OOS-LONDEN / EAST LONDON / IMONTI
Provinsie: Oos-Kaap (voorheen Kaapprovinsie/Kaap Colonie).
Distriksraad: Amatola (voorheen Afdeling Oos-Londen)
Ingelyf: in Buffalo-stad, 2000.
Toevoegings: East London East, Panmure (1873), Cambridge (1942), Berlin (1970), Gompo, Mdantsane, Beaconbaai, Gonubie (1995).
Hierdie wapen is 13 Desember 1959 deur die College of Arms verleen (die dokument word ’n verlening volgens oktrooibriewe genoem):
Wapen: in hermelyn, ’n rook kruis tussen, in die eerste en vierde kwartiere ’n gerf en in die tweede en derde kwartiere ’n vlies, almal van goud; op ’n blou skildhoof ’n halwe son van goud.
Helmteken: op ’n wrong van silwer en rooi, twee ankers skuins gekruis met, rondom die middelpunt, ’n goue muurkroon.
Skildhouers: weerskante ’n swart buffel.
Leuse: Animo et Fide.
Wapenagtergrond:
Hierdie wapen is gebaseer op die devies wat in Augustus 1892 deur die stadsraad in gebruik geneem is.
Die skild toon die kruis van St Joris (St George), met gerwe en hangende skaapvel wat die landbou en handel simboliseer. Bo is die opkomende son, wat die ooste aantoon.
Die helmteken het gekruisde ankers, wat die hawe simboliseer, gekoppel met ’n muurkroon wat munisipale gesag simbiliseer.
Op die grond waarop die skildhouers staan is aalwyne – waarskynlik Aloe ferox – wat in Oos-Kaap inheems is. Die skildhouers is Kaapse buffels (Syncerus caffer), wat eens algemeen in die omgewing voorgekom het, maar wat tans slegs op wildplase en op reservate gesien word, nadat dit weer in die gebied ingevoer is. Die buffelbulle verwys na die Buffelsrivier waarlangs die stad geleë is.
Die leuse vertaal as: Deur moed en geloof.
Oos-Londen se 1892-wapen het die koringgerwe en vliese in goud op ’n silwer skildveld getoon. Die heraldiek laat nie die plasing van goue wapenfigure op silwer toe nie, weens ongenoegsame kontras, dus is die veld in 1959 na hermelyn verander.
Die wapen van 1892 het nóg helmteken nóg skildhouers ingesluit nie, maar het ’n goue anker agter die skild aangetoon op ’n manier wat herinnerend is aan die wapens van Kaapstad en die drostdye van die Kaapkolonie soos wat dit in 1804 deur Kommissaris-General Jacob Abraham Uitenhage de Mist verleen is. Die heroute het óf nie van die betekenis van die anker in so ’n posisie geweet nie, óf gevoel dat dit nie van pas is nie, dus het die skildhouer-anker die twee ankers van die helmteken geword.
In ander opsigte is die wapen en leuse onveranderd, bloot nuut geteken.
Die heraldiese kunstenaar het egter ’n skildvorm aangewend wat nie meer algemeen gebruik word nie, miskien omdat die wapen van 1892 ’n soortgelyke styl gebruik het.
Oor die stad:
In 1804 was die gebied waar Oos-Londen staan ver van die kolonie se grens langs die Boesmansrivier, en toe dit wel onder Britse beheer gekom het, was dit deel van die kortstondige Provinsie van Koningin Adelaide (in 1836) en daarna het dit binne die kolonie British Kaffraria (1847) gelê, alhoewel dit nie lank van
hierdie nuutgeskepte kolonie deel gevorm het nie.
Oos-Londen is langs die westelike (regter-)oewer van die Buffelsrivier gestig en het rondom Fort Glamorgan (in 1847 die eerste maal gebou) gegroei. ’n Proklamasie deur Goewerneur sir Harry Smith van 14 Januarie 1848 het die rivierhawe en ’n gebied twee myl rondom aan die Kaapkolonie geannekseer.
Teen 1873 was daar drie dorpies rondom die riviermond: East London (wat vandag Wesbank genoem word), East London East (op die linkeroewer; die huidige stadsenrum) en Panmure (tans die noordelike deel van die stadsentrum). Die drie is deur ’n proklamasie van 22 April 1873 saamgevoeg. Die proklamasie het ook vir munisipale kommisarisse voorsiening gemaak. Die eerste kommissarisse is 20 Mei dieselfde jaar verkies.
’n Provinsiale ordonnansie van 1 Junie 1914 het Oos-Londen na stadstatus verhoog.
Met die herorganisasie van munisipale regering van 1995 is nie net die swart dorpe Gompo (voorheen Duncan Village) en Mdantsane (’n oornagstad wat in Ciskei opgerig is) maar ook die onafhanklike munisipaliteite Beaconbaai (oos van die Nahoonrivier) en Gonubie (wat verder oos lê en wat die Gonubierivier [Gqunube] as oosgrens het) in die stad ingelyf.
Nà die plaaslike regeringsverkiesing van 200, het Oos-Londen, King William’s Town en omliggende gemeenskappe saamgevoeg om die Plaaslike Munisipaliteit Buffalo City te vorm, deel van die Distriksmunisipaliteit Amatole.
Naam van die stad:
Die Xhosa-naam iMonti verwys na die Buffelsriviermond (die woord is uit Nederlands/Afrikaans ontleen). Die rivier heet in Xhosa Qonce, maar die dorp wat hierdie naam dra is King William’s Town. Alhoewel die naam iMonti in gebruik is sedert min of meer die stigting van die dorpie wat tans Wesbank heet, het dit eers in 1994 ’n amptelike naam van die stad geword, toe Xhosa ’n landstaal geword het.
For English, click here
Terug na munispaliteite-indeks
Terug na Armoria civica-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle