Hilda Basson Oettle gebore Malan
*14-07-1889
†26-11-1986
Hilda Malan is te Wellington, Kaapkolonie, gebore, en het het in ’n familie grootgeword wat ’n sterk Calvinistiese geloof gehad het. Haar vader, Albertus Johannes Malan (*1856) was ’n vooraandstaande burger en wabouer.
Albertus,
die jongste van ’n groot familie, is gebore op die Malan-familieplaas
Salamosvlei, in die Klein Drakenstein, sowat 12 km vanaf die Paarl. Sy
vader, Jan Jacobus Malan, het sy oudste seuns hul eie plase gegee, maar
finansiële stremminge het dit genoodsaak dat hy Salamosvlei aan ’n familielid
oorgee, en om vir Albertus as vakleerling by ’n wabouer in te boek op
Wellington,[1] ’n kort
afstand noord langs die Bergrivier. Albertus het by sy oom en tante, Charl[2]
en Magdalena Malan, geloseer, en het daar op sy niggie Elsje, twee jaar ouer as
hy, verlief geraak en met haar getrou.
Die jong paartjie was afstammelinge van Jacques Malan[3] en sy vrou Isabeau le Long, Protestantse vlugtelinge uit die Franse streek Provence, wat in 1688 hulle aan die Kaap gevestig het, deel van ’n nedersettingskema wat deur die Vereenigde Oostindische Compagnie vir Franse vlugtelinge gereël is.
In
latere jare is daar met eer en trots na hierdie vlugtelinge as Hugenote verwys,
met admirasie vir hulle standvastigheid in die Protestantse Geloof – hulle is
gedwing om uit Frankryk te vlug nà die afskaffing in 1685 van die Edik van
Nantes deur koning Louis XIV. Maar in hulle eie tyd was “Hugenoot” ’n skelterm,
en die Nederlandse amptenare het na hulle verwys slegs as Fransche
uitgewekenen, terwyl die uitgewekenes van hulself as Réformes of Gereformeerden
gepraat het.
Heelwat
van die nageslag van hierdie Hugenoot-setlaars is met ander
Hugenoot-afstammelinge getroud, maar ander is met Kaapse koloniste getroud wat
uit ander oorde gekom het – hoofsaaklik Nederland en Duitsland, maar ook Swede
en so ver weg as Bengale: Albertus se moeder was Hilletje Johanna Basson,
afgestam van die Nederlandse immigrant Arnoldus Willemsz Baesson (*1647 †1698),
wat in 1669 met die bevryde slavin[4]
Angela van Bengale getroud is. Hul seun Willem is met Helena Clements getroud,
wie se vader ’n immigrant uit Stockholm was.
Hilda – wie se kleinkinders, Engelssprekend sowel as Afrikaans, haar almal Ouma genoem is – het dit altyd in herinnering gebring dat haar ouers soggens en saans gebid het dat hul nageslag bekeer sou word tot geloof in Jesus Christus. Sy het ook lewenslang hierdie selfde gebed gebid.
Haar familie se betrokkenheid in godsdienstige sake het sover gestrek dat dit ’n perseel voorsien het vir Bybelvertaling. Dit lyk nie of Albertus, wat nie ’n formele opvoeding gehad het nie, hieraan deel gehad het nie, maar etlikes onder sy familie en vriende sou in sy tuinhuisie vergader. Sy jongste dogter, Ella,[5] het eendag opgewonde skool toe gegaan en haar Nederlandse meester vertel dat sy die manne gesien het wat die Bybel in Afrikaans vertaal.[6] Die Hollander se vernederende antwoord was: “Ik hoop dit zal nooit gebeuren!”
Alhoewel hy nie self formeel opgevoed is nie, het Albertus vas geglo dat sy kinders vir loopbane opgelei moet word – nie slegs sy seun Jan Petrus nie, maar al vier sy dogters. In sy tyd was dit ’n kontroversiële opinie, en hy het heelwat kritiek hiervoor ontvang.
Soos haar susters het Hilda die meisieskool op Wellington bygewoon – ’n voorloper van die huidige Hoërskool Hugenote. Dr Andrew Murray, predikant van die Nederduitsche Gereformeerde Kerk op die dorp, het verseker dat die skool Amerikaanse vroue as onderwyseresse gehad het. Klasse was (soos dit in Kaapkolonie die gebruik was) hoofsaaklik in Engels, maar het ook Nederlands ingesluit.
Nà haar skooljare is sy op die Wellingtonse Onderwyskollege opgelei, en het ’n ruk lank op Riversdal skool gehou. (Daar het sy vir die skilder Volschenk opdrag gegee om vir haar ’n toneel te skilder van die Sleeping Beauty-berg wat oor die dorp troon.) Terwyl sy op Riversdal, gebly het, moes sy per trein met die New Cape Central Railway tot op Worcester reis, en dan eers op ’n trein van die Cape Government Railways tot in Wellington om by haar ouers besoek af te lê. Daarna het sy op Worcester skool gehou.
Toe Hilda steeds op skool was het haar oudste suster, Magdalena (bekend as Leen of Suster) drie jaar op Stuttgart as musiekstudent deurgebring, in die destydse Koninkryk Württemberg. Toe sy teruggevaar het Kaap toe het haar vader haar vergesel. Aan boord van die skip sou Leen saans vir ’n fynproewer-groep passasiers klavier speel. Onder die toehoorders was ’n jong man uit Port Elizabeth, George Oettle, wie se vader vanaf Urbach, naby Stuttgart afkomstig. George het in Duitsland by sy familie besoek afgelê.
George het vir die Cape Government Railways gewerk, en toe hy in Kaapstad gestasioneer was, sou hy op Wellington die Malan-familie besoek, en ook in die middel van die somer op hul vakansietuiste by die Strand. Toe sy broer Erich ook Kaapstad toe getrek het – hy het aan die South African College vir die Cape Law Examination gestudeer – sou hy saam met George by die Malans kuier.
Erich het in later jare erken dat hy vir Hilda ’n ogie gehad het, maar hy was ’n “volwasse man” (al was hy net 18) en sy ’n bog kind van 10. Hy het maar vir haar gewag – en hy sou lank wag, want nadat hy in 1912 in die distrik Van Rhynsdorp vier plase gekoop het, was hy diep in die skuld, en moes hy eers daardie skuld afbetaal. Hy is in 1911 as assistent-magistraat[7] Van Rhynsdorp toe gestuur.
Uiteindelik het hy in 1917 by Hilda ’n draai gemaak tydens ’n treinrit tussen Port Elizabeth en Kaapstad en haar gevra om met hom te trou. Hulle is 4 April 1918 getroud, en 27 Februarie 1919 is hul eerste kind, Eric, gebore.[8]
’n Trougeskenk aan die gelukkige paartjie van Erich se vader[9] was ’n groot Bybel wat voorin hierdie boodskap dra: “To Erich and Hilda for Daily Use. 4.IV.1918. From Father. II Tim. 3,15-17”.[10]
Ek kan dit bevestig dat hierdie volume daagliks in hul huis gelees is, soggens en saans. As besoekende familielede Sondagoggende in die sitkamer byeengekom het, sou Erich (wat vir sy kleinkinders Oupa was) uit die boek lees. Gesangboeke (wat in die klavierstoel gehou is) is uitgedeel, en paslike gesange sou gesing word, met of sonder begeleiding.
Hilda het die volgende twee dekades deurgebring as moeder wat kinder grootgemaak het, terwyl Erich van die een magisteriële pos na die ander verplaas is – die jongste van hul vyf kinders, Marie-Selma, is Februarie 1927 gebore.
Erich het uit ’n Plymouth Brethren[11]-family gekom, Hilda van die NG Kerk. Die kompromis wat hulle bereik het, was dat hulle die kerk sou bywoon wat die naaste is aan sy magisteriële residensie was – wat beteken het dat op een dorp hulle miskien die NG Kerk sou bywoon, op ’n andere die Metodistekerk, en op nog ’n andere die Anglikaanse. Hul kinders is aangeneem in die kerk wat hulle op daardie stadium bygewoon het.[12]
Erich het Hoofmagistraat geword van Klerksdorp, dan Windhoek en uiteindelik die Paarl, waar hy afgetree het. Met sy aftrede is hy aangestel as Petrol-kontroleurder op Wynberg, want die oorlogtydse brandstofbeperkings was steeds effektief ten spyte van die oponthoud van oorlogvoering. Toe hierdie werk op ’n einde geloop het, het hy en Hilda na hul plaas, Lausanne, op Vredendal[13] afgetree.
Erich was ’n aktiewe boer en is in 1972 in die ouderdom van 90 op Lausanne oorlede, steeds hard aan die werk. Sy seuns Eric en Albert het intussen op die plaas by hom aangesluit. “Ouma” Oettle het ’n ruk lank op die plaas gebly, maar het toe na Pinelands, in die Kaapse Skiereiland, getrek, en het uiteindelik saam met Marie-Selma gewoon. Sy is November 1986 in die ouderdom van 99 oorlede.
Erich se dood het haar met meer geld gelaat as wat sy geweet het om mee te doen, maar sy het die spaarsame gewoontes behou wat sy oor vele jare aangeleer het – tydens die Groot Depressie moes Erich, as Staatsamptenaar, ’n salarisinkorting aanvaar.
Nà haar dood het dit uitgekom dat, nadat sy gehoor het dat ’n jong paartjie op die punt gestaan het om hul huis te verloor, omdat hulle met die huislening agterstallig geraak het, sy hulle uitstaande skuld gedek het. Sy het dit blykbaar ’n paar maal gedoen, elke maal vir wild vreemdelinge.
Al vyf van haar kinders het self kinders gehad – op die ou end was daar 19 van hulle – en almal het as kinders die geleentheid gehad om hul Ouma te ken. Sy was ferm maar vol liefde vir almal, en het nie die een of die ander voorgetrek nie.
Haar lewe was nie een van opvallende of openbare diens aan haar Heer nie, maad sy het nietemin gedien, en heelwat van haar goeie dade bly onbekend – wat betaamlik is, volgens Christus se opdragte aan sy volgelinge.
My vrou sê altyd dat, uit al die mense wat sy geken het, was Ouma ’n pragtige Christen was – “a saint”, sê sy, al sal sy nie amptelik so beskou word nie.
– Mike Oettle
[1] Die vallei wat die dorp Wellington geword het was vanaf die
eerste nedersetting aldaar, aan die einde van die 17de eeu, ’n sentrum van
wabouery. Dit het eers bekend gestaan as Wagenmakersvallei.
[2] Charl (*1812) en Jan was halfbroers. Hul vader was Daniel
Johannes Malan (*1775), wie se eerste vrou (Jan se moeder) Rachel du Plessis
was. Nà haar oorlye is hy met Maria Louw getroud. Charl se vrou was Magdalena
Hugo.
[3] Lank voordat die Reformasie vir Frankryk bereik het, het die
Malan-familie, wat afkomstig was uit ’n Provençaal-sprekende vallei aan die
Italiaanse kant van die huidige Frans-Italiaanse grens, aan die
Waldenser-beweging behoort. Dit was ’n Middeleeuse voorloper van die Reformasie
wat tydens die 12de eeu gestig is deur die wandelende prediker Pieter Waldo.
[4] Angela is bevry en gedoop, wat beteken het dat sy vry was om
met enige burger te trou. Omdat sy ’n slavin eers was, is slegs haar
geboorteland bekend – nòg haar presiese ouderdom nòg enigiets oor haar familie.
[5] Ella is nooit getroud nie. Sy het onderwyseres geword, en
daarna dosent aan die Onderwyskollege Wellington. Sy het ook ’n ruk lank te
Adams Mission, in Natal, onderwys gegee.
Op haar eie beskeie manier was sy ook ’n digteres, en het elke
jaar vir die verjaarsdae van haar broers- en susterskinders, en daarna vir húl
kinders, versies geskryf. Sommige van haar Afrikaanse gediggies is ook in
skool-bloemlesings gepubliseer.
Sy was ’n kort dame, en het in haar oudag as tant Ellatjie
bekend gestyaan. Sy het tot in 1995 geleef, en is ’n maand voor haar 103de
verjaarsdag oorlede.
[6] Ten spyte van ’n aktiewe Taalbeweging vir Afrikaans, is die
gesproke taal onder die kolonie se intelligentsia, wat òf in Engels òf in
Nederlands hul opvoeding gehad het, nie in hoë agting gehou nie. Toe dit
uiteindelik in die 1920s algemeen aanvaar is as geskrewe en gepubliseerde taal,
was sy voorkoms ietwat anders as dit wat dit in die 19de-eeuse publikasies van
die Genootskap vir Regte Afrikaners gehad het.
Een van Hilda se tantes het die tweede vrou geword van ds S J du
Toit, ’n leidende figuur in hierdie vroeë beweging vir Afrikaans.
Dit taak van die voltooiing van die eerste Afrikaanse vertaling
van die Bybel is eers in 1933 behaal, en die uiteindelike styl was heelwat
anders as hierdie vroeë pogings om te vertaal.
[7] In Erich se leeftyd is hierdie amp slegs “magistraat” genoem.
Die woord “landdros” is eers in 1958 op magistrate toegepas. Die geskiedkundige
landdros-amp (in Kaapkolonievoor 1826, en in die Boererepublieke) was ietwat
anders as dié van die magistraat.
[8] Die plek waar Eric gebore is, is tans ’n spookdorp. Genaamd
Klipdam, was dit ’n diamantdelwers-nedersetting langs die Vaalrivier in
Griekwaland-Wes. Voordat hy Klipdam toe gestuur is, was Erich magistraat op
Williston, in Boesmanland.
[9] Hoekom sy moeder van hierdie geskenk uitgelaat is, is onbekend.
[10] Die volume is deur die British and Foreign Bible Society
uitgegee, en die teks is die Engelse Authorised Version. Die Skrif waarna
verwys word (volgens die Afrikaanse Bybel van 1933) is:
“. . . en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou
wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.
“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot
wederlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
“sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
[11] Hierdie sekte, die lede waarvan na hulself verwys as Brethren,
broeders of eenvoudig Christene, het in Engeland ontstaan. Die eerste gemeente
is in 1831 op Plymouth, in Devon, gevorm. Die “apostel” van die sekte was John
Nelson Darby, voorheen ’n priester in die (Anglikaanse) Kerk van Ierland.
Alhoewel Darby eers ’n priester was, het hy die beginsel
neergelê dat die sekte geen ingewyde predikantsamp sou hê nie. Dit het na
verskeie leierskapskrisisse gelei – asook die ontstaan van sogenaamde profete
– want daar is geen duidelike
gesagstruktuur nie.
Darby het etlike jare in die Franssprekende dele van Switserland as evangelis deurgebring. Onder sy bekeerlinge was die Spühler-familie van kanton Vaud. George en Erich Oettle se moeder was Marie Spühler, uit Lausanne. Hul vader, Georg Johann Oettle (hy het in Suid-Afrika as George bekend gestaan), was ’n Lutheraan, maar het nà sy huwelik sy vrou se godsdiens aangeneem.
[12] Met die uitsondering van Eric, wat geweier het om in die
openbaar sy geloof in die NG Kerk te bely, en etlike jare later by die
Congregational-kerk aangesluit het.
[13] Toe Erich sy vier plase gekoop het, was Lausanne nie besonders
geleë nie, al was dit op die oewer van die Olifantsrivier. Maar in die 1920s
het besproeiing langs die Olifantsrivieroewers ’n groen rewolusie ontketen. Die
dorp Vredendal (wat in 1912 nie eens bestaan het nie – die naam het aan ’n
plaasopstal aan die regteroewer behoort) het langsaan Lausanne grootgeword, en
dele daarvan verswelg.
For
English, click here
Terug na Heiliges en Jaargetye-indeks