deur Mike
Oettle
ROBERT GRAY, wat 1 September op die
almanak verskyn, was ietwat van ’n nuweling toe hy Sondag 20 Februarie 1848 in
Kaapstad aangekom het as eerste Anglikaanse biskop van daardie stad aangekom
het – toevallig was hy net betyds vir die aanddiens in die St George-kerk, wat
van hierdie oomblik af ’n katedraal sou wees.
Die Nederduitsche Gereformeerde Kerk het reeds amper 200 jaar lank aan die Kaap bestaan, die Lutherse en Morawiese kerke was in die kolonie doenig sedert die dae van die Vereenigde Oostindische Compagnie, die Metodiste Kerk het in 1816 in Namakwaland ’n sending gestig, en selfs die Rooms-Katolieke Kerk het die afgelope 10 jaar reeds in Kaapstad ’n biskop gehad.
Dis wel waar dat die Kerk van Engeland aan die Kaap sedert 1799 teenwoordig was, toe die Britte eers aangekom het, en permanent sedert 1806, maar die werk daarvan was ongekoördineer en sonder formele direksie. Dit het onder die gesag geval van die biskop van
Kalkutta, wie by seldsame geleenthede in Kaapstad ’n draai gemaak het terwyl hy
op reis was na of vanaf Engeland, en op sulke geleenthede het hy kerkaannames
gedoen. Hy sou min tyd gehad het om aan die Kaapse kerk se probleme te dink,
aangesien sy verantwoordelikheid (teoreties) gestrek het vanaf Sint Helena tot
Tasmanië. Dit is geskryf van biskop Wilson van Calcutta toe hy in 1832
aangedoen het en twee mans as priester ingeseën het – die eerste Anglikaanse
inseëning in die land – dat hy getref is deur die gebrek aan dissipline in die
Kerk waar, soos hy dit gestel het (my vertaling) “almal maak wat in sy eie oë
reg is”.[1] Dit was sekerlik vir die Bisdom Kalkutta ’n groot verligting toe, op Sint Petrusdag 1847, biskoppe in die Westminster-abdykerk ingeseën is vir die nuwe bisdomme Adelaide, Melbourne, Newcastle en Kaapstad (onse vriend Gray).
Maar selfs Robert Gray se regsgebied was hemelsbreed, soos hy gou agter gekom het. Dit het twee eilande in die Atlantiese Oseaan ingesluit, een waarvan amper nooit deur skepe besoek is nie, en hy het ook ’n sendelings-verantwoordelikheid gesien vir heidense stamme wat tot ver in Oos-Afrika gestrek het. Hy het meer as eenmaal geskryf dat die Kerk ’n bekwamer man moes gestuur het om die taak te vervul wat op hom gelê is.[2] Tog het hy nie daarvoor lyf weggesteek nie, en in plaas daarvan dat hy na ’n paar jaar teruggegaan het na ’n posisie in Engeland wat makliker sou wees – soos wat hy maklik kon gedoen het – het hy by sy pos gebly tot sy dood in 1872.
Hoe het die Kaap gereageer op die
teenwoordigheid van ’n Engelse biskop, in sy 18de-eeuse biskoplike gewaad van
swart manel, kuilhoed en stofkamaste? Wel om mee te begin het die NG Kerk –
steeds die Staatskerk van die kolonie – geprotesteer oor die oktroobriewe wat
hom beskryf het as “Lord Bishop of Cape Town”, en in 1852 het die NG Sinode
formeel enige aanspraak verwerp van jurisdiksie of presedensie deur enige ander
godsdienstige liggaam. Maar biskop Gray het dit reggekry om ’n uitstekende
verhouding met sy Gereformeerde eweknieë te hê, en het selfs met hulle
korrespondensie begin oor die onderwerp van Kerkeenheid.
En in ’n kolonie wat nie juis bekend was vir sy vrome Anglikaanse kerkmanskap nie, was daar ook baie wat nie met hierdie indringer saamgestem het nie, en sy gesag kwalik geneem het. Sy tyd aan die Kaap is gekenmerk aan geskille in twispunte, en het tot twee gerugte hofsake gelei, waarvan hy op die ou end altwee verloor het. Tog het hy (effense) hoop in die vernederende hofbevindinge gesien, en het hy die presedente daarvan gebruik om vir die kerklike liggaam wat hy aan ons oorgelaat het, ’n sterk struktuur te bou: dit is dan die Kerk van die Provinsie van Suid-Afrika (tans die Provinsie van Suider-Afrika). Maar hierdie twiste sal apart behandel word.
Twee ander probleme het dwarsdeur sy tyd as biskop gekwel: ’n tekort aan geld en ’n tekort aan mannekrag. Hy het soveel tyd aan die finansiële probleme van die Kerk in Suid-Afrikaa gewy dat ’n mens sou dink geld was heel voor in sy gedagtes – hy het amper ses maande in Engeland deurgebring nadat hy ingeseën is, besig om fondse in te win, en tydens sy verskeie besoeke aan Engeland daarna het hy dieselfde gemaak – tog was sy voeling altyd dat dit meer belangrik was om manne van die regte stoffasie te hê om die Here se werk te doen. En nie slegs mans nie – Gray was gretig om in die Anglikaanse Kommunie ’n herlewing van vroueordes te sien, en het minstens tweemaal uit Engeland groepe vroue saamgebring wat hulle lewens aan Christelike diens toegewy het, teruggebring.
Selfs voor sy vertrek na die Kaap was Gray bewus van die grootte van sy nuwe gebied, en het gereël dat sy vriend friend Nathaniel Merriman aartsdiaken sou wees van Oos-Kaap – dit word selfs gesê dat dit die heel eerste aanstelling was van ’n aartsdiaken in Afrika sedert die tyd van die Vroeë Kerk. Maar tydens sy eerste besoekreis in Kaapkolonie en British Kaffraria, wat presies ses maande na sy aankoms onderneem is, het hy gesien hoe groot die land is en hoe moeilik dit was om deur te reis, en het die behoefte gesien om ten minste nog twee bisdomme te skep. Hy het ook onverwags gevind dat hy ’n voorliefde het vir reis – hy was ’n sieklike kind in ’n familie waar tering verskeie van sy broers en susters gedood het, en het in Engeland nooit op reis goed gevaar nie. Tog het hy van sy eerste reis – waartydens hy so ver gegaan het as King William’s Town in ’n land sonder gemaakte paaie – in ’n betere gesondheidstoestand teruggekeer as wat hy ooit voorheen was, en bruin gebrand ook.
Hy het daaruit so goed gevaar dat sy vrou, Sophy, na die tweede reis verklaar dat sy hom sou vergesel, en van daardie tyd af het sy saam met hom heelwat reise deurgemaak in Kaapland en Natal. Van hierdie buitengewone vrou skryf ek in hierdie artikel. Gray het sulke reise te perd, of in ’n ossewa of perdekar, as ’n belangrike deel van sy diens gesien, al sou dit in Engeland beskou word as benede ’n biskop se waardigheid. Hy was trots op die bespottende titel “poskar- biskop”.
Gray se droom van nuwe bisdomme is in 1853 vervul, toe John Armstrong en John William Colenso ingeseën is, onderskeidelik as biskop van Grahamstad en van Natal. Gray het formeel sy bisdom bedank en is met nuwe oktrooibriewe uitgereik as biskop van Kaapstad en Metropolitaan van Suid-Afrika. Binne slegs vyf jaar het hy ’n nuwe provinsie van drie bisdomme gestig – dit is as ’n ontsaglike prestasie beskryf.[2] Maar in Colenso het hy swak gekies, en sou daar van hom ergernis kom. Op die lange duur is daar ook verdere biskoppe vir Gray se nuwe provinsie ingeseën, en voor sy dood sou hy die bisdomme Sint Helena en Oranje Vrij Staat daargestel sien, en sendeling-biskoppe na Zoeloeland en Sentraal-Afrika. Maar daardie storie sal ek in die volgende artikel vertel.
Daar is van hierdie man meer te vertel. Van sy blou bril het ek niks vertel nie, ook nie van die goud ponde wat hy sou agterlaat as betaling vir sy oorblyf aan plase langs die pad, maar dit sal bly, asook die stories van die skole wat hy gestig het.
[1] Aangehaal uit The
Harvest of Good Hope deur B T Page (SPCK).
[2] Aangehaal uit die artikel “Robert Gray” in Die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek.
For English, click here
Terug na Heiliges en Jaargetye-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle