Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Moeder Cecile

deur Mike Oettle

’n STERWENDE moeder in die hospitaal het die hand vasgeklou van ’n non wat haar besoek het. Die ellendige moeder het haar baba aan ’n Moesliem-familie verkoop, maar noudat sy besef het wat sy gemaak het, het sy die suster versoek om die kind te red. Die suster het dadelik gegaan om ’n magisteriële bevel te verkry en, van ’n polisiekonstabel vergesel, haar weg gevind na die Moesliem-woning. ’n Groot groep Moeslims het om die deur gestaan – ’n onheilspellende teken. Skielik het die non die kind gewaar, dit in die omvattende moue van haar nonnegewaad toegedraai, en gevlug. Die skare het haar tot by die spoorwegstasie gevolg, maar sy het weggekom saam met die ongedeerde kind.

Hierdie storie is aangepas uit Saints of the Twentieth Century deur Broeder Ken­neth, CGA. Wie was die non, en in watter dorp was sy? Dit mag jou verras om te leer hoe naby dit afgehandel het, want die non was Anglikaans, nie Katoliek nie, en die dorp Port Elizabeth.

Sy was Cecile Isherwood, wat met liefde onthou word as Moeder Cecile,[1] stigter van die Community of the Resurrection of Our Lord[2] en ’n baanbreker in die onderwys.

Sy is Annie Cecilia Ramsbottom Isherwood gedoop en is in 1862 op Uxbridge gebore in die destydse Middlesex,[3] die jongste dogter van ’n egpaar wat gesterf het toe sy nog kind was (sy was agt toe haar moeder dood is; 13 toe kaptein Rams­bot­tom-Isherwood haar in 1875 ’n weeskind gelaat het). Sy het eers op Brighton saam met haar broer gebly, en toe met familievriende, generaal en mev Browne, in Londen. Sy het eers geroepe gevoel om Christus te dien op die Sint Petruskerk op Eaton Square, Londen. In daardie selfde kerk het sy in 1883 geluister toe Allan Becher Webb, derde Anglikaanse biskop van Grahamstad, hoor preek het. Biskop Webb, wie reeds in die bisdom Bloemfontein ’n vrouegemeenskap gestig het, het as sy teks geneem: “Ek was nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam nie.”[4] Annie, toe 21, het gereageer deur haarself aan te bied vir werk in Suid-Afrika. Hy het haar as diakenes ingeseën en sy het saam met hom Grahamstad toe gereis.

Annie het dit nooit oorweeg om non te word nie, maar nà haar aankoms op Grahamstad het biskop Webb haar versoek om ’n gemeenskap nonne te stig, het sy daaraan gedink en toe, 25 April 1884, as novise haar kloostergelofte geneem. Ander vroue het by haar aangesluit, en binne twee jaar het die Community of the Resurrection in Grahamstad ’n tehuis gehad vir hawelose meisies, ’n skool vir leerlinge wat kon betaal, ’n koshuis vir spoorwegkinders en die Good Shepherd Mission School vir arm kinders. In 1887 het suster Cecile – daarna moeder Cecile – haar finale kloostergelofte geneem.

Vanaf 1887 tot ’90 het die susterskap ’n kindersaal op die Port Elizabethse hospitaal in Richmondheuwel self befonds, maar daarna het hulle op onderwys gekonsentreer. Van die Good Shepherd Mission het Cecile geskryf (my vertaling): “Vir drie weke het ons eerste en enigste leerling, ’n kind van sewe, vir my sendelingsgeduld geleer.”

“Aan die begin was Cecile en haar susters brandarm. Daar was so min kos dat as ’n besoeker vir aandete aangebly het, een van die susters daarsonder moes gaan. Hulle het slegs een paar sterk stewels gehad en een lamp.

“Eendag het ’n swart priester besoek afgelê. Hy wou die dames sien ‘met hulle koppe toegedraai’. Toe hy weer weggaan het hy geld in Cecile se hand gedruk. Toe sy vra vir wie dit is het hy geantwoord: ‘Vir jou Susters’. ‘Maar ons doen vir julle volk niks nie,’ het Cecile gepro­teer. ‘Nee, maar julle sal.’ Cecile het daardie skenking as ’n skat beskou. Dit was ’n direkte antwoord op hulle gebede, want daar was daardie dag in die klooster geen geld nie.”[5] Nie lank daarna nie het hulle ’n skool vir swart kinders op Herschel[6] begin wat later na Keiskammahoek[7] getrek het, en een vir Kleurlingkinders in Port Elizabeth.

Cecile het ook Kaapstad toe gereis om druk uit te oefen vir verbeterings in die gevangenisse. Sy sou in die wandelgang van die Senaat wag om lede te kan kry en om met hullet te praat oor die aanhou van kinders in die tronk.

Sy was besorgd oor opvoedkundige standaarde, en die susters se pogings om hul onderwyskwalifikasies het in 1894 gelei tot die gemeenskap se stigting van die Grahams­town Training College (tans deur Rhodes University oorgeneem). Dieselfde jaar het die begin gesien van ’n skool op King William’s Town, wat tot in 1906 oop was.

’n Staatsamptenaar het van haar geskryf: “Dit het my met bewondering gevul toe ek gesien het hoe sy moeilike probleme benader het – probleme waarvan menige man sou laat wegskram – met ’n glimlag op haar gesig en ’n vonkeling in die oog.”[8] Daar word ook van haar geskryf: “Haar gunsteling-uitdrukking in enige moeilikheid was: ‘Ons sal op ons knieë moet gaan.’ ”[2]

Cecile was, ten spyte van al hierdie energieke werk en goeie humeur – “altyd opgeruimd en vol pret”[3] – ’n sieklike vrou wat dikwels aan pyn gely het, maar sy het haar pyn opsy gesit om lang ure in die gemeenskap se kapelletjie deur te bring.

In 1902 het sy Engeland toe teruggekeer om £5 000 vir die kollege in te samel – sy het Staatsverlenings geweier – en weer in 1905. In Februarie 1906, toe sy steeds in Engeland was, het haar toestand ’n operasie geverg, maar sy het dit nie lank oorleef nie, en is die 20ste oorlede.

K S Hunt, waar hy in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek skryf, verwys na haar ongetwyfelde administratiewe vaardigheid en gaan voort: “Haar oorredende maniere, innemende persoonlikheid en goeie voorbeeld het haar onderdaniges geïnspireer en het dit haar ’n ideale leier en organiseerder gemaak. Haar benadering tot haar godsdiens was essensieel prakties, en as gevolg is die werk van die Gemeenskap so gevorm om aan die behoeftes van dié wat sy lede gedien het, te voorsien.”



[1] Cecile se idiosinkratiese houding teenoor haar doopname het heelwat verwarring geskep. Sy is Annie Cecilia gedoop, maar het die naam wat sy verkies het as “Cecil” [Sessil] uitgespreek; tog het sy dit altyd as “Cecile” geskryf. Dit is blykbaar die rede waarom albei gepubliseerde bronne waaruit hierdie artikel voorberei is, na haar as “Mother Cecil” verwys.

[2] Die orde se naam kan vertaal word as Gemeenskap van die Opstanding van Onse Here.

[3] Die graafskap Middlesex het in daardie tyd aan die noordekant soos ’n boog om die graafskap Londen gestrek, maar in die 1970s is dit afgeskaf en met die hoofstad ingelyf as deel van die streek Greater London.

[4] Handelinge 26:19.

[5] Aangehaal uit Saints of the Twentieth Century, deur Broeder Kenneth (my vertaling).

[6] In die driehoekige distrik stamtrustgrond tussen Basoetoeland, die Oranjerivier en die Drakensberge, naby Aliwal-Noord. In daardie tyd was dit deel van Ciskei, maar in 1976 is dit aan Transkei oorhandig en het dit deel uitgemaak van die Republiek Transkei.

[7] In die hartjie van Ciskei.

[8] Aangehaal uit The Harvest of Good Hope deur B T Page (my vertaling).


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Hierdie artikel is Februariemaand 1992 in Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer en is deur die skrywer vertaal.

  • Terug na indeks van heiliges

    Terug na chronologiese indeks

    Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle