Armoria patrić
http://www.oocities.com/haigariep

Zuid Afrikaansche Republiek (Tweede Republiek)

Pretoria Konvensie / Londen Konvensie / Jameson-inval

wapen van die Zuid Afrikaansche Republiek

Brownell skryf:[1] “Nŕ die formele erkenning van die ZAR se onafhanklikheid in 1881, is sy wapen en die Vierkleur in ere herstel. Terwyl die kunswerk van die wapen dikwels veel te wense oorgelaat het, het dit sekerlik in die laaste jare van die Republiek aansienlik verbeter, en het dit ’n hoogtepunt bereik in die heraldiese muurplaat wat vir die ZAR se Konsulaat-Generaal in Frankryk geskilder is, in die tyd van die Anglo-Boere Oorlog.”[2]

In terme van die wet het dit egter nie verander nie, aangesien die enigste wetlike definisie daarvan in die Grondwet van 1858 gestaan het:

 

Op ’n silwer veld sal daar geplaas wees ’n Wa en ’n Goue Anker, terwyl ’n Arend op die wapen sal rus. Aan die regterhand van die Wapen ’n Man in volkskostuum, met ’n geweer en bykomstighede gewapen. Aan die linkerhand ’n Leeu.

 

In die praktyk het die wapen egter die vlagkleure aangeneem. Dit kan so vroeg soos 1869 plaasgevind het, toe die wapen die eerste maal (sover bekend) geteken is met ses gekruiste vlagpale agter die skild, maar niks kan met sekerheid bepaal word aangaande of die datum toe die kleure aanvanklik vir die wapen aangeneem is, en ook nie of die kleure vanaf die eerste sulke gebruik vasgelę is volgens die bekende patroon, of andersins of dit miskien langsamerhand aangepas is.

Dit wil egter voorkom dat die vorm van die wapen min of meer vasgelę is met die verskyning daarvan in posseëlformaat in 1869, met die skild wat gebruik is, ovaalvormig; dit wil sę ’n kardoes. (Vergelyk met die posseël van die Oranje Vrij Staat, wat foutief ’n lemoenboom geďllustreer het, maar daarna aanvaar is as bewys dat die wapen wel so ’n boom bevat het.)

Alhoewel die anker spesifiek gedefinieer word as synde van goud, was dit in die praktyk gewoonlik swart, en op ’n binneskild van wit of silwer geplaas.

Die gebruik van die kardoes is heeltemal onpaslik, aangesien die normale heraldiese gebruik van Wes-Europa[3] die kardoes vir die wapens van priesters en van vroue reserveer (kyk hier en hier vir besprekings van sulke gebruik). En in die weergawe van 1872 (wat op die Staats Courant verskyn het), het die kardoes ook na vore gekom met ’n sierlike rand van geelkoper wat krulwerk en ogies ingesluit het; die punte van die vlae is deur die ogies gesteek.

Wat nog meer onvanpas is, is dat die kardoesvormige skild ’n binneskild het wat nie self kardoesvormig is nie, maar van ’n konvensionele formaat.[4]

Op die lange duur het die wapen dus ’n de facto-voorkoms aangeneem wat so geblasoeneer kan word:

 

Wapen: ’n Kardoes gesny, en die boonste helfte gedeel: 1. In rooi, ’n goue leeu wat met kop orent lę; 2. In blou, ’n Boer op kommando in sy natuurlike kleure; hy hou ’n voorlaaier, kruithoring en ander bykomstighede; 3. In groen, ’n uitgespande Voortrekkerwa in sy natuurlike kleure. Op ’n silwer binneskild, ’n onklaar anker in sy natuurlike kleure, met ’n rooi tou. Agter die skild en weerskante daaronder gedrapeer drie vlae van die Zuid Afrikaansche Republiek, skuins op lanse gemonteer.

Helmteken: ’n Arend met vlerke afwaarts uitgesprei, die kop na links gedraai.

Leuse: Eendragt maakt magt.

 

Die illustrasie wat hierbo verskyn is dieselfde tekening van 1872 wat op die Staats Courant verskyn het (en wat op die bladsy vir die Eerste Republiek in swart-en-wit verskyn), met kleure deur die skrywer bygevoeg.

Ek het die arend as helmteken beskryf, want dit was duidelik so bedoel. Dit sit egter letterlik op die skildrank en is dit so beskryf toe die wapen in 1966 uiteindelik formeel geblasoeneer is (kyk Provinsie Transvaal).

Brownell skryf: “Tot in die laat-1890s, en op al die Groot Seëls van die Republiek, is die arend konsekwent aangetoon dat dit na links kyk, in weerwil teen die normale heraldiese gebruik. Dit was slegs in laat 1897 en 1898 met aanvaarde heraldiese gebruik in lyn gebring en na die heraldiese regterkant gedraai, d.w.s. die aankyker se linkerkant.

“Dit is die finale en sekerlik die mees innemende weergawe van die Republiek se wapen wat in 1951 deur Transvaal as sy Provinsiale wapen aanvaar sou word.”

 

Oor die republiek:

Sover dit die Volksraad aangegaan het, tesame met die Driemanskap wat die Transvaalse burgers tydens die Vryheidsoorlog (later die Eerste Vryheidsoorlog genoem) van 1880-81 gelei het, is die Zuid Afrikaansche Republiek deur die Konvensie van Pretoria herstel toe dit 3 Augustus 1881 geteken is, en daarby die bestaan van die Britse besitting genaamd Transvaal geëindig.

In Britse oë egter is onafhanklikheid nie herstel nie. Die Britse regering het na die Transvaal State verwys, nie die ZAR nie, en binne die ZAR self was daar diepe ontevredenheid oor die terme van die konvensie, veral omdat dit in belangrike opsigte anders was as die vredesooreenkoms van Maart 1881, en etlike beperkende bepalinge bevat het wat vir die republiek onaanvaarbaar was.

Toe Paul Kruger Meimaand 1883 tot president verkies is, is daar ooreengekom om ’n afvaardiging bestaande uit Kruger, generaal N J Smit en ds S J du Toit Brittanje toe te stuur om meer gunstige terme te verkry.

A N Pelzer skryf:[5] “Die Transvaal het beswaar gemaak teen die susereiniteit van Brittanje, en ’n brandpunt was die afbakening van die westelike grens waar, as gevolg van onluste onder die stamme en die inmenging van Blanke[6] fortuinsoekers, die republieke Stellaland en Goshen tot stand gekom het.

“Die onderhandelinge in Londen is 27 Feb. 1884 suksesvol voltooi, want die nuwe Londense konvensie die meeste van Transvaal se besware uit die weg geruim het. Geen bevredigende reëling kon egter gevind word ten opsigte van die westelike grens.”

Die Londense Konvensie het die einde beteken van die sogenaamde Transvaal State, aangesien die gebied weereens as republiek erken is. Maar alhoewel die staat homself die Zuid Afrikaansche Republiek genoem het, het Brittanje steeds daarna as die Transvaal verwys.

Pelzer skryf verder: “Wat die suid-oosgrens betref, het Britse optrede sedert 1879 onrus veroorsaak, met die gevolg dat ’n groep boere, hoofsaaklike uit die distrik Utrecht en onder leierskap van Lucas Meyer, Zoeloeland binnegegaan het en vir Dinizulu op sy troon herstel. As beloning is ’n gebied aan hulle toegeken waar hulle ’n staat geskep het met die naam Nieuwe Republiek, met Vryheid as hoofstad. Die jong staat het die hoop gekoester om hom met die buitewęreld aan te sluit deur Sint Luciabaai. Hierdie hoop is verydel toe die Britse vlag op die baai gehys is. In 1887 is die Nieuwe Republiek met Transvaal verenig en het dit die distrik Vryheid geword.

“Die Transvaalse Republiek[7] het steeds finansiële probleme gehad, maar dié het verdwyn toe goud op die Witwatersrand ontdek is. Van toe af kan die ontwikkeling van die republiek skitterend genoem word. 8 Sept. 1886 is die plase Langlaagte en Randjeslaagte deur President Kruger openbare delwerye verklaar. ’n Stroom buitelanders het die land binnegestroom en ’n kosmopolitaanse gemeenskap het in die snelgroeiende ‘goue stad’ Johannesburg ontstaan. In die ekonomiese sfeer het die republiek se posisie merkwaardig verander en openbare dienste het gou verbeter. Aangrensende Suider-Afrikaanse state was gretig om hul hawens met die nuwe bron van rykdom aan te sluit; in 1893 is Johannesburg en Pretoria per spoor met Kaapstad aangesluit, en in 1896 ook met Durban. Kruger en sy regering was egter vasbeslote om ’n spoorweg te hę wat nie deur Britse gebied die kus bereik nie, en 21 Junie 1887 is die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappij gevorm, gebaseer op ’n konsessie van 16 Nov. 1884. Konstruksie van ’n spoorweg tussen Pretoria en Lourenço Marques het stadig voortgegaan, en was dit nie voor 1 Jan. 1895 dat ’n daaglikse passasiersdiens in albei rigtings ingestel is nie, presies twee jaar nadat Pretoria met die Kaapse hawens per spoor gekoppel is. ’n Gereëlde diens tussen Durban en Johannesburg het ’n jaar later gevolg, op 2 Jan. 1896.”

Nŕ opmerkings oor die uitbreiding van onderwys in die republiek, en sy goeie verhoudings met vreemde lande – waaronder verdrae van vrede, handel en vriendskap met Duitsland, België, Portugal, Italië, Switserland en Frankryk – gaan Pelzer voort:

“Ten spyte van die goeie verhoudings met Brittanje sedert 1884, het dit duidelik geword dat die republiek nie vir onbepaalde tyd ’n nuwe imperialistiese aanval kon weerstaan nie. Die ontdekking van goud het grotendeels hierdie vrees aangeblaas, want dit het vir Transvaal groot materiële rykdom en ’n groot buitelandse bevolking meegebring het. Die Transvaalse regering, gretig om die aard van die jong staat te behou, was ongewillig om burgerregte aan hierdie buitelanders te gun, want mettertyd was hulle getalle meer as dié van die bestaande bevolking. Daarby was die Transvaalse administrasie swak toegerus om die sosiale en industriële probleme wat feitlik oornag deur die grootse nuwe kosmopolitaanse bevolking wat na die goudmyne gelok is, die hoof te bied. Ontevredenheid het tot georganiseerde weerstand onder ’n groot seksie van hierdie uitlanders, wat teen die voortbestaan van die republiek begin saamsweer het, en met Cecil Rhodes gemene saak gemaak het; hy het gestreef om die land onder Britse bewind te bring.

“Hierdie beweging het aan die einde van 1895 tot uitbarsting gekom met Jameson se onberade inval. 2 Jan 1896 het Jameson egter onvoorwaardelik oorgegee na ’n skermutseling te Doornkop, naby Krugersdorp. Die mislukking van die inval was vir Rhodes en die Britse regering ’n groot verleentheid, maar het nie ’n einde gemaak aan die sistematiese voorbereidings vir ’n finale aanval op die onafhanklikheid van Transvaal.

“Spanning het vermeerder toe sir Alfred Milner 21 April 1897 Hoë Kommissaris in Suid-Afrika[8] geword het. Sy verklaarde doel, waarin hy van Joseph Chamberlain, die Britse Koloniale Sekretaris, volle steun verkry het, [9] was om Groot-Brittanje se posisie as die ‘oppermoondheid’ in Suid-Afrika te handhaaf, ’n posisie wat deur die nuutgevonde rykdom van die onafhanklike Transvaal in die gevaar gestel het. In samewerking mt sommige van die Uitlanders het hy vir oorlog begin voorberei, met die griewe van die Uitlanders as voorwendsel. Toe troepaanvullings in die tweede helfte van 1899 Suid-Afrika bereik het, was dit duidelik dat oorlog onvermydbaar was. President Kruger het stadig gereageer. Slegs op 9 Okt. 1899 het hy ’n ultimatum uitgereik waarin hy die onttrekking van Britse troepe van die republiek se grense vereis het. Brittanje het nie toegegee nie, en vanaf 11 Okt. 1899 het oorlog tussen die twee lande bestaan. Weens ’n verdrag van wedersydse bystand wat sedert 9 Maart 1889 tussen die Transvaal en die Oranje Vrystaat bestaan het, is laasgenoemde outomaties in die stryd betrek.

“In die Tweede Anglo-Boere-oorlog het 448 435 aan die Britse kant deelgeneem; die gekombineerde republikeinse leërs wat, in die aanvangstadiums van die oorlog, hul veldtogte met groot sukses gevoer het, het nooit uit meer as 60 000 mans bestaan nie, van wie skaars meer as 30 000 te eniger tyd in die veld was nie. Vir Brittanje het die onkoste van die oorlog Ł228m beloop, in plaas van die Ł10m wat aanvanklik geskat is. Die verlies aan lewens was 2 000 Britte en, aan die kant van die Boere, 34 000, van wie 28 000 in konsentrasiekampe dood is. Op die ou end is die Boere se weerstand deur oorweldigende mag afgeweer, en 31 Mei 1902 het die Vrede van Vereeniging uiteindelik vyandelikhede gestaak, sowel as die bestaan van die Boererepublieke.”

Hierdie weergawe ignoreer die feit dat die ZAR reeds, in stryd met die internasionale reg, opgehou het om te bestaan, want dit het 3 Februarie 1901 die Transvaal Colony geword.



[1] In National and Provincial Symbols (Chris van Rensburg Publications).

Alhoewel hierdie boek wel in Afrikaans uitgegee is, het ek slegs ’n eksemplaar in Engels. Die Afrikaanse bewoording wat hier verskyn, is my eie vertaling.

[2] Die Tweede Anglo-Boere-oorlog, 1899-1902, ook bekend as die Suid-Afrikaanse Oorlog of die Tweede Vryheidsoorlog.

[3] Kardoese is in Spanje in die verlede algemeen gebruik vir koninklike en ander amptelike wapens, maar dit is slegs een van verskeie verskilspunte tussen Spaanse (of Iberiese) wapengebruik en dit van die res van Wes-Europa.

[4] ’n Moderne gelyke vir hierdie heraldiese fout kan gevind word in die wapen van koning Juan Carlos van Spanje (*1938, koning sedert 1975), wie se wapen gewoonlik die vorm van ’n konvensionele skild aanneem, maar wie se binneskild (familiewapen) van die wapen van Frankryk binne ’n rooi skildsoom (die wapen van die huis Bourbon-Parma, of Borbon y Parma) gewoonlik ’n kardoes is.

[5] In die Standard Encyclopćdia of Southern Africa (Nasou).

Weereens het ek slegs toegang gehad tot ’n Engelse uitgawe; die Afrikaanse bewoording is my eie vertaling.

[6] SESA gebruik die term White (met hoofletter) om blanke Suid-Afrikaners aan te dui. Myns insiens is dit ’n apartheidsgebonde gebruik.

[7] Die styl wat SESA vir die ZAR gebruik is amper sonder uitsondering “the Transvaal Republic”, alhoewel dit soms ook verwys na die “South African Republic”.

Terwyl hierdie name die gebruik weerspieël van die Britse en koloniale regerings, het die ZAR nog die een nog die ander naam gebruik nie. Hierdie redaksionele besluit is ironies, aangesien dat Nasou’n Afrikaner-gedomineerde maatskappy is.

[8] Pelzer verwys na Milner as “High Commissioner in South Africa”; die formele titel was egter “High Commissioner for South Africa”.

[9] Terwyl dit in Brittanje die algemene gebruik was om na die Sekretaris vir die Kolonies as “Colonial Secretary” te verwys, was dit in die kolonies verwarrend, want elke kolonie het sy eie Koloniale Sekretaris gehad as hoof van administrasie onder die Goewerneur.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Erkennings: Illustrasie van wapen uit National and Provincial Symbols of the Republic of South Africa deur F G Brownell. Inligting oor wapen en vlag uit National and Provincial Symbols, geskiedkundige inligting uit verskeie artikels in die Standard Encyclopćdia of Southern Africa (Nasou).


Terug na indeks van kolonies en republieke

Terug na Armoria patrić-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle

1