deur Mike Oettle
“INDIEN die Christelike Geloof onwettig verklaar is,” vra ’n bekende
slagspreuk, “sou daar genoeg getuienis wees om vir jou skuldig te laat
verklaar?”
Dit was vir hierdie misdaad wat Ignatius skuldig bevind is onder die vervolging van die keiser Trajanus (Marcus Ulpius Traianus, wat tussen 98 en
117 nC geheers het) – en daarvoor is hy, heelpad vanaf Antiochië, in Sirië,
gestuur tot in Rome, om deur die leeus gevreet te word.
Die feit dat hy biskop was van Antiochië is feitlik al wat met sekerheid van Ignatius bekend is voordat hy met sy reis begin het. Hy is glo in Sirië gebore en getoë is, maar selfs wanneer hy biskop geword het, of of hy
voorgangers gehad het, is onbekend.
Dit word met versekering in Virtue’s Catholic Encyclopædia verklaar dat Petrus self vir Ignatius as biskop aangestel het, maar ander naslaanwerke is ietwat meer omsigtig oor die aanvaarding van ou tradisies, en meer vaag. ’n Gewilde legende is dat Ignatius die kind was wat Jesus geroep het om voor die dissipels te staan en toe gesê het: “As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.” (Matteus [18:1-6] en Lukas [18:15-17] vertel altwee die storie, maar daar is geen getuienis wat ernstig voorstel dat dit Ignatius was.)
Dit was Ignatius se reis na Rome wat hom aan die geskiedenis voorgestel het – dit, en die sewe briewe wat hy langs die pad geskryf het. Ignatius het van die afdeling soldate (“tien luiperds”) wat oor hom wag gestaan het, wie se “optrede erger word hoe beter hulle behandel word”. Hulle het ’n tyd lank op Smyrna (tans Izmir, in Turkye) vertoef. Dit was toe ’n belangrike Griekse stad in die weste van Kleinasië. Daar het Ignatius vir Polykarpos ontmoet, destyds ’n jong man, wie in sy oudag ’n marteldood sou sterf nadat hy 70 jaar as biskop van sy stad gedien het.
Hier het Ignatius die eerste van sy vier briewe geskryf, aan die kerke op Efese, Magnesia, Tralles en Rome. Voordat hy na Europa oorgegaan het, het hy op Listra nog drie geskryf, aan die Christene van Philadelphia en Smirne, en ’n vaarwelsbrief van raad aan Polykarpos.
“Hierdie briewe is van die hoogste waarde en belang vir die lig wat hulle op Christelike geloof en praktyk werp minder as ’n eeu na Christus se
hemelvaart. Ignatius moedig aanhoudend sy lesers aan om eenheid onder hulself
te behou, en om saam te vergader vir die Eucharistie onder die presidentskap
van hul biskop. Die bekendste brief is die een wat vooraf na die Romeinse
Christene gestuur is. Daarin pleit hy met hulle om ne te probeer om vir hom
kwytskelding te soek nie. Dit toon ’n geduldige, sagmoedige man, so
hartstogtelik getrou aan Christus dat hy dit nie kon verdra dat hy miskien die
geleentheid ontneem kon word om vir Sy ontwil ’n gewelddadige dood te ly nie:
‘Laat my die voorbeeld volg van die lyding van my God.’ ”[1]
Ignatius was so oortuig van die teenwoordigheid van Christus binne hom dat hy na homself verwys het nie slegs as dissipel nie maar as teoforos (qeoforoV of “draer van God”). Sy
briewe is veral van belang vir die Rooms-Katolieke Kerk weens sy verwysings na
die kerk van Rome as gestig deur Petrus en Paulus en dus vir spesiale eerbied
verdienstelik.
Ignatius, wat ook vir homself “die koring van Christus” genoem het, het amper dadelik gesterf toe hy in die Kolosseum aan die leeus gewerp is.
Sy briewe is gou in Latyns en ander tale vertaal, en een is deur die Britse chronis Gildas (570 oorlede) aangehaal.
Antiochië het altyd sy feesdag op 17 Oktober gehou, en sedert 1969 het Rome ook so gemaak. Voorheen het Rome sy dag op 17 Desember, sy doodsdag, gevier, terwyl die Oosterse Kerke oor die algemeen 20 Desember verkies.
Die naam Ignatius (in Grieks Ignatios [IgnatioV]) is van Siriese herkoms; die betekenis daarvan is onbekend, maar dit is gewild – veral in Rusland en Spanje – danksy hierdie een man se marteldood. Dit kom in Russies, Oekraïnies en Pools voor in ’n verskeidenheid vorms. Enkele Russiese voorbeelde is Ignatiy, Ignat, Ihnat, Hnat en Icnashka. In Spaans kom dit voor as Ignacio, Iñigo, Eneco en Nacho; in Provençal is dit Jenico. As gevolg van ’n huwelik met ’n dame uit Provence, het dit ook sy weg gevind na Engeland as Enico of Inigo. Die gewildheid daarvan is ’n hupstoot gegee deur die stigter van die Jesuïtiese orde, Ignatius van Loyola (Iñigo Lopez de Recalde), en dit het verder versprei: in Frankryk verskyn dit as Ignace en in Duitsland as Ignaz. Dit kom ook in Afrikaans voor – Igna word soms gevind as afgekorte vorm (vir seuns of meisies), en alle Suid-Afrikaanse rugby-fanatici weet van Ignatius (Naas) Botha.
[1] Aangehaal uit die Penguin Dictionary of Saints (my vertaling).
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Skryf vir my: Mike Oettle