UNIVERSITEIT van STELLENBOSCH, Stellenbosch.
Die wapen mag so geblasoeneer word:
Wapen: Gevierendeel: I en IV: In goud, drie torings van rooi 2 en 1; II: In blou, die kop van die Romeinse godin Minerva met ’n gevleuelde helm bo-op, in silwer; III: In blou, drie eiketakkies elk met twee blare onder en ’n akker bo, van silwer, 2 en 1; Op ’n binneskild van swart, ’n oop boek in sy natuurlike kleure, met ’n rooi voorletter S regs bo, en met twee seëls, een rooi en een blou, wat van die boek afhang.
Helmteken: ’n Voorarm uit die wrong rysend, met rooi mou wat van goud omgeslaan is, wat ’n brandende fakkel vashou.
Wrong en dekkleed: Rooi en goud.
Leuse: Pectora roborant cultus recti.
Oor die wapen:
Hierdie wapen is in 1918 in gebruik geneem en is ’n aanpassing van die wapen van Victoria College. Maar waar die kollege se wapen ’n oorname was van die dorp se wapen, soos destyds gevoer, is hier veranderings aangebring om dit heeltemal ’n nuwe wapen te maak.
Die torings kom uit die oorspronklike familiewapen van Goewerneur Simon van der Stel, en kom in hierdie vorm voor (2 en 1) in die wapen van die dorp Stellenbosch, waarby ’n dwarsbalk met verdere wapenfigure bygebring is.
Die gevierendeelde skild herinner aan die wapen soos deur Van der Stel gevoer, waarin hy die torings gedeel het, twee in die eerste kwartier en een in die vierde.
Die blou kwartiere word ook uit Van der Stel se wapen geneem, maar die wapenfigure is heeltemal anders. Tog word die patroon van ’n enkel wapenfiguur in die tweede kwartier en drie daarvan in die derde herhaal.
Minerva, die Romeinse godin van wysheid, ook bekend (in die Griekse heidendom) as Pallas Athene, is simbool van geleerdheid. Sy stel die strewe van die universiteit voor. Minerva het ook in die wapen van die Transvaal University College voorgekom.
Die eiketakkies simboliseer die eikebome wat Van der Stel in Stellenbosch laat aanplant het, en wat kenmerkend is van die dorp en veral van die universiteitskampus. Die universiteit beskou die boom as simbool van krag en standvastigheid.
Die rangskikking van die ringe is die konvensionele 2 en 1, in plaas van die 1 en 2 van die ringe wat in die ou dorpswapen voorgekom het. Die rangskikkingspatroon volg hier die wapen soos gevoer deur Victoria College.
’n Eiketakkie verskyn ook in die helmteken van die dorpswapen.
Die swart binneskild akkordeer met die binneskild in Van der Stel se wapen, waarin hy sy grootmoeder, Monica da Costa, vereer het. Maar in plaas van die sekelmane wat hy gebruik het om Da Costa voor te stel (die Portugese family voer die wapen met beendere), verskyn ’n boek, ’n verdere simbool van geleerdheid.
Aan die regter bo-hoek van die boek verskyn die voorletter S, wat Stellenbosch voorstaan. Soms verskyn dit as US (Universiteit Stellenbosch).
Die hand wat die fakkel vashou simboliseer blykbaar nie net geleerdheid nie, maar ook die stryd vir Afrikaner-selfstandigheid, waarin die universiteit deur die meeste van die 20ste eeu ’n leier was.
Sedert 1994 is hierdie aspek van die simboliek minder beklemtoon, weens die negatiewe aspekte van Afrikaner-nasionalisme en apartheid, maar die universiteit is steeds ’n leier op die gebied van Afrikaanse kultuur en die voortbestaan van die Afrikaanse taal.
Apartheid is op die kampus iets van die verlede – die universiteit gaan uit sy weg uit om studente van alle rasse tegemoet te kom – maar akademiese standaarde word gehandhaaf en uitgebou.
Engels worde egter al hoe meer gebruik. Waar mediese studente in die verlede hulle hele kursus in Afrikaans gedoen het, kan eerstejaar mediese studente nou Afrikaans of Engels kies, en vanaf die tweede jaar is die kursus geheel-en-al in Engels.
Die leuse vertaal as “’n Goeie opvoeding versterk die inbors.” (’n Voetnoot deur ’n Stellenboschse professor wys daarop dat pectora letterlik die borskas beteken, en by uitbreiding die innerlike.)
Die leuse is direk oorgeneem van Victoria College (die dorp se leuse is later in gebruik geneem, en is heeltemal anders), maar is nou in die normale posisie onder die skild, waar dit in die kollege-wapen bo verskyn het.
Oor die universiteit:
Wette wat in 1916 deurgevoer is, en wat 2 April 1918 van krag geword het, het die South African College en Victoria College tot selfstandige universiteite verhef, en die University of the Cape of Good Hope (tot op hierdie stadium die eksaminerende liggaam vir die kolleges op Kaapstad en Stellenbosch) tot die Universiteit van Suid-Afrika omskep, met wyer verantwoordelikhede.
Die wette is dieselfde dag deur die Goewerneur-Generaal geteken, met dié vir die Stellenboschse universiteit eerste aan die beurt, en dié vir Kaapstad sowat vyf minute later. Dus is die Universiteit van Stellenbosch vyf minute ouer as die University of Cape Town.
Die pas geskepte Universiteit van Stellenbosch het toe die land se eerste “Nederlandse” universiteit geword, en het geleidelik Afrikaans ingevoer. Dit was steeds klein, maar in die daaropvolgende halfeeu het vrygawige skenkings daarvoor gesorg dat nuwe geboue, nuwe fasiliteite en van tyd tot tyd nuwe fakulteite daargestel is.
Die fakulteit ingenieurswese is in 1944 opgerig, en was die eerste in die land wat ’n vyf-jaar baccalaureusgraadkursus aangebied het.
Die fakulteite bosbou en militêre wetenskap is die enigstes in die land.
Die militêre fakulteit dateer uit 1961 en lei offisiere op vir die leër, lugmag en vloot; onderrig word in Saldanha aan die Militêre Akademie aangebied.
In 1963 is die NG Kerk se kweekskool as ’n volle fakulteit teologie in die universiteit ingelyf.
Daar is ook ’n musiekkonserwatorium, afdelings vir huishoudelike wetenskap en liggaamsopvoeding, departemente van skeppende kunste, dramaturgie, sosiale werk en biblioteekkunde, Afrika-studies en voedingstegnologie.
’n Buitemuurse afdeling van die fakulteite sakebestuur en administrasie is in 1958 op Bellville opgerig.
Ook op Bellville is ’n mediese fakulteit, wat in 1956 aan die Karl Bremer-hospitaal ingerig is, en wat sedertdien na die Tygerberg-hospitaal verskuif is.
Die amptelike Afrikaanse woordeboek, Woordeboek van die Afrikaanse Taal, is ’n projek van die universiteit wat in die Administrasiegebou gebaseer is.
Die universiteit is ook ’n vennoot (tesame met die Universiteit Kaapstad) in die Kerninstituut van die Suidelike Universiteite te Faure, wat ’n 6 Me.V (ses-mega-elektron-volt) Van de Graaf-versneller gebruik vir gevorderde navorsing in kernfisika, kernchemie en kerningenieurswese.
Die universiteit se eie webwerf is hier, en daarin verskyn ’n bladsy oor sy geskiedenis.
Bynaam van die universiteit:
Toe die studente op Stellenbosch kleurbaadjies begin dra het, was hierdie wynrooi met strepe van blou en geel. Onder die studente het die wynrooi-kleur die bynaam tamatie-rooi gekry, en vanuit die skelnaam “Tamaties” het die bynaam Maties ontstaan.
Die kampus het as gevolg die bynaam Matieland.
For English, click here
Terug na Armoria academica-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle