Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons
Missionary among the Caffres and Hottentots

deur Mike Oettle

Oor die opskrif[1]

DIE geskiedenisboeke noem Johannes Theodorus van der Kemp ’n vriend van rondloper-Hotten­­totte[2] en herinner ’n mens daaraan dat hy met ’n tienerjarige slawemeisie getroud was. Selfs ’n familielid het neerhalend van hom gepraat as ’n religieuse fanatikus. Is dit iemand wat ek onder die heiliges behoort in te sluit?

Wat my daartoe gelei het dat ek dit wat ek in die skool van Van der Kemp geleer het, begin bevraagteken het, was die teenwoordigheid van die grafsteen van Johannes van der Kemp in die ingangsportaal van die Congre­ga­tion­al-kerk[3] in Rondebosch, waarvan my ouers ledemate was toe ek kind was. Die steen vertel dat hierdie geleerde man, wat op die uni­ver­siteite Leiden en Edinburg gestudeer het, 12 jaar van sy lewe geskenk het aan sendingwerk onder die “Caffres[4] and Hottentots”. In die besonder is ek getref deur die woorde: “Dr Vanderkemp[5] was once an infidel but by the Grace of God became a Christian.”

Johannes van der Kemp (gebore Rotterdam 1747) is grootgemaak in ’n familie wat geleerdheid en die Kerk beklemtoon het – sy vader was ’n professor in die teologie, en sy broer ’n predikant – maar hy het Leiden verlaat sonder om sy graad (in medisyne, filosofie en teologie) te voltooi, en in plaas daarvan ’n offisier geword in die Dragonderwag. Alhoewel hy ’n kerklid was, het hy geen geloof in God gehad nie, en het die lewe van ’n libertyn geleef. Hy het saam met ’n getroude vrou ’n dogter gehad.

Maar selfs in die leër het hy sy studies in die teologie voortgesit, en het ’n essay geskryf wat vir die eerste maal natuurwetenskap en natuurteologie bymekaar gebring het – ’n geweldige tree vorentoe in die wysbegeerte.

In 1780 het hy verlief geraak en is hy getroud, maar sy mede-offisiere het sy vrou as minderwaardig beskou, en is hy gedwing om sy kommissie af te staan. Hy het sy vrou Edinburg toe geneem, en het in 1782 aldaar ’n doktoraat in die medisyne behaal. Hy was nou ’n belangrike persoon. Hy het ’n suksesvolle mediese praktyk in Holland[6] gehad en ’n aansienlike reputasie as filosoof.

Maar in 1791 het ’n fratsstorm Dordrecht getref terwyl hy, sy vrou en hul twee dogters in ’n bootjie op die Maasrivier gevaar het. Sy familie het verdrink terwyl dr Van der Kemp wonderbaarlik gered is, deur ’n boot wat deur die storm uit die hawe uit en die rivier in deur die storm gedryf is.

Oortuig dat die Here hom vir ’n spesiale werk uitgeroep het, het hy begin soek na dit waarna hy geroepe is. Tydens die rewolusionêre veldtogte in Vlaandere (die Franse Rewolusie het in 1789 uitgebreek) as mediese offisier gedien, en daarna as hospitaal-superintendent op Zwijndrecht, naby Dordrecht, waar hy in 1797 van die vorming van die London Missionary Society te hore gekom het.

Hy het dadelik met die LMS kontak gemaak, en op hul aansporing het hy die Nederlandsche Zendinggenootschap help vorm. Hy is November 1798 in Londen as predikant ingeseën, en het vir die LMS manne begin werf.

Saam met drie assistante, J J Kicherer, William Edwards en John Ed­monds, het hy Desember 1798 per skip uit Londen Kaap toe gevaar. Na hy Maartmaand ’99 in Kaapstad aankom, was hy ’n maand lang besig met die stigting van Het Zuid Afri­kaan­sche Genootschap ter Bevordering van de Uitbreiding van Christus Konink­rijk.

Meimaand het hy en Edmonds oor die Groot Visrivier getrek om in die Tyume-vallei onder die volk van die Xhosa-kaptein Ngqika as sendelinge te werk. Hy was die eerste wat die Xhosa-taal neergeskryf het, maar alhoewel hy susksesvol was in sy werk onder die Trekboere en die Afri­kaansspreakende Khoikhoi (Hottentots) van die streek, het hy gedurende sy jaarlange verblyf slegs een Xhosa-bekeerling gemaak.[7] Hy het teleurgesteld na die kolonie teruggekeer, en het ’n uitnodiging aanvaar om as predikant te dien in die Nederduitsch Gereformeerde gemeente Graaff-Reinet.

Hier het hy dit ingesien dat daar onder die Khoikhoi ’n groot behoefte was vir Christelike evangelisasie – hulle het in groot getalle dorp toe getrek weens onveilige toestande in die distrik. (Die distrik Graaff-Rei­net het destyds tot sover suid as Algoabaai en die Visrivier gestrek, en noord-ooswaarts tot die Nuweveldberge; die naaste dorp aan Graaff-Reinet was Swellendam.) Hy het die Khoikhoi as uitgebuite volk gesien, ontneem van grond, status en die reg om hul arbeid te gee of terug te hou, en het volhou dat hulle in alle aspekte op ’n gelyke voet met die koloniste geplaas moet word.

Die blanke Graaff-Reinetters – wat in die afgelope ses jaar tweemaal gerebelleer het, eers teen die Vereenigde Oostindische Compagnie en daarna teen die Britse besettingsmag – was egter ontstoke dat “Hotnotte” hul nuwe kerkgebou gebruik het. Hulle was selfs meer woedend nadat Van der Kemp en Inwonende Kommissaris H C D May­nier in September 1801 ’n sendingnedersetting te Graaff-Reinet daargestel het.

Novembermaand het ’n boeregespuis die nedersetting aangeval en van die huise afgebrand. Toe dit donker word, het Van der Kemp saam met sy volgelinge en hul lewende hawe na Algoabaai gevlug.

Die storie gaan hier voort.



[1] Hierdie opskrif verskyn in ’n outydse lettertipe in ’n poging om die voorkoms van die grafsteen voor te stel. Die vierde letter is nie nie f nie, maar die outydse lang kleinletter-S, wat geskryf is in die vorm van ’n f sonder ’n dwarsstrepie.

[2] Die woord Hottentot was, tot laat in die 20ste eeu, gewoonlik gebruik om die Khoikhoi-volk aan te dui. Hulle was die inheemse volk van die Kaapse kusstreke wes van die Visrivier en van die Oranjerivier-gebiede van Kaapkolonie (tans Noord-Kaap) en Suidwes-Afrika (Namibia).

Dit is ontleen aan die liriek van ’n religieuse dans wat die Khoikhoi uitgevoer het. Sew­en­tiende-eeuse Nederlandse koloniste het die gebruik gehad om indiwiduele Khoikhoi met drank te paai om hulle te oorreed om die dans uit te voer Die betekenis van die uitdrukking “hot-ten-tot” is nou verlore.

Die term Khoikhoi (wat “manne van manne” of “mense van mense” beteken) die naam wat die Khoikhoi gebruik het om na hulself te verwys.

[3] Die Congregational- of Kongregasionalistiese kerkdenominasie is ’n uitvloeisel van die Engelse Puriteinse beweging. Dit het in Suid-Afrika onder blankes onstaan as gevolg van die immigrasie van lede van Congregational-kerke in Engeland, maar het ook posgevat onder ander rassegroepe as gevolg van die sending werk van die London Missionary Society.

Hierdie sendinggenootskap is gestig deur ’n verskeidenheid denominasies, die Kerk van Engeland ingesluit, maar een vir een het hulle weggeval totdat slegs die Congregational-kerk oorgebly het as borg van sy aktiwiteite.

In die jare sestig van die 20ste eeu het die oorblywende gemeentes van die LMS, sowel as dié van die American Board of Missions (ook Congregational), saam met die Congregational Union of South Africa die United Congregational Church of South Africa gevorm.

Die Rondebosch-gemeente, wat reeds enkele dekades lank ’n Presbiteriaanse predikant het, staan tans bekend as die Rondebosch United Church.

[4] Alhoewel die woord “Kaffer” tans met reg beskou word as neerhalend en onwelvoeglik, was dit tydens die middel-19de eeu gebruik om lede van die Xhosa-stam uit te wys, apart van ander “Naturelle”.

Die spelwyse “Caffre” was in daardie tyd nie dikwels gebruik nie; dit is ’n oorblyfsel van die Por­tu­gese gebruik waar hulle na heidene verwys het deur die gebruik van ’n woord uit Arabies geleen. Die vorm daarvan in Arabies is kafir, en in sy korrekte betekenis verwys dit na enigiemand wat nie aan een van die drie monoteïstiese gelowe behoort nie. Dit word tans in Arabies misbruik om ook na Christene en Jode te verwys.

[5] Hierdie familienaam word in die moderne Nederlandse style op die grafsteen gespel, maar in die res van hierdie artikel word dit volgens die standaard-spelreëls van Afrikaans gespel.

Die verskil kom nie van ’n Afrikaanse verlating van Nederlandse tradisies nie, maar deurdat Nederland sy eie tradisies laat vaar het.

Adellike (en vals-adellike) voorvoegsels soos “van”, “van der”, “ver”, “de” en “du” is tradisioneel apart van die familienaam geskryf – oorspronklik sou so ’n naam van ’n landgoed geneem word – maar die Franse Rewolusie het die adelstand en alles waarvoor dit gestaan het, verfoei, en het almal gedwing om hierdie voorvoegsels saam met die naam aaneen te skryf.

Name soos du Pré, du Toit en de Villiers is as Dupré, Dutoit en Devilliers geskryf.

Toe die rewolusie in Nederland aangekom het, is almal daar ook verplig om by die owerhede ’n familienaam te registreer. Waar baie nie-adellikes reeds vals-adellike vanne gevoer het, het heelwat meer nou name met adellike voorvoegsels aangeneem – maar nou as enkel woord geskryf: Vanzyl, Vansittart, Vermeulen, Vanderkemp.

[6] Dordrecht lê vandag in die provinsie Zuid Holland, maar hierdie provinsie het eers in 1840 tot stand gekom.

[7] Die mindere kaptein Dyani Tshatshu, wie later ’n vooraanstaande figuur sou word. Hy het selfs na Londen gereis om voor die House of Commons se komitee oor inboorlinge te getuig. Sy naam verskyn dikwels in koloniale rekords as Jan Tzatzoe.

In verband met ander wat in daardie tyd deur die evangelie geraak is, kyk hierdie artikel.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Hierdie artikel is Mei 1991 in Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertaal.

  • Terug na indeks van heiliges

    Terug na chronologiese indeks

    Terug na Heiliges en Jaargetye-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle