deur Mike Oettle
DIE Kerk bestaan uit allerhande mense. Vat nou Sophy Gray as voorbeeld.
Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal definieer “heilige” so: 1. Iemand wat tot die diens van God afgesonder is. 2. (R.K.) Iemand wat deur die pous heilig verklaar is. 3. Toegewyde, godvrugtige, vroom mens. Die Engelse woord “saint” word so gedifinieer: “a holy person; one eminent for virtue”.
Die woord heilig laat ’n mens aan iemand soos Fransiskus van Assisi dink, of Catarina van Siena – nie juis die perderuitervrou van Robert Gray, biskop van Kaapstad, wat met haar kinders streng en onmoederlik was.
Sophy was dit alles, maar ek sien haar ook vir ’n heilige aan. Sonder haar steun, beide as vrou en as administratiewe assistent, amateur-argitek en amanuensis,[1] sou Robert nooit dit kon bereik in die jare toe hy volgens gewoonte sy handtekening as “R Capetown” gemaak het.
Die Kerk van die Provinsie van Suid-Afrika het haar rol erken – ten minste het die domkapittel van Kaapstad se Sint Joriskatedraal dit erken – met die invoeging van ’n beeld, amper van lewensgrootte, in die venster van die
noord-transep, wat op Waalstraat afkyk. Haar gekleurde glasbeeld dra ’n groen
rygewaad en hoed, en sy staan langs Bernard Mizeki, die martelaar van Masjonaland. Robert verskyn elders in die katedraal; dieselfde venster toon sy weldoenster, mej Angela Burdett-Coutts, langs Charles Mackenzie, biskop van die verdoemde Central Africa Mission. (Hierdie vier is die enigste moderne figure in die venster.)
Die rygewaad wat bekend aan dié wat haar op reis ontmoet het, maar in der waarheid het sy dit vir die vertoon gedra, en was sy op ’n perd se rug die gelukkigste (sy het sysaal gery) in ’n heelwat eenvoudiger rok en gehadwende vilthoed. (’n Ongesiene deel van die ry-uitrusting was ’n nougepaste rybroek van seemsleer.)
Sy is 19 Januarie 1815 as Sophia Wharton Myddleton gedoop (nadat sy die 5de gebore is). (Myddleton voor haar geboorte by die familienaam bygevoeg in erkenning daarvoor dat haar vader ’n familiebetrekking se rykdom geërf het.) Sy en haar twee susters het in ’n ryk familie grootgeword met grondbesit in beide die North Riding[2] van Yorkshire en in die nabygeleë Durham. Lief vir perdery en boeke het sy en haar
susters goeie maats geword van die jon rektor wat in 1834 op Whitworth[3] aangestel is, by name Robert Gray.
Robert was die seun van biskop Robert Gray, wat in 1831 sy katedraal op Bristol teen ’n oproerige skare beskerm het en dit gered het, alhoewel hy nie by magte was om ’n brand te verhoed wat sy biskoplike paleis vernietig het. Die jongere Robert was nie ’n groot geleerde nie, en hy het ook nie ’n paleis besit nie, selfs nie ’n rektorshuis nie – hy moes stap, en later te perd ry, vanaf ’n gehuurde woonplek op Durham om sy priesterlike diens te kan verrig. Maar toe hy in ’36 ’n beter predikantsamp aangebied is, het dit eers met Sophy bespreek (sy het glad nie verstaan waarom nie) en dan om haar hand gevra. Toe sy ja sê, het hy besluit om op Whitworth te bly.
Hulle wittebrood, nà ’n verlowing van ses maande, was ’n voorloper op dit wat sou kom: die rektor (waarvan dit gesê kan word dat hy nou die heer van die manor was, aangesien Sophy se weduwee-moeder en susters vir hom plek gemaak het deur om uit die huis te trek) het saam met sy bruid’n uitgebreide perderit onderneem wat die verskeie familie-landgoedere in twee graafskappe besoek het.
Hulle het nege jaar op Old Park en Whitworth gebly voordat hulle vertrek het na ’n stedelike parogie in Stockton. Maar hulle lewens is heeltemal omver gewerp toe hy in 1847 versoek is om sy naam voor te stel vir een van drie nuwe koloniale bisdomme. Die uitnodiging was ’n verrassing, selfs groter was die
kennis dat hy uit ’n kort lys kandidate gekies is vir die Kaap die Goeie Hoop.
Die trek na Stockton was vir Sophy ’n groot skok – hoeveel meer die seereis na Afrika, ’n uiters duur affêre (dit het sowat £1 000 beloop) wat feitlik totaal uit haar en Robert se persoonlike geld betaal is. Gewoond aan ’n wêreld van biskoppe van wie dit verwag is dat hulle sekere standaarde behou het, waaronder ’n kledingstyl en ’n biskoplike paleis, het hulle saam met hulle Kaap toe ’n hele huishouding diensknegte gebring, plus meubels en ander toerusting wat ook ’n biskoplike koets ingesluit het.
Kort na hul aankoms (wat geruïneer is deurdat hulle uit ’n huis in
Rondebosch moes uittrek omdat dit vol weeluise en vlooie was) het hulle op ’n
landgoed gaan woon wat die naam Boschheuvel gedra het, en wat heel eerste aan
Jan van Riebeeck[4] behoort het. ’n Mens kan maklik hierdie adres bekyk as getuienis van ’n begeerte om die biskoppe van Durham na te aap – tot in Sophy se kinderjare was die houer van hierdie bisdom ’n kerklike en sekulêre vors, die ontsaglik ryke paltsgraaf van Durham.
Maar haar rekord as gasvrou weerlê hierdie aantyging. Bishop's Court,[5] soos dit bekend geword het, was altyd meer ’n kostelose hotel as ’n paleis, en Sophy het dit “eenvoudig en gerieflik”[6] gehou. Dit was beslis ’n familietuiste, met vyf kinders en ook ’n aia en ’n goewernante, maar predikante het alewig kom bly, òf op pad na parogieë in die platteland òf Kaapstad toe geroep oor Kerk-besigheid.
In 1849 was die kothuise in die binnehof die eerste maal van seuns vol, die kern van Robert se Collegiate School. Aan die einde van daardie jaar het die skool na Woodlands, in Rondebosch, verhuis, waar dit as die Diocesan College (of Bishop’s) bekend sou word. Van die seuns sou in die vakansietyd terugkom. In 1856 het opvoeding weer oorgeneem toe goewerneur sir George Grey uit die bloute die seuns van vier Xhosa-kapteins by die Gray-tuiste afgelaai het – voorgangers van wat Robert se “Kaffir College”[7] sou word. Hierdie skool het op Bishop’s Court gebly totdat Zonnebloem, bokant wat later die dorp Woodstock sou word, in 1859 aangekoop is.
In ’n tyd toe dit gereken is dat ’n vrou se plek in die huis is, het Sophy verkies om saam met haar man te gaan reis. Sonder haar teenwoordigheid sou hy nooit kon byhou nie. En terwyl sommiges haar vir haar ruiterskap geadmireer het, het ander dit beskou as onbetaamlik vir ’n dame. Daar was in 1856 ’n skande in die dorp George toe dit bekend geword het dat Sophy en Robert, toe hulle die Outenikwaberge oorgegaan het, verkies het om langs die verlate wapas Cradockskloof oor te stap (of eerder klouter) terwyl hul kapkar veilig op die Montagupas omgegaan het.
En haar administratiewe werk was onontbeerlik. Ek het van haar pogings om Engelse kerk-argitektuur in Suid-Afrika in te voer nie (dit is ’n ander storie), maar sonder haar getroue briefskryf en boekhou, sou Robert se werk nooit gedaan gewees het nie. Toe Robert die sinode van 1867 versoek het om
iemand aan te stel om haar werk oor te neem omdat haar gesondheid so swak was,
is hy dit geweier.
Die las van haar werk het sekerlik tot die verlies van haar gesondheid gelei, en sy is 27 April 1871 dood in die ouderdom van slegs 57.
[1] amanuensis – een wat
iemand anders se gedikteerde woorde neerskryf.
[2] Die woord “riding” dui op
’n een-derde verdeling: Yorkshire is in die verlede in die North Riding, die East Riding en die West Riding verdeel.
[3] Naby hulle tuiste op Old
Park, naby die stad Durham.
[4] Van Riebeeck, die eerste
Kommandeur van die Kaap, het oorspronklik ’n plaas gehad op die stuk grond
gehad wat op die ou end die Groenpunt-Meent geword het.
Toe dit duidelik geword het
dat die winde hier te sterk gewaai het om die grond enigsins van landboukundige
waarde te laat wees, het hy getrek na die bopunt van die heuwel wat oor vandag se Suidelike Voorstede van Kaapstad uitkyk (dit was destyds die suidelikste eiendom in die hele nedersetting), en het hy die plaas Wijnberg genoem. Maar toe hierdie naam ook gebruik is vir eiendomme laer af, het hy dit hernoem na Boschheuvel.
’n Eienaar in die vroeë
1800s het dit as Protea hernoem. Dit was onder hierdie naam dat dit deur
goewerneur sir Lowry Cole gekoop is, wat dit dan aan Gray verhuur het end dit
later aan die Colonial Bishoprics Trust verkoop het.
Die tak van die wapad van
Kaapstad na Wynberg (vandag Hoofweg) wat besoekers tot bo op die heuwel geneem
het, word steeds Proteaweg genoem.
[5] Bishop’s Court is in 1851 met die hulp van mev Burdett-Coutts gekoop. Sy is, in erkenning van haar vrygewigheid, later tot barones verhef (sy was die erfdogter van ’n skatryk familie).
[6] Aangehaal (my vertaling) uit The Bishop’s Lady deur Thelma Gutsche (Howard Timmins). Gutsche se
eie woorde is “simple, plain and comfortable”.
[7] Die woord “Kaffir”, wat tans met reg as diep beledigend beskou word, was in daardie jare die gewone naam in Engels (en Nederlands/Afrikaans) vir die amaXhosa.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle