Armoria ecclesiastica

BISDOM KIMBERLEY EN KURUMAN, Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika.[1]

Bisdom 1911 daargestel; ’n afstigting van die Bisdom Kaapstad.

Katedraal: Sint Siprianus die Martelaar, Kimberley.

variant

Bisdom Kimberley en Kuruman

Wapen aanvanklik in 1911 aangeneem, en volgens oktrooibriewe gedateer 23 Junie 1953 deur die College of Arms verleen. Die blason lui (volgens my vertaling):

 

Gedeel van silwer en swart, ’n krukkekruis van die een in die ander binne ’n skildsoom van blou waarop elf silwer ruite.

 

Brownell[2] skryf:[3] “Hierdie weergawe van die wapen, met 11 silwer ruite in die skildsoom, is vanaf 1914 tot 1930 in Crockford’s Clerical Directory getoon, waarna die getal ruite verminder is na agt, die gewone getal vir wapenfigure wat in die moderne heraldiek op skildsome gevoer word.

“Die formele verlening van hierdie wapen in 1953 deur die College of Arms het egter na die oorspronklike 11 ruite teruggekeer.

“Die heraldiese term ‘potent’ [die Engelse benaming vir ’n krukkekruis] verwys na ’n kruk, en hierdie wapen stel dus die medeverhouding tussen die blanke en swart lede van die bisdom, waar elkeen help om die las van die ander te dra, en albei heilig gemaak deur die kruis wat ‘potent’ [magtig] is om albei te volhou.

“Die diamante in die blou skildsoom – ’n verwysing na diamantdraende ‘blou grond’ – sinspeel op die hoofindustrie van die katedraalstad.”

 

Oor die bisdom:

Toe die bisdom in 1911 gestig is, het dit die geheel gedek van die eermalige kolonies van Griqualand-Wes (in 1889 tot die Kaapkolonie geannekseer) en British Bechuanaland (in 1895 tot die Kaap geannekseer), asook ’n aansienlike gebied ten suide van die Oranjerivier.

Tot hede toe behou dit hierdie oppervlakte. Die noordelikste dele van die bisdom het in 1977 deel geword van Bophuthatswana, en hierdie distrikte, sowel as dié van Vryburg (vanaf tot ’85 die Republiek Stellaland) is in 1994 deel gemaak van die Provinsie Noordwes.

variant van die wapen met slegs agt ruite

Die dele van die bisdom wat suid lê van Noordwes is tans in die Provinsie Noord-Kaap ingedeel, wat egter nog verder suid, verder suidoos en heelwat verder suidwes uitstrek as die grense van die bisdom.

Terwyl Kimberley die katedraalstad is, noem die bisdom se naam ook die sendingdorp Kuruman (of, in Setswana, Kudumane), wat tans deel vorm van Noordwes.

 

Variant van die wapen:

Brownell noem dat Crockford’s Clerical Directory in 1934 ’n ander weergawe van die bisdomswapen reflekteer. Die blasoen lui:

 

Gedeel van silwer en swart, ’n krukkekruis van die een in die ander binne ’n blou skildsoom besaai met agt silwer ruite.

 

Hy verduidelik: “Hierdie weergawe van die bisdomswapen verskil van die oorspronklike en later amptelike weergawe slegs in die getal ruite in die skildsoom. In die moderne heraldiek dra die skildsoom gewoonlik agt wapenfigure. In die verlede was daar geen reël of gebruik wat die saak beheer het nie, en was daar ’n neiging na oorlading.

“Dit was dus vir die College of Arms ’n afwyking van die moderne praktyk om in die formele wapenverlening van 1953 na 11 ruite terug te keer.

“Crockford’s het nietemin voorts die agtruitige weergawe getoon tot 1977-79, wat die laaste uitgifte was wat beelde van bisdomswapens behou het.

 

Tale:

Engels, Afrikaans en Setswana is die hooftale wat in die bisdom in gebruik is.

 

Biskoppe: Die eerste biskop van Kimberley en Kuruman was W Gore-Brown, wat in 1912 in die amp gevestig is. Hy is opgevolg deur T S Gibson (1928), J Hunter (1943), J Boys (1951), P W Weeldon (vanaf 1961 en weer vanaf 1968), C E Crowther (1965), Graham Chadwick (1976), G A Swartz (1983), Winston Njongonkulu Ndungane[4] (1991) en I B Moseki (1996).



[1] Die kerkprovinsie waarvan die aartsbiskop van Kaapstad die hoof is, het gedurende die meeste van die 20ste eeu bekend gestaan as die Kerk van die Provinsie van Suid-Afrika (Church of the Province of South Africa).

In 1982 het die KPSA sy naam verander na die Kerk van die Provinsie van Suider-Afrika (Church of the Province of Southern Africa), en in 2006 het die formeel die Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika (Anglican Church of Southern Africa) geword.

[2] Heraldry of the Church of the Province of Southern Africa, 1847-2000, deur F G Brownell, deur Heraldsholme CC gepubliseer, Pretoria 2002.

Die paragraafindeling van die aanhalings in hierdie artikel is myne.

[3] My vertaling.

[4] In 1996 het bishop Ndungane aartsbiskop van Kaapstad geword. Terwyl hy op Kimberley was, is hy meestal bekend onder die naam Winston, maar as aartsbiskop het hy verkies om Njongonkulu genoem te word.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Bron van beelde: Lyntekeninge in Brownell se boek, deur die werfmeester ingekleur met behulp van MS Picture It!


Terug na indeks bisdomme

Terug na indeks van bisdomme (wapens soos oorspronklik gevoer)

Terug na Armoria ecclesiastica-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle