Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Die vlugteling se bekeerling

deur Mike Oettle

DIE 19de-eeuse stigters van die Anglikaanse Kerk in Suid-Afrika het groot agting vir die Heilige Albanus gehad, die eerste Christen-martelaaar in Brittanje, wie se spesiale dag (in die Engelse tradisie) op 17 Junie[1] val. Pretoria se Anglikaanse katedraal en die bisdomlike seunskool dra sy naam, asook die kapel te Draaifontein, wes van Port Elizabeth. Die kapel het eers sy naam aan ’n spoorweghalte geskenk, en daarna aan ’n gevangenis. Die Natalse dorp Verulam is vir sy Romeins-Britse tuisdorp genoem, maar vreemd genoeg het dit geen Anglikaanse kerk van Sint Albanus[2] nie.

Soos baie heiliges uit die vroeë tyd is daar ongelukkig om die naam van Albanus verskeie mites en legendes om sy naam geweef totdat ons nie meer seker is wat waarheid is en wat fantasie is. Daar is egter aan die kern van die legende genoeg feit vir ons om te kan waardeer wat hy verrig het, asook die waarde daarvan vir ons

Sy naam was Albanus[3] en hy was die seun van Romeins-Britse ouers wat in Verulamium, ’n stad (dorp met mure omring) op die Ver-rivier in wat tans Hertfordshire genoem word, tydens die 3de eeu nC gewoon het. Nadat hy in Rome sy opvoeding ontvang het, het Albanus na Verulamium teruggekeer. Hierdie stad was op die Romeinse pad wat tans Watling Street[4] genoem word, wat die hoofstad, Londinium, met Viroconium langs die Severn (Wroxeter, in Shropshire) verbind het.

Die Christelike Evangelie het tydens die 2de eeu nC Brittanje bereik, en is die Britse koning of stamkaptein Lucius gedoop. Maar in 303 het die keiser Diocletianus die ontneming van Christelike boeke beveel, sowel as die ontslaan van Christene uit militêre en administratiewe poste, en die gevangesetting van geestelikes. In 304 het hy beveel dat alle Christene aan die gode offers lewer.

Dan kom daar ’n priester in die prentjie. Sy naam is onbekend, maar latere skrywers het aan hom die naam Amphibalus[5] toegeskryf. In doodsvrees het hy Albanus versoek om hom te skuil. Die priester het nie lank gebly nie, maar in daardie kort tydperk is Albanus met sy maniere en sy boodskap so beïndruk dat hy hom versoek het om hom te doop.

Intussen het die prefek van die stad gehoor dat ’n priester verskuil is, en het beveel dat Albanus se huis deursoek word. Albanus, nadat hy betyds daarvan te wete gekom het, het die priester vermom weggestuur en homself, in die priester se lang mantel vermom, vir in hegtenisname gepresenteer. “Maar die regter het hom uitgeken, en was hy natuurlik ontstoke oor die poets wat hom sy regmatige prooi ontneem het. Hy het daarop aangedring dat Albanus dadelik aan die gode moet offer, of andersins die uiterste boete vir godslastering betaal. Albanus verklaar toe dat hy hierdie bevel nie kan nakom nie.”[6]

Die regter het hom oor sy familie ondervra, maar Albanus het slegs vir hom sy naam vertel, en die feit dat hy nou ’n Christen is. Die regter het beveel dat hy gegesel word, en toe dit geen verandering bring nie, hom ter dood veroordeel. ’n Skare het byeengekom om toe te kyk hoe hy die stad uit geneem is, oorkant die Ver en tot bo ’n nabygeleë heuwel. Legendes het oor hierdie staproete baie te vertel, onder andere dat ’n fontein vanuit die heuweltop oopgebars het toe Albanus om water gevra het. Dit vertel ook dat die laksman geweier het om Albanus dood te maak omdat hy so ’n goeie man nie skade kon aandoen nie. ’n Tweede swaardman is gevind om beide Albanus se kop en dié van die laksman af te kap – en, word dit vertel, het hy dadelik blind geword.

Die martelaar is bo op die heuwel begrawe, wat dan ’n pelgrimsoord geword het, en ’n kerk is daaroor gebou. Die heidense Saksers het die kerk vernietig, maar in 793 het Offa, koning van Mercia,[7] dit herbou en ’n klooster gestig wat uiteindelik onder die Benediktynse abdye van Engeland voorrang geniet het. Nicholas Breakspear, die enigste Engelse Pous, was daar ’n broeder voor sy vertrek na Rome, waar hy tussen 1154 en 1159 as Adrianus IV geheers het.

Die abdykerk het in so ’n mate die stad gedomineer dat sy vroeëre Romeinse en Saksiese name vergete is. Vandag word dit eenvoudig St Albans genoem. Die huidige kerkgebou, een van Engeland se grootste, is in 1077 begin en deur die eeue aangebou. Dit het in 1877 ’n katedraal geword.

Sedert die 15de eeu is die stad vir drukwerk beroemd. Die “Scole­master Printer” (sy naam is onbekend) wat tussen 1479 tot in 1486 daar geopereer het, het The Boke of St Albans uitgebring, die vroegste voorbeeld van kleurdrukwerk in Engeland.



[1] Hy het eintlik 22 Junie 304 gesterf. Die datum op sy graftombe word as XXII (22) aangegee, maar om die een of ander rede is dit gelees as XVII (17).

[2] Ander Anglikaanse kerke van Sint Albanus kan gevind word op Pacaltsdorp en Groenpunt (Wes-Kaap), Engcobo, Cathcart en Vincent (Oos-Kaap), Kimberley, Virginia in die Vrystaat en Mvangana in Zululand.

Maar Verulam is deur Metodiste-nedersetters gestig wat deur die graaf van Verulam geborg is, dus is dit onwaarskynlik dat hulle enigsins vir Albanus in gedagte gehad het.

[3] Die naam beteken “van Alba”. Daar is ’n dorp met hierdie naam naby Turyn.

[4] Die pad se naam is ontleen aan die vroeë Angel-Saksiese naam vir Verulamium, Wætlingceaster.

[5] Wat mantel beteken. Dit lyk of die naam eers later aan hom toegeskryf is.

[6] Aangehaal uit Stars Appearing deur Sybil Harton (my vertaling).

[7] Die leidende Angel-Saksiese koninkryk in daardie tyd.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Hierdie artikel is oorspronklik Junie 1992 in Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertaal.

  • Terug na indeks van heiliges

    Terug na chronologiese indeks

    Terug na Heiliges en Jaargetye-indeks


    Skryf vir my: Mike Oettle