deur Mike Oettle
WAS Dietrich Bonhöffer ’n martelaar? Die debat hieroor sal sonder twyfel
jare lank aangaan, afhangende van die vraag of dit in die Christelike etiek reg
is om die dood van ’n bose heerser te beplan. Want dit is die misdaad waarvoor
Dietrich 9 April 1945 deur nazi-Duitsland gehang is, te Flossenbürg, Beiere.
Vir sy betrokkenheid in die komplot om Adolf Hitler te assassineer, onder
leierskap van luitenant-kolonel Claus Schenk, Graf von Stauffenberg, was
Dietrich[1]
Bonhöffer[2] in my oë
lank reeds ’n held. Maar of die komplot in die lig van die Skrif geregverdig
kan word is ’n ander vraag.
Sonder twyfel, as ’n mens Mattheus 26:52b (“Want almal wat na die swaard
gryp, sal deur die swaard omkom.”) saam met Romeine 13:1 (“Elke mens moet hom
onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat
nie van God kom nie.”) lees, lyk dit of die komplot glad nie ’n Christelike
optrede sou kon wees nie.
Tog het Christus aan sy dissipels gesê: “En wie nie ’n swaard het nie, moet
van sy klere verkoop en een aanskaf.” (Lukas 22:36b) En skrifgeleerdes glo dat
Paulus die Brief aan die Romeine in 57 nC op Korinte geskryf het, twee jaar
voordat die bose keiser Nero met sy buitensporige optrede begin het deur om sy
moeder te vermoor.
Dietrich Bonhöffer 4 Februarie 1906 is in Breslau, Duits-Silesië (tans
Wroclaw, Pole) gebore en het grootgeword in die akademiese sirkels van die
Universiteit van Berlyn, waar sy vader professor was in psigiatrie en
neurologie. Hy het aan die universiteite Tübingen en Berlin teologie gestudeer,
en het onder die invloed van die skool van historiese teoloë en van Karl Barth
se “teologie van openbaring”.
Hy het in 1928 assistent-pastoor geword van ’n Duitse gemeente in
Barcelona, maar het toe ’n jaar lank Nieu-York se Union Theological Seminary
bygewoon en, toe hy in 1931 na Duitsland terugkeer, het hy dosent geword in die
sistematiese teologie aan die Universiteit Berlyn. “Vanaf die eerste dae van
die nazi-bewind in 1933 was hy in proteste teen die regime betrokke, veral teen
sy anti-Semitisme, en ten spyte van ’n verdere 18-maande-lange afwesigheid toe
hy as pastoor gedien het van twee klein Duitse gemeentes in London (1933-35),
het Bonhöffer ’n leidende woordvoerder vir die Belydende Kerk, die hart van
Duitse Protestantse weerstand teen die nazi-bewing. In 1935 is hy aangestel om
’n nuwe seminarium vir die Belydende Kerk op Finkenwald (Pommere) te organiseer
en om hoof te wees daarvan. Hierdie inrigting het tot in 1940 in vermomde vorm
voortgeleef, ten spyte daarvan dat die politieke owerhede dit reeds in 1937
verbied het. Hier het hy die beoefening van gebed, private belydenis van sondes
en gemeensame dissipline ingevoer, soos in sy boek Gemeinsames Leben
(1939; Life Together, 1954) uitgespel.”[3]
Nadat Finkenwald gesluit is, het Dietrich by admiraal Canaris se militêre
intelligensie-personeel aangesluit, en het as dubbele agent opgetree. “Met
behulp van sy ekumeniese kontakte, veral sy vriendskap met biskop George Bell
van Chichester, Engeland, het Bonhöffer vergeefs die Britse regering se steun
gesoek vir dié wat teen Hitler saamgesweer het. Sy inhegtenisname in 1943 het
gespruit uit sy betrokkenheid by die smokkel van 14 Jode na Switserland.”[4] Verloof kort voordat hy in hegtenis geneem is, was Dietrich nooit getroud nie.
“Alhoewel hy slegs 39 was toe hy doodgemaak is, het Bonhöffer ’n ryke
erfenis in boeke gelaat – Sanctorum Communio, Act and Being, The
Cost of Discipleship en Life Together – asook briewe, ander
skrifte en aantekeninge wat na sy dood deur sy hegte vriend en biograaf, Eberhard
Bethge, gepubliseer is. Dit sluit in Letters and Papers from Prison, Ethics
en ses volumes versamelde werke.”3 Verskeie teologieë spruit
hieruit.
Maar om mee af te sluit, kom ons fokus op Dietrich se laaste dae. Hy het
amper die oorlog oorleef, maar agt maande na Stauffenberg se mislukte
staatsgreep van 20 Julie 1944 is dokumente na vore gebring wat sy betrokkenheid
bewys het. Hy is summier verhoor en tereggestel. Die kamp se dokter het dit van
sy laaste oggend geskryf:
“Ek het pastoor Bonhöffer gesien voordat hy sy
gevangene-gewaad uitgetrek het. Hy het op die vloer gekniel en was diep in
gebed aan sy God. Ek was diep bewoë . . . In die
amper 50 jaar wat ek as dokter gewerk het, het ek feitlik nooit ’n man sien
sterf terwyl hy so uiters gehoorsaam was aan die wil van God.”[5]
[1] Dietrich – van die Oos-Gotiese Theodoric, wat
“volksheerser” beteken . In Afrikaans en Nederlands is dit Diederik, in Engels
Derek; albei het die verkorte vorm Dirk.
[2] Blykbaar van Bonhof, ’n
dorp in Wes-Pruise (tans Benowo, in Pole se provinsie Gdansk).
[3] Aangehaal (volgens my
vertaling) uit die Encyclopædia Britannica.
[4] Aangehaal (my vertaling) uit The History of Christianity, ’n Lion-handboek.
[5] Aangehaal (my vertaling) uit Saints of the Twentieth Century, deur Broeder Kenneth, CGA.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks