Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

KNYSNA
Provinsie/staat: Wes-Kaap (voorheen Kaapprovinsie/Kaap Colonie).
Afdeling: Knysna.
Toevoegings: Leisure Isle, Knysna-Koppe (1968).
Ingelyf: 2000, in Plaaslike Munisipaliteit Knysna.

Knysna

Die wapen is in 1959 opgetrek, maar is blykbaar nooit geregistreer nie. Dit mag so geblasoeneer word:

Gevierendeel: 1. In goud, ’n afgesnyde wit perdekop; 2. in blou, ’n varingblaar van silwer; 3. in blou, ’n geelhoutboom van goud; 4. in goud, ’n bul-olifantkop half na regs gedraai, in sy natuurlike kleure.

Wrong en dekkleed: Goud en blou.

Helmteken: Die brik Knysna met volle seil in sy natuurlike kleure, met op die twee mastoppe blou wimpels.

Leuse: Concilio et Prudentia.

Oor die wapen:
Hierdie devies is saamgestel sonder veel heraldiese kennis. Gevierendeelde wapens kom alte dikwels in Suid-Afrikaanse munisipale heraldiek, ek is dikwels bloot daar om ’n gelyke getal velde te voorsien waarin soveel wapenfigure moontlik geprop kan word.

Die eerste kwartier verbreek die heraldiese reël dat metaal nie op metaal geplaas mag word nie: ’n wit (of silwer) perdekop verskyn op ’n veld van goud (of geel). Die perdekop is ’n verwysing na die pronkende perd in die wapen van Hannover, en die steeds gewilde legende (terloops as totaal ongegrond bewys) dat die dorp se stigter, die Engelsman George Rex, die onegte seun was van koning George III.[1]

Die tweede kwartier toon ’n woudvaring – ’n Khoikhoi-woord wat varing beteken is een moontlike herleiding van die dorp se naam. Die spesie word nie genoem nie, maar die Knysna-bos (noord en oos van die dorp) is beroemd vir sy groot bome en ’n verskeidenheid varings wat daaronder groei.

Die boom in die derde kwartier word beskryf as ’n geelhout. Vier spesies geelhout is inheems in Suid-Afrika, waarvan twee, Podocarpus falcatus (Outeniekwa-geelhout) en P latifolius (opregte geelhout), in die woude gevind word. Die woude strek vanaf George tot aan die oostelike end van die Tsitsikammaberge.

Die opregte soort groei in oop omgewings dikwels hoër – omdat die Outeniekwa-geelhout deur wind geaffekteer word – en bereik tot 33 meter in hoogte. Maar in die diep woude is dit die Outeniekwa wat tot 60 m gegroei het, met ’n hoofstam van 25 m en ’n stammate van 7 m.

Dit is jammerlik dat sulke majestueuse bome almal afgekap is, en die grootste oorlewende is die beroemde Groot Boom te Diepwalle, wat in 1955 42 m gestaan het, met ’n hoofstam van 22 m en ’n omtrek van net oor die 2 m. Dit word geskat op ’n ouderdom van 1 700 jaar en groei steeds.

Die vierde kwartier toon die kop van ’n bul-olifant (Loxodonta africana) met lang tande.

Die Knysna-bos was lank terug die tuiste van groot troppe olifant, maar slegs ’n kwynende handvol bly oor.

Dit is deels omdat beide mense wat gewasse kweek en houtkappers met olifante probleme gehad het – opbrengste is platgetrap, en manne wat timmerhout kap is verjaag en doodgetrap. Sedert die woude sowat 2½ eeue gelede die eerste maal bewoon is, het die mens hierdie diere met vuurwapens gejag, nie altyd met ivoor as doel nie.

Pogings is gemaak om die trop te laat herleef, deur die inbring van olifante uit die Nasionale Krugerwildtuin, maar dit het misluk omdat hierdie sawanna-olifante is, nie woud-diere wat hier sou inpas nie.

Enkeles van die oorspronklike Knysna-olifante word steeds in die bos gevind, en gerugte van kleintjies veroorsaak groot verwondering in die gemeenskap.

’n Aantal olifantwesies word tans in die distrik grootgemaak.

Olifante is nogtans baie belangrik vir inwoners, en beelde daarvan kom voor in allerhande aandenkings wat te koop is.

Die helmteken toon die brik Knysna, wat deur George Rex gebou is, en wat in sy tyd in die omgewing wel bekend was.

Die leuse vertaal as “Met samewerking en verstandigheid.”

Oor die dorp:
Daar bestaan verwarring oor die oorsprong van die dorp se naam, wat op sy beurt van die rivier geneem is wat hier ’n lagune vorm, langs die oewers waarvan die dorp gegroei het.

Een gesaghebbende stel dit dat dit ’n korrupsie is van twee Khoikhoi-woorde, !goa-//na, wat “reg af” beteken, en verwys na die steil kranse – die Koppe – wat oor die hawe-ingang troon.

Maar dit is meer waarskynlik dat die oorsprong ’n Khoikhoi-woord is wat “varing” of “varingblare” beteken.

George Rex was nie die eerste wat in die Knysna-valleo geboer het nie; hy het in 1804 die plaas Melkhoutkraal gekoop, voorheen die eiendom van Stephanus Terblanche, en het tot sy dood in 1839 daar gewoon.

’n Gehuggie met die naam Melville is in 1825 op Melkhoutkraal gestig, en in 1846 ’n tweede gehuggie genaamd Newhaven. In 1881 is hulle as dorpie saamgevoeg, onder die naam Knysna en met sy eie munisipale raad.

Die omgewing is vir sy skoonheid beroemd. Die leuse in die wapen van die Afdelingsraad Knysna was Pulchra terra Dei donum (“Hierdie skone land is die gawe van God”).

Die eerste skip wat deur die Koppe ingeseil het was die 188-ton brik Emu, ’n vervoerskip van die (Britse) Royal Navy, wat vergaan het toe dit 1817 ingeseil het. Die reddingskip Podargus het suksesvol die lagune binnegeseil, en gedurende die daaropvolgende eeu het vele vragskepe dit gevolg om saaghout weg te voer.

Die Knysna, wat uit stinkhout gebou is, is in 1830 gelanseer, en twee ander skepe is gedurende die 19de eeu op Knysna gebou. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is Knysna weer, en met geweldige sukses, vir bootbou gebruik. Bootbou is een van ’n verskeidenheid industrieë wat gedurende die 20ste eeu op die streek se houtbronne gebou is.

Die eerste vrag timmerhout uit die woud is Augustus 1788 vanaf Plettenbergbaai verskeep. Om vervoer vanaf die boom tot by die saagmeule, en daarvanaf tot by die stoomskip-kaai in die lagune-hawe, te versnel, het die South-Western Railway Company in 1904 ’n spoorlyn twee voet breed gebou vanaf die hawe tot by ’n eindpunt 35 km weg op Diepwalle. Tussen 1907 en 30 April 1949 het die treintjie 559 000 km die bos in en uit gedek en 28 000 ton timmerhout jaarliks gehanteer.

’n Takspoorlyn van 68 km vanaf George (in die Kaapse spoorbreedte van 3vt 6dm, die Suider-Afrikaanse standaardbreedte) het in 1907 Knysna bereik. Een gevolg hiervan is dat Knysna as hawe gekwyn het, en sy lootsdiens is in 1954 ontbind. Die spoorweg na Knysna het op een stadium sy passassiersdiens verloor, maar die trajek word tans as ’n stoom-lokomotief behoudingsprojek deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Spoorwegmuseum gebruik, en ’n spesiale passassierstrein, die Outeniqua Choo-Tjoe, loop gereeld vanaf Mosselbaai, veral in die vakansietye.

Onder beroemde besoekers aan Knysna was George Bernard Shaw, wat in 1932 vyf weke lank op die Knysna Hotel ingewoon het toe hy The Black Girl in Search of God geskryf het.

Sedert 1950 is oesters in die Knysna-lagune gekweek.

Nà die munisipale verkiesing van 2000, is Knysna saam met Belvidere (oorkant die lagune), Brenton, Reenendal en Sedgefield saamgevoeg om die Plaaslike Munisipaliteit Knysna te vorm. Hierdie plaaslike regering is op sy beurt deel van die Distriksmunisipaliteit Tuinroete/Klein Karoo.

Naam van die dorp:
Ten spyte van die onsekerheid aangaande die oorsprong van die dorp se naam, het dit ’n standaard-spelling wat sedert George Rex se tyd onveranderd bly. Die uitspraak varieer wel. In Engels is dit “Naaiz-na”, maar in Afrikaans “Nys-na”.



[1] Kyk hierdie webbladsy vir die wapen van Brittanje met Hannover onder sy kwarterings (soos deur George III gevoer).


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: Geskiedkundige aantekeninge uit die Standaard-Ensiklopedie van Suider-Afrika.

  • Skandering met vergunning van die Evening Post. Illustrasie deur die Stadsraad Knysna voorsien.


    Terug na munisipaliteite-indeks

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle