Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

KING WILLIAM’S TOWN / QONCE
Provinsie/staat: Oos-Kaap (voorheen Kaapprovinsie/Kaap Colonie/British Kaffraria).
Distriksraad: Amatola (tot 1978 Afdelingsraad King William’s Town; toe Afdelingsraad Kaffraria).
Toevoegings: Bisho, Zwelitsha (1995)
Ingelyf: in Buffalo City, 2000.

King William’s Town

Die dorp het nie ’n heraldiese wapen gevoer nie. Dit het egter ’n ronde seëldevies gehad wat in die tyd van die kolonie British Kaffraria in gebruik geneem is.

Die seël is ’n landskaptekening van die kontrei rondom die dorp soos dit in die 1820s voorgekom het, met die Amatolaberge in die agtergrond.

Die naam Amatola (of, soos dit in moderne isiXhosa geskryf word, Amathole) beteken “bulkalwers” of “tollies” (hierdie Afrikaanse woord is blykbaar van isiXhosa afgelei), en verwys na die voorkoms van die berge in die oë van die vee-liewende amaXhosa, wat dit sien asof dit soos tollies rondspring.

Die byekorfvormige hutte is tipies van die soort huise wat die amaXhosa gebou het in die tyd toe die dorp gestig is.

In latere dekades het dit egter in plaas daarvan die norm geword om hutte te bou met regop mure (òf rondawels, of hutte met reghoeke). Die byekorf-vorm word steeds in KwaZulu-Natal aangetref, wat ’n mens verkeerdelik sal laat dink dat hierdie vorm in die Xhosa-kultuur ongekend is.

Die palmboom is ietwat van ’n anomalie. Palmbome kom wel voor langs die oewers van die Buffelsrivier, sowel as langs ander nabye riviere (veral nader aan die kus), maar die vrystaande, lang palm wat hier geïllustreer word, blyk om ’n fantasie aan die part van die kunstenaar te wees.

Behalwe die naam “Borough of King William’s Town” dra die seël ook die bewoording “Eqonce malicume”, wat “Mag Qonce floreer” beteken.

Qonce, wat “buffel” beteken, is die isiXhosa-naam eerstens van die Buffelsrivier wat deur die dorp loop (en die see bereik waar Oos-Londen se hawe staan), en deur uitbreiding ook van die dorp en die omliggende distrik.

Die buffel wat hier bedoel word is die Kaapse buffel, Syncerus caffer, wat in die wapen van Oos-Londen aangetref word.

Die uitdrukking “Eqonce malicume” bevat twee verskillende kliekgeluide kenmerkend van die isiNguni-taal, een daarvan tweemaal.

Die kliek wat Q gespel word word gemaak deur om die tong terug te trek van die verhemelte voor in die mond, bo die snytande. Die een wat as C gespel word het die tong aanvanklik teen die snytande self.

Oor die dorp:
Die permanente nedersetting alhier het in 1825 sy begin gehad toe die sendeling John Brownlee die Buffalo Mission Station gestig het, naby die kraal van die mindere kaptein Dyani Tshatshu[1] (die perseel van die kaptein se tuiste is al meer as 150 jaar deel van die dorp).

Brownlee was toe aan die London Missionary Society verbonde, maar het later onder die Glasgow Missionary Society gedien.

In 1835, tydens die Sesde Grensoorlog, het goewerneur sir Benjamin d’Urban die nedersetting die naam gegee van die heersende Britse soewerein, William IV, en dit die militêre hoofkwartier gemaak van sy nuwe skepping, die Province of Queen Adelaide (wat die naam gedra het van William se koningin, wat Adelheid gedoop was). Dit was ’n gebied oos van die Visrivier wat, volgens die goewerneur se bedoeling, ’n instrument sou wees waardeur die amaXhosa aan die beskawing voorgestel sou word.

(Koning William was die laaste Britse soewerein wat ook koning was van Hannover, ’n koninkryk in noord-Duitsland die gebied waarvan tans die grootste deel uitmaak van die Land Niedersachsen.)

Die Sekretaris vir die Kolonies in Londen het egter verkies om die Queen Adelaide-provinsie te laat vaar, en dit aan die amaXhosa terug te gee.

Dit was goewerneur sir Harry Smith wat weereens King William’s Town tot hoofstad verhef het toe hy in 1847 die kolonie British Kaffraria geproklameer het, deel van sy oplossing vir die Sewende Grensoorlog.

Die dorp, steeds onder militêre beheer, is 13 Augustus 1860 deur prins Alfred besoek. Hy was die derde seun van koningin Victoria (en was later hertog van Edinburg en daarna heersende hertog van Sachsen-Coburg-Gotha). Die prins, wat in hierdie stadium 16 jaar oud was en ’n adelbors in die Britse Vloot, het ’n uitgebreide reis deur die Kaapkolonie onderneem.

’n Nagevolg van prins Alfred se besoek was dat in 1861, King William’s Town siviele regering gegee is en die status van borough. Alhoewel die term borough ook in die kolonie Natal gebruik is, was dit in Kaffraria uniek tot King William’s Town en, toe daardie kolonie in 1866 aan die Kaapkolonie geannekseer is, ook in Kaapland uniek.

’n Opmeting is in 1872 uitgevoer vir die bou van ’n spoorweg wat King William’s Town met Oos-Londen en Queenstown sou koppel.

Die eerste sooi is Augustus ’73 omgespit, maar ten spyte van versoeke uit King William’s Town, was dit nie op die direkte roete nie, en is met ’n 17 km taklyn met Blaney Junction aangesluit.

Konstruksie het eers die daaropvolgende Januarie begin. Die eerste trein het in Mei 1876 Blaney bereik, en die eerste trein om die 54 km tussen Oos-Londen en King William’s Town te voltooi het eers in Desember aangekom.

Verdere konstruksie is deur die Agtste Grensoorlog versteur, en is and Queenstown eers in Mei 1880 aangesluit. King William’s Town het eers heelwat later sy taklyn-status verloor toe dit met Cookhouse, op die Port Elizabeth-Colesberg trajek, gekoppel is.

Duitssprekende setlaars vanuit ’n legioen wat in Brittanje gevorm is vir diens in die Krim-oorlog, is in 1856 op die Grens (soos wat die streek tussen Oos-Londen en Queenstown bekend geword het) geplaas. Verskeie dorpies met Duitse name is gevestig, waarvan veel uiteindelik sou verdwyn toe die plase in die 1970s deur die Suid-Afrikaanse regering gekoop is vir inlywing in Ciskei.

Die dorp het die administratiewe hoofkwartier van Kaffraria gebly tot lank na die anneksasie van daardie kolonie. In die latere jare is die stamtrustgebiede van wat Kaffraria deel was, die Ciskei genoem.

Slegs kort voor die “onafhanklikheid” van die Republiek Ciskei is sy administrasie verskuif, eers na Zwelitsha, die swart woonbuurt aan King William’s Town se westekant, en toe na die nuutgeboude hoofstad van Ciskei, wat Bisho genoem is, aan die noordelike buitewyke van King William’s Town.

King William’s Town self het egter deel gebly van Suid-Afrika en van Kaapprovinsie – die gedeelde gemeenskap wat so geskep is was bewys van die obsessie vir verdeling wat apartheid Suid-Afrika gekenmerk het.

Die Stadsraad (of Borough Council) van King William’s Town het die geboorte, 21 June 1982, van prins William van Wallis (seun van Charles, prins van Wallis, en die eermalige lady Diana Spencer) gevier deur om die koninklike kindjie se ouers ’n gelukwensingstelegram te stuur wat vooruit gekyk het na die regering van koning William V.

Tydens die munispale verkiesing van 1995 is beide Zwelitsha en Bisho (heel logies, nà die einde van apartheid) tot King William’s Town toegevoeg. In 2000 het die verenigde dorp, tesame met Oos-Londen, deel geword van die Munisipaliteit Buffalo City.

Name van die dorp:
Die dorp se formele naam in Engels, sowel as Afrikaans, is nog altyd King William’s Town gewees (mens praat slegs spottenderwys van “Koning Willemstad”), alhoewel dit in die algemene omgang verkort word tot “King”.

Die naam word soms as een woord gespel: Kingwilliamstown. Dit is egter in die Oos-Kaap in onguns. Hierdie vorm word deur Kaapstadse koerante gebruik, en by tye op padtekens. By wyse van kontras spel Oos-Kaapse Engelstalige koerante die naam van die vlootbasis aan die Kaapse Skiereiland se Valsbaaikus as Simonstown (Afrikaans: Simonstad), terwyl Kaapse koerante Simon’s Town verkies.

Die Xhosa-naam, Qonce, is ouer as die sending-nedersetting, maar ten spyte van die gebruik daarvan in die dorp se seël, was dit tot in 1994 nie ’n amptelike benaming nie; in daardie jaar het isiXhosa in Suid-Afrika ’n ampstaal geword.



[1] Dyani Tshatshu se kerstening was die enigste vrug van dr Johannes van der Kemp se sending aan die kraal van Rharhabe-opperhoof Ngqika in 1799-1800.

Sy naam verskyn in koloniale dokumente as Jan Tzatzoe, en dit word veral van hom onthou dat hy in 1836 Londen toe gereis het om voor die Inboorlinge-komitee van die House of Commons te getuig.

Toe die hoof van ’n huishouding dood is, was dit die gebruik dat sy kraal afgebrand en verlaat is (en is nie weer gebou nie), dus kan die voorkoms van die perseel van Dyani Tshatshu se tuiste binne die dorp nie gesien word ’n koloniale indringing op sy familie se voorvaderlike eiendomsreg nie.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Illustrasie vanaf ’n sigaretkaart wat in die 1930s deur die United Tobacco Companies (South) uitgereik is. Geskiedkundige aantekeninge uit die Standard Encyclopædia of Southern Africa (Nasou), onder ander bronne.


    Terug na munisipaliteite-indeks

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle