Armoria academica
http://www.oocities.org/bona_spes

UNIVERSITEIT PRETORIA, Hatfield, Pretoria, Gauteng.

bynaam

Universiteit Pretoria

Die wapen is 28 April 1978 deur die Buro vir Heraldiek geregistreer. Die blasoen op die wapenbrief lui:

Kepersgewys verdeel van rooi en blou, ’n omgekeerde gaffel vergesel van regs drie bye geplaas 1 en 2, links drie ringe geplaas 2 en 1 en in die skildvoet ’n ossewa, alles van goud.

Helmteken: Voor ’n gekabelde anker van goud,’n oop boek van natuurlike kleur.

Wrong en dekklede: Goud en rooi.

Wapenspreuk: AD DESTINATUM PERSEQUOR.

Oor die wapen:
Universiteit Pretoria Die wapen, wat in 1930 op inisiatief van die Studenteraad opgetrek is, toe die inrigting ’n selfstandige universiteit geword het, simboliseer in sy geheel die Voortrekkers en die state wat hulle gestig het, veral die Zuid-Afrikaansche Republiek, waarvan Pretoria die hoofstad was. Ook simboliseeer dit geleerdheid.

Die ossewa in die onderste deel van die skild is die hoofsimbool van die Voortrekkers. Ongelukkig is dit ’n foutiewe beeld, want die wa wat getoon word is ’n transportwa met ’n halfkap, nie ’n kakebeenwa (met volle tent) soos wat deur die Voortrekkers gebruik is nie.

Die fout het ontstaan in die seël van die Transvaal Colonie, en is daarvanaf herhaal in die 1911-wapen van die Provincie Transvaal (’n onreëlmatige verlening waarvan die Administrateur eers jare later te hore gekom het; kyk hier vir ’n bespreking hiervan). Vanuit daardie wapen is dit (op dieselfde groen skild) in die wapen van die Transvaal University College opgeneem, en is sedertdien deel van die universiteit se simboliek.

Die ringe word ontleen uit die familiewapen van Jan van Riebeeck, stigter van die Kaapse nedersetting, en simboliseer die Voortrekkers se Kaapse oorsprong.

Die bye kom voor in die wapen van die Stad Pretoria, en verskyn as simbool van vlyt en aktiwiteit, sowel as die soete vrug van arbeid.

Die helmteken is in sy geheel oorgeneem van die Transvaal University College, en is dus die oudtste deel van die wapen wat met die inrigting geassosieer is.
Universiteit Pretoria (1930)

Die anker in die helmteken word ook aan die Kaap ontleen, en is lank reeds ’n simbool van Kaapland as geheel. Dit verskyn in die helmteken van Kaapkolonie, en ook as skildhouer in die wapens wat Kommissaris-Generaal Jacob Abraham Uitenhage de Mist in 1804 aan Kaapstad en die vyf drosdye van die kolonie verleen het.

Die boek is simbool van geleerdheid.

Die leuse vertaal as: “Ywerig en volhardend streef ek na die gestelde doel.”

Die universiteit het oor die jare heen verskeie tekenings van hierdie wapen gebruik. Die een wat bo getoon word, word beskryf as die “seremoniële wapen”. Wat ook tans in gebruik is, is ’n tekening (links aangetoon) wat slegs die skild en helmteken aantoon en waarna verwys word as die “wapenskild”. Hierdie is eintlik foutief, want die helmteken hoort eintlik saam met die helm, en indien die helm weggelaat word, behoort slegs die skild vertoon te word. ’n Verdere fout in die “seremoniële wapen” is dat die helmteken uit proporsie uit is – buitensporig groot – bo die helm, terwyl die skild ietwat te klein is.

Die oorspronklike tekening van 1930 word regs aangetoon.

Die universiteit bekyk tans die kwessie van moontlike nuwe simboliek.

Vlag van die universiteit:
Die Universiteit Pretoria het sy eie vlag, blou bo en met die onderste een-derde rooi (horisontaal), waarop ’n skild van die wapen in die middel verskyn. Dit kan hier gesien word.

Oor die universiteit:
In terme van Wet No 13 van 1930 het die Transvaal University College ’n selfstandige universiteit geword onder die naam Universiteit Pretoria. Die wet het 10 Oktober daardie jaar in werking getree.

Die kwessie van taalgebruik was reeds aan die kollege ’n haakplek, en die stryd om taalgelykheid is aan die universiteit voortgesit.

In 1931 was slegs 32% van die lesings in Afrikaans, terwyl 65% van die studente Afrikaanssprekend was.

Die Universiteitsraad het 13 September 1932 besluit dat daar in die behoeftes van die Afrikaanssprekende studente voorsien moet word. Die besluit het hewige teenkanting opgewek en Pretoria se stadsraad, wat ’n jaarlikse toelae voorsien het, was veral ontstoke. In daardie jare was die stadsraad deur Engelssprekende belange gedomineer.

Die verskille is egter op die lange duur opgelos, en teen die 1950s is Afrikaans feitlik deurgaans gebruik. Engelssprekende (en ander) studente is egter toegelaat om hulle eksamens in Engels te skryf.

In 1930 het die studentetal op 1 074 gestaan; in 1943 was daar 2 000, 4 000 in 1953 en 5 000 in 1956; in 1957 was daar net minder as 6 000, in 1959 meer as 7 200; in 1964 meer as 9 000 en in 1972, meer as 13 000.

In 1930 was daar sewe fakulteite; in 1956 was daar 11.

Die jare vyftig het ongeëwenaarde uitbreiding gesien, met ’n uitgebreide bouprogram wat onder andere fasiliteite geskep het vir die nuwe Fakulteit Tandheelkunde. Verdere bouwerk het deur die tweede helfte van die 20ste eeu voortgeduur.

Die Ou Lettere-gebou, die heel eerste gebou op die universiteit se hoofkampus op Hatfield, wat in 1911 voltooi is, is tans ’n geskiedkundige monument.

Gedurende die afgelope anderhalf dekades het die universiteit se oriëntering teenoor die Afrikaanse taal en die blanke gemeenskap radikaal verander. Nagraadse klasse word uitsluitlik in Engels gedoseer, terwyl swart studentegetalle (in die eerste helfte van 2002) die hoogste in Suid-Afrika was.

Die universiteit se eie webwerf kan hier gevind word.

Universiteits-bynaam:
Volgens ’n sertifikaat wat 26 Maart 1965 kragtens die Wet op Beskerming van Name, Uniforms en Kentekens (1935), is die bynaam Tukkie vir die universiteit gereserveer. Vir die oorsprong van hierdie bynaam, kyk hier.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bron: geskiedkundige aantekeninge uit die Standard Encyclopædia of Southern Africa.

  • Illustrasies deur Universiteit Pretoria voorsien.


    Terug na universiteite-indeks

    Terug na Armoria academica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle