Dierelewe

Afrika se Groot Vyf

Praat van ’n bonte menigte—dis die diere-verskeidenheid op ons vasteland. Om hulle almal breedvoerig in een artikel te bespreek, is ’n onbegonne taak; bloot vir die Afrika-soogdiere of -voëls sou ’n hele ensiklopedie mos nodig wees. In die  artikel hieronder gee ons dus net ’n kort oorsig van ons kontinent se dierelewe, terwyl ons foto’s beperk bly tot die sogenaamde Groot Vyf van Afrika: die olifant, leeu, luiperd, renoster en buffel.  Alle jagters na kennis is welkom om verder te lees!

 
E
uropese ontdekkingsreisigers van ’n eeu of twee gelede kon hulle nog aan die tonele verwonder: die massas wildsbokke op ons golwende grasvlaktes en ewe veel ander diere in ons boswêrelde. Want toe was Afrika nog grotendeels ongerep... ’n vasteland waarvan die pragtige plante- en dierelewe in ’n harmonieuse ewewig verkeer het.

Maar dis helaas lankal nie meer so nie. Soos oral gebeur waar die mens homself meer toeëien as wat die natuurlike omgewing hom kan bied, het magtige troppe wild ook op ons kontinent  tot skamele groepies diere weggekwyn.  

Die wilde diere wat daar nog is, moet dus met die grootste sorg teen uitwissing bewaar word, sê verontruste fauna-kenners. Anders sal ons uiteindelik nog net in museums kan sien hoe, sê, ’n leeu en ’n renoster gekyk het...

Daar is twee afsonderlike sones in die dierewêreld van Afrika: die noordelike en noordwestelike sone, wat die Sahara insluit, en die Ethiopiese sone, waarby die hele vasteland suid van die Sahara inbegrepe is.

Die noordelike en noordwestelike sone word gekenmerk deur diere wat soortgelyk is aan dié wat ’n mens in Eurasië vind. Dis ’n wêreld van makgemaakte diere soos skape, bokke, perde en kamele. Die Barbaryse skaap, Afrika-edelhert en twee soorte Europese steenbokke is inheems aan die Noord-Afrikaanse kus. Woestynvosse word in die Sahara aangetref, asook hase, gaselle en die jerboa (woestynspringmuis, ’n springende knaagdiertjie).

Dit is egter veral in die Ethiopiese sone waar die groot verskeidenheid van eiesoortige diere en voëls met uitwissing bedreig word. Dit alles omdat hul habitat verlore gaan weens menslike indringing of as gevolg van wilddiewery.

Die boslande en grasvelde is die tradisionele hougebiede van talle soorte wildsbokke, asook sebras, kameelperde, buffels, die Afrika-olifant, renoster, die bobbejaan en verskeie aapsoorte. Karnivore (vleisvretende diere) sluit die leeu, luiperd, jagluiperd, hiëna, jakkals en meerkat in.
  
Plantegroeistreke van Afrika

REGS: Afrika se plantegroei.
Die dierelewe van ’n streek
hou baiemaal verband met die bepaalde soorte plante wat daarin voorkom.

Die seekoei word in die riviere aangetref, waaruit hy snags na die droë grond toe kom om te wei. Die gorilla, die grootste aap ter wêreld, hou in die reënwoude van ekwatoriale Afrika, tesame met bosapies, vlieënde eekhorings, vlermuise en lemurs. Baie van hierdie spesies, veral die olifant, renoster, luiperd, leeu en gorilla, word vandag egter omtrent nog net in spesiaal afgebakende wildbewaringsgebiede aangetref.

Die voëls behoort meestal tot Ou Wêreldse groepe. Die tarentaal is ’n belangrike wilde voël. Watervoëls, vernaamlik pelikane, reiers, flaminke en ooievaars, versamel in hul menigtes. Die ibis (Nylreier) is darem ook nog volop in die Nylgebied, terwyl die volstruis in Oos- en Suidelike Afrika voorkom.

Die reptiele is ook meestal Ou Wêrelds en sluit akkedisse, krokodille en skilpaaie in. ’n Verskeidenheid van giftige slange, waaronder die mamba, word regdeur die Ethiopiese sone aangetref. Luislange kom veral in Wes-Afrika voor.

Varswatervisse is wel volop in hul verskeidenheid—meer as 2 000 spesies is bekend – maar besoedelings weens chemiese afval wat in riviere beland, is ’n groot bedreiging vir die waterlewe.

Tot oormaat van ramp word die vasteland ook nog geteister deur verskeie hoogs skadelike insekte, vernaamlik muskiete, rooimiere, termiete, sprinkane en tsetsevlieë. Die tsetsevlieg dra slaapsiekte aan mense en diere oor.

''Afrika,''  sê een waarnemer, ''is vandag in ’n gedurige stryd om oorlewing gewikkel. Jy sien dit aan die oorloë, die hongersnode, die stryd teen vigs. Maar jy sien dit ook in sy natuur. Waar dit alles nog gaan eindig, is ’n ope vraag.''
 



Leeu
 
    Leeumannetjie in Namibië

BO: Sy Majesteit die Leeumannetjie poseer in Namibië vir ’n vorstelike portret.

Foto deur yaaaay,
wat dit op hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web uitgeplaas en gelisensieer het ingevolge die bepalinge van die Creative Commons Attribution 2.0 Generic-lisensie

 

DIE leeu (Panthera leo), die legendariese “koning van die diere”, word vandag in Afrika hoofsaaklik in die Serengeti-wildtuin in Tanzanië en die Krugerwildtuin in Suid-Afrika aangetref. 

Die
drastiese verkleining van die hougebied van die leeu was die gevolg van menslike indringing in die savanne—omdat leeus in oop gebiede hou, word hulle maklik deur jagters en veewagters geskiet.

Leeus se prooi wissel van insekte tot kameelperde. Hulle verkies groot diere soos sebras. Dis hoofsaaklik die wyfies wat jag en wel saans en as ’n groep. Eers nadat ’n prooidier platgetrek is, maak die mannetjie sy verskyning om vir die maaltyd aan te sit.

Leeus is poligaam (het meer as een maat) en teel elke 18 tot 26 maande in die vrye natuur aan, maar een maal per jaar in gevangenskap. ’n Wyfie kry een tot vier welpies op ’n slag.



Olifant
 


 
BO: ’n Afrika-bosolifant of savanne-olifant (Loxodonta africana).

 

Foto: © Lauren Humphries,
wat vrye gebruik vir opvoedkundige en nie-kommersiële doeleindes vergun

WETENSKAPLIKES reken dat die olifant, die grootste lewende soogdier op land, tot 10 000 jaar gelede nog op elke groot landmassa op die aarde voorgekom het, buiten Australië en Antarktika. Vandag is daar drie oorlewende spesies, naamlik:

 •  die Indiese of Asiatiese olifant (Elephas maximus) van Indië en Suidoos-Asië;
 
• 
die Afrika-bosolifant of savanne-olifant (Loxodonta africana); en
 •  die Afrika-woudolifant (Loxodonta cyclotis).

Olifante behoort tot die familie Elephantidae in die orde Proboscidea.

Een van die olifant se kenmerkendste eienaardighede is sy beenlose, gespierde slurp, wat in der waarheid ’n verleng­de bolip en neus is. Die olifant gebruik dit soos ’n hand om onder meer grasse, blare, plantwortels, vrugte en selfs water na sy mond te bring. Moderne olifante verorber tot 200 kg voer en drink tot 190 liter water per dag.

Die ivoortande, wat diep in die skedel vassit, is eintlik enorme snytande wat regdeur die dier se lewe aanhou groei.

Die Afrika-bosolifant (op ons foto) word maklik van die Indiese olifant onderskei deurdat hy groter is en groter ore het. Die Indiese olifant word tot drie meter hoog en die Afrika-bosolifant tot byna vier meter.

D
ie Afrika-woudolifant is tot onlangs as ’n subspesie van die Afrika-bosolifant beskou, 
maar DNS-toetsings dui glo op twee afsonderlike spesies (hoewel nie alle geleerdes hieroor saamstem nie en daar dus nog ’n taamlike onsekerheid eers).

Die Afrika-woudolifant verskil onder meer van die Afrika-bosolifant deurdat hy ’n lang, smal onderkaak het, teenoor die bosolifant se kort, breë onderkaak. Sy is ore is ook gerond, waar die bosolifant se ore meer gepunt is. Daarbenewens is die woudolifant se ivoortande aansienlik kleiner.

Wat meer sê, die woudolifantbul word selde hoër as 2,5 meter, teenoor die bosbul wat byna vier meter kan haal.

En dan het die
Afrika-bosolifant normaalweg vier toon­naels aan die voorpoot en drie aan die agterpoot, teenoor die Afrika-woudolifant wat in die reël vyf toonnaels aan die voorpoot en vier aan die agterpoot het.

Selfs die toonverskille toon dus dat die woudolifant op sy eie vier pote kan staan as ’n olifanttipe uit eie reg!


   
Renoster

 
  

 
BO: ’n Swartrenoster (Diceros bicornis) in Tanzanië

Foto: John and Karen Hollingsworth / U.S. Fish and Wildlife Service

HOEWEL die renosterfamilie in vroeëre geologiese tye wydverspreid voorgekom het, bestaan daar vandag slegs vyf spesies: drie in Asië en die Maleisiese argipel en twee in tropiese Afrika. Die swartrenoster van Afrika, wat in savannes en berghange suid van Ethiopië op ons vaste­land voorkom, het twee neushorings en ’n lang, gepunte, “grypende” bolip.

 

BO: ’n Witrenoster (Ceratotherium simum)

Foto deur Kwh,

wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web geplaas het en gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom, deling en afgeleide werke word vergun mits behoorlike erkenning gegee word en dit slegs versprei word ingevolge ’n lisensie wat identies is aan hierdie een. Amptelike lisensie

Van Afrika se witrenoster, wat ook twee neushorings het, lewe daar nog slegs ’n handjievol in Oos-Afrika en net ’n paar duisend in Suid-Afrikaanse wildtuine. Die witrenoster is eintlik nie wit nie—die  "wit" is glo ’n vervorming van "wijde", wat na die wye vorm van sy onderlip verwys. In Engels word dan ook na die witrenoster as die “square-lipped rhinoceros” gepraat, benewens die gewone naam “white rhinoceros”.

 

Hulle is groot, logge diere. Groot witrenosterbulle kan meer as 2500 kg weeg.
 

Die groot Indiese renoster, met sy enkele neushoring, is die grootste van al die Asiatiese soorte, terwyl die skaars Java-renoster (ook met een neushoring en waaroor elders op die Mieliestronk-werf meer vertel word) gevaarlik op die rand van uitsterwing huiwer.
 
Die renoster is die grootste lewende landsoogdier met die uitsondering van die olifant en miskien die seekoei, met ’n uiteindelike skouerhoogte van een en ’n halwe tot iets onder die twee meter en ’n lengte van so drie, vier meter. Die wyfie kry een kalfie ná ’n draagtyd van vyftien tot agttien maande. Die kalf kan dertig maande lank by die koei bly, maar wanneer ’n tweede kalf gebore word, word die oudste spruit deur die ma weggejaag, ten minste tydelik.
 
Renosters behoort tot die familie Rhinocerotidae.


Buffel
 

Kaapse buffel (Syncerus caffer)

BO: ’n Kaapse buffel (Syncerus caffer), afgeneem in die Mabula- private wildtuin by Bela-Bela (Warmbad) in die Suid-Afrikaanse provinsie Limpopo.

Foto deur Paul M Rae,

wat dit op hierdie bladsy  by Wikimedia Commons op die wêreldwye web geplaas het en gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution 2.5-lisensie. Kortom, vrye verspreiding en wysiging word vergun mits die fotograaf of lisensieerder erken word. Rande van foto deur ons weggesny.
 

DIE arme buffel is blykbaar ’n dier met ’n reputasie! ’n Onbeskofte mens word immers ’n buffel genoem, en soms ook ’n nukkerige, nors mens. Maar eintlik is die buffel ook maar net ’n neef van die doodgewone melkbees, weliswaar sterker en meer formidabel, dog sekerlik nie meer ongepoets as sekere ander groot bullebakke in die natuur nie!
 
Buffels is inheems in Afrika en Asië. Dié van ons eie vasteland sluit die Kaapse buffel en die dwerg-woudbuffel in—altwee maar net verskillende vorms van dieselfde spesie.
 
Die Kaapse buffel, wat verspreid oor die grootste gedeelte van Suidelike Afrika en Midde-Afrika voorkom, het ’n skouerhoogte van sowat 1,7 meter. Hy is bekend vir sy horings wat ’n helm oor sy voorkop vorm en tot omtrent een meter lank word.
 
Die dwerg-woudbuffel hou in beboste dele van Midde- en Wes-Afrika. Hy is sowat anderhalf meter hoog, het ’n rooi vel en horings van sowat 75 cm lank wat na agter gedraai is.

Buffels behoort tot die familie Bovidae, subfamilie Bovinae. Die Kaapse buffel en die dwerg-woudbuffel is verskillende vorms van Syncerus caffer.



Luiperd
 

Luiperd (Panthera pardus)

 

BO: ’n Luiperd (Panthera pardus).

Foto deur JanErkamp,

wat dit op hierdie bladsy in Engelstalige Wikipedia op die wêreldwye web geplaas het. Kopiëring, verspreiding en/of wysiging word vergun ingevolge die bepalinge van die lisensie GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere weergawe soos deur die Free Software Foundation gepubliseer, sonder Invariante Dele, geen Voorbladtekste en geen Agterbladtekste.



DIE luiperd (Panthera pardus), ’n lid van die katfamilie, leef in ’n groot verskeidenheid van habitats in Afrika sowel as Asië.

Die lyf van ’n volwasse luiperd is sowat ’n meter tot byna twee meter lank (die meter lange stert uitgesluit). Sy bleekbruin pels het swart vlekke in die vorm van gebroke sirkels.  Party is donkerder van kleur, terwyl sommige—in andersins gewone werpsels—heeltemal swart is.

Die luiperd is ’n kranige klimmer wat dikwels apies in bome sal bekruip. Wanneer wild skaars is, sal hy veldmuise, ystervarke en selfs vrugte vreet. Die wyfie kry een tot ses welpies op ’n slag.


JagluiperdsREGS: Die luiperd (“leopard”) moet  nie verwar word met die jagluiperd (“cheetah”)  wat ’n heeltemal ander katspesie is nie. Hier is twee japluiperds besig met ’n gemoedelike “gesprek”.

Foto: U.S. Fish and Wildlife Service

Klik hier terug te keer na die inhoudsblad