Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

UITENHAGE / TINARHA
Provinsie/staat: Oos-Kaap (tot 1994, Kaapprovinsie/Kaap Colonie).
Distriksraad: Westelike Distriksraad (voorheen Afdelingsraad Uitenhage; daarna Afdelingsraad Dias; later Streeksdiensteraad Algoa).
Toevoegings: Kwanobuhle en KwaLanga (1995)
Ingelyf: in Nelson Mandela Metropool, 2000.

Wapen van 1804

Uitenhage

Wapen 6 September 1994 geregistreer deur die Buro vir Heraldiek, Pretoria:

Wapen: In swart, ’n ankerkruis van silwer.

Helmteken: ’n Ankerkruis van silwer bo ’n kroon van goud.

Wrong en dekkleed: Swart en silwer.

Die Stadsraad het verkies om nie ’n leuse te gebruik nie.

Dit mag genoem word dat alhoewel die heraldiese tradisie van die meeste Europese lande (met uitsondering van Spanje en Portugal) wit en silwer as variante van dieselfde kleur beskou, nie aparte kleure nie, is hierdie briefhoof in beide silwer en wit gedruk. Een of die ander kon gekies word, maar die gebruik van altwee dui op ’n gebrek aan voeling met die aanvaarde gebruik.

Die dorp, wat aan die Swartkopsrivier lê, is 25 April 1804 gestig om die setel te wees van ’n nuwe drostdij (’n plaaslike regeringskantoor onder ’n landdrost, met administratiewe en kleinregtelike gesag oor beide dorp en distrik, bygestaan deur ’n raad van heemraden). Die gebied rondom Algoabaai was voorheen deel van die distrik van die drostdij Graaff-Reinet.

Drostdy van Uitenhage

Wapen van 1804:
Die wapen is ten eerste aan die Drostdij Uitenhage deur die dorp se naamgenoot, Jacob Abraham Uitenhage de Mist, verleen. As Kommissaris-Generaal was hy die senior beampte van die Bataafse Republiek tydens dié se bewind aan die Kaap (1803-06), en het ’n hoër rang geniet as die Goewerneur, genl Janssens.

Tydens sy dienstermyn het De Mist wapens aan die vyf drostdijen van die kolonie verleen, sowel as aan die Raad der Gemeente Kaapstad.

Die patroon vir hierdie wapens was dié van ’n skild met ’n anker as skildhouer, en in elke geval was die wapen op die skild dié van die dorp se stigter of naamgenoot.

Met ander woorde, hierdie elegante, eenvoudige ontwerp van ’n silwer ankerkruis op swart was De Mist se eie familiewapen.

Ofskoon Kaapstad tot in 1995 die anker in sy wapen gevoer het, het die ander vyf dorpe dit lank voor dit laat vaar. Die stigter se wapen het egter tot in die 1990s die devies gebly wat in elk van die vyf dorpe, sowel as die Moederstad, gevoer is.

Uitenhage het in 1841 munisipale status behaal en het die reg tot die drosdywapen aanvaar.

Die dorp se wapen is identies met dié van die Belgiese kommune Wezembeek-Oppem, wat op sy beurt die wapen ontleen van die Ridders van Burbure.

Oor die dorp:
Die distrik Uitenhage (vroeër deel van die distrik Graaff-Reinet) is 25 April 1804 in die lewe geroep – toe die Kaap onder die gesag was van die Bataafsche Republiek – en deur die Goewerneur, Generaal Jan Willem Janssens, ter ere van die Kommissaris-Generaal, Jacob Abraham Uitenhage de Mist, vernoem.

Kaptein Johann Christoph Ludwig Alberti, ’n Waldecker-offisier[1] en tweede-in-bevel van die garnisoen te Fort Frederick (tans in die hartjie van Port Elizabeth, maar destyds die enigste gebou langs Algoabaai) is as landdros van die nuwe distrik aangestel, en is beveel om ’n plaas te koop en ’n dorpsgebied daarop op te meet. Hy het die leenplaas gekoop van Elizabeth Scheepers, weduwee van Gerhard Scheepers, wat ’n pionierboer was in die suide van die distrik Graaff-Reinet. Die plaas het langs die Swartkopsrivier gelê, waar dit van tussen die berge uitvloei en die kusvlakte bereik.

Die dorp is eintlik nà die vertrek van die Waldeckers en die Bataafse regering ontwikkel.

’n New York-gebore Nova Scotiaan, kolonel Jacob Glen Cuyler,[2] wat ook militêre bevelvoerder was op die oosgrens, is nà Alberti as landdros aangestel.

Cuyler se eerste taak as landdros was die oprig van 'n drostdy-gebou, maar 'n tekort aan arbeid (opgekommandeer van plase in die distrik) het veroorsaak dat dit agt jare geneem het om te voltooi. Die drosdy staan tot vandag toe, en is tans ’n museum.

’n Tydelike NG kerkgebou is 1812 opgerig. In 1819 het advokaat De Mist vir die gemeente ’n groot Bybel geskenk, met leer oorgetrek en met silwer slotte.

In 1820 het werk aan ’n nuwe kerkgebou begin, maar weens regtelike twiste is dit nie voor 1842 voltooi nie. Die gebou, sedert 1927 as kerksaal gebruik, is in 1966 tot geskiedkundige monument verklaar.

Tipies van binnelandse dorpe in Oos-Kaapland in die 19de eeu was Uitenhage groter en meer belangrik as Port Elizabeth. Die eerste spoorweg in die Oostelike Provinsie van die Kaap Colonie het die twee dorpe gekoppel en is 21 September 1875 formeel geopen. Maar ironies was dit die aankoms van die spoorweë – meer spesifiek die koppeling van Kaapkolonie se hawens eerstens aan Kimberley in 1890 en in 1892 aan die Witwatersrand – wat daartoe gelei het dat die binnelandse dorpe gekwyn het, en die groei van die hawestede tot eersterangse posisie.

Ná die munisipale verkiesing van 2000 het Port Elizabeth deel geword van die Nelson Mandela Metropool.

Naam van die dorp:
Die naam Uitenhage het dieselfde spelling in Afrikaans en in Engels (alhoewel die gewone Engelse uitspraak die ietwat afskuwelike “Yoo-t’n-haig” is).

In Xhosa, egter, het die eerste vokaalklank weggeval is die res van die vokale aangepas tot Xhosa-uitspraak. In Xhosa staan die letters RH vir dieselfde klank as G in Afrikaans en Nederlands, of CH in Skots. Die Xhosa-vorm van die naam, alhoewel dit lank in gebruik was, het eers ’n amptelike naam van die dorp geword toe Xhosa in 1994 ’n landstaal geword het.



[1] Kapt Alberti het behoort aan die Jäger (ligte infanterie) van die 5de Bataljon, Waldecker Regiment, ’n eenheid wat deur die Vors van Waldeck as huursoldate uitgehuur is. Die regiment het in die Amerikaanse Bevrydingsoorlog die Britse kant gedien, waar hulle aan die rewolusionêres as “Hessiane” bekend was, aangesien Waldeck die kleinste was van die drie state wat vandag die Duitse Land Hessen is. Gedurende die Bataafse tydperk aan die Kaap, is die 5de Regiment aan Nederland uitgehuur as garnisoentroepe vir Kaapkolonie. Die meeste is in die Kaapse Skiereiland gebaseer, en slegs die Jäger-kompanie is Algoabaai toe gepos.

[2] Kol Cuyler is op Albany (vroeër Orange) in die kolonie New York gebore, maar sy familie het Nova Scotia toe getrek toe hy steeds ’n seuntjie was, as gevolg van hul weiering om die onafhanklikheid van die Verenigde State te aanvaar. Tot ’n derde van Amerikaanse koloniste was sulke “United Empire Loyalists”. Aangesien hy uit ’n Yankee (Nieuw Nederland-Nederlandse) familie gekom het, was hy Nederlands magtig. Hy het ’n Nova Scotiaanse kommissie gehou, en dit was in sy tyd buitengewoon dat ’n koloniale kommissie deur Britse staande magte aanvaar is.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: Geskiedkundige aantekenige uit die Standaard-Ensiklopedie van Suider-Afrika; huidige wapen van ’n briefhoof; 1804-wapen uit Lions and Virgins, deur C Pama (Human & Rousseau).

  • Skandering van moderne wapen met vergunning van East Cape Weekend. Voorkoms van wapen van 1804 aangepas met behulp van MS Picture It!


    Terug na munisipaliteite-indeks

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle