‘Oh when the saints go marchin’ in . . .’
deur Mike Oettle
ALLE HEILIGES[1]
(1 November) is een van die groot feeste van die Christelike Kerk – wat miskien
vreemd sal voorkom, aangesien die dag nie slegs aan een heilige behoort nie,
maar aan elke laaste een. Op ’n manier onderstreep dit die universaliteit van
God se Kerk.
Wat is ’n heilige dan? Miskien is dit makliker om na die Engelse woord
“saint” te kyk (die ekwivalent in Afrikaans is natuurlik die afgekorte “Sint”).
Hierdie woord kom van die Latynse sanctus, wat heilig of toegewy
beteken, en kom van ’n werkwoord wat die betekenis het om heilig te maak. Dit
is in die Latynse Bybel gebruik om die Griekse hagios (agioV) te vertaal, wat ook heilig
beteken.[2]
Die Nuwe Testament praat van alle geolowiges as heilig want hulle posisie is
apart gestel vir God. Paul skryf “aan al die geliefdes van God, geroepe
heiliges wat in Rome is”, en waar hy die brief aan die Filippense sluit, skryf
hy: “Groet elke heilige in Christus Jesus.” (Romeine 1:7, Filippense 4:21) [3]
Die woord heilig self gee vir ons ander leidrade. Dit word in Nederlands en Afrikaans met verskeie betekenisse gebruik, en dit is moeilik om daartussen te onderskei. Maar ook in Oud-Engels is ’n woord gebruik wat essensieel dieselfde is.[4] In Oud-Engels kom dit voor as halig, en ander woorde wat naby verwant is, is so betekenisvol dat die vroeë sendelinge onder die Angel-Saksers heelwat gebruik daarvan gemaak het toe hulle die Evangelie geproklameer het. Dit hou naby verwant met “whole” (heel of geheel) and “hale” (gesond of robuust), en daarvan is die Oud-Engelse woorde halga (heilige man), halge (heilige vrou) en halgian (om heilig te maak, of toe te wy) herlei. Dis eintlik jammer dat die woorde halga en halge uit Engelse verdwyn het, en slegs enkele weerklanke bly oor – onder hulle die ou naam in Engels vir Alle Heiligedag: All Hallows. Daarvan afgelei is die naam vir die vooraand van Alle Heiliges, oftewel Alleheiligeaand – in Engels All-Hallow-Even, of kortweg Hallow-e’en.[5]
Hoekom vier ons Alle Heiliges? Een rede is dat daar gans te geel mense in die Kerkgeskiedenis is wat buitengewoon heilig was, dat hulle elkeen op een van die 365 dae van die jaar geakkommodeer kan word. Ook is dit nodig dat ons herinner word aan die gemeenskap van die heiliges, wat die lewende heiliges op die aarde insluit sowel as dié wat, soos die Heilsleër dit stel, na hoër diens gepromoveer is. Verskeie vroeë kerke het op verskillende datums ’n fees van al die heiliges, of ten minste van al die martelaars, en gedurende die 4de eeu nC het die Oostelike Kerk begin met ’n algemene behoud van ’n fees van al die martelaars op 13 Mei. Hierdie datum is deur Pous Bonifatius IV in 609 gebruik toe hy Rome se ou Pantheon – oorspronklik ’n tempel wat aan al die gode toegewy is – as ’n kerk ter ere van die Heilige Maagd en al die martelaars. Pous
Gregorius III (731-741) is glo die een wat die datum na 1 November verskuif het
en die fees uitgebrei het om alle heiliges te vier; op hierdie dag het hy ’n
kapel in die Sint Petrusdomkerk in Rome aan al die heiliges opgedra. In 837 het
Pous Gregorius IV dit beveel dat almal Alle Heiligedag op 1 November moet
vier.
Presies waarom die Kerk besluit het om Alle Heiliges in November te vier is onduidelik, maar dit het in Middeleeuse Brittanje die doel gedien om ’n Christelike fokus te voorsien vir die vieringe aan die einde van Oktober. Die laaste dag van Oktober (Alle Heiligeaand) was in die heidense Keltiese almanak ’n hoogs belangrike dag. Dit het Samhain geheet, en is in Engels Summer’s End genoem, en dit het ook die einde van die Keltiese jaar gemerk.
Samhain en Halloween het volop simboliek – beide goed en boosaardig – wat belangrik is vir Christene om te verstaan. Vir ’n bespreking van Alleheiligeaand te leer, kyk hierdie artikel.
[1] Die woordeboek gee hierdie
feesdag se naam as Allerheiligedag aan, maar dit is misleidend. Dit is glad nie
die allerheiligste dag in die jaar nie; dit is die dag vir alle heiliges.
Dieselfde geld vir die dag voor Alleheiliges, wat verkeerdelik aangegee word as
Allerheiligeaand.
[2] Hagios kom op sy beurt van die Indo-Europese
wortelwoord “jagh-”. Die naam Agnes, wat kuis of heilig beteken, stem van
dieselfde wortel.
[3] Die vertaling van 1933
weergee die betekenis beter as die Nuwe Vertaling van 1983, wat dit so stel:
“Aan almal in Rome wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort,”
(Romeine) en “Groete aan almal wat aal God behoort deur Christus Jesus.”
(Filippense)
[4] Onthou dat Oud-Engels
heelwat nader verwant was aan Duits, Nederlands en veral Fries as die Latyns-
en Frans-beïnvloede taal wat ons vandag as Engels ken. Ook was die Engelse
eerste gekersten, en dit was (onder andere) Engelsmanne wat vir Nederland en
Duitsland gekersten.
[5] Ook vind ons nog so ’n
woord in die Onse Vader, waar ’n mens in Engels sê “hallowed be Thy name”, in
plaas van die meer algemene “sanctify” – en die woord verskyn steeds in moderne
Engelse weergawes, onder andere die nuwe Anglican Prayer Book.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle