Martelaars:
wat is hulle?
deur Mike Oettle
Konstantyn / Stefanus / Manche Masemola / Wentzel
WAT is dan so spesiaal oor martelaars, veral dié wat ons op die
Kerkkalender vind? Nouja, aanvanklik het die woord slegs ’n getuie beteken (in
Grieks martus [martuV], of martur- [martur-]). Aangesien die
Griekse hoofletter U soos ’n Y lyk, is die woord in Latyns so gespel: martyr-.
In die begin kon ’n mens dit
gebruik om al die Apostels te beskryf, want hulle was almal getuies tot Jesus
se lewe, dood en wederopstanding. (Paulus is ’n uitsondering, maar sy briewe
verduidelik sy posisie hierin.) Maar soos die jare verbygegaan het, is die
woord martelaar gereserveer vir dié wat vir hul geloof lyding deurgegaan het.
Dit was die gebruik om mense wat weens hulle geloof tronkstraf gedien het, om
die seëning of die vergiffeniswoord uit te spreek. Uiteindelik, toe die
Romeinse owerhede begin het om al hoe meer Christene dood te maak, is lyding
tot aan die dood beskou as ’n spesiale weg na Gods genade, iets wat die plek
van die doop kon inneem, en al hoe meer is die woord martelaarskap daaraan
gekoppel.
Die gebruik het onder plaaslike kerke begin om die datum van ’n martelaar se dood jaarliks te vier – aanvanlklik slegs die enkeles wat hulle persoonlik geken het. Dit was eers toe, nadat Konstantyn keiser geword het, die owerhede opgehou het om Christene te dood, dat ander voorbeeldige heiliges (dié wat nie weens hul geloof in Jesus doodgemaak is nie) tot die almanak bygevoeg is, en dat die dae van heiliges uit ander provinsies van die ryk ook erken is.
As die eerste wat weens sy geloof dood it, het Stefanus ’n spesiale plek on ons harte: ’n man “aan wie God baie genade en krag gegee het”, het voor die Sanhedrin ’n toespraak gelewer wat, soos wat dit in Handelinge berig word, na regte almal wat daar teenwoordig was, bekeer het. In plaas daarvan is hy as Godlasteraar verdoem en dood gestenig deur manne wat vas geglo het dis hulle plig aan God – iets wat Christus voorspel het – maar sy standvastige optrede terwyl hy gely het, het sekerlik op dié wat toegekyk het, ’n indruk gemaak. ’n Mens wonder selfs of Paulus, wat die kleding van die stenigers opgepas het, nie onbewus deur die dood van hierdie man vertroebel is nie, en of dit dan nie sy optrede langs die pad Damaskus toe beïnvloed het nie.
Omdat hy die eerste was nà Jesus,
is Stefanus in die kalender ’n ereplek gegee op die eerste dag na Kersfees.
(Dit was natuurlik slegs nadat Kersfees self erken is – en dit is ’n storie in
sigself.) Die meeste van ons onthou miskien slegs vir die dag weens die vers in
die kerslied Good King Wenceslas wat praat van “on the feast of
Stephen”.
Die liedjie gaan oor Wentzel,[1] wat vors-hertog was (nie koning nie) van die grotendeels Boheemse Slawwe wat steeds hulself Cechy,[2] of Tsjegge, noem. Sy ouma, Sint Ludmila, het hom as Christen grootgemaak, maar Ludmila is vermoor in opdrag van Wentzel se ambiseuse heidense moeder, Drahomira. Drahomira het toe regent geword totdat haar seun rondom 925 nC mondig geword het. Wenceslas was ’n uiters vrome man (hy het selfs ’n maagdelikheidseed afgelê), en het die vyandigheid van sy heidense onderdane aangewakker weens sy ywer vir die verspreiding van die Christelike Evangelie. Dit was vir hulle te veel toe hy, in die aangesig van ’n gedreigde Duitse inval, aan die Duitse koning oorgegee het. Sy heidense edel het saam met sy broer, Boleslav, saamgesweer, en op die oggend van 28 September 929 het Boleslav hom voor die kerkdeur op Stara Boleslav[3] doodgemaak, toe hy op pad was om die mis te gebruik.
Berigte van wonderwerke wat voor
sy graftombe plaasgevind het het vir Boleslav die skrik aangejaag, en in 932 is
Wentzel se stoflike oorskot na die Sint Wituskerk in Praag geneem; die kerk het daarna deur die Middeleeue ’n belangrike pelgrimsoord geword. Amper dadelik na sy dood is Wentzel as Boheme se beskermheilige beskou.
Soos ek na die almanak kyk, sien
ek dat 5 Februarie oorgegee is aan die martelaars van Japan – indien jy op die
TV Shogun gekyk het, sal jy onthou op watter wreedaardige manier die Christene van Japan (Japannees sowel as Europees) behandel is. Heelwat is nes hul Here gekruisig. Maar Afrika het ook heelwat martelaars, en word 21 Februarie aan die martelaars van Afrika gewy.
Een wat in ons eie land geleef
het was Manche Masemola, wie se dag op 4 Februarie val. Hierdie Mopedi-meisie
uit Sekhukhuniland, in die gebied wat onder apartheid Lebowa was, het in die
ouderdom van 18 haar in ’n katkisasie-klas laat inskryf, ten spyte daarvan dat
haar heidense familie daarteen gekant was. Haar moeder het haar gedreig met
aanhoudende loesings indien sy daarmee voortgegaan het, en Manche het haar
priester vertel dat sy in haar eie bloed gedoop sou word. Dit is juis wat 4
Februarie 1929 gebeur het, toe sy deur haar moeder en ander familielede
doodgeslaan is.
Ongelukkig het ek geen inligting
oor wonderwerke wat met Manche verbind word nie. Aangesien dit in die
Rooms-Katolieke Kerk gesien word dat die uitrig van wonderwerke ’n bewys is van
’n persoon se heiligdom, kyk ek dan ook daarna.
[1] In Pools en in Engels Wenceslas, in Duits Wentzel, maar in sy eie taal, Tsjeggies, was hy Vaclav (Wats-lav).
[2] In die Tsjeggiese taal word die volksnaam Cechy met ’n omgekeerde kappie op die C gespel. Dit word as “Tsjeggie” uitgespreek.
[3] Blykbaar is hierdie pleknaam aan die moorddaad ontleen.
For English, click here
Terug na Heiliges en Seisoene-indeks