STELLENBOSCH
Provinsie/staat: Wes-Kaap (voorheen Kaapprovinsie/Kaap Colonie).
Afdeling: Stellenbosch
Toevoegings: –
Ingelyf: 2000, in Plaaslike Munisipaliteit Stellenbosch.
Die wapen soos geïllustreer is 26 Junie 1952 deur die College of Arms verleen en mag so geblasoeneer word:
In goud, op ’n dwarsbalk tussen drie torings van rooi ’n pou in sy natuurlike kleure tussen twee ringe van goud.
Helmteken: ’n Anker waarom ’n eikeboomtak gewend is, alles van goud.
Wrong en dekkleed: Goud en rooi.
Leuse: Fortis et superbus.
Oor die wapen:
Die wapen herinner aan die wapen wat in 1804 aan die Drosdy Stellenbosch verleen is, maar ignoreer verskeie aspekte daarvan.
Ten eerste het die heroute blykbaar nie die faktor erken wat al die wapens van 1804 in gemeen het (verlenings aan die vyf drosdye en die Raad der Gemeente Kaapstad), te wete ’n anker wat as skildhouer dien. As gevolg hiervan verskyn die anker in die wapen, maar dit is bloot deel van die helmteken, waar dit saam met ’n akkertakkie verskyn wat die eikebome voorstel wat die dorp se stigter, Goewerneur Simon van der Stel,[1] in groot getalle in die dorp laat aanplant het. Die dorp is steeds vir sy eike bekend, etlike waarvan nog uit Van der Stel se tyd oorleef, en sy bynaam is Eikestad. Die skild van die wapen van 1804 bevat die devies (’n verwerking van sy oorspronklike familiewapen) wat deur die goewerneur gevoer is. Die verlening van 1952 herhaal enkele elemente uit daardie wapen, maar voeg ook twee goue ringe by. Goue ringe op rooi – drie daarvan verskyn in die wapen van die familie Van Riebeeck – verskyn dikwels in Suid-Afrikaanse wapens as teken van hul Suid-Afrikaansheid. Die oorspronklike Van der Stel-wapen was In goud, drie torings van rooi, dus is die eenvoud van daardie wapen in die dorpswapen laat herleef. Die pou (Pavo cristatus) word “in sy natuurlike kleure” geblasoeneer, maar het meer van ’n silwer-agtige voorkoms. Dit is nietemin met die kenmerkende “oë” op die stertvere geteken. Die leuse vertaal as “Sterk en trots.” ’n Professor op Stellenbosch maak die punt dat “trots” hier nie in ’n negatiewe sin gebruik word nie, maar meer in die sin van “fier”.
Wapen van 1804:
Die wapen wat Kommissaris-Generaal Jacob Abraham Uitenhage de Mist aan die Drosdy Stellenbosch verleen het, is dié wat deur Goewerneur Van der Stel (wat in 1712 oorlede is) gevoer het, en is op sy graf in die Groote Kerk te Kaapstad gemessel. Dié is in 1836 vernietig toe die kerk herbou is, maar die wapen is deur Charles Davidson Bell, Landmeter-Generaal van Kaapkolonie, afgeteken. (Bell het terloops ook die Kaapse driehoekseël ontwerp.)
Ek het egter twee illustrasies en ’n beskrywing van die wapen wat nie met mekaar klop nie. Pama se Lions and Virgins het ’n swart-wit illustrasie (afgeneem van ’n tekening in die Coloniaal Archief in Den Haag), en uit ’n stel sigaretkaarte uit die 1930s het ek ’n volkleur-illustrasie van die drosdywapen soos dit tot in 1952 deur die Stadsraad Stellenbosch gevoer is.
Die wapen soos dit op die sigaretkaart verskyn mag so geblasoeneer word:
Gevierendeel: I: In goud, twee torings van rooi; II: in blou, ’n pou in sy natuurlike kleure; III: in blou, drie ringe van goud 1 en 2; IV: in goud, ’n toring van rooi; op ’n binneskild van swart, ses sekelmane van silwer, 2, 2 en 2.
Pama beweer egter dat die pou op ’n rooi veld staan, versuim om die kleur van die derde kwartier te noem, beskryf die ringe as pennings van silwer (sy Engelse teks verwys na “plates”), en noem die kleur van die binneskild as blou. Om die verwarring te vermeerder, dui die arsering (in die tekening uit die Coloniaal Archief) van die tweede en derde kwartiere op rooi, nie blou nie.
Die beduidenis van die pou word nie verduidelik nie, maar dit is die een element (behalwe die torings) wat in die verlening van 1952 voorkom.
Die binneskild is ter ere van Van der Stel se grootmoeder, Monica da Costa, ingevoeg. Daar bestaan onsekerheid aangaande haar oorsprong, en die 19de-eeuse Suid-Afrikaanse geskiedkundige George McCall Theal verwys na haar as “Monica of the Coast”, met die implikasie dat sy ’n slavin was vanaf die Kus van Koromandel[2] was. Maar Van der Stel het duidelik vir haar aangesien as lid van die edellike Portugese familie Da Costa, wie se wapen hy vertoon.
Pama wys ook daarop dat die wapen van Da Costa nie sekelmane bevat nie, maar ribbene (om hierdie wapen te besigtig, kliek hier).
Hierdie oorspronklike wapen het in 1827 verval toe drosdye in die Kaapkolonie afgeskaf is. Die reg daarop is egter aanvaar toe Stellenbosch in 1840 munisipale status bereik het – een van die eerste Suid-Afrikaanse dorpe om hierdie status te verkry – en die voer daarvan het tot en met die verlening van 1952 voortgegaan.
Oor die dorp:
Stellenbosch is die tweede-oudste permanente nedersetting in Suid-Afrika, en is ook die land se oudste plattelandse dorp.
Sy begin was in 1679 toe Van der Stel, toe Kommandeur van die Vereenigde Oostindische Compagnie se nedersetting aan die Kaap, ’n inspeksie gemaak het van die VOC se binnelandse buiteposte. Op 8 November het hy sy tent by die “Wilde Bosch” op die oewer van die Eersterivier opgeslaan. Hy het besluit om grond daar aan koloniste uit te deel, en het die plek na homself Van der Stels Bosch vernoem. (Dit is later verkort tot Stellenbosch.)
Die eerste boer, Jan Stevensz Botma, het Desember daardie jaar hom daar gevestig, en voordat die dorp in 1685 gestig is, was daar reeds 30 plase.
In Augustus 1682 is vier vry burgers as heemrade aangestel om mindere twiste af te handel, en om paaie en brûe oor te sien.
In 1685 is die eerste landdros, Jan Mulder, aangestel. (Vir meer inligting oor hierdie vorm van plaaslike bestuur, kyk hier.) Die dorp se laaste landdros, Daniel J van Ryneveld (wat in 1810 aangestel is), het ná die afskaffing in 1827 van die amp van landdros as siviele kommissaris (civil commissioner) voorts gedien totdat Stellenbosch in 1840 munisipale status verkry het onder ’n raad plaaslike kommissarisse.
Die dorp is in terme van ’n instructie vanaf Kommissaris-Generaal H A van Reede (gedateer Julie 1685) opgemeet, en Van der Stel het 15 Oktober 1686 persoonlik oorsig gehad oor die opmeting van die eerste vyf erwe van die eerste plattelandse dorp in Suid-Afrika.
Die drosdy – wat die raadskamer en die residensie van die landdros gekombineer het – is in April 1687 voltooi.
’n Nederduits Gereformeerde gemeente – die tweede-oudste in Suid-Afrika – is in Oktober 1686 gestig en die eerste kerkgebou is 19 Oktober 1687 ingewy.
17 Desember 1710 is die drosdy, die kerkgebou en 12 huise egter deur brand verwoes. ’n Nuwe drosdy is in 1718 voltooi en ’n nuwe kerk in 1722. Die kerkgebou (vandag die NG Moederkerk Stellenbosch) is in 1814 vergroot en in 1862-63 herbou, maar staan steeds op dieselfde perseel. Tot in die 1850s was dit die enigste kerk op die dorp, en dit het tot in die 1950s die dorp se enigste NG gemeente (vir blankes) gebly.
’n Sendingkerkgebou (vir Kleurling-mense) is egter reeds in 1823 langs die Braak, die dorp se begraste hoofplein, opgerig.
Stellenbosch is reeds sedert 1683 – selfs voordat die dorp gestig is – ’n opvoedingsentrum. Op versoek van plaaslike boere is in daardie jaar ’n skool ingestel. In 1840 het ’n regeringskool – die eerste in die kolonie onder die Herschel-sisteem – oopgemaak, maar het weer in 1865 gesluit.
Die NG Kerk se Teologiese Seminarium is in 1859 in die Ou Drosdy gestig, maar het later na ’n ander perseel verskuif. Tot in 1938 was dit die enigste kweekskool in Suid-Afrika vir predikante van die NG Kerk.
In Mei 1860 is ’n hoërskool vir die dogters van Rynse sendelinge, die Rheinisches Institut, gestig. Later is ander meisies ook as leerlinge ontvang, en is onderrig in Duits en Engels gegee. Sedert 1905 is die skool (wat landwyd as “Rhenish” bekend staan) ’n Engels-medium staatskool, en is dit vandag die oudste meisies hoërskool in die land.
Die Stellenbosch Gymnasium het in 1866 oopgemaak. In 1902 is dit Stellenbosch Boys’ High School hernoem. In 1940, toe die skool se rektor, Paul Roos (wat sedert 1910 die amp beklee het), afgetree het, het die skool die Paul Roos-Gimnasum geword.
’n Tersiëre inrigting, Stellenbosch College, het in 1881 uit die Gimnasium gegroei. In 1887 het dit Victoria College geword, en in 1918 die Universiteit van Stellenbosch.
Ander skole ek kolleges het hierdie inrigtings ook gevolg
Stellenbosch is belangrik genoeg geag om op die roete te wees van die eerste spoorlyn in Kaapland, vanaf Kaapstad tot Wellington. Die trajek tot by Stellenbosch is in 1862 oopgemaak, en die volgende jaar na Wellington voltooi. Stellenbosch is egter na taklynstatus verlaag toe ’n direkte roete vanaf Kaapstad na die Paarl in 1876 oopgemaak is.
Tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog het die Britse Leër sy hoofkwartier vir die subkontinent op Stellenbosch gehad. Offisiere wat in die slagveld foute gemaak het, is dikwels as staf-offisiere na die dorp gestuur. Dit is toe van hulle gesê dat hulle “Stellenbosched” was.
Die herorganisasie van 2000 het die skeiding tussen dorps- en plattelandse plaaslike besture afgeskaf. Stellenbosch en die naburige dorpie Pniël (oorkant die Helshoogte Pas wat na die Franschhoek-vallei lei) is saam met Franschhoek en hul plattelandse distrikte verenig om ’n plaaslike munisipaliteit te vorm, deel van die Distriksmunisipaliteit Boland wat nie net die Boland dek nie, maar ook die noordelike Overberg en die Witzenberg-streek.
Aangesien die nuwe munisipaliteit die Groot Drakensteinberge insluit, was daar ’n poging om die naam Drakenstein te voer, maar hierdie naam is toe reeds deur Wellington en die Paarl geneem (die Klein Drakensteinberge val in hierdie naburige plaaslike munisipaliteit) en dus is die naam Plaaslike Munisipaliteit Stellenbosch in gebruik geneem.
[1] Simon van der Stel, in 1678 as Kommandeur aangestel en in 1691 tot Goewerneur bevorder. Hy het in 1699 afgetree en is deur sy seun, Willem Adriaen van der Stel, opgevolg.
[2] Die Koromandel-kus van Indië strek noordwaarts van die Punt Kalimere, ’n kaap wat na Sri Lanka wys, tot die Kistnarivier.
In terme van moderne politieke eenhede, is dit die noordkus van die Tamil-sprekende Tamil Nadu-staat (met inbegrip van die stad Madras, naby die noordgrens van die staat), en die suidkus van Andhra Pradesj-staat, tuiste van die Telugu-sprekende Andhra-volk. Altwee hierdie taalgroepe behoort aan die inboorlingvolkere van Indië, apart van die noordelike volkere wat Indo-Europese tale praat.
Die Koromandel-kus is vroeg reeds deur die Portugese verower, daarna deur die VOC en later deur die Engelse. Madras was die setel van die suidelike hoofkwartier van Engeland se East India Company, die Presidensie van Madras.
Slawe vanaf die Koromandel-kus het gewoonlik ’n ou vorm van Portugees gepraat, ’n gevolg van Portugese oorheersing, alhoewel hul aankoms aan die Kaap ’n gevolg was van die VOC se beheer van die streek.
For English, click here
Terug na munisipaliteite-indeks
Terug na Armoria civica-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle