Eersgeroepene
Apostel
deur Mike Oettle
PROTOKLETOS,[1] of eersgeroepene, is wat die Apostel Andreas (of Andries) in die vroeë Griekse Kerk genoem is. Dit is weens Johannes se Evangelie, waarin hy die eerste dissipel wat genoem word. (Johannes 1:40)
Hy en nog ’n dissipel van Johannes
die Doper (wat nie genoem word nie) was teenwoordig disciple toe, die dag nà
die Here se doop, Johannes vir Jesus sien verbystap het en toe gesê het: “Dààr
is die Lam van God!”[2] Die twee het dan die dag saam met Jesus deurgebring.
Andries se eerste optrede was om sy
broer Simon te roep, en te sê: “Ons het die Messias gekry.”[3]
Jesus, as hy Simon sien, sê: “Jy is Simon seun van Johannes;[4] jy sal Sefas genoem word.”[5]
Hierdie gedeelte uit Johannes
verduidelik die broers se ontmoeting met Hom langs die See van Galilea te Betsaida, wat in die Evangelies van Mattheus en Markus blykbaar uit nêrens uitkom. Daar berig hulle:
“ ‘Kom hier, kom saam met My, en Ek
sal julle vissers van mense maak.’ Hulle het dadelik die nette gelos en Hom
gevolg.” (Mattheus 4:19,20; Markus 1:17,18)
Andries (wie se feesdag 30 November
is) was blykbaar ’n genaakbare kêrel: dit was hy wat die seun met die vyf
rogbroodjies en twee visse na Jesus geneem het. En toe ’n groep Grieke vir
Jesus wou sien, het Philippus vir Andries genader, en hy het dinge gereêl.
Elfrida Vipont skryf dit so in Some Christian Festivals (my vertaling):
“Weens sy genaakbaarheid, en weens sy spesiale gawe vir die aanbring van mense
na Jesus, was Sint Andries nog altyd veral met sendingwerk geassosieeer.”
In latere jare was Andries wel met
sendingwerk betrokke, waar hy langs die Swartsee die Evangelie verkondig het,
maar dit was in die jartjie van Griekeland wat hy sy einde ontmoet het. Die
tradisie van die Kerk vertel vir ons dat Andries gekruisig is op Patras
(huidiglik Patrai [PatraV, Patrai]), aan die noordekant van die
Griekse skiereiland wat as Morea of die Peloponnesus bekend staan. Geen datum
is bekend nie; selfs die Encyclopædia Britannica verwys daarna as rondom
60/70 (nC). Tradisioneel was Andries se kruis X-vormig, en dit is ’n konvensie
van kerklike en heraldiese kuns dat hy òf op ’n X-vormige kruis, of saltier [6]
verskyn, of dat hy met een gesimboliseer word.
Die Romeinse keiser Constantius II
het opdrag gegee dat Andries se oorskot in 357 na Konstantinopel oorgeplaas word. Volgens ’n legende is ’n Griekse monnik deur ’n engel van die keiser se planne vertel, en het hy opdrag gekry om dit na die einde van die Aarde te neem.[7]
Dit is bekend dat van Andries se
oorskot in 733 nC deur die biskop van Hexham[8]
Skotland toe geneem is. Dit is in die sorg geplaas is van ’n monnikeklooster in
Fife wat twee eeue vantevore gestig is. Eers is dit Mucross genoem, toe
Kilrymont. Maar na die aankoms van Andries se relieke is ’n nuwe kerk daar
gebou, toegewy aan Andries as beskermheilige van Skotland, en het die plek as
St Andrews bekend geword. In 1160 nC is ’n katedraal op die plek gebou, en
volgens Bartram is die heilige se oorskot daar gehou totdat die katedraal
tydens die Reformasie vernietig is
En dit, dan, is hoe die tuiste van
gholf die naam dra van ’n Galileïse visserman.
Andries het ook bekend geword as een
van die Sewe Kampioene van die Christendom; die ander was: Georgius,[9] van Engeland; Dawid, van Wallis; Patrick,[10] van Ierland; Denis, van Frankryk; Jakobus (Santiago), van Spanje; en Antonius van Padua, van Italië.
Andries se skuinskruis het die
kenteken geword van Skotland. Weereens het die legende meer om te vertel as
bewese historiese feite, want dit vertel van ’n veldslag tydens die 9de eeu (vertel sommiges – ander, weer, vertel dat dit in die Donker Tyd was), op die vooraand waarvan koning Hungus van die Skotte en Pikte op die vooraand van ’n veldslag teen die Northumbriese leier Athelstan, om redding gebid het en, in ’n droom daardie nag, vir Andries op sy kruis gesien het. Die volgende oggend het hy Sint Andries se kruis in die hemel gesien.
’n Dokument wat 1165 gedateer is, het vroeër hierdie storie vertel, maar alhoewel 16de-eeuse na hierdie vroeëre dokument verwys, is dit sedertdien verlore.
Wat in die hemel gesien is was ’n wit kruis op blou – met ander woorde, het hy en sy leër ’natuurlike verskynsel gesien waarin twee wolkstrepe, op verskillende hoogtes, van die grond af vir ’n kruis aangesien word. Dit het ek self jare gelede in die Karoo gesien, en het ook in ’n boek ’n foto van so iets gesien (die titel waarvan ek ongelukkig vergeet het).
Die slag wat op Hungus se visie gevolg het word presies gegee as effens meer as ’n myl vanaf Markle, tans in die parogie van Prestonkirk in die graafskap East Lothian.
Die wit saltier op blou het die vlag
geword van die Skotse koning se leër geword – waarskynlik in dieselfde tyd (die
Kruistogte) wat ander Wes-Europese soewereine se leers kruisvlae begin gebruik
het, soos die wit op rooi van Engeland (wat later verruil is vir rooi op wit),
die rooi op wit van Frankryk (later wit op blou), en die groen op wit van
Vlaandere. Lees hier meer oor Sint Andries se kruis.
Dit is ook vir Skotse soldate beveel
dat hulle saltiere op hulle kleding moet dra sodat hulle op die slagveld
uitgeken kon word. Maar dit was dikwels nie wit op blou nie. Middeleeuse Skotse
leërs het bloot opdrag gekry om op hulle oorklede kontrasterende strepe
materiaal te plaas, wit indien die oorkleed donker was.
Vandag vorm Sint Andries se kruis
nie slegs deel van Brittanje se Union Jack nie, maar speel dit ook ’n rol in
die wedergebore Russiese nasionalisme, want Andries is ook beskermheilige van
Rusland.
Een tradisie het dit dat Pieter die
Grote[11] die Nederlandse vlag oorgeneem het en die kleure herrangskik het vir Rusland se vaandel.[12] Dit word ook beweer dat hy Skotland se vlag geneem het en die kleure omgekeer het vir ’n vlootvaandel, alhoewel Andries reeds lank met Rusland geassossieer is.
’n Derde Sint Andrieskruis is die
rowwe skuinskruis in rooi op wit wat die kenteken was van die hertoë van Boergondië, en wat (deur oorerwing) ook ’n belangrike militêre simbool was van die Habsburg-konings van Spanje.
Die res van Andries se oorskot is in
1208 na Amalfi (40 km vanaf Napels) oorgeplaas, en in die 15de eeu is sy kop na
Rome geneem. In 1964 het pous Paulus VI die kop aan Patrai teruggegee as gebaar
van welwillendheid teenoor die Griekse Ortodokse Kerk.
Die naam Andries (in Grieks, Andreas
[AndreaV]) beteken “manlik”. Sommige hou vol dat dit ’n vertaling
sou gewees het van ’n Hebreeuse of Aramaïese naam, maar Galilea was ’n gemengde
streek en Grieks is daar meer vryelik gebruik as in Judea. Die naam het in
Skotland gewild geword lank voordat dit veel in Engeland gebruik is, maar dit
verskyn ook in Spanje (Andres), Frankryk (André), Nederland (Andries),
Skandinavië (Anders), Rusland (Andrei), Pole (Andrzej, uitgespreek as Andzhei)
en Italië (Andrea). Die Italiaanse vorm word in Engels as meisienaam gebruik,
maar aangesien dit “manlik” beteken, lyk dit ietwat sinneloos.
Andries word ook met aardbewings
geassossieer, deur die San Andreasbreuk van Kalifornië – wat die naam dra van
’n Spaanse sendingkerk.
[1] In Griekse letters verskyn
hierdie woord as ProtokletoV.
[2] Johannes 1:36.
[3] Johannes 1:41.
[4] Johannes: in Hebreeus, Joganan.
[5] Kefas: Hebreeus vir “rots”; dit is in Griekse letters as KefaV geskryf. In Latyns is dit toe as Cephas geskryf,
uitgespreek as Kefas. Onder Franse invloed egter het die K-klank ’n S geword,
wat vir ons die on-Hebreeuse vorm Sefas gee, wat in die Afrikaanse Bybel
voorkom
In die Griekse taal het Kefas Petros (PetroV) geword, wat in Afrikaans Petrus en Pieter geword het, en in Duits en Engels Peter (die uitspraak verskil), in Frans Pierre, in Spaans en Portugees Pedro, in Italiaans Pietro, in die Skandinawiese tale Peder, en in Russies Pjotr.
[6] Die heraldiek noem dit ’n
skuinskruis of saltier.
[7] Aangehaal uit ’n
voorlegging oor Sint Andries tydens die 19de Internasionale Kongres van die
Veksillologie te York, deur Graham Bartram.
[8] Bartram noem dit dat die abdy van Hexham ook aan Andries toegewy is.
[9] In Grieks, Georgios (GeorgioV), in Engels George, in Duits Georg, in Nederlands Joris, in Italiaans Giorgio, in Spaans en Portugees Jorge. (Die Spaanse uitspraak is Hor-ge, die Portugees Zhorzh.)
[10] In Latyns, Patricius.
[11] Pyotr Aleksandrovitsj, (*1672 †1725, Tsaar van Rusland vanaf 1682, keiser vanaf 1721), wat onthou word as een van sy land se grootste staatsmanne
[12] ’n Ander tradisie is dat die kleure tradisionele Russiese kleure is, en dat die gebruik daarvan in die Weste opgelet is nà die tsaar se besoek aan Nederland (hy het ’n Hollandse skeepswerf besoek en soos ’n arbeider gewerk) en na Brittanje.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks