TRANSVAAL UNIVERSITY COLLEGE, Pretoria.
Die kollege se wapen mag so geblasoeneer word:
Wapen: Twee skilde wat skuins teen mekaar lê: Die regterhandse skild in blou, belaai met die kop van die Romeinse godin Minerva in haar natuurlike kleure, met hare en helm van goud, na die linkerkant kykend. Die linkerhandse skild van groen, met ’n uitgespande ossewa in sy natuurlike kleure.
Helmteken: Op ’n anker ’n oop boek, alles in sy natuurlike kleure.
Oor die wapen:
Wat buitengewoon is vir ’n Suid-Afrikaanse wapen is dat hierdie devies twee aparte skilde bevat, wat teen skuins mekaar lê. Die belading van dié aan regterhand (heraldiese regs, soos van agter gesien) kyk na die middel.
Die Romeinse godin Minerva, patrone van wysheid, verskyn in die wapen wat die Universiteit van Stellenbosch vanaf 1918 gevoer het.
Die skild aan linkerhand is ’n unieke voorbeeld van die toepassing van die wapen wat deur koninklike akte in 1911 aan die Provincie Transvaal verleen is. Kennis van hierdie wapen, alhoewel dit in Londen verleen is, is nie aan die provinsiale administrasie meegedeel nie, want die Kabinet het dit nie as gepas beskou nie (kyk hier vir ’n bespreking van hierdie gebeure).
Staatsheraldikus F G Brownell skryf (volgens my vertaling) dat Generaal J C Smuts, as Minister van Binnelandse Sake, “kennis gedra het van Kabinet-besluite en sou van die Koninklike Akte van 1911 geweet het”. Daarby was hy “’n leidende figuur in die daarstelling van die Transvaal University College (tans die Universiteit Pretoria). Dit is dus nie verbasend nie dat die eerste wapen wat die Kollege aangeneem is, twee skilde wat teen mekaar leun, sou aantoon nie”.
Die wa wat getoon word is nie ’n vol-tent trekwa of kakebeenwa nie, maar ’n halftent-transportwa. Hierdie soort wa het in die seël van die Transvaal Colony voorgekom, en is deur die heroute van die College of Arms in 1910 vir die Transvaalse kwartier van die Uniewapen opgeneem.
Aangesien die 1911-verlenings aan die vier provinsies die deviese herhaal wat in die vier kwartiere verskyn, is die ossewa wat aan Transvaal verleen is, identies met die een in die Unie-wapen, en hierdie wapen volg op sy beurt daardie presedent.
Die helmteken van ’n anker en ’n boek kombineer bekende simbole vir geleerdheid (boek) en vir die Kaapkolonie (anker), waarvandaan die Voortrekkers Transvaal toe getrek het (kyk hier om meer hieroor te lees).
Hierdie helmteken is in die wapen van die Universiteit Pretoria behou.
Oor die kollege:
Alhoewel president Thomas François Burgers met sy Wet op Onderwys van 1874 vir hoër onderwys in die Zuid Afrikaansche Republiek voorsiening gemaak het, en S J du Toit as Superintendent van Onderwys in sy wetgewing van 1882 vir die Tweede Republiek soortgelyke voorsiening gemaak het, het nog die een nog die ander op enigiets uitgeloop nie.
Du Toit se opvolger, Dr N Mansvelt, het ’n soortgelyke voorsiening in sy Onderwyswet van 1892 geplaas, wat uitgeloop het op die stigting van die Staats Gymnasium in Pretoria in Augustus 1893. Die inrigting se eerste rektor was dr H Reinink, en op die personeel was W A Macfadyen, dosent in Engels, en dr H G Breijer, dosent in wetenskap. Reinink en Macfadyen het altwee later professors geword aan die Transvaal University College, en Breijer, ’n geoloog, het met die opstel daarvan veel te doen gehad.
Pogings in die rigting van ’n universiteit is egter deur die uitbraak van oorlog in 1899 gefnuik.
Nà die einde van die oorlog en die anneksasie van die ZAR as die Transvaal Colony, het ’n kommissie van ondersoek onder leiding van Fabian Ware die daarstelling van die Transvaal Technical Institute voorgestel. Alhoewel dit primêr in Johannesburg gebaseer was, het dit van meet af ook aandklasse in Pretoria ingesluit.
In die eerste helfte van 1905 het die TTI-raad voorsiening gemaak vir drie departemente: lettere, die klassieke ingesluit, Engelse literatuur en moderne tale; wetenskappe wat aan landbou gekoppel is; en regte. Dr Reinink is in 1905 tot die departement lettere aangestel. Die TTI het slegs sertifikate uitgereik.
In 1906 is die instituut as Transvaal University College hernoem, maar sy setel het in Johannesburg gebly. Die Regering van Transvaal het reëlings getref dat studente eksamens van die University of the Cape of Good Hope kon skryf.
TUC-verteenwoordigers is ook setels in die universiteit se raad gegee, en generaal J C Smuts was onder die eerstes. March 1907 is hy aangestel as Koloniale Sekretaris in generaal Louis Botha se Transvaalse Kabinet. Dit was Smuts se vaste besluit om die TUC se lettere- en wetenskap-kursusse na Pretoria oor te plaas.
7 Junie 1907 het die raad van die TUC sy skema aanvaar: tegnologie en mynwese sou in Johannesburg bly, landbouwetenskap sou op die Frankenwald-landgoed noord van Johannesburg gedoseer word, en dat “die Letterkunde Kursusse en Wetenskap Kursusse wat vir die BA en hoër grade van die Kaapse Universiteit voorgeskryf word” (my vertaling) na Pretoria oorgeplaas sou word.
Ten spyte van sterk teenkanting vanuit Johannesburg is hierdie oorplasing deurgevoer, en die klasse daar is (tussen 1908 en ’10) die Pretoria Centre genoem.
’n Nuwe, kleiner raad is in 1908 aangestel, met sewe lede uit Pretoria en sewe uit Johannesburg. Die klasse in Pretoria het met vier professors begin, ’n getal wat gou meer as verdubbel het.
7 April 1910 het Smuts drie wetsontwerpe voor die laaste sitting van die Transvaalse Parlement ingedien om ’n universiteitskollege in Pretoria, ’n skool van myne in Johannesburg, en ’n nasionale landboukollege te skep.
Die eerste hiervan is deurgevoer en is 17 Mei in die Government Gazette van die Unie van Zuid Afrika gepubliseer – en het dus die Transvaal University College as autonome inrigting in Pretoria (nou in die Provincie Transvaal) daargestel, een van die agt kolleges waaruit die University of the Cape of Good Hope bestaan het.
Vanaf 1916 het ’n Fakulteit Landbou begin vorm aanneem. Die Fakulteit Handel en Openbare Administrasie is in in 1919 gestig. Opleiding in regte is vòòr 1910 gegee, maar rekords van die Fakulteit Regte dateer slegs tot 1920 terug.
Prof A C Paterson is in 1916 as registrateur aangestel, maar moes ook doseer. Hy is in 1918 as die eerste rektor aangestel, en het daardie post met die registrateurskap gekombineer. In 1919 is A A Roberts tot die voltydse pos van registrateur aangestel. Prof Paterson het in 1921 as rektor bedank, maar het tot in 1922 in daardie amp gedien.
In 1925 is dr N M Hoogenhout (prinsipaal van die Normaal Kollege) vir twee jaar as rektor aangestel. In 1929 is prof A E du Toit vir vyf jaar as rektor aangestel.
Die kollege is as suiwer staatsinrigting gestig, maar in 1917 het sy status verander na staat-gesubsidieer. In 1918 het die affiliasie (tegnies) verander toe die University of the Cape of Good Hope die Universiteit van Suid-Afrika geword het.
Vanaf sy begin in Johannesburg was die TUC ’n Engels-medium inrigting, maar aangesien baie van die Pretoria-studente Afrikaanssprekend was, het wrywing oor hierdie beleid ontstaan en die invoer van Afrikaans is op verskeie stadiums voorgestel.
So vroeg as 1917 het prof D F du Toit Malherbe vir gevorderde studente in Afrikaans gedoseer, en vanaf 1921 is lesings in verskeie vakke uitsluitlik in Nederlands of Afrikaans gevoer, terwyl lesings in ander gedupliseer is.
Teen 1927 het die buitemuurse studente vir taalgelykheid geagiteer, en die binnemuurse studente het deur die Afrikaanse Studentebond om ’n tweetalige universiteit gevra. In 1929 het A E du Toit homself openlik vir ’n Afrikaanse universiteit verklaar.
Vanaf die vroeë 1920s is pogings gemaak om die TUC as onafhanklike universiteit te laat verklaar, en in terme van ’n privaat wet (Wet No 13 van 1930) is dit uiteindelik bereik, en is die Universiteit Pretoria geskep.
Ten spyte van hierdie verwikkeling, het die taalstryd tot in die lewe van die nuwe universiteit voortgeduur.
Naam en bynaam:
Die amptelike naam van die kollege was Transvaal University College (in Engels), en dit het nie verander nie. Veral toe Nederlands en Afrikaans al hoe meer deel van die kollegelewe geword het, is daar egter dikwels daarna verwys as Transvaalse Universiteitskollege, wat na TUK afgekort is.
Van hierdie afkorting het die bynaam vir die studente, Tukkies of Tuks, gegroei; albei vorms van die naam word tot vandag toe gebruik vir studente van die Universiteit Pretoria.
For English, click here
Terug na Armoria academica-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle