deur Mike Oettle
WANNEER iemand vir jou vertel dat hy nie in God glo nie, of nie kan aanvaar
dat God Drie in Een is, wees dankbaar vir die lewe van Sint Anselmus. Want dis
aan hom te danke dat jy logiese argumente het waarmee jy jou saak kan bewys.
Vòòr
Anselmus het amper almal die bewys van God “bewys” deur om na die een of ander
groot persoon of persone uit die verlede en te sê: “Wel, as hy geglo het,
behoort jy dit ook te doen.” Maar daardie soort bewys sal nie lank vir ’n
skeptikus tevrede stel nie.
Anselmus was aartsbiskop van Kantelburg vanaf 1093 tot 1109, en mens sal miskien dink hy was ’n Engelsman. Maar hy is op Aosta[1] in noord-Italië gebore (omstreeks 1033 of ’34) – maar nee, hy was streng gesproke ook nie Italiaans nie. Sy vader was lid van ’n aristokratiese Lombardiese familie, en sy moeder was ’n Boergondiese edelvrou. Alhoewel hierdie volkere die Romaanse taal aangeneem het en later beskou sou word as Italiaans of Frans, was hulle Germaanse invallervolke (onthou dat die Engelse en Normandiërs dit ook was).
Anselmus se vroegste herinnering was ’n droom waarin hy die berge bestyg het en die paleis van die Here God op die pieke sien rus het. Daar het hy met die Hemelse Koning gepraat en is hy op Sy bevel gevoed. Hierdie droom het vir hom ’n lewenslange begeerte gegee om met God te praat.
Nà sy moeder se dood, wou Anselmus se vader hê hy moet ’n politieke loopbaan volg en het die seun se begeerte om ’n monnik te word, afgekeur. Toe Anselmus sy skoling in Latyns voltooi het, het hy met sy pa rusie gehad en, omdat hy aangetrokke gevoel het tot die groot leerder Lanfrancus, wat ab was van Bec, in Normandië, het hy koers gevat na Bec nadat hy eers by sy moeder se familie in Boergondië besoek afgelê het. Hy het in 1060 die klooster
binnegetree en het kort daarop sy kloostereed afgeneem. Weens sy reputasie vir
intellektuele bekwaamheid en opregte vroomheid, is hy so vroeg soos 1063 tot
prior verkies, nadat Lanfrancus ab geword het van Caen, en in 1078 het Anselmus
ab van Bec geword.
Onder sy leierskap het Bec ’n sentrum vir geleerdheid geword, want hy het gou sy meester verbygegaan. In het 1077 Anselmus sy Monologium geskryf, wat “gepoog het om die bestaan en attribute van
God te wys deur ’n beroep op die rede alleen”.[2] Sy verdere geskrifte het hierdie argumente uitgebrei tot ’n sisteem van teologie en logika wat bekend sou staan as Skolastiek, wat gedien het as basis van Middeleeuse geleerdheid tot in die tyd van Sint Thomas van Aquino (1226-1274). In der waarheid was Anselmus die eerste groot teoloog wat na vore gekom het sedert die tyd van Augustinus van Hippo (364-430 nC).
Maar Anselmus word ook onthou weens die kontroversieë in die politiek en in die Kerkleer wat ontstaan het nadat hy in Engeland betrokke geraak het. Hertog Willem was vrygewig teenoor die Kerk in Normandië, en nadat hy in 1066 koning geword het van Engeland[3] het hy landgoedere in
daardie land aan Bec geskenk. Anselmus het driemaal oorkant die Kanaal besoek
afgelê om die besittings te ondersoek, en tydens die derde besoek, in 1093, toe
hy op Chester ’n priorie gestig het, het koning William II Rufus vir hom as
aartsbiskop van Kantelburg benoem. Lanfrancus het onder die ouere Willem die
bisdom gehad, maar sedert sy dood in 1089 is geen opvolger aangestel nie en die
kroon het die landgoed en inkomstes gevat. ’n Konflikstoneel het oopgelê.
Anselmus het aanvanklik geweier om ingeseën te word totdat Willem die landgoed aan Kantelburg terugbesorg het en ook vir Urbanus II as regmatige pous erken het, eerder as die anti-pous Clementius III. Siek en vol vrees vir die dood het Willem ingestem, en Anselmus is 4 Desember ingeseën – maar Willem het herstel, en het van die aartsbiskop geld gevra, wat Anselmus geweier het want dit sou soos simonie lyk.[4] Willem het op sy beurt geweier om Anselmus toe te laat om Rome toe te gaan om die pallium te ontvang (’n pallium is ’n mantel, simbolies van pouslike goedkeuring vir ’n aartsbiskop), aangesien dit sou voorkom asof Willem vir Urbanus gesteun het. Twee jaar later op Rockingham, in 1095, het die biskoppe van Engeland vir Anselmus teenoor Willem gesteun. Die pouslike gesant het Anselmus se pallium uit Rome gebring, maar Anselmus wou dit nie van Willem ontvang nie, want dit sou voorkom asof hy sy geestelike gesag aan die koning verskuldig is. Anselmus het verlof verkry om na Rome te reis – en sodra hy weg is, gryp Willem die landgoed van Kantelburg.
Anselmus het die Konsilie van Bari in 1098 bygewoon, wat bevestig het dat leke-beamptes (selfs konings) nie vir kerklikes moet inhuldig nie. Op Bari het Anselmus ’n leidende rol gespeel in die verdediging van die leer dat die Heilige Gees van die Vader en die Seun uitgaan (die sogenaamde filioque-klousule in die Geloofsbelydenis van Nikea, wat die Griekse patriarge nie wou aanvaar nie), en wat die oorsaak was van die Groot Kerkschismus van 1054 tussen Ooste en Weste.
Die twis met Willem is in 1100 opgelos deur sy moord. Sy broer Henry het die troon ingeneem en homself by Anselmus in die guns probeer bring. Maar toe Anselmus weereens geweier het om deur die koning ingehuldig te word, het die dispuut voortgesleep tot in 1107, toe Henry op die Sinode van Westminster afstand gedoen van die inhuldiging van biskoppe met ring en kruisstaf. Sy eis dat hulle aan hom hulde bewys, is aanvaar. Hierdie oplossing tot die twis oor leke-inhuldiging is ook op die Vasteland aanvaar.
Anselmus is 21 April 1109 dood, en is blykbaar in 1170 tot heilige
verklaar.
[1] Aosta is vandag deel van
Italië, maar die taal wat in daardie bergdal gepraat word is ’n Franse dialek
verwant aan dié van Frans-Switserland.
[2] Aangehaal uit die Encyclopædia Britannica (my vertaling).
[3] In die volksmond word daar
van Willem gepraat as Willem die Veroweraar, maar hy het altyd ontken dat hy ’n
veroweraar was, en het volgehou dat hy vir Eduard die Belyder volgens kontrak
as koning opgevolg het, alhoewel geen ander getuienis aan die lig gekom het om
so ’n kontrak te bewys nie.
Willem is buite die eg
gebore, en dit is bekend dat hy toegelaat het dat daar in die Parlement van hom
gepraat word as Willem die Bastaard. Om ’n wapen te sien wat aan Willem toegeskryf word, kyk hier.
[4] Simonie: die verkoop van kerklike ampte.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Skryf vir my: Mike Oettle