Elwe en Feë
Heksesabatte?
deur Ælf
VIER Christene wel heksesabatte?[1] Dit is die bewering wat gemaak word deur ’n eermalige heks, jare reeds ’n Christen, in ’n anonieme maar wyd verspreide artikel oor die listige gevaar wat heksery vir die Kerk inhou – en veral, stel sy dit, die Harry Potter-reeks.
As ’n
mens nou die tradisionele almanak van die sakramentele Kerke vergelyk met dit
wat deur hekse behou word, is daar wel paralelle. Maar beteken dit dat die Kerk die hekse se siklus van vieringe oorgeneem het? Geensins nie.
Dit is verstaanbaar, as ’n mens dit in ag neem dat hierdie persoon die Christelike Geloof in ’n fundamentele omgewing beleef het, dat sy die indruk het dat “mainstream”-Kerkgemeenskappe onder die invloed is, nie net van die heksery nie maar ook van die heidendom in die algemeen.
Maar hierdie gedraaide beeld van die
Geloof is nie aan wegbreek-fundamentele groeperings uniek nie. Dit is
kenmerkend van die geswets wat sedert die tyd van die Kerkhervorming tussen
sakramentele kerke en radikaal Protestantse groepe beleef is.
Sulke geswets is uiters skadelik aan
die eenheid onder Christene wat beide ’n gebed en ’n kommandement was van die
Here Jesus.
Dit is ook gebaseer op ’n moedswillig foutiewe insig op die tradisionele liturgiese kalender.
Hierdie webwerf is nie ’n gepaste plek om die kalender of almanak in diepte te bespreek nie. Dit is genoeg om te noem dat daar in die tradisionele liturgiese kalender niks is wat opsetlik ’n heidense fees verdoesel nie.
Beslis is daar seisoene wat saamval,
òf omdat daar feestye is wat die een of ander heidense religie reeds in gemeen gehad het met die Hebreeuse kalender, of omdat die Kerk dit goed geag het om sy bekeerlinge van heidense feeste weg te lok deur om dit van hulle te vereis dat hulle in ’n Christelike omgewing eredienste bywoon.
Daar is slegs een fees wat algemeen in die “Christelike” samelewing gevier word wat openlik ’n heidense inslag het: Alleheiligeaand, of Halloween, soos dit in Engels miskien beter bekend staan.
Hierdie dag (31 Oktober) het egter nie op die formele Christelike kalender die naam Halloween nie. Dit is bloot die vooraand van Alleheiligedag[2] (1 November).
Sy naam is ook nie van heidense
herkoms nie. Die Engelse naam kom uit ouer vorms van Engels, waar die
Alleheiligefees All Hallows genoem is. Halloween is bloot ’n afkorting van All Hallow E’en.
Die Oud-Engelse woord vir heilig was halig, en sy betekenis lê baie na aan beide “heel” en die Engelse “hale” (wat gesond of fris beteken). Van hierdie woord is die Oud-Engelse woorde halga (heilige man), halge (heilige vrou) en halgian (om heilig te maak, of in te seën) afgelei.
Waaroor gaan Halloween dan werklik?
Lees in hierdie artikel meer daaroor.
[1] Die oorspronklike artikel, wat in Engels
geskryf is, verwys na sabats – dit is onduidelik in watter taal dit
veronderstel is om te wees, maar in daardie vorm kom dit voor in beide
Oud-Frans en Oud-Engels. Die woord het egter Wes-Europese gebruik binnegekom vanuit Hebreeus.
Die Hebreeuse woord shabbath is die Dag
van Rus, die sewende en laaste dag van die week (Saterdag). Die wortel van
hierdie woord is die werkwoord shabhath, “om te rus”, en herinner
daaraan dat die Skepper op die finale Dag van die Skepping gerus het. (Genesis 2:1,2)
Die moderne Afrikaanse vorm is Sabbat, en dit
het drie aparte betekenisse as dag van die week: 1. Die Joodse heilige dag, wat vanaf sonsondergang Vrydag loop tot sonsondergang Saterdag; 2. Die Christelike heilige dag, van middernag Saterdag tot middernag Sondag; of 3. Die heilige dag van Christelike sektes wat na die Joodse gebruik wil teruggaan – sulke groepe beskou dikwels vir Saterdag (middernag Vrydag tot middernag Saterdag) as hul heilige dag.
[2] Die woordeboek gee hierdie feesdag as Allerheiligedag of Allerheiligefees. Die gebruik van die letter R skep egter die indruk dat dit ’n allerheilige dag is, of anders gestel dat dit die heiligste dag van die jaar mag wees. Inteendeel is dit ’n dag vir alle heiliges; almal wat deur die Kerk beskou word as heilig.
For English, click here
Terug na Elwe en Feë se hoofbladsy
Skryf vir my: Ælf