deur Mike Oettle
“MARY, Mary, quite contrary,” lui die bekende Engelse kinderversie, “how
does your garden grow?” Die beeld wat in ’n mens se gedagte opkom is van ’n
meisietjie in ’n voorstedelike tuin, en in haar verbeelding skep sy fantastiese
mooi beelde.
Maar hierdie rym is eintlik ’n politieke satire van koningin Mary I van Engeland – of Bloody Mary soos baie haar met bitterheid onthou. Haar andersheid (contrariness) het daarin gelê dat sy die Protestantse innoverings in die Kerk van Engeland tydens die regering van haar halfbroer, die seunkoning Edward VI, en haar vasberadenheid om Engeland na die “een ware Geloof” van Rome te laat terugkeer. Dus die silwer klokkies – die altaarklokkies, wat sedert die tyd van haar vader, Henry VIII, nie gehoor is nie – en die “cockle shells”. In
werklkikheid was dit mantelskulpe, [1] simbole van die tog na Compostela, die pelgrimsoord van die Apostel Jakobus (Santiago) in Galicia, in die verre noordweste van Spanje. Die mooi meisietjies (“pretty maids all in a row”) was die priesters, wat nie meer Protestantse kleding gedra het nie, maar wat nou weer koorklede van kant gedra het.
Wat Mary nie ingesien het nie was dat haar Katolieke ywer nie Engels was nie maar Spaans, en dat haar troonbestyging gewild was omdat sy die regtelike opvolger was, nie weens enige Katolieke herlewing nie. Mary was as kind en jong dame sterk onder die invloed van haar moeder, Catarina van Aragon, en haar goewernante, ’n Spaanse grande van hertoglike rang. Engeland sou met haar tevrede wees as Katolieke heerser op die land se eie voorwaardes, mar sy het ’n huweliksalliansie met haar neefs op die Vasteland gesoek, en is op die ou end met Filips van Spanje[2] getroud. Dit het nie slegs beteken dat Engeland in politiese probleme verwikkel is nie (’n alliansie met Spanje teen Frankryk het op ’n ramp uitgeloop toe Engeland vir Calais, sy laaste Vastelandse besit, verloor het) maar ook die waarskynlike invoer van ’n Staats-inkwisisie in die Spaanse formaat, eerder as die meer draagbare inrigting van die Roomse Kerk.
Dus het Mary, skoon blind vir die gevolge, met ’n swaar hand begin om die Kerk van Engeland van sy Protestantse innoverings skoon te maak – maar ironies het sy die Parlement gebruik, dieselfde instrument wat Henry, en na hom Edward se voogde, gebruik het om dit van die gesag te ontneem van die man wat hulle die Biskop van Rome genoem het. En met haar ywer vir die suiwerheid van (Katolieke) kerkleer, was dit onvermydbaar dat dit sou uitloop op die verwydering van die manne wat onder Edward vooraanstaande posisies gevul het.
Hieronder was Hugh Latimer (1485-1555) en Nicholas Ridley (1503-1555), wat altwee begin het as ortodokse Katolieke priesters maar wat deur Protestantse idees beïnvloed is, en Latimer veral deur Martin Luther.
Latimer het aandag getrek toe, tydens die kontroverse oor koning Henry se eerste egskeiding, hy ten gunste van die koning se posisie gepraat het. Hy het invloedryke vriende gevind in Thomas Cromwell, wat later Kanselier was, en Thomas Cranmer,[3] wat aartsbiskop van Kantelburg sou word. Daar is nietemin Januarie 1532 op hom ’n beroep gemaak om sekere geloofsartikels te onderskryf, onder ander die bestaan van die vaevuur en die verering van die heiliges, en toe hy weier, is hy in die tronk gewerp totdat hy (in April daardie jaar) ingegee het.
Danksy Cromwell se invloed het Latimer in 1535 biskop van Worcester geword, maar is in’39 gedwing om te bedank. Vòòr Henry se dood (in 1547) was hy ’n ruk lank in die Londense Tower, maar na Edward se troonbestyging is hy bevry. Hy het nou nie sy bisdom weer ingeneem nie, maar het ’n preekbediening onderneem, en het daardeur die Hervorming onder die bevolking gewild gemaak.
Dit word van Ridley gesê dat dit “algemeen beskou is dat hy een van die knapste akademiese verstande gehad het onder die eerste geslag leiers van die Engelse Hervorming”.[4] Hy is in 1537 kapelaan gemaak van Thomas Cranmer (op hierdie stadium aartsbiskop), en in 1540 is Ridley verkies as
meester van Pembroke Hall, op Cambridge, en “het ’n leidende rol geneem in die
transformasie van die [Cambridgese] universiteit tot ’n Reformistiese
seminarium”.[4] In 1541 het hy ’n kanunnik van Kantelburg geword, en in ’45 ’n kanunnik van Westminster. Onder Edward is hy in 1550 biskop van Londen gemaak, en het dadelik ’n opskudding veroorsaak deurdat hy ’n veldtog gevoer het vir die gebruik van ’n eenvoudige tafel in plaas van ’n altaar vir die nagmaal. ’n Ondersteuner van lady Jane Grey, wat na Edward se afsterwe vir slegs nege dae koningin was (9 tot 18 Julie 1553), was dit onvermydelik dat hy, nadat Mary die troon bestyg het, sou val.
In daardie selfde maand is Ridley gearresteer, en in September ook Latimer. Twee jaar later is hulle op Oxford verhoor, en is hulle ter dood veroordeel deur verbranding aan die stapel. Toe die vuur 16 Oktober 1555 aangesteek is, het Latimer na Ridley gedraai en gesê: “. . . ons sal vandag so ’n kers in Engeland aansteek, met God se genade, dat ek vertrou nooit geblus sal word nie.”[5]
Dit brand steeds vandag, nie slegs in Engeland nie maar die wêreld om.
[1] Die woord cockle woord deesdae alleenlik gebruik vir die sowat 250 spesies van tweekleppige skaaldiere van die familie Cardiidæ, wat in Afrikaans hartmossels of kammossels genoem word, en in Engels ook heart clams.
Lank gelede, vertel die Oxford English Dictionary, is dit heelwat vryer gebruik. Die woordeboek noem dat die woord ook toegepas is op
mantelskulpe, wat geneem word van die tweekleppige skaaldiere van die familie
Pectinidæ, waarvan daar oor die 400 spesies is.
Mantelskulpe is ook in kerke gebruik om wywater te skep.
[2] Philips, seun van die
keiser Karel V (koning Carlos I van Spanje), was later koning Felipe II van
Spain, maar in die jaar toe hy getroud is, is hy tot koning van Sicilië verhef
om vir hom gelyke status met sy bruid te gee. Hy het daarby ook koning
(-gemaal) van Engeland geword.
[3] Hy sou ook onder Mary
martelaar word.
[4] Aangehaal uit die Encyclopædia Britannica (my vertaling).
[5] Ook uit die Encyclopædia Britannica aangehaal (my vertaling); Latimer se eie woorde lui so: “. . . we shall this day light such a candle, by God’s grace, in England as I trust shall never be put out”.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle