deur Mike Oettle
“AUGUSTINUS, Eerste Aartsbiskop van Kantelburg en Sendeling, 605” lees die
inskrywing in die almanak vir 26 Mei.
Vir sommiges is hy ’n groot held van die Geloof; vir ander is hy ’n knoeiende diplomaat en ’n verbeeldinglose sendeling wat op sy pous staatgemaak het om die metodes te voorsien waardeur hy die heidense Angel-Saksers omgepraat het om hul tradisionele geloof te los en om hulle na Jesus Christus te bekeer. Miskien is die bekendste ding aan hom die Engelse vorm van sy naam: Austin – wat heel waarskynlik jou gedagtes na ’n motorkar sal laat wend. Hy was in elk geval die eerste in die amp wat tans gehou word deur Rowan Williams, en is hy op hierdie manier belangrik vir die storie van die Kerk van Engeland en van die Anglikaanse Kommunie in meer onlangse tye.
Wat jy ookal oor die kaliber van die man besluit, is die storie van die Roomse sending aan Engeland ’n fascinerende een met interessante karakters langs die pad. Dit begin met ’n monnik genaamd Gregorius[1]
wie, so vertel die legende ons, eendag in 575 nC op die Forum (markplein) van
Rome was toe hy ’n groep vlasblonde seuns sien wat te koop aangebied word as
slawe. “Wie is hulle? Waar kom hulle vandaan?” wou hy weet, en is hy vertel:
“Angele, uit Deira.”[2] Hy beantwoord: “Eerder engele, en gered van die dag des toorns [dies iræ]. Wie is hulle koning?” “Ælle,”[3] is hy vertel. “En Alleluia sal daar gesing word,” het Gregorius geantwoord. Maar hy is nie toegelaat om as sendeling Engeland toe te gaan nie, en moes wag tot hy in 590 as pous verkies is voordat hy planne kon beraam om so ’n sending uit te stuur.
Die man wat hy gekies het om die sending van sowat 30 monnike was
Augustinus, soos Gregorius ’n aristokraat en die hoof van Gregorius se eie
klooster. Na ’n ongelukkige begin – sy medereisigers is verskrik deur
gruwelstories van die wilde land oorkant die Engelse Kanaal en wou hul leier na
Rome terugstuur – het Augustinus en sy groepie in die lente van 597 die eiland
Thanet bereik, in die Juttiese koninkryk Kent, en het ’n versoek aan Æthelberht
(Ethelbert),[4] koning van Kent en oorheerser van Essex[5] en Oos-Angele (East Anglia), [6] gestuur om toestemming om in sy koninkryk te kom bly.
Alhoewel Ethelbert ’n heiden was, was hy blykbaar bereid om die evangelie te hoor deur die toedoen van sy koningin, ’n Frankiese prinses genaamd Bertha, ’n Christin wat met hom getroud is op voorwaarde dat sy haar godsdiens mag beoefen, en het sy haar eie kapelaan, biskop Liudhard, saamgebring. Daar is niks op skrif wat aandui dat Liudhard enigsins ’n sendeling was (alhoewel hy, Bertha en Ethelbert almal heiliges genoem is), maar Ethelbert het gunstig vir Augustinus ontvang. Hy het vir hulle ’n woning in Kantelberg[7] voorsien, asook die ou Romeinse Sint Martinuskerk, Bertha se eie kapel, vir eredienste. Dit word soms vertel dat die woning Ethelbert se eie paleis was, maar die skenking van hierdie gebou het blykbaar later gekom.
Teen die aankoms van Pinkster is Ethelbert gedoop. En alhoewel hy geen druk op sy onderdane uitgeoefen het om hulle te bekeer nie, het al hoe meer op die sendingboodskap geantwoord. Kersdag 597 is 10 000 mans van Kent in ’n rivier gedoop. As gevolg hiervan is Augustinus die jaar daarop tot biskop verhef. In 601 is hy metropolitaan van Engeland gemaak, en is ekstra
sendelinge na hom gestuur – daaronder die heiliges Mellitus, Justus en
Paulinus. Gregorius se briewe aan Augustinus – ’n aanhoudende stroom tydens
Augustinus se kort sewe jaar in Engeland – het opdragte ingesluit om heidense
tempels tot Christelike gebruik te omskep, asook die inseëning van 12
wybiskoppe.
Soos die Christelike geloof in Engeland versprei het, het ook Ethelbert se invloed groter geword. Hy het die eerste oorblywende kode neergeskryf van Angel-Saksiese reg, en teen die einde van sy lewe is hy verkies as Bretwalda (oorheerser) van al die Engelse koninkryke suid van die Humberrivier. Dit is onduidelik of dit voor of na Augustinus se afsterwe plaasgevind het, mar die koning se vrygewigheid teenoor die Kerk het vermeerder. Hy het op verskeie plekke kerke en katedrale laat bou, onder andere ’n katedraal vir die koninkryk Middlesex[8] in Londen. Op Kantelburg het hy vir Augustinus gehelp in die restourasie van ’n bouvallige Romeinse kerk wat toe ingewy is as die katedraal Christuskerk (Christ Church Cathedral). Hulle het ook ’n heidense tempel omskep in die kerk van Sint Pancras, en het die klooster van die Heiliges Petrus en Paulus opgerig, waar Augustinus na sy dood in 605 begrawe is, asook Ethelbert toe hy in 616 dood is. Dit is daarna die Sint Augustinuskerk genoem, en latere konings van Kent en aartsbiskoppe van Kantelberg is daar begrawe.
Die Roomse sending was nie in sy tyd die enigste Christelike kerk in Brittanje nie. Die Keltiese Kerk, wat onder die Romeinse Britte gestig is, maar wat tydens die Donker Tyd van Rome geskei is, was steeds sterk in Wallis,
Cornwall, Skotland, Ierland en die Eiland Man. Maar Augustinus se pogings om
met die Walliese biskoppe eenheid te bereik is gefrustreer, ewe veel deur hulle
hardnekkige houding as deur sy eie onwrikbare uitkyk, en dit was sowat 200 jaar
voordat Engeland en Wallis ’n verenigde kerk geken het.
Ten spyte van sy tekortkominge het Augustinus goed gebou. Die Heilige Gees was duidelik in sy leeftyd in Engeland aan die werk. Terwyl ander op die fondamente wat hy gelê het, verbeter het, het die struktuur behoue gebly.
[1] Hy staan tans bekend as
Sint Gregorius die Grote.
[2] Deira: ’n koninkryk in die
noorde van Engeland, in die gebied wat later Yorkshire sou heet.
[3] Die Oud-Engelse letter æ het vir die klank gestaan van die a in die Engelse woord apple; die letter a het meer soos die Afrikaanse appel geklink. Die aangepaste aanhaling is uit Stars Appearing, deur Sibyl Harton.
[4] Æthel beteken edel,
en beide -berht en Bertha beteken helder (bright).
Koningin Bertha se vader was
Charibert, koning van Parys.
[5] Land of koninkryk van die
Oos-Saksers.
[6] Land of koninkryk van die
Oos-Angele.
[7] Hierdie stad se naam
beteken burg (bury) van Kent. Hierdie koninkryk was die enigste deel van
Engeland wat die naam geneem het van die Britse stam wat vroër daar gewoon het;
hierdie stam is aan die Romeine as die Cantii bekend.
[8] Land of koninkryk van die
Middel-Saksers.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle