deur Mike Oettle
JESUS was ’n Jood, en so ook was al sy vroeë dissipels. Die Apostles was
elkeen Jode, en daar kon slegs enkele nie-Jode onder die 3 000 gewees het wat
aan die einde van sy eerste Pinksterdag die Kerk uitgemaak het. Maar nà die tyd
van due Nuwe Testament hoor ons al hoe minder van Jode in die Kerk, dus is dit
amper ’n verrassing om op die naam af te kom van Edith[1] Stein, ’n Duitse Jodin wat ’n Rooms-Katolieke non geword het – en ’n martelares in Hitler se berugte doodskamp op Auschwitz.[2]
Edith (1891-1942) is, soos Dietrich Bonhöffer, op Breslau (tans Wroclaw) gebore, en soos hy het sy in Duitsland ’n akademiese loopbaan gevolg – maar een wat baie anders was. Haar familie was Ortodoks-Joods, maar in die ouderdom van 13 het Edith haar geloof laat vaar, en het sy ateïs geword. Desnieteenstaande was sy in die skool ’n slagoffer van diskriminasie, en het sy nooit eerste in die klas gestaan nie omdat haar onderwyser hierdie briljante Joodse meisie verafsku het. Maar, om haar moeder nie te ontstel nie, het Edith steeds sjoel
bygewoon, selfs toe sy aan die Universiteit Breslau student was. Toe sy haar
studies op Göttingen, tans in Nedersakse, voortgesit het, het sy onder die
invloed gekom van die filosoof Edmund Husserl en ’n Joodse egpaar, Adolf en
Anna Reinach.
Adolf is in 1914 opgeroep, en in 1916 is hy en Anna as Christene gedoop. “’n Jaar daarop was Adolf dood, in Vlaandere gesneuwel, en sy vrou het vir Edith gesmeek om verskeie papiere in verband met sy werk uit te sorteer,
blykbaar vir publikasie. Edith het ingestem, maar was sy ook mislik oor die
gedagte dat sy daardie huis sou ingaan en daar sou vind nie die gelukkige
egpaar wat sy geken het nie, maar ‘die sombere skadu’s van diepe rou’. Sy het
glad nie so iets gevind nie. Sy het gevind dat Anna Reinach haar onwrikbare
geloof in ’n lewende God uitgestraal het. Edith sou later sê dat dit haar
eerste belewenis was van die kruis, en van die goddelike sterkte wat dit in dié
wat dit dra, inspireer. ‘In daardie oomblik is my ongeloof totaal verdruk
. . . en die lig van of Christus het in my hart opgewel – die lig van
Christus in die misterie van die Kruis.’ ”[3]
Edith het in die tussentyd na die Universiteit van Freiburg in Breisgau[4], oogegaan, waar Husserl haar gesmeek het om by hom aan te sluit. Sy het in 1916 haar doktoraat in die wysbegeerte behaal, en het ’n reputasie opgebou as een van die universiteit se leidende filosowe gevestig.
Dit moes vir haar Ortodokse ouers ’n verpletterende teleurstelling gewees het dat haar besoek van 1921 aan hulle tuiste in Breslau ’n katalis was in haar bekering na die Katolieke geloof, want dit was daar wat sy die outobiografie gelees het van die mistikus Sint Teresa van Avila gelees het, en diep daardeur beïnvloed was. Sy is 1 Januarie 1921 gedoop, en het haar pos op Freiburg bedank om op ’n Dominikaanse meisieskool op Speyer, naby Heidelberg, skool te gee. “Daar het sy Sint Thomas van Aquino se De veritate (Oor die Waarheid) vertaal, en het sy bekend geword vir haar toesprake op Duitse universiteite oor Thomisme,[5] Fenomenologie,[6] opvoeding en die posisie van vroue in die Kerk.”[7]
Edith is in 1932 op Münster (noord van die Ruhr) as dosent aangestel, maar is die daaropvolgende jaar gedwing om te bedank toe die nazis met hulle anti-Semitiese vervolging begin het. In 1934 het sy op Keulen by die
Karmelitiese orde aangesluit, en het die naam aangeneem van Teresa Benedicta
van die Kruis. Daar het sy haar filosofiese werk Endliches und ewiges Sein (in Engels gepubliseer as Finite and Eternal Being) voltooi, wat
Thomisme en Fenomenologie bymekaargebring het, en wat Edith se soeke na
waarheid reflekteer.
In 1938 het die priores van Keulen ’n dramatiese ontsnapping gereël na Echt in die Nederlandse provinsie Limburg, sodat Edith van die nazis vry kon wees. Daar het sy haar belangrikste werk geskryf, ’n bestudering van die Heilige Johannes van die Kruis. Haar suster Rosa, wat teen hierdie tyd ook ’n Katoliek was, het ook in Nederland gaan woon. Maar nà die Duitse inval in Nederland het die nazis weer vir hulle gevind.
Die nonne het geprobeer om die twee susters Switserland toe te laat neem, wat beteken het dat hulle by die Gestapo-hoofkwartier om ’n paspoort moes aandoen. Toe Edith die gebou binnegegaan het, is dit van haar verwag dat sy
haar hand so oplig en “Heil Hitler!” te sê. In plaas daarvan het sy vrymoedig
uitgeroep: “Heil Jesus Christus!” Sy is beledig, en is gedwing om ’n geel
Dawidster te dra.
In Augustus 1942 het Hitler die arres beveel van alle “nie-Ariese”
Katolieke, en het Edith en Rosa saam met ander gevangenes op Westerbroek
byeengekom voordat hulle per trein na Auschwitz vervoer is. Daar, het “alle
orlewende getuies gekonstateer dat sy alle lydendes erbarmend gehelp het”[6] voordat sy en Rosa by die vier miljoen aangesluit het wat in die gaskamers van daardie verskriklike kamp dood is.
Edith het dit eenmaal geskryf: “Om ’n kind van God te wees beteken dat jy elke sorg en elke hoop in die Hand van God plaas, en bekommer jy jou nie oor jouself of jou toekoms nie.”
[1] Hierdie voornaam word nie op die Engelse manier uitspreek nie. In Duits klink dit soos “Eidiet” of “Êdiet”. Die van klink soos Sjtaain, nie Steyn nie.
[2] Die Poolse dorp naby die kamp (50 km wes van Krakow) heet tans Oswiecim, maar die nazi-doodskamp behou sy Duitse naam, Auschwitz. Om die Poolse naam uit te spreek, onthou dat die Poolse W dieselfde klankwaarde het as in Afrikaans, die letterkombinasie IE vir twee aparte klanke staan (ie-je), en dat die letter C vir TS staan.
[3] Uit Saints of the Twentieth Century, deur Broeder Kenneth, CGA (my vertaling).
[4] In Baden, suidwes-Duitsland. Die stad word “Freiburg in Breisgau” genoem om dit van ander Freiburgs te onderskei.
Die Breisgau is die
suidelikste deel van die eermalige vorsdom Baden (in sy laaste jare ’n
groot-hertogdom, en tussen die Wêreldoorloë ’n republikeinse Land), wat
tans deel is van die Land Baden-Württemberg. (Die woord Gau beteken “distrik”.)
[5] Die filosofie van Thomas van Aquino.
[6] Husserl se filosofie.
[7] Aangehaal uit die Encyclopædia Britannica (my vertaling).
For English, click here
Terug na Heiliges en Jaargetye-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle