Armoria academica
http://www.oocities.org/wapenskild

LAERSKOOL LORRAINE / LORRAINE PRIMARY SCHOOL, Lorraine, Port Elizabeth (tot in 1967, Walmer).

Laerskool Lorraine

Die wapen is deur sy ontwerper, Cor Pama,[1] so geblasoeneeer:

Wapen: In blou, ’n skuinslinks geplaaste penveer van natuurlike kleur; oor alles heen ’n skuinsbalk van oranje, gesoom van goud, en daarop drie geknotte adelaartjies in die rigting van die balk van silwer.

Leuse: Persevera.

Oor die wapen:
Die wapen is in 1973 deur die skoolkomitee en personeel aanvaar, en Pama het die finale tekening in Maart 1974 aan die skool gestuur. Om die een of ander rede is dit nie destyds met die Buro vir Heraldiek geregistreer nie, en daar word tans gereël dat dit geregistreer word.

Daar is blykbaar ’n verbreking van die heraldiese kleurereël: die skuinsbalk en die skildveld is altwee van tinkture (oranje op blou). Maar om drie redes is hierdie kritiek ongeldig. Eerstens, indien die veld beskou word as ’n kombinasie van blou en die silwer (of wit) van die pen, is die skuinsbalk se kleur in terme van die kleurereël nie ter sake nie. Tweedens is die skuinsbalk se kleur een van die drie heraldiese kleure wat as beitse bekend staan, wat apart van tinkture geklassifiseer word. En derdens is daar, soos dit in die blasoen duidelik gemaak word, ook ’n goue (of geel) omsoming, of fyn strepie van skeidende kleur, weerskante van die skuinsbalk, wat nie in die illustrasie sigbaar is nie.

Oranje, wit en blou is die kleure van die Suid-Afrikaanse vlag wat tussen 1928 en 1994 in gebruik was, dus was die kleurkeuse heel waarskynlik patrioties. Dieselfde kleure (alhoewel in heeltemal ’n anderse kombinasie) kom ook voor in die wapen van die buurskool Primêre Skool Sunridge.

Die penveer (gewoonlik ’n groot vlerkveer van ’n gans) was eeue lank die normale skryfinstrument in Wes-Europa en elders, en verskyn hier as simbool van opvoeding.

Die voëls – Pama noem dit geknotte adelaartjies, maar ek verkies om die woord alerion[2] te gebruik – is ’n vreemde devies, met die vorm van ’n klein adelaar, maar sonder bek of kloue.

Fox-Davies[3] lewer so kommentaar op hierdie wapenfiguur (my vertaling):

“’n Eienaardige vorm van die adelaar word in die alerion gevind, wat sonder bek of kloue voorgestel word. Dit is moeilik om te kan dink wat die oorsprong van die voël in hierdie ontaarde vorm sou wees, behalwe as sy eerste voorkoms miskien gesien kan word as die ondenkende voortleef van die een of ander swak getekende voorbeeld. Die bekendste gebruik daarvan is natuurlik in die wapen van Loraine; en, soos Planché dit uitgewys het, is dit so naby as kan kom aan ’n perfekte voorbeeld van ’n woordspelende anagram as wat in die wapenkunde gekry sal word.”

Fox-Davies verduidelik nie die buitengewone spelling van Loraine met slegs een R, waarsonder die anagram doelloos sou wees. Woordspelende deviese was in die Middeleeue veral gewild onder groot here en hulle heroute, alhoewel anagrammatiese voorbeelde heelwat minder aangetref word.

Die leuse is uit die ou skoolwapen behou. Dit vertaal as “volhard” of, letterlik, “gaan deur swaarkry”.
Hertogdom Lorraine

Pama het voorgestel dat die vroeëre wapen laat vaar word, waarin daar heelwat letters in die skildveld voorgekom het. Die sentrale embleem was ’n kleinerige vuurtoring. Aangesien vuurtorings algemeen in die wapens van skole langs die kus aangetref word, het hy gevoel dat dit maklik uitgelaat kon word.
Lunéville

In sy huidige voorkoms is die wapen ’n duidelike verwysing na die Middeleeuse en vroeë moderne hertogdom Lorraine,[4] wat aan die hoof ’n hertog gehad het wat teoreties ’n onderdaan was van die Heilige Romeinse Keiser, maar wat grotendeels ’n vry agent was in sy handelinge met sy bure, die koning van Frankryk ingesluit.

Dit lyk egter of Pama miskien selfs die kleure geneem het van ’n ommekeer van dié in die wapen van die stad Lunéville[5] in Lorraine: in goud, ’n blou skuinsbalk belaai met drie silwer sekelmane.

Pama se blasoen noem dit spesifiek dat die “geknotte adelaartjies” in die rigting van die balk lê. Dit is die gebruik in die heraldiek van die Europese Vasteland te noem, terwyl in die Britse heraldiek dit onnodig sou wees; daar sou dit slegs nodig wees om te spesifiseer indien die wapenfiguurtjies regop gestaan het.

Hertogdom Lorraine:
Die eenvoudige wapen van die hertoë van Lorraine was: in goud, op ’n rooi skuinsbalk drie silwer alerions.[6] (Die latere hertoë het hierdie wapen as deel van ’n heelwat meer gekompliseerde kombinasie gevoer.)

Die laaste lid van die Huis Lorraine wat oor die hertogdom regeer het François-Étienne I (*1708 †1765), wie in 1736 geslaag in sy huwelik met Maria Theresia van die Huis Habsburg, wie vanaf 1740 koningin was van Boheme en Hongarye en aartshertogin van Oostenryk. ’n Voorwaarde van sy huwelik wat egter vir hom deur Maria Theresia se vader, die keiser Carl VI, opgelê is, is dat hy afstand moet doen van Lorraine ten gunste van Stanislaw[7] Leszczynski (voorheen koning Stanislaw I van Pole), ’n opoffering wat deur Frankryk vereis is om die Oorlog van die Poolse Opvolging te beëindig (die voer van die oorlog het in 1738 geëindig).[8]
Koninkryk Pole Groot-hertogdom Litaue wapen van Leszczynski Stanislaw I Leszczynski, heerser van Pole-Litaue

Hertog Stanislaw, skoonvader van koning Louis XV van Frankryk, het tot sy dood in 1766 Lorraine behou. Die hertogdom is toe in Frankryk ingelyf as administratiewe generalité onder ’n intendant wat in die hoofstad, Nancy, gebaseer is.

François-Étienne is vergoed met die titel groothertog van Toscanië, en is in 1745 uiteindelik as keiser verkies, as Franz I. Sy en Maria Theresia se nageslag (die laaste Heilige Romeinse Keisers [tot 1806] en die Keisers van Oostenryk [1804-1918]) het as die Huis Habsburg-Lorraine bekend gestaan.

Die hertogdom was nie ’n geografiese eenheid nie, weens die skeiding daarvan gedurende die Hoë Middeleeue van die sogenaamde Trois-Évêchés (drie bisdomme), drie stede wat vors-bisdomme geword het en só van die hertogdom geskei is. Die hertog se gebied het gevolglik gelyk soos ’n legkaart waarvan sowat ’n vyfde van die stukke ontbreek.
Stad Metz

Hierdie bisdomme was dié van Metz (wat koning Lothair se hoofstad was, en wat in die Middeleeue ’n keiserlike vrye stad geword het, in die 16de eeu Protestants geword het, en in 1944 die toneel was van ’n groot veldslag), Toul (wat homself in 1545 onder die Franse koning se beskerming geplaas het) en Verdun (waar Karel die Grote se kleinseuns ooreengekom het om die koninkryk te deel, en die toneel van lankdurende veldslae in 1792, 1870 en die Eerste Wêreldoorlog). In 1648 het die drie stede in terme van die Vrede van Wesfale deel geword van Frankryk.

Lorraine lê langs die ietwat vae geskiedkundige grens tussen die Romaans- en Germaanssprekende streke van Wes-Europa, en ’n klein deel daarvan (effe minder as een-derde, die tuiste van ’n karige Duitssprekende meerderheid, en hoofsaaklik grondgebied wat nie deel was van die hertogdom Lorraine) is nà die Duits-Franse Oorlog van 1870-71 deur die Duitse Ryk geannekseer. Tesame met Bo- en Onder-Elsas[9] het dit die Reichsland Elsaß-Lothringen gevorm.

Tydens die Eerste Wêreldoorlog is etlike groot veldslae in Lorraine geveg. Nà hierdie oorlog is die Reichsland in Frankryk heropgeneem.

Lorraine in Walmer:
Gedurende die 1930s is die naam Lorraine deur die dorp Walmer gegee aan ’n gebied wat toe wes gelê het van beide Walmer en Port Elizabeth, deel van die plaas Nooitgedacht en onlangs in Walmer ingelyf, en is uitgelê met straatname wat veldslae wat tydens die Eerste Wêreldoorlog in en naby Lorraine geveg is, sowel as plekke elders.

Die dorpsgebied lê tussen die Baakens- of Kabegarivier aan die noordekant (noordgrens van Walmer), en aan die suidekant die smalspoorlyn[10] wat Port Elizabeth met die Langkloof koppel. Suid van die spoorlyn lê Lorraine Manor, wat ook Franse straatname het.

Een straat is Saar genoem, vir die Duitse gebied wat nà altwee Wêreldoorloë beset is, en nog een vir die pelgrimsoord Lourdes, in die verre suide van Frankryk.

Mense wat in en naby Lorraine en Lorraine Manor woon, is dikwels onbewus van die Franse herkoms van die straatname.

Terwyl nie al die woonbuurt se strate die name het van plekke in of naby Frankryk, het baie dit wel, weens ’n instruksie van die munisipale raad dat name wat met Frankryk of met die Wêreldoorloë verband hou, gebruik mag word. Sommige van die name behoort aan riviere, waarvoor distriksowerhede, of départements, naamgegee is. Op hierdie lys is die koppelings hoofsaaklik na webbladsye wat wapens, vlae of altwee van die plekke of streke het:

Aisnelaan, Alsaceweg (wapen, vlag), Ardennesweg, Arrasweg, Arricourtlaan,[11] Ascainweg, Aubestraat, Bayeuxweg, Belvédèreweg, Besançonweg (wapen, vlag), Blancweg,[12] Bordeauxweg, Caenweg, Calaisweg (wapen, vlag), Carentanweg, Cézanneweg,[13] Châlonsweg,[14] Chartres-plek, Chaumontweg, Cherbourgstraat (wapen, vlag), Clermontstraat,[15] Clunylaan, Colignyweg, Colmarweg, Courcellesweg,[16] Crozantstraat, Debrestraat,[17] De Gaulle-singel, Delvilleweg,[18] Dijonweg, Épinallaan, Flandersweg,[19] Grimaudestraat,[20] Jardinstraat,[21] Lacroixweg,[22] Le Havrestraat, Le Mansweg, Lemornestraat,[23] Lilleweg[24] (wapen, vlag), Longwylaan (wapen, vlag), Lorientplek, Lorrainestraat, Lourdeslaan, Lunévilleweg, Lyonsingel (wapen, vlag), Mâconweg, Marnelaan, Marseilleslaan (wapen, vlag), Meuselaan, Mentonweg, Metzlaan, Mimesweg, Mirecourtlaan, Montmédylaan, Moselleweg (wapen, vlag), Murvillestraat, Nancyweg, Noireweg,[25] Orléansstraat, Orneweg, Pompadourlaan, Rennesweg, Rhôneplek, Rouenweg, Rynstraat,[26] Saarstraat, St Lostraat, Sarthestraat, Sedanlaan, Seinestraat,[27] Sommelaan, Tarbesstraat, Tarnlaan, Thionvilleweg, Toulonweg (wapen, vlag), Toulousestraat (wapen, vlag), Toursweg, Verdunweg, Versaillesweg (wapen, vlag), Vitrylaan[28] en Vosgesweg.

Oor die skool:
Die skool is huidiglik ’n parallel-medium koëdukasie-laerskool (Graad 1 tot 7, voorheen Sub A, Sub B en St 1 tot 5), wat ’n perseel in Jardinweg het wat op ’n vierhoekige park afkyk (skuins teenoor die straatpatroon) aan die aansluiting van Jardin en Meuselaan, terwyl die skoolvelde aan Dijonweg (wat langs die spoorlyn loop) en Marnelaan aangrens.

Dit het in die vroeë 1940s sy begin gehad, in ’n versoekskrif aan die Port Elizabethse Skoolraad[29] wat deur ongeveer 40 ouers in Lorraine woonagtig geteken is, wat die oprig van ’n skool in hulle eie area versoek het. Lorraine was toe hoofsaaklik ’n plattelandse woonbuurt.[30] Hulle was ongelukkig oor die afstande wat hul kinders moes aflê om by skole in Newtonpark,[31] Fairview en Walmer[32] uit te kom.

’n Tweekamer-skooltjie vir Afrikaans- sowel as Engelssprekende kinders is 11 April 1944 in Vitrylaan oopgemaak. Die hoof was mnr J G Kilian, voorheen op die personeel van die Laerskool Excelsior, in Port Elizabeth se Mountweg-omgewing, en sy enigste personeellid was ene mej Romm.

Die openingseremonie is deur etlike ouers uit altwee taalgroepe bygewoon, wat hulle steun en samewerking belowe het – iets wat kenmerkend van die skool geword het.

Teen Augustus 1946 was daar 54 leerlinge, van wie 18 Engelssprekend was. Dit het die skool op ’n derde onderwyser geregtig, en hierdie pos is vanaf Januarie 1947 goedgekeur – ten spyte van die feit dat die onderwysers reeds in 1946 in die deur-openings van die oorvol klaskamers moes staan. Bykomstige behuising is in die vorm van voorafgevaardigde leërhutte voorsien.

Teen 1952 het leerlinggetalle tot 127 gegroei, en is nog vyf onderwysers aangestel. Selfs met die leërhutte was dit nodig om kamers in privaatwonings as klaskamers te gebruik. Die onderwysgehalte was egter volgens die mening van inspeksieverslae bevredigend.

Juniemaand 1948 het mnr Kilian die Kaapprovinsie se Superintendent-Generaal van Onderwys, mnr W de Vos Malan, in Kaapstad besoek, en is die nuwe gebou bo-aan die departement se bouprogram-voorkeurlys geplaas.

April 1951 is die tender van die firma Dunn & Lees aanvaar vir ’n kontrakbedrag van £18 928 7s 7d, en was die nuwe gebou 1 Mei 1952 gereed.

Maar reeds was die akkommodasie onvoldoende en moes die personeelkamer as klaskamer gebruik word, ten spyte daarvan dat die personeel nou gestaan het op sewe voltydse onderwysers en ’n deeltydse spraakterapeut.

In 1956 het 10 onderwysers en 238 leerlinge steeds dieselfde gebou gebruik. Bykomstige akkommodasie is in 1958 voltooi.

Die eerste skoolkomitee van die Laerskool Lorraine is in Oktober 1967 aangestel, onder voorsitterskap van mner T F Roberts. ’n Skoolkomitee-verkiesing wat in 1970 gehou is, het misluk weens die gebrek aan ’n kworum, en is die Port Elizabethse Skoolraad verplig om die nuwe komitee aan te stel. Hierdie komitee was steeds sittend toe die stigterprinsipaal, mnr Kilian, in Maart 1973 afgetree het.

Lorraine se landelike aaard het beteken dat die installering van ’n telefoon in Mei 1952, en van elektrisiteit in die skoolgebou in die vierde kwartaal van daardie jaar besondere gebeure was.

Die skool het ook in November daardie jaar ’n kunskamer in gebruik geneem, en die eerste skoolfunksie in die nuwe skoolgebou is 12 November gebou.

Munisipale water is eers in 1961 aangelê, maar riolering het meer as ’n dekade langer geneem. ’n Tydelike dreineringstelsel is in 1974 geïnstalleer.

Mr Kilian se opvolger het kort na sy aanstelling Kaapstad besoek en die LUK vir Onderwys, mnr G Lubbe, besoek. Dit het as gevolg gehad die uitnodigin op tenders vir verdere uitbreidings, met inbegrip van ’n skoolsaal, wat mnr Kilian se naam sou dra.

Werk het in Junie 1977 begin, en die opening in November 1979 is deur mnr Lubbe se opvolger, mnr F A Loots, uitgevoer.

’n Geskiedenis van die skool wat iin die program vir die inhuldiging van die skoolsaal en uitbreidings in 1979 gepubliseer is, noem dat gedurende die vorige 35 jaar die skool nooit ’n onderwyspos weens ’n afval in leerlinggetalle verloor het nie. Getalle het eerder met ’n amper konstante 10% vermeerder. Die komplement was op daardie stadium 483 leerlinge, 22 personeel en ’n kleriese assistent.



[1] Daar word dikwels na Pama – in sy tyd Suid-Afrika se vooraanstaande heraldis buite die Buro vir Heraldiek – as dr Pama verwys. Die enigste tersiêre kwalifikasie wat hy gehad het, was egter ’n eredoktoraat.

[2] Dit word ook as allerion gespel.

[3] A C Fox-Davies: A Complete Guide to Heraldry, hersien en met aantekenings deur J P Brooke-Little, Richmond-herout (Nelson).

[4] Die naam Lorraine is die Franse vorm van Lotharingia, ’n verwysing na die Karolingiese koning Lothair (855-869 op die troon), wat die middelstreke verleen is in ’n verdeling van die Karolingiese ryk tussen Karel die Grote se drie kleinseuns. Die ander twee was Chlodoweg (Ludwig die Duitser, wat ook Louis genoem word, wat [Wes-]Duitsland ontvang het, asook die keiserstitel) en Carl (wat Frankryk ontvang het).

Die Franse streek staan ook in Afrikaans as Lotharinge bekend, in Nederlands as Lotharingen, en in Duits as Lothringen.

Lotharingia het gestrek vanaf Friesland (’n graafskap wat ’n groot gebied gedek het wat tans gedeel word tussen Nederland en Niedersachsen, in Duitsland; kyk hier vir die wapen en hier vir die vlag van die moderne Nederlandse provinsie) in die noorde, deur wat ons huidiglik Nederland en België sou noem, die Franse tradisionele provinsies Lorraine, Boergondië, die Franche-Comté, Dauphiné en Provence, en die noorderhelfte van Italië. Dit het uiteindelik gekwyn na ’n gebied slegs effens groter as die latere hertogdom Lorraine.

[5] Die wapen van Lunéville, met sy drie sekelmane, is woordspelend, want die maan is in Frans la lune.

[6] Indien jy die alerions verwyder, het jy die wapen van die markgrawe (later die hertoë en groothertoë) van Baden.

[7] Die naam Stanislaw word eintlik gespel met ’n letter L wat ’n skuinsstreep deur hom het. Hierdie uniek Poolse letter dui op ’n konsonant wat uitgespreek word soos die Engelse klank W, terwyl die letter W die (Engelse) klank V voorstaan. As ’n mens die Engelse klankwaardes erken, spreek jy die naam as Staniswav uit.

Die naam verskyn in Duits as Stanislaus, en in Frans as Stanislas (die hoofplein in Nancy dra steeds die naam Place Stanislas). Die naaste aan ’n Engelse ekwivalent is die neiging in sommige Pools-Amerikaanse families om hulle seuns Stanley te noem – natuurlik heeltemal ’n ander naam.

Stanislaw was nie net koning van Pole nie, maar ook groothertog van Litaue, daarom die Vytis, of Christen-ridder, van Litaue wat met die silwer adelaar van Pole gekwartier word. Sy familiewapen (een van die variasies op die wapen van die Wieniawa-familiegroepering) toon ’n swart bisonkop op rooi. In die Westelike heraldiek sou dit as ’n verbreking van die kleurreël wees, maar in die Slawiese heraldiek is dit aanvaarbaar. Die basiese Wienawa-wapen is ’n swart bisonkop op goud.

[8] En ook om die grondsug van koning Louis XV te bevredig.

[9] Hierdie oorwegend Duitssprekende gebied staan in Duits (beide Hoogduits en die Swabies-Alemanniese streekdialek Elsassies) bekend as Elsaß, in Nederlands en Afrikaans as Elsas, en in Frans en Engels as Alsace.

[10] Dit staan bekend as die Apple Express-lyn, vir die stoomtrein wat vir toeriste op deel van sy roete loop. (Goedereverkeer op hierdie lyn is reeds omtrent twee dekades onder dieselkrag.) Die naam Apple Express dui op die appelboorde van die Langkloof en die Gamtoosvallei, wie se opbrengs tydens die appelseisoen langs die 2vt-lyn vervoer word en vanaf die treine binne verkoelingloodse in die hawegebied afgelewer word.

[11] ’n Slagveld uit die Eerste Wêreldoorlog langs Lorraine se grens met Duitsland.

[12] Daar is ’n gemeente met die naam Le Blanc in die département Indre.

[13] Blykbaar ’n verwysing na die skilder Paul Cézanne.

[14] Bekend of as Châlons en Champagne of Châlons-sur-Marne. Kyk hier vir die wapen van Champagne, hier vir die vlag.

[15] Daar is verskeie plekke in Frankryk wat die naam Clermont dra, waarvan Clermont-Ferrand blykbaar die bekendste is.

[16] Behalwe Courcelles, in die Belgiese provinsie Hainaut, is daar ook die dorpe Courcelles-Chaussy en Courcelles-sur-Nied, altwee in die département Moselle.

[17] Dit dra die naam van ’n Franse Weerstandsvegter uit die Tweede Wêreldoorlog wie se nom de guerre Michel Debre was.

[18] Delville Wood is die naam wat in Engels gegee word aan die slagveld buite die dorp Longueval, waarna daar in Frans verwys is as “le bois del ville” (die dorpsbos [of plantasie]).

[19] Flanders is die Engelse naam van ’n Middeleeuse graafskap (die naam beteken “oorstroomde land”), deel waarvan deur die Koninkryk Frankryk geannekseer is (die provinsietjie Flandres [wapen, vlag], tans deel van die département Nord). Die res het die huidige Belgiese provinsies West- en Oost-Vlaanderen geword, wat ook saamkom om die taalstreek Vlaanderen te vorm.

Die Belgiese Vlaandere was nog ’n streek waar die veldslaglyne van die Eerste Wêreldoorlog jarelank vasgeraak het. ’n Beroemde gedig oor die gesneuweldes van daardie oorlog begin: In Flanders fields the poppies grow,/ between the crosses, row by row. (Hierdie gedig sal gevind word onder die opskrif The Literary War in die webwerf Heritage of the Great War.)

[20] Daar is ’n dorpie Grimaude naby St Tropez.

[21] Die straatnaam Jardin (wat “tuin” beteken) is blykbaar bloot aangeneem omdat dit ’n Franse woord is.

[22] Die dorpie Lacroix St Ouen buitekant Compiègne was in altwee Wêreldoorloë die toneel van hewige gevegte. Compiègne self was die toneel van die wapenstilstand van 1918, en van die kapitulering van Frankryk in 1940, wat altwee in dieselfde spoorweg-eetsalon onderteken is.

[23] Hierdie naam is ietwat raaiselagtig. Alle verwysings na ’n Lemorne of Le Morne wat nagespoor kon word was na kus-oorde in die Franssprekende tropiese eilande Mauritius, Réunion, Guadeloupe en Martinique. Maar aangesien die woord morne Kariebiese Frans is, en ’n voorgebergte of breë kaap beteken, is dit nie verbasend nie.

Die wapens van Mauritius en Réunion kan op International Civic Arms gevind word.

[24] Die stad Lille was ’n Vlaamse nedersetting wat in die vroeë Middeleeue reeds verfrans is. Dit het deel geword van die tradisionele provinsie Flandres en val vandag in die département Nord. Tog staan dit na al die jare in Nederlands as Rijssel bekend.

[25] Noireweg en Montagnestraat lê langs mekaar, wat dit laat blyk of daar ’n verbintenis is met die Montagne Noire (“swart berg”) in die département Tarn, in die Pirenieë.

[26] Dit is die Afrikaanse spelling van die rivier wat in Duits Rhein genoem word, in Nederlands Rijn, in Frans Rhin en in Engels Rhine.

Die rivier ontstaan in Graubünden (Grischun of Grisons), die Rumantsch-sprekende kanton in die suide van Switserland, loop noordwaarts om die wesgrens van beide Liechtenstein en Oostenryk te vorm, dan vloei dit in die Konstanzmeer, wat deel is van die Duits-Switserse grens. Dit loop dan weswaarts, hoofsaaklik as die Duits-Switserse grens, dan draai dit noordwaarts, en vorm dit die grens tussen Frankryk (Elsas) en Duitsland (Baden, tans deel van Baden-Württemberg). Elsas word verdeel in die départements Haut Rhin en Bas Rhin.

Nou nie meer ’n internasionale grens nie, vloei dit deur Duitsland se Länder Rynland-Palts en Noordryn-Wesfale en langs Hessen, en vloei dan Nederland binne, waar dit ’n delta vorm.

[27] Daar is vier départements wat die naam dra van die Seine-rivier: Seine, Seine et Marne, Seine Maritime en Seine Saint Denis.

[28] In die breë Marne-gebied is daar ten minste twee plekke met die naam Vitry, Vitry le François in die département Marne, en Vitry sur Seine in die département Val de Marne.

[29] Hierdie instansie het onder die Skole-Ordonnansie gesag gehad om primêre en sekondêre onderwys binne die magisteriële distrik Port Elizabeth te reguleer. Sy regsgebied het die Stad Port Elizabeth, die dorp Walmer en die plattelandse gebiede onder beheer van die Afdelingsraad Port Elizabeth te reguleer.

[30] Lorraine het tot in die 1980s sy landelike aard behou, en in dele selfs tot in die ’90s.

[31] Laerskool Newton, wat later verdeel is in Herbert Hurd Primary School en die skool wat tans Laerskool Newtonpark heet.

[32] Walmer Primary School. Die skool wat destyds in Fairview was, het in die 1960s gesluit.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: inligting en hoof-illustrasie deur die skool voorsien. Bykomstige inligting uit Encyclopædia Britannica, onder ander bronne. Wapens van Lorraine, Pole, Litaue en Leszczynski uit Lines of Succession: Heraldry of the Royal Families of Europe deur Jíri Louda en Michael Maclagan (Londen: Orbis Publishing, 1981); wapen van Lunéville met vergunning van International Civic Arms.


    Terug na skole-indeks

    Terug na Armoria academica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle