Armoria ecclesiastica

BISDOM GRAHAMSTAD (Anglikaans)

Bisdom 1853 gestig, ’n afstigting van die Bisdom Kaapstad.

Katedraal: Sint Joris, Grahamstad (tot 1883).

Biskopswoning: Bishopstowe, Grahamstad.

variant

Bisdom Grahamstad (1853-wapen)

Wapen in 1853 in gebruik geneem, en waarskynlik gevoer tot in 1886. Die blasoen lui:

 

In silwer, ’n skuinskruis van rooi, oor alles heen ’n anker van swart.

 

Brownell[1] skryf:[2] “Die skuinskruis, of ‘Sint Andrieskruis’, in hierdie weergawe van die wapen, herdenk die stigting van die bisdom, saam met dié van Natal, op Sint Andriesdag 1853.

“Dit is egter in die kleure van die kruis van Sint Joris, aan wie die katedraal destyds toegewy is.

“Die anker skakel met die wapen van die metropolitaanse bisdom.”

Hy noem verder: “Hierdie wapen, wat deur die bisdom Grahamstad gevoer is tot ten minste die einde van Nathaniel Merriman se termyn as biskop in 1882, is deur die bisdom Mashonaland aangeneem toe dit in 1891 gestig is.”

’n Voetnoot wat na die titelprent van Pauline Whibley se boek Merriman of Grahamstown verwys, lui: “Die portret van Nathaniel James Merriman, 3de biskp van Grahamstad, toon die biskop se wapen met dié van die bisdom gedeel.”

 

Oor die bisdom:

Die bisdomme Grahamstad en Natal was die eerste onderverdelings van die uitgerekte Bisdom Kaapstad.

Albei nuwe bisdomme het in hul vroeë jare konflik beleef, dié van Grahamstad met miskien minder skade as dié van Natal. Brownell skryf:

“Tydens die ongelukkige ampstermyn van dr F H Williams as dekaan van die destydse katedraal van Sint Joris in Grahamstad, het hy effektief beide biskop Merriman en biskop Webb vanuit die katedraal verban. Biskop Webb het as gevolg daarvan die pro-katedraal van Sint Michiel gestig.

variant van die wapen met blou skildveld

“Nà dekaan Williams se oorlye was dit moontlik om vrede tussen die faksies te herstel en die aansienlik verbeterde en vergrote katedraal is Alleheiligedag (1 November) 1893 onder die naam Sint Joris en Sint Michiel.

“Die volgorde van hierdie twee name is later omgekeer na die meer gebruiklike Sint Michiel en Sint Joris.”

 

Variant van die 1853-wapen:

Brownell noem ’n vroeë variant[3] van die wapen hierbo getoon wat so geblasoeneer kan word:

 

In blou, ’n rooi skuinskruis, oor alles heen ’n anker van natuurlike kleur.

 

Hy skryf verder: “Die blou veld in hierdie weergawe van die bisdomswapen lyk na die wapen van die antieke bisdom van St Andrews en is klaarlblyklik bedoel om na die stigting van die bisdom op Sint Andriesdag 1853 te verwys.

“Die skuinskruis is egter in die kleur van die kruis van Sint Joris, aan wie die katedraal destyds toegewy is. Die rooi skuinskruis op die blou veld verbreek die heraldiese kleurereël dat tinktuur nie op tinktuur geplaas moet word nie, ook nie metaal op metaal nie.

“Alhoewel hierdie voorbeeld van ‘valse heraldiek’ nie wydverspreid in die Bisdom Grahamstad gebruik is nie, leef dit nogtans voort, sonder die anker (maar met ’n biskopsmus bo-aan) in die wapen van die Old Andrean Club en St Andrew’s College, Grahamstad, wat volgens die (Suid-Afrikaanse) Wet op Beskerking van Name Uniforms en Wapens, 1935, geregistreer is.[4]

“Die afwisseling van metaal en kleur in die heraldiek is logies, aangesien dit verseker kontras en fasiliteer gemaklike identifikasie.”

Let wel dat die anker in hierdie weergawe van natuurlike kleur is – dit wil sê die ankerstok is van hout, en die res van metaalkleur.

 

Biskoppe: Die eerste biskop van Grahamstad was John Armstrong. Hy is in die amp opgevolg deur H Cotterill (1856), Nathaniel Merriman (1871) en A B Webb (1883). Biskop Webb het die amp beklee toe die huidige wapen van die bisdom in 1886 aangeneem is.



[1] Heraldry of the Church of the Province of Southern Africa, 1847-2000, deur F G Brownell, deur Heraldsholme CC gepubliseer, Pretoria 2002.

[2] My vertaling.

[3] Brownell se verwysing hiervoor is J Woodward se A Treatise on Ecclesiastical Heraldry.

[4] Sertifikate 23/1935:8 gedateer 22 September 1936 en 23/1935:24 gedateer 13 November 1936.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Bron van beelde: Lyntekenings in Brownell se boek, deur die werfmeester ingekleur met behulp van MS Picture It!


Terug na bisdomme-indeks

Terug na bisdomme-indeks (wapens soos oorspronklik gevoer)

Terug na Armoria ecclesiastica-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle