat dit tydens die
middel- na laat-Middeleeue nie moontlik was dat ’n biskop van die Katolieke
Kerk ’n getroude man kon wees nie. Dit is waar dat die biskopsamp sedert
ongeveer die 2de eeu in beide die Oostelike en Westelike vertakkinge van die
Kerk vir selibates gereserveer is.[21]
Dit
ignoreer egter die rol van Ierse sendelinge in die Duitssprekende gebiede. Die
Keltiese Kerk, wat vroeg van Rome geskei is, het die bediening van getroude
mans behou – sy abbe was getroud, en die opvolging tot ’n absamp het dikwels van vader tot seun afgegaan. Dit is heel waarskynlik dat verskeie van die
sendelinge wat Duitsland toe gestuur is, vòòr en nà die tyd van die Engelsmanne
Sint Willibrord and Sint Bonifatius getroude mans was.
Indien
daar biskoppe hieronder was, is dit heeltemal moontlik dat ’n alternatiewe lyn
van biskoplike ordening in daardie grensgebied bestaan het. Terwyl die
territoriale biskopstrone grotendeels gevul sou wees met manne wat deur Rome
uitverkies is, en dus selibates, is dit moontlik dat ’n getroude biskop ’n
sendingstaak kon onderneem het.
Dit kan
genoem word dat ’n Duitse familie wat algemeen in Suid-Afrika voorkom, die naam
dra van ’n Ierse sendeling, Sint Kilian. Die van word gewoonlik toegeskryf aan
toewyding aan die betrokke heilige, tog is dit moontlik dat hulle afstammelinge
is van daardie sendeling.
Oettle-familie in Urbach en Suid-Afrika:
Die Suid-Afrikaanse familie Oettle herlei sy
herkoms terug na die huwelik van Leonhard[23] Oettle, van Urbach, aan Maria (datums onbekend; Maria se nooiensvan ook onbekend). Hul seun Johannes Georg Oettle is 1 Februarie 1717 met Magdalena Gläser getroud.
Die eerte
geboortedadum wat ons op skrif het is dié van hul seun Johann Jacob (*09-04-1817) wat 24-04-1744 getroud is met Anna Maria Rube. Hulle seun Felix (*17-09-1748 †15-08-1823) is 24-09-1772 met Eda Maria Löwenlenz getroud.
Felix en
Eda se seun Michael[24] (*27-04-1788 †14-09-1855) is met Anna Maria Rube[25] getroud. Hulle seun Johann Georg (*31-08-1823 †15-10-1881) is met Christiane Buob (*05-02-1825 †18-03-1884) getroud.
Johann
Georg en Christiane se seun Georg[26] (*24-08-1847 †18-06-1919) het ’n universiteitsopleiding ontvang, en is as gegradueerde in 1870 as offisier opgeroep vir militêre diens. Württemberg was, tesame met Baden,
Beiere en Sakse, met die Noordduitse Bond
geällieerd in die oorlog wat in daardie jaar verklaar is teen die Franse Ryk.[27]
As offisier kon Georg besluit of hy ’n wapen sou dra, en het hy verkies om nog swaard nog pistool te dra. Toe die oorlog verby is, en die Duitse geällieerdes saamgevoeg is as die Duitse Ryk
(1871-1918), het Georg ingesien dat daar verdere oorloë sou wees waaring
Duitsland betrokke sou wees, en was ongewillig om toe te sien dat ’n verdere
geslag van sy familie in ’n oorlog sou gaan veg.
Toe hy in 1877 met Maria[28] Caroline Spühler getroud is, het die egpaar besluit dat hulle sou moet emigreer om sodoende te verseker dat hul seuns nie opgeroep sou word nie. Die daaropvolgende jaar het hulle vanuit Hamburg gevaar, met die bedoeling om na New York te vaar, want Georg het daar ’n oom gehad.
Toe die
skip egter Londen bereik het (dit het omtrent ’n week lank in die Poel van Londen gestaan), is die kaptein oorreed om ’n vrag na Kaapstad te neem. Nadat hy saam met vriende in Londen die saak bespreek het, was Georg gereed toe die kaptein die enkele passassiers byeengeroep en vir hulle die onderneming gegee dat hulle in New York sou kan aanland. Georg het toe egter vir die kaptein meegedeel: “Meneer, ek sien die hand van die Here hierin. Ek wil hê u moet vir my en my vrou Kaapstad toe neem.”
So was dit dat Georg en die swaar swangere Marie in Kaapstad geland het,
en is hul seun Georg Samuel in Claremont[29] gebore. Georg het intussen kontak gemaak met die Collegiate School for Girls op Port Elizabeth, wat
gesoek het na ’n onderwyser in die Duitse taal. Die familie het na die dorp
langs Algoabaai getrek, en daar het Georg (wat as George bekend sou word) en
Marie die res van hul lewens sou woon.
George is
gou deur die komitee van die Port Elizabeth Public Library opgelet, en Juniemaand 1878 is hy as assistent-bibliotekaris van hierdie private genootskap
aangestel. Die biblioteek is destyds in ’n vleuel van die Port Elizabethse Stadsaal gehuisves. In 1882 het hy bibliotekaris geword, en het hierdie posisie
behou tot sy aftrede.
’n
Hoogtepunt van sy loopbaan by die biblioteek was die besluit om ’n nuwe
biblioteekgebou op te rig. Die biblioteekkomitee het ’n aandeel gehad in die Commercial Hall, op die hoek van Hoofstraat en Chapelsteeg. Hierdie gebou is in 1854 opgekommandeer as magistraatshof, maar die voltooiing in 1899
van ’n nuwe hofgebou in Baakensstraat het die gevolg gehad dat die magistraat
die saal ontruim het. Tydens die saal se jare as hofgebou het die
biblioteekkomitee egter die oorblywende aandele in die gebou bekom.
’n
Erflating van William Savage (*1824 †1896) het die fondse vir die oprigting van ’n nuwe biblioteek voorsien. Die argitek, Charles Cheers, het self nooit die gebou gesien nie (tydens die oprig daarvan het hy in Engeland gebly). George het die gebou se binnewaartse rangskikkings en die klassifiseringstelsels beplan. Die biblioteekgebou se voltooiing is deur die
Suid-Afrikaanse Oorlog van 1899-1902 teruggehou, maar in 1902 is dit formeel
geopen. Dit was later die hoofbiblioteek van die Port Elizabethse Biblioteekdiens, en behou tot vandag toe daardie rol in die munisipaliteit Nelson Mandela-baai.
Op Port
Elizabeth aan George en Marie gebore is Marie, Emil
Frederich (*06-10-1881 †10-03-1972), Carl Maximilian (*14-11-1882 †28-04-1957), Julius Theodore en Irene. Die vier seuns (beginnende met Georg Samuel) het almal die Grey Institute, in Belmont-terras, bygewoon. Oorkant was die Donkin-reserwe en die hawe. Die meisies het ’n skool Richmond Hill bygewoon wat as Erica Girls’ Primary bekend sou staan, en albei het daar onderwys gegee.
Etlike
jare later het George se broer Christian Frederich en sy vrou Auguste (Guste) ook na Suid-Afrika gekom, en het hulle hul in die Oranje Vrij Staat gevestig, aanvanklik op Rouxville en later op Smithfield, waar hy ’n winkel gehad het en ’n Vrederegter geword het. Toe hy afgetree het, het hy egter Kaapstad toe getrek, en is deur sy ganse familie daarheen gevolg.
George, wat ’n leidende figuur was onder die Plymouth Brethren[30] op Port Elizabeth, het geglo dat sy seuns as volwassenes nie hul tyd moes verkwansel deur om na wins te jaag nie, maar dat hulle werk moes hê wat hulle sou toelaat dat hulle “die Here se werk” sou laat doen. Georg Samuel het by die Cape Government Railways aangesluit, wat binnekort deel sou word van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens. Emil (wat teen dié tyd as Erich bekend gestaan het) is na die South African College in Kaapstad gestuur om regte te leer, en het toe magistraat geword in die Departement Justisie van die Unie. Carl Maximilian (wat as Max bekend was) het by die Port Elizabethse Doeanehuis by die Doeanediens aangesluit. Julius (as Lu bekend) het by Barclays Bank DCO aangesluit.
Georg
Samuel (wat soos sy vader as George bekend gestaan het) is uitgekies om
Algemene Bestuurder te word van die SAS&H, maar die algemene verkiesing van
1924, wat ’n Nasionale Party-regering aan bewind gebring het, het dit gefnuik. Die nuwe Minister van Vervoer het besluit dat hy geen “Engelsman”[31] wou hê om vir hom die spoorweë te bestuur nie, en het iemand anders gekies. George het intussen ’n jaar met die Suid-Afrikaanse Konsulaat-Generaal in New York deurgebring, en het besluit om hom in die Verenigde State te vestig. Hy het na Suid-Afrika teruggekeer en sy kinders gehaal (sy vrou is ’n paar jaar vantevore oorlede) en he permanent in die VSA gaan bly.
Erich het
op verskeie plekke as magistraat[32]
gedien voordat hy agt jaar lank op Bethulie in die Oranje Vrystaat was. Hy
het toe Hoofmagistraat geword op Klerksdorp in Transvaal, en het
daarna as Hoofmagistraat gedien op Windhoek (Suidwes-Afrika) en op Paarl (Wes-Kaap) voordat hy afgetree het. Hy is toe as Petrol-kontroleurder op Wynberg, waar hy ’n
ruk lank gedien het voordat hy na Vredendal getrek het, waar hy in 1912 ’n
plaas gekoop het.
Max het
hoof geword van die Doeanehuis in Port Elizabeth, en is toe na ’n soortgelyke
posisie in Durban oorgeplaas, voordat hy as landshoof gedien het van die
Doeanediens in Pretoria.
Julius
(Lu) het in Pretoria ’n senior bankbeampte geword, maar aangesien hy en sy vrou
verkies het om nie klante te onthaal nie, is hy van verdere bevordering
teruggehou. Hy is laat getroud, en het geen kinders gehad nie.
Marie het
die onderwys gelaat om met dr Howard Welles Reynolds te trou. Hy was ’n Brits-gebore medikus wat in Kaapstad gebaseer was, en was ook die eerste radioloog wat in Suid-Afrika gepraktiseer het. Irene het egter tot haar aftrede aan die Erica-skool gebly. Sy is uiteindelik op ’n hoë ouderdom in Port Elizabeth dood.
George se
bedoeling dat sy seuns nie opgekommandeer sou word nie, het bewaarheid geword,
want daar was geen opkommandering vir òf die Suid-Afrikaanse Oorlog òf die
Eerste Wêreldoorlog nie, alhoewel Lu wel ’n vrywilliger was vir diens tydens die oorlog van 1914-18. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het sy kleinseuns Eric George (*27-03-1919 †28-07-1999) en Max Hugo (*13-10-1924 †28-07-1999)) (albei seuns van Erich) albei as vrywilligers gedien. Eric het uiteindelik luitenant geword en hed in Italië as infanteriepeloton-bevelvoerder gedien. Max het sersant geword.
Opkommandering het egter ’n waarheid geword vir George se agterkleinseuns. Skrywer hiervan was die eerste van etlike wat nasionale diensplig gedoen het. Een onder hulle, Johann Lochner Oettle (tweede seun van Eric se broer Albertus Malan Oettle [*05-03-1923]), het vrywillig by die Staande Mag aangesluit. Sy suster Hilde was die eerste vroulike Oettle wat in die militêre[33] gedien het toe sy in die SA Mediese Diens as sielkundige gewerk het.
Nà al hierdie geslagte van oorlog is dit miskien ironies dat die daaropvolgende geslag grotendeels glad nie militêre diens gelewer nie, aangesien Suid-Afrika in die na-apartheid tydperk ’n oorlas soldate het.
Nà die oorlog het beide Max en Eric in die lugvaart betrokke geraak. Beide het as lootse gekwalifiseer, maar dit was veral Max wat entoesias was. Hy het ’n De Havilland Tiger Moth besit en geopereer, wat hy vir reis gebruik het in sy werk as elektriese ingenieur, aanvanklik vir die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie en daarna vir die Kaapse Provinsiale Hospitale. Later het hy ’n DH Leopard Moth besit, waarmee ongelukkig kort voor sy verlowing verongeluk het. Kort voor sy dood in 1999 het hy privaat ’n volume van sy vlugherinneringe gepubliseer.
Onder George se kleinseuns het twee in die mediese veld gepresteer.
Die
eerste was Alfred George (bekend as George, seun van Carl Maximilian), wat die laaste Oettle was wat die Grey bygewoon het (die skool is reeds in daardie tyd bekend as Grey High School, en is in Millpark, Port Elizabeth, geleë), en was in 1936 die duks-skolier aldaar. Hy het aan die Universiteit van die Witwatersrand (algemeen bekend as Wits) die graad MBBCh behaal en het daarna in kanker-navorsing gespesialiseer. Hy het ’n tyd lank aan die Universiteit Oxford gewerk, maar het hoofsaaklik vir die SA Instituut vir Mediese Navorsing in Johannesburg gewerk, waar hy hoof was van die Kankernavorsingseenheid.
Sy
heelwat jongere broer Thomas Howard Godfrey (*06-06-1926, bekend as Godfrey, en as seun Gos) het, nà twis met sy vader, sy eie studiegeld betaal om op die mediese skool van Wits te kwalifiseer, en het daarna in Engeland en Australië gewerk. Hy het vele jare gedien as hoof-mediese ondersoeker vir die staat New South Wales.
George se
seuns George Julien en Charl Andrew het ook medici geword.
Julien is professor in snykunde aan die mediese skool Wits, terwyl Charl as
verloskundige en ginekoloog op Worcester, Wes-Kaap, praktiseer. Albei het in
Duitsland nagraadse studies onderneem, Julien in Berlyn en Charl op Tübingen. Hul
broer Edmund Eric is veearts (en ook wynmaker), en hul neef Johann Theodore (JT) is narkotiseur.
Onder die kleinkinders van Christian Oettle was Carl Oettle ’n bekende akteur in Suid-Afrika, en is dikwels op die verhoog gesien en oor die radio gehoor.
Behalwe George Samuel en Godfrey, sluit emigrante in die familie Theo junior in, wat hom in 1999 in Nieu-Seeland gevestig het, asook die rolprent-waaghals Jason (*19-08-1975), aangenome seun van die skrywer se broer Noel Maxwell (*10-12-1952), wat in Berlyn woon.
Om oor die skrywer te lees, kyk hier.
[1] In Duitsland word die van met ’n umlaut-klank uitgespreek: Ött-le.
Georg Samuel Oettle het altyd gesê dat die naam met die Engelse woord absolutely gerym het – dit is die gewone Suid-Afrikaanse uitspraak.
Die BBC Pronouncing Dictionary beveel sy lesers misleidend aan om die naam met die Engelse word “bottle” te laat rym – ’n ironiese fout, want die inskrywing kom blykbaar van die prominensie in die jare 1960 van dr George Oettle
(Alfred George Oettle [*22-06-1919 †08-11-1967], oudste seun van
Carl Maximilian Oettle).
[2] Die Koninkryk Württemberg,
soos dit vanaf 1806 tot 1918 bestaan het. Dit het nà 1918 ’n Duitse staat (Land) gebly, maar in 1945 is dit onderverdeel in militêre besettingsones van Frankryk en die Verenigde State. Kyk hier vir ’n kaart
wat dit aandui.
In 1952 is die gebiede van Württemberg,
Baden (die eermalige Groothertogdom Baden,
1806-1918) en Hohenzollern (die voorvaderlike heerlikheid van die eermalige keisers, ’n piepklein staatjie in die Swartwoud wat aan beide state gegrens het) byeengebring as die Land Baden-Württemberg.
Die wapen van Baden-Württemberg is dié van
die Hohenstaufen-hertoë van Swabe (Schwaben), ’n aansienlike stam-hertogdom wat
in die vroeë tyd van die Heilige Romeinse Ryk bestaan het. Die eermalige state Württemberg, Baden en Hohenzollern word voorgestel met die plasing van klein skilde van hulle wapens bo die hoofskild. Oostenryk, wat (in die tyd voor Napoleon) ook ’n groot aantal klein stukkies grond dwarsdeur die streek besit het, word soortgelyk herdenk. Ook ingesluit is die wapen van die Palts, dele waarvan ook in die nuwe staat ingesluit is (ook ’n erfenis uit die Napoleontiese tyd).
Die dele van die Swabiese hertogdom wat
buite Baden-Württemberg val is Elsas (sedert 1918 Frans), die Beierse distrik
Schwaben (in die suidwestelike hoek van daardie Land) en die Duitssprekende dele van Switserland – die kantons
Aargau, Appenzell,* Basel,* Bern, Glarus, Luzern, Nidwalden, Obwalden, Sankt
Gallen, Schaffhausen, Schwyz, Solothurn, Thurgau, Uri, Zug en Zürich. (Dié wat
met ’n sterretjie gemerk word, word onderverdeel in half-kantons, maar in beide
gevalle is beide half-kantons Duitssprekend.)
[3] Sommige lede van die Suid-Afrikaanse tak van die familie het sedert die 1920s hulle in die Verenigde State gevestig, en meer onlangs in Brittanje, in Australië and in Nieu-Seeland.
Dit is bekend dat ander lede van die familie direk uit Duitsland na die Verenigde State geëmigreer het.
Verskeie Suid-Afrikaanse lede van die familie het ook kortstondig in hierdie en ander lande gewoon.
[4] Die Gemeinde Urbach is ’n samesmelting
van die eermalige dorpies Unterurbach
en Oberurbach.
Tussen die twee lê die Schloss Urbach, wat
op een stadium in die besit was (aangekoop) deur Johann Georg Oettle, vader van
Georg Johann (George).
[5] ’n Reeks konflikte tussen 1618 en ’48, waarby verskeie alliansies betrokke was, maar hoofsaaklik op Duitse grondgebied geveg tussen die Heilige Romeinse Keiser en sy Katolieke geallieeerdes teen die Protestantse prinse.
[6] Die noordelike dele van die Koninkryk Beiere is tydens die 19de eeu verdeel in streke met die name
Oberfranken, Mittelfranken, Niederfranken en Oberpfalz.
Hierdie streke het hoofsaaklik gedurende
die Napoleontiese tyd onder Beierse oorheersing geval. Oberpfalz was vroeër
deel van die keurvorsdom van die Rynse Palts,
terwyl ’n verskeidenheid kleinere vorsdomme, daaronder die vors-bisdomme Mainz
en Würzburg en die markgraafskap Nuremberg, ook oor dele geheers het.
Die Rynse Palts het deel geword van die
Beierse koninkryk en het tot in 1945 deel gebly van Beiere. In daardie jaar het
dit onder Franse besetting geval. Dit is in 1949 in die Land Rheinland-Pfalz (Rynland-Palts) ingelyf.
[7] Die woord vrees in hierdie konteks beteken nie ’n kruiperige, hurkerige vrees nie. Cruden’s Complete Concordance definieer dit so: “The fear of God means that reverence for God which leads to obedience because of one’s realization of his power, as well as of his love to man.”
Met ander woorde: “Die vrees van God
beteken daardie eerbieding vir God wat tot gehoorsaamheid lei weens jou
bewuswording van sy mag, sowel as van sy liefde teenoor die mens.”
[8] Die woord HERE, met die letters E, R en E in klein hoofletters,
is ’n weergawe in Afrikaans van die Hebreeuse gebruik om die Goddelike Naam nie
uit te spreek nie.
Waar die Hebreeuse letters JHWH in die
Hebreeuse teks van die Ou Testament verksyn, is dit in singoges tradisioneel
om nie die naam Jahweh uit te spreek nie, maar om eerder Adonai te sê, wat “die Here” beteken.
Indien ’n Jood sonder hoofdekking na die
Goddelike verwys, sal hy selfs die woord Adonai vermy, en eerder Adogem (die Naam van die Here) sê.
[9] Marie Oettle, gebore Spühler, vrou van
Georg Johann Oettle (*1847 †1919). Sy was met haar eerste kind, George Samuel
Oettle, swanger toe die egpaar in Kaapstad aangeland het.
George is op Claremont gebore, wat destyds
’n aparte dorp was in die Kaapse Skiereiland.
Marie het in Lausanne, in die Kanton Vaud,
Switserland, grootgeword.
Georg Johann, wat in Suid-Afrika bekend
gestaan het as George, het op Urbach, Württemberg, grootgeword. Hy het op Port
Elizabeth die openbare bibliotekaris geword.
[10] Brandwerk: letters op ’n hout-oppervlak
geskep deur om die hout met ’n rooiwarm vuuryster te brand.
[11] Emil Frederich Oettle (*1881 †1972), wat
in sy volwasse lewe as Erich bekend gestaan het, die skrywer se oupa en tweede
seun van Georg Johann Oettle, die eerste Oettle wat hom in Suid-Afrika gevestig
het.
[12] Die vertaling van die Bybel in Nederlands
soos beveel deur die Staten Generaal (oftewel parlement) van die Verenigde
Nederlande, en in terme van die besluit van die Sinode van Dort (Dordrecht) in
die jare 1618-1619.
[13] Emil Frederich Oettle, ook bekend as
Erich, oudste seun van Albertus Malan Oettle.
[14] Andrew Max Theodore Oettle, tweede seun
van Carl Maximilian Oettle (*1882 †1957), derde seun van Georg Johann Oettle.
[15] Dr Johann Theodore Oettle.
[16] Theodore John Oettle (*1949 †2005),
aangenome seun van Eric George Oettle, en dus die skrywer se aangenome broer.
[17] Alfred George Oettle (*1919 †1967),
oudste seun van Carl Maximilian Oettle. Dr George was ’n hoogs aangeskrewe
kanker-navorser. Vir meer oor hom, kyk hier.
[18] Die naam Otto is van die Germaanse od afgelei, en dit beteken ryk. Selfs die vorm Otto is blykbaar ’n liefkosingsvorm of verkleinvorm.
Die gewone Engelse vorm van die naam is
Odo, alhoewel dit deesdae nie algemeen bekend is nie. Dit word blykbaar beskou
as ’n eienaardigheid van skrywers soos J R R Tolkien.
[19] ’n Oettli wat hom in Baden gevestig het,
is, volgens wat aan my oorlewer is, verplig om sy van na Oettle te verander.
[20] Daar is Suid-Afrikaanse families wat die
van Oertel voer.
Rietstap illustreer drie totaal anderse
wapens vir die naam Oertel. Slegs een hiervan toon enige ooreenkoms met die
wapen van Oettel, daarin dat dit dieselfde skilddeling het.
Hierdie naam het ook ’n umlaut-uitspraak: Ör-tel. In Suid-Afrika word dit egter dikwels as Oer-tel uitgespreek.
[21] Die beperking van die biskopsamp tot
selibate mans gaan terug tot die nà-Gnostiese reaksie in die Kerk.
Die Gnostiese kettery is gekenmerk aan die
leierskap van vroue. Die mans wat die Kerk in sy reaksie op die Gnosticisme
gelei het, het daarop gereageer deur om nie slegs vroue van die bediening en
leierskap van die Kerk uit te sluit nie, maar deur om verder vroue tot ’n
ondergeskikte posisie te verminder, en deur om sover moontlik getroude mans uit
die bediening uit te sluit.
Hierdie beperkings word aan Paulus
toegeskryf, wat sterk vir die selibate bediening geargumenteer het. Paulus het
egter ewe sterk geargumenteer ten gunste van getroude mans in die bediening, en
vir die gelykheid van mans en vroue.
Die teenwoordigheid van vroue in die Kerk
se bediening word deur verskeie vroeë dokumente getuig.
Teen die 11de eeu het Rome daarop begin aandring dat nie slegs biskoppe nie, maar ook priesters selibaat moet wees. Benoorde die Alpe en in Brittanje was dit egter nie ongewoon dat priesters getroude mans was nie.
[22] Die Oettles van Urbach is tydens ’n
besoek aan die dorp in Mei 1986 deur Dr Charl Oettle (Charl Andrew Oettle, tweede seun van Dr George Oettle) nagevors.
Hy is aanvanklik verkeerdelik ingelig dat die familie oorspronklik uit Nördlingen, in die Beierse distrik Schwaben gekom het, en hierdie onjuiste inligting het al op druk verskyn.
[23] Die naam van hierdie Michael Oettle het
as verrassing gekom vir die skrywer, wat sowat 37 jaar oud was toe hy geleer
het dat hierdie voorvader (gebore 1788) dieselfde voornaam gehad het.
Die skrywer is Michael Eric gedoop, vir sy
vader se vriend Mick Corbett. Sy tweede naam kom van sy vader.
[24] Michael se vrou het dieselfde voorname as
sy ouma. Dit blyk waarskynlik te wees dat hulle van dieselfde familie was,
alhoewel ek tans geen inligting het oor so ’n verbintenis nie.
[25] Georg was blykbaar Johann Georg gedoop, maar het in Duitsland bekend gestaan as Georg Johann, en in Suid-Afrika as George.
[26] Die Tweede Franse Ryk, met Napoleon III (Louis-Napoleon Bonaparte, President van Frankryk 1848-52) as keiser.
[27] Die naam in die huweliksregister verskyn as Maria, maar sy het as Marie bekend gestaan.
[29] Die Plymouth Brethren is ’n sekte – teen
hierdie tyd ’n groepering sektes, want hulle het menigmaal gedeel – wat gestig
is deur ’n man genaamd John Nelson Darby, voorheen ’n priester van die
(Anglikaanse) Kerk van Ierland.
Hulle noem hulself Brethren, of bloot
Christene, maar omdat daar ander kerke is wat ook die naam Brethren dra, staan
hulle aan buitestaanders bekend onder die Plymouth-etiket, want Darby het in
1831 sy eerste gemeente op Plymouth in Engeland gestig.
Die beweging word gekenmerk aan ’n
afwesigheid van geestelikes of selfs formeel erkende leierskap, ’n toestand wat
gelei het tot die voorkoms van self-geproklameerde profete.
Nadat hy die beweging in Engeland gestig
het, het Darby etlike jare in die Frans-sprekende dele van Switserland
deurgebring, ook in Lausanne, die tuiste van die Spühler-familie, wat onder sy
bekeerlinge was. Georg het nà sy troue by hierdie kerk aangesluit.
[30] Uit ’n Nasionalistiese oogpunt was enige
beampte wat hoofsaaklik Engels gepraat het, ’n Engelsman.
Die Oettle-kinders is in Port Elizabeth veeltalig grootgemaak. Hulle het met hul moeder Frans gepraat, met hul pa Duits, en het toe Engels-medium skole bygewoon. Aan die Grey (destyds geskoei op die Engelse grammar school) het die seuns Nederlands en Latyns geleer. George het hulle ook gestuur om op ’n plaas op Addo te bly, waar hulle vlot Afrikaans leer praat het.
Al vier seuns was aan die Grey
dux-skoliere.
[31] Tydens Erich se loopbaan het die amp landdros glad nie bestaan nie. Kyk hier vir nadere
inligting.
Eers in 1958 is die term landdros in gebruik geneem as die Afrikaanse ekwivalent vir die Engelse magistrate.
[32] Altans die eerste vrou onder die afstammelinge van George en Marie wat in die Suid-Afrikaanse militêre gedien het.
Voor haar troue het Eric se vrou, Pamela
Craggs, in die Spesiale Seindiens gewerk. Dit was ’n hoogs geheime organisasie
wat tydens die Tweede Wêreldoorlog radarstasies langs Suid-Afrikaanse kus
geopereer het.
Ook in die SSD was Joan Human, later die
vrou van Charles William Massey en ook ouma van Andrew John Frederich Oettle. Beide Pam en Joan het korporaals geword.
For English, click here
Beelde van die wapens, die kentekens en die ruiteryvlag
deur Barrie Burr. Koedoe-helmteken gebaseer op ’n skets deur David Burkart.
Skets van Oettel-wapen voorsien deur Michael Waas. Theo Oettle jnr se skild
deur die eienaar gefotografeer.
Terug na Armoria familia-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle