VICTORIA COLLEGE, Stellenbosch.
Die wapen mag so geblasoeneer word:
Wapen: Gevierendeel: I: In goud, twee torings van rooi; II: In blou, ’n pou van silwer; III: In blou, drie ringe van silwer, 2 en 1; IV: In goud, ’n toring van rooi; Op ’n binneskild van swart, ses sekelmane 2, 2, en 2.
Bo die skild versyn ’n koninklike kroon.
Skildhouer: ’n Anker in sy natuurlike kleure.
Leuse: Pectora roborant cultus recti.
Oor die wapen:
Die wapen is ’n direkte oorname van die wapen wat tot in 1952 deur die dorp Stellenbosch gevoer is, met slegs twee byvoegings en twee klein veranderings.
Die veranderings is dat die orde van die ringe die normale 2 en 1 is, in plaas van 1 en 2 soos in die drosdywapen (wat deur die dorp oorgeneem is), en dat die skildhouer-anker reguit geteken word, in plaas van effens skuins.
Een byvoeging is die leuse, wat as “’n Goeie opvoeding versterk die inbors” vertaal. (’n Voetnoot deur ’n Stellenboschse professor wys daarop dat pectora letterlik die borskas beteken, en by uitbreiding die innerlike.)
Die leuselint verskyn bo die wapen, nie onder nie. Hierdie gebruik is ongewoon in die heraldiek van die Europese Vasteland en selfs van Engeland, maar kom algemeen voor in die Skotse heraldiek. Dit mag toegeskryf word aan die invloed van die Skotse rektore van die Stellenboschse Gimnasium (kyk onder).
Laastens verskyn daar bo die wapen ’n koninklike kroon. Die vorm daarvan is heel moontlik beïnvloed deur die feit dat die kollege na koningin Victoria vernoem is.
Die voorkoms is grotendeels dié van die Tudor-kroon, wat in daardie jare gewoonlik gebruik is om die koninklike gesag voor te stel. Dit is egter verlaag geteken, wat die klein kroontjie suggereer wat koningin Victoria lief was om te dra. As gevolg hiervan dra die kroontekening ook ’n ooreenkoms met die St Edward-kroon wat sedert die troonbestyging van Elizabeth in 1952 in gebruik is. Hierdie kwessie word hier intensief bespreek.
Oor die kollege:
In Desember 1863 het sowat 30 vooraanstaande inwoners van Stellenbosch in die Leeskamer in Dorpstraat byeengekom om die voorsiening van gevorderde opvoeding te bespreek. Die vergadering is geroep deur prof John Murray en N J Hofmeyr van die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Seminarium, en ds J H Neethling.
Die gedagte was om instruksie te gee in vakke wat vir ’n “verfynde opvoeding” nodig was, en meer spesifiek om jong mans voor te berei vir studies aan die seminarium, wat in 1859 gestig is.
Die uitslag van die konferensie was die opening op 1 Maart 1866 van die Stellenboschse Gymnasium, in ’n groot huis in Dorpstraat. Basies was dit ’n hoërskool.
Die eerste twee prinsipale van die inrigting was Skotte, dus was die medium van instruksie Engels.
In 1873 is Kaapkolonie se Board of Examiners (Raad van Eksaminateurs) met die University of the Cape of Good Hope vervang, ’n eksaminerende liggaam wat glad nie aan instruksie deelgeneem het nie.
Die gevolg hiervan in Stellenbosch was die daarstelling, in 1874, van fakulteite van Lettere en van Wiskunde en Fisiese Wetenskap, gesamentlik die Arts Department van die Gymnasium genoem. Vir die eerste maal is ’n akademiese senaat in die lewe geroep.
Toe die dorp in 1879 sy tweede eeufees gevier het, is daar besluit om ’n genoegsame gebou vir die kollege op te rig, apart van die Gymnasium. Eers na sewe jaar, op 6 November 1886, is die gebou wat tans as die Ou Hoofgebou bekend staan, amptelik geopen. Dit is in 1973 tot geskiedkundige monument verklaar.
In 1881 het die Arts Department (Departement Lettere) sy kollege-oktrooi ontvang, en is die Stellenbosch College genoem. Die Gymnasium sou in die gevolg deur die stadsraad beheer word.
In 1887, met die viering van koningin Victoria se silwer jubileum, is die kollege na haar vernoem – Victoria College.
In 1887 is ’n landboudepartement met vyf studente en een professor begin, en in 1898 (toe daar 31 studente was) is dit van die kollege geskei en na Elsenburg verskuif. Twintig jaar later is dit na die universiteit (soos die kollege in die tussentyd geword het) as Fakulteit Landbou oorgeplaas.
Cecil John Rhodes se ideaal was dat die Kaap net een universiteit sal hê, op die model van Oxford en Cambridge. Dit sou op die Groote Schuur-landgoed opgerig word (kyk Rondebosch), en die medium van instruksie sou Engels wees.
In 1896 het ds J H Neethling en prof I J Marais Kaapstad toe gereis en dit duidelik gemaak dat Stellenbosch nie vrede sou hê met ’n universiteit wat op die ruïnes van Victoria College gebou is nie. Maar voorlopig het van die plan niks gekom nie.
Ten spyte van die agitasie vir ’n universiteit op Stellenbosch, was die kollege oorwegend Engelstalig. Die eksamentaal was Engels, en die diploma’s en sertifikate is almal in Engels uitereik. Reeds in die 19de eeu was daar klagtes dat “Nederlandstalige” studente dit moeilik vind om in Engels eksamen af te lê.
In 1910 is dit egter aangekondig dat sir Julius Wernher en Otto Beit ’n groot som geld geskenk het ter vervulling van Rhodes se idee, en dat ’n wetsontwerp ingedien sou word. Weereens moes Stellenbosch vir sy bestaan veg. Die wet is nie gepasseer nie, en op die ou end is dit besluit dat daar drie universiteite sou wees.
Wat Stellenbosch betref is dit moontlik gemaak omdat Jan Marais van Coetzenburg, ’n eermalige lid van die Kaapse en Unie-Parlemente, uit sy boedel £100 000 vir hoër onderwys in Stellenbosch bemaak het. (In 1950 is sy standbeeld in die sentrale kampus opgerig.)
Wette wat in 1916 deurgevoer is, en wat 2 April 1918 van krag geword het, het die South African College en Victoria College tot selfstandige universiteite verhef, en die University of the Cape of Good Hope (tot op hierdie stadium die eksaminerende liggaam vir die kolleges op Kaapstad en Stellenbosch) tot die Universiteit van Suid-Afrika omskep, met verantwoordelikhede elders.
Die wette is dieselfde dag deur die Goewerneur-Generaal geteken, met dié vir die Stellenboschse universiteit eerste aan die beurt, en dié vir Kaapstad sowat vyf minute later. Dus is die Universiteit van Stellenbosch vyf minute ouer as die University of Cape Town.
For English, click here
Terug na Armoria academica-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle