BISDOM KAAPSTAD (Anglikaans)
Bisdom 1847 gestig, afgestig van die Bisdom Calcutta.
Katedraal: Sint Joris die Martelaar,[1] Kaapstad.
Aartsbiskopswoning: Bishopscourt, Wynberg.
Wapen blykbaar in 1847 deur biskop Robert Gray aangeneem. Die blasoen lui:
Gevierendeel van blou en swart: I en IV, ’n klimmende leeu van silwer; II en III: drie oop
krone paalsgewys geplaas van goud; op ’n kruis oor alles heenook van goud, ’n anker in die middelpunt van swart en in die ereplek ’n binneskild vir Burdett-Coutts: Gevierendeel, I en IV: in silwer ’n aansiende hertkop van rooi, tussen die horings ’n pylpunt van blou, die geheel binne ’n gekanteelde
skildsoom ook van blou, waarop vier gespes van goud (vir Coutts): II en III: in blou, twee dwarsbalke van goud, elk belaai met drie martlets[2] van rooi (vir Burdett).
Die wapen weerspieël vier afsonderlike elemente: die diens van Robert Gray in twee Engelse bisdomme, die ligging van Kaapstad in die Kaapkolonie, en die bisdom se weldoenster, Angela Burdett-Coutts.
“Die eerste en vierde kwartiere, tesame met die kruis van goud, kom uit die wapen van die Bisdom Durham, aangesien Robert Gray, eerste biskop van Kaapstad, vòòr sy inhuldiging ’n domheer was van Durham.
“Die tweede en derde kwartiere is die wapen van die Bisdom Bristol; Robert Gray se vader was biskop van Bristol, en Robert sy vader se kapelaan.
“Die binneskild ter ere aan die vrygewigheid van Angela Burdett-Coutts (wie in 1871 tot die adelstand verhef is as barones Burdett-Coutts), wie se skenking die stigting van die bisdom moontlik gemaak het.”
Wat die binneskild betref, let Brownell daarop dat dit “moeilik is om suksesvol in miniatuurformaat te reproduseer”.
Om dinge duidelik te maak verskyn die skild dus hier volgrootte, in twee weergawes. Die eertste toon die wapen soos dit werklik deur mej Burdett-Coutts gevoer is, met inbegrip van ’n fout.
Dit het ontstaan omdat die verlening van die College of Arms ’n teenstrydigheid bevat het, want die illustrasie toon die hertkop as aansiende[5] (in Engels caboshed), terwyl die blasoen (die woordelikse beskrywing) die term afgeruk[6] (erased) gebruik.
Geregtelike presedent het dit dat waar daar so ’n teenstrydigheid bestaan, die blasoen voorkeur het. Die fout is egter nie voor die 1950s opgelet nie, toe
die College of Arms besig was met die prosessering van ’n aansoek van die bisdom. As gevolg hiervan is die aansiende hertkop gedurende mej Burdett-Coutts se leeftyd gevoer.
Die tweede illustrasie toon die verbeterde vorm, met die kop afgeruk. Dit is hierdie vorm van die kop wat in die huidige wapen van
die bisdom voorkom.
Oor die bisdom:
Toe Robert Gray 1 September 1848 in Kaapstad aangekom het, het daar ’n enorme taak vir hom voorgelê.
Voorheen was die biskop van Calcutta in beheer van alle Anglikaanse kerkoptrede tussen die eiland Sint Helena en Tasmania. Sy werklas is op dié
stadium aansienlik verminder deur die inhuldiging van biskoppe vir Kaapstad, Adelaide (Suid- Australië), Melbourne (Victoria) en Newcastle (Queensland).
Maar Gray se bisdom was self geweldig groot – vanaf Sint Helena tot ’n ongedefinieerde eindpunt langs die ooskus van Afrika. Augustus 1848 het hy ’n reis aangepak oor die Kaapkolonie tot by King William’s Town, en het langs die weg vasgestel dat daar te veel werk is vir ’n enkele biskop. Dit sou die eerste wees van vele reise.
In 1853 is die eerste stadium van sy droom vir uitgebreide werk vervul met die inhuldiging van John William Colenso en John Armstrong as biskoppe onderskeidelik van Natal en Grahamstad. Gray het sy bisdom bedank, en het nuwe oktrooibriewe ontvan as biskop van Kaapstad en metropolitaan van Suid-Afrika.
Vir meer oor sy reise, kyk hierdie artikel, en vir die komplikasies wat uit hierdie oktrooibriewe onstaan het, kyk hierdie artikel.
Voor Gray se dood in 1872 is nuwe biskoppe ook ingehuldig vir Sint Helena (1859), die sogenaamde Orange River
Free State (1863) en Zululand (1870). In die jaar nà sy dood is bishop Henry Callaway na Lusikisiki gestuur om die bisdom van St John’s, Kaffraria (soos dit destyds genoem is).
In 1878 is Henry Bousfield as biskop van Pretoria ingehuldig, in 1891 het G W H Knight-Bruce biskop van
Mashonaland[7] geword, en in 1893 het W E Smyth biskop van Lebombo[8] geword. Hierdie nuwe bisdomme was ver weg, en die daarstelling daarvan het nie die gebied van die bisdom Kaapstad verminder nie, maar hulle het aansienlik tot die las bygetel wat op die skouers van die metropolitaan gerus het.
In 1911, die jaar nà Unie, is die gebied van die bisdom aansienlik verminder deur die skep van die bisdomme van George en van Kimberley en Kuruman. Die bisdom George, die daarstelling waarvan ’n droom was van bishop Gray, is geskep uit parogieë wat vroeëer onder beide Kaapstad en Grahamstad geval het, terwyl Kimberley en Kuruman die meeste van die grondoppervlak ingeneem het van die noordelike dele van Kaapprovinsie, nie
alleen noord van die Oranjerivier nie, maar ook ’n taamlike afstand suid van die rivier.
Hierdie toestand het gebly totdat die bisdom Kaapstad die verlening ontvang het van sy wapen (wat van vorm verander is) in 1952.
Biskoppe: Die eerste biskop was Robert Gray, wat in 1847 in die Westminster-abdykerk ingehuldig is, 1848 in Kaapstad aangekom het, en wat in 1853 tot metropolitaan verhef is.
Sy eerste opvolger was William West Jones (1874 ingehuldig, 1899 tot aartsbiskop
verhef). Die Anglikaanse bisdom Kaapstad word steeds ’n bisdom genoem, nie ’n aartsbisdom nie.
Verdere aartsbiskoppe in die tydvak wat in hierdie artikel gedek word was: W M Carter (1909), Francis Robinson Phelps (1931), J R Darbyshire (1938), en Geoffrey Clayton (1948).
[1] Die oorspronklike katedraal was ’n Palladiaanse gebou wat opgerig is deur intekenaars, en wat in 1834 geopen is.
Die huidige katedraal is gedurende die 20ste eeu gebou. Die hoeksteen is in 1901 deur die hertog van Cornwall en York
(die latere koning George V) gelê.
[2] Die woord martlet is Engels, en dui op ’n voëltjie sonder bek of kloue. Daar is soortgelyke voëltjies in die Nederlandse heraldiek, wat merlette genoem word. Hulle verskil egter van die martlet hierin dat die martlet op die swaeltjie gebaseer is, terwyl die merlet ’n eendjie is.
[3] Heraldry of the Church of the Province of Southern Africa, 1847-2000, deur F G Brownell, uitgegee deur Heraldsholme CC, Pretoria 2002.
[4] My vertaling.
[5] Die Engelse woord caboshed (wat as aansiende vertaal word) dui op ’n dier se kop wat op die aanskouer reguit terugkyk, met die nek glad nie sigbaar nie.
[6] Die woord afgeruk (erased) beteken letterlik ’n dierkop wat aan die nek afgekap is, met ’n rowwe skeidslyn waar ’n swaard of byl verskeie male kon gekap het. In die heraldiese tradisie
word dit met drie grasieuse punte aangetoon.
Daar is nog ’n derde styl vir die vertoon van ’n dier se kop in heraldiese formaat: gesny of afgesny, waar die nek met ’n reguit afkaplyn getoon word.
[7] Biskop Knight-Bruce, wat verantwoordelik was vir die gebiede van die British South Africa Company (wat later Rhodesia gedoop is), is op Salisbury (tans Harare) gebaseer.
[8] Biskop Smyth, verantwoordelik vir Mosambiek, is op Lourenço Marques (tans Maputo) gebaseer.
For English, click here
Bron van beelde: Lyntekening van bisdom se wapen in Brownell se boek, deur die werfmeester ingekleur met behulp van MS Picture It! Hier bygevoeg is die skild van Burdett-Coutts soos deur Barrie Burr geteken. Volgrootte beelde van die wapen van Burdett-Coutts ook deur Barrie Burr.
Terug na indeks bisdomme
(wapens soos oorspronklik gevoer)
Terug na Armoria ecclesiastica-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle