Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Profete onder die amaXhosa

deur Mike Oettle

DIE preek van die evangelie aan die kraal van die Xhosa-kaptein Ngqika, in die Katriviervallei, het uitgeloop op die bekering van slegs een man, die mindere kaptein Dyani ka Tshatshu. Dit was vir dr Johannes van der Kemp ’n bittere teleurstelling, en hy het slegs een jaar, 1799-1800, aangebly voordat hy opgepak het en teruggekeer het na die Kaapkolonie.

Maar ten minste twee ander manne is diep geaffekteer nadat hulle die Blye Boodskap ontvan het, en die gevolge van hul fascinering met die stories van Jesus en sy Vader – aan die amaXhosa as Thixo bekend – was heel dramaties. Albei sou profete genoem wees, maar op die ou end sou slegs een God dien.

Hul name was Ntsikana ka Gabha en Makhanda (Makana) ka Balala. Maar weens bygeloof wou die Xhosa nie Makhanda se naam uitspreek nie, en het hom eerder Nxele genoem, wat links (linkerhandig) beteken. Die Boere het hom Links, wat die Britte verkeerdelik as Lynx[1] uitgespreek het.

Dit sou miskien aanvanklik gesê gewees het dat Nxele die man was op die die evangelie die grootste impak gehad het. James Read senior skryf dat Nxele verskeie ander Xhosa beïnvloed het om Christene te word. Maar Read het moontlik die twee profete verwar. Tog is dit seker dat Nxele se kleinseun Galada onder die naam W J Gawler ’n Anglikaanse priester sou word.

Nxele het in elk geval later teen die Kerk gedraai in reaksie op Britse aggressie, en het oor ’n nuwe god, Da­li­diphu, begin preek. Hierdie god, het hy gesê, was magtiger as Thixo en was die god van die gekleurde mense. Thixo, het hy gesê, was kwaad vir die witmense en het hulle van hul eie land die see in gedryf, en dit was die rede waarom hulle in die swart mense se land wou probeer vestig.

Ntsikana is gedoop deur eerwaarde Joseph Williams van die London Missionary Society – die enigste bekering wat hy bewerkstellig het nadat hy in 1816 die eerste permanente sending onder die Xhosa naby Fort Beaufort gevestig het. Williams is in 1818 dood.

Volgens Xhosa-legendes is Ntsikana na Christus geroep is selfs voordat Williams aangekom het. Dit word gesê dat hy ’n lig sy lieflings-os sien tref het, en dat hy later in dieselfde dag deur ’n warreldwind verhoed is om ’n stamdans by te woon. Hy het toe sy familie van die dans wegbeveel, en toe in ’n stroom die oker van sy gesig afgewas en gesê: “Mense moet bid (eerder as om te dans)!”

Ntsikana het ook oortuig geword dat poligamie sonde is, en het vir sy tweede vrou ryke gawes geskenk toe hy haar van sy kraal weggestuur het.

As raadgewer vir Ngqika het Ntsikana sy kaptein aanbeveel om nie met sy oom (en eermalige regent) Ndlambe te stry nie. Maar Nxele was intussen besig om vir sy eie doel die amaNdlambe teen Ngqika op te sweep. In die oorlog wat in Junie 1818 gevolg het, het die amaNdlambe en hul amaGcaleka-bondgenote beslissend vir Ngqika se seun Maqoma verslaan.

Ngqika het toe hom na Brittanje gewend om hulp om sy opperhoofdskap terug te wen.[2] ’n Britse veldtog het die amaNdlambe self onbeskadig gelaat, maar het hul hutte afgebrand en 23 000 beeste weggevoer.

Nxele, noudat hy reeds ’n alliansie tussen die Ndlambe en Gcaleka verkry het, het begin om teen die Britte wraak te preek. Hulle het reeds, het hy gesê, die Swartkops en Sondagsriviere oorgesteek, en nou wou hulle die Groot Visrivier ook oorsteek. Hy het die volk vertel van muti wat hy kon maak wat koeëls tot water sou verander, en van ’n goddelike plan om die Britte die see in te dryf. Hy het die volk te Gompo (tans Cove Rock genoem), naby die Buffelsrivier, laat vergader, en hulle vertel dat hulle voorvaders uit die grafte sou opstaan en in die oorlog help om die witmense uit die land te verban.

Die anti-Christelike profeet het ’n belangrike man geword. In sy tyd was hy die enigste nie-adellike Xhosa wat tot die status van kaptein verhef is.[3]

Nxele se grootste prestasie was ’n aanval, 22 April 1819, op die garnisoendorp Grahamstad deur die grootste Xhosa-leer wat nog ooit vergader het – ten minste 10 000 mans. Nxele het persoonlik deel van hierdie horde aangevoer. Die dorpie se verdedigers was ’n garnisoen van slegs 232 soldate met bloot vyf kanonne. Soos die geluk dit wou hê, het daar die aand vantevore ’n groep 130 Khoikhoi buffeljagters uit Theo­polis, die sendingstasie in Benede- Albany, aangekom, en dié het ook met die verdediging gehelp.

Die uitstaande daad van die dag was dit van ’n soldaat se vrou, ene Elizabeth Salt, wat ongedeerd tussen die naakte massa spiesbewapende mans gestap het om by die Oos-Barakke buskruit af te lewer. Selfs in hulle woedende lus om blanke mans dood te maak, het sy geweet, sal hulle vir haar, ’n vrou, nie skade aandoen nie.

Maar ten spyte van die oorweldigende getalle van die aanvallers en hulle dapperheid ten spyte daarvan dat hulle in tientalle deur geweer- en kanonskote afgemaai is, was dit beslis ’n Britse oorwinning. Slegs 2½ uur nadat die aanval begin het, het die Xhosa weggebreek en gevlug. Omtrent ’n duisend Xhosa het dood gelê, terwyl slegs drie Britse soldate dood is en vyf gewond.

Slegs monumente en twee plekname herinner vandag aan aan die Slag van Gra­hams­tad: die Xhosa-benaming vir die middedorp, eGazini (plek van bloed), en die koppie wat vanuit die ooste op die dorp afkyk, Makanaskop. Die munisipaliteit wat Grahamstad, die Albany-distrik en Alicedale behels word tans ook Makana genoem.

Nxele het 15 Augustus vir hom aan Andries Stockenström te Trompettersdrif oorgegee en is twee maande later Robbeneiland toe geneem. Toe hy in 1820 probeer ontsnap het, is hy verdrink in die ouderdom van miskien 30, hoogstens 40.

Ntsikana het sy mede-profeet nie oorleef nie; hulle is in dieselfde jaar oorlede. Hy het die ouderdom van sowat 60 bereik. ’n Jaar voor sy dood is hy saam met Maqoma en die amaNgqika uit die Katriviervallei uitgesit. Sy laaste tuiste was in die Thyume-vallei, op Thwa­thwa, wat tans Menziesberg heet.

Maar onder die amaXhosa, vir wie hy Christelike gesange geleer het wat hy self gekomponeer het (al was hy ongeletterd), word hy tot vandag toe vereer. Onder die liedere in die amakwaya- (koor)-tradisie wat hy gekomponeer het is sy klokgesang, wat mense na die erediens roep; daar is die gesang vir die Lewenskepper; en een wat as ’n rondelied gesing word. Hulle is vir Ulo Thi­xo omkhulu ngosezulwini (“Hy, die groot God in die Hemel”) die liefste. Dr O F Raum[4] van die Fort Hare University noem hierdie “ ‘’n vreemde en wilde dreunsang’ waarvan die teologie egter onberispelik is”.

Die Christenwette wat in hierdie tyd aan die Xhosa gegee is, word betwis, want dit is onseker of dit alles van Ntsikana was, of miskien sommige deur Nxele gegee is. Dit sluit in verbodsbepalings op diefstal, veelwywery en swart toorkuns, en op wat as egbreuk gedefinieer is – die tradisionele voor- en buite-egtelike seksuele verhoudings wat bejammerlik steeds algemeen is in die Xhosa-samelewing, selfs onder nominale Christene, na amper twee eeue van die Christelike Geloof.

Dit is bekend dat die twee profete vòòr die Slag van Grahamstad oor leerstellings openlik getwis het.

Ntsikana het ook geprofeteer dat paaie en planke in Ngqikaland hulle verskyning sou maak, en dat ’n onbekende volk met deursteekte ore (die amaMfengu, of Fingo) die land sou binnekom, en dat ’n oorlog tussen die rasse sou uitloop op ’n verdeling van die land tussen die vyande van die amaNgqika. Dit alles het gebeur.

Ntsikana was die eerste onder die Xhosa wat ’n doodskis vir homself laat maak het. Die eerste Xhosa-evangeliste, Charles Henry Matshaya en Rob­ert Balfour Noyi, het sy begrafnis gelei.

Van Ntsikana se kinders, het sy seun Dukwana vir homself naam gemaak as drukker, evangelis en kerkvoog op Lovedale.

Tot vandag toe word Ntsikana onder die amaRharhabe, of Ciskeise Xhosa, onthou. Tot redelik onlangs was Ntsikanasdag, tradisioneel op Heilige Saterdag, hulle nasionale dag. President Lennox Sebe van die Republiek Ciskei het dit egter afgeskaf omdat dit na bewering twis veroorsaak het tussen Xhosa en Mfengu. (Die nasionale dag van die Mfengu is Mqwashu-dag.)

Noudat die Republiek Ciskei deel is van die verlede, sal Ntsikanasdag miskien weer tussen Goeie Vrydag en Paassondag gevier word.



[1] In Suider-Afrika word die Engelse woord lynx dikwels van die rooikat (Felis caracal) gebruik. Oversee word dit eerder van die los (Felis lynx) gebruik, wat in Europa, Asië en Noord-Amerika gevind word. Albei spesies het puntige ore. Die Engelse woord word as “lienks” uitgespreek.

[2] Ngqika was nie opperhoof of koning van al die ama­Xho­sa nie – hierdie status het aan die kaptein van die amaGcaleka behoort. Ngqika se oupa Rharhabe het egter erkenning verkry as ’n soort onder-opperhoof van die Xhosa wes van die Kei. Dit was die status wat Ngqika wou behou.

[3] Met die uitsondering van die kapteins van die Gqunukhwebe, is al die tradisionele kapteins van die amaXhosa afstammelinge (of word dit beweer dat hulle dit is) van die koningshuis, die amaTshawe.

[4] Waar hy in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek skryf.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Hierdie artikel is Aprilmaand 1995 in Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertaal.

  • Terug na indeks van heiliges

    Terug na chronologiese indeks

    Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle