Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Sendeling aan die More

deur Mike Oettle

WIE op aarde was Ramon Llull? Mag jy vra. Hoekom moet ons enigsins iets weet van ’n Catalaanse digter van die eiland Majorca wat nie eens op die kerk-almanak verskyn nie?

Ramon (ook bekend as Raymond Lully)[1] het sy eie tyd ’n belangrike rol gespeel in die fokus van aandag op sending aan nie-Christelike volkere.

Aanvanklik was sending nie vir hom baie belangrik nie. Hy is omstreeks 1235 gebore, lid van ’n familie betrokke by die hof van die goewerneurs (later die konings) van Majorca[2] en sy vroeë loopbaan was as ridder en troebadoer. Hy het ’n handboek van ridderlikheid geskryf wat in die 15de eeu deur Caxton in Engels gepubliseer is.

Maar terwyl die ridderwese van die toernooi al hoe meer van belang was, het dit van die Kruistogte ’n skandnaam gekry. Die Vierde Kruistog het in 1203 vir Konstantinopel verwoes, en in 1289-91 sou die koninkryk Jerusalem sy laaste vastrapplekke in die Heilige Land, Tripoli (tans in Lebanon) en Acre (Akko in Israel) verloor. ’n Nuwe manier om teen Islam op te staan was nou nodig.

In Ramon se tyd het Majorca steeds ’n groot Moorse bevolking gehad, en van hulle het hy Arabies geleer en betrokke geraak by Sufi-mistiek en Midde-Oosterste kontemplasie.

Teen die tyd wat hy in die ouderdom van sowat 30 visies van Christus begin beleef het, was hy reeds ’n getroude man. Hy het die hoflike lewe laat vaar en homself op sendingwerk toegespits. Sterk onder die invloed van Franciscus van Assisi, het hy wyd in Noord-Afrika en Klein-Asië gereis en gepoog om Moesliems na die Christelike geloof te bekeer.

Rondom 1272 het Ramon op die Berg Randa in Majorca ’n mistiese visie beleef waarin hy die ganse heelal gesien het waar dit eienskappe van God weerspieël het, en het begin aan die uitwerk van ’n nuwe filosofiese sisteem waarin hy alle wysheid tot op ’n enkele eenheidspunt wou bring.

Dit was radikaal teen die filosofie wat destyds op Parys en op ander Europese universiteite die mode was, gekant. Gebaseer op die leerstellings van die 12de-eeuse Moorse filosoof Averroës, het dit daarop aangedring dat filosofiese waarheid en teologiese waarheid nie bymekaar gebring kon word nie.

Ramon het instede daarvan geleer dat selfs die diepste misteries van die Christelike Geloof bewys kon word deur logiese argument. Hy het idees geleen by die 11de-eeuse Anselmus van Kantelberg en het ’n versameling essays of verhandelings geskryf wat tans bekend staan as die Ars magna (“Die Groot Kuns”).

Van hierdie tyd af het hy homself daarop gerig om sy kuns aan ander te leer en om konings en pouse te oorreed om sy projekte te steun. Op sy aanhoudende versoeke het koning Iago II van Aragon ’n skool van Oosterse tale op Majorca gestig om hierdie kuns – en daarby ook die evangelie – deur dei Islamiese wêreld te versprei.

Sending het in werklikheid sy primêre doel gebly, en Ramon is na berig word gemartel weens sy ywer vir die bekering van Moesliems. Hy is in 1316 glo dood gestenig op Bejaïa,[3] oos van Algiers (of miskien op Badjah, naby Tunis).

Ramon het ’n wye erfenis van geskrewe werk agtergelaat, waaronder twee allegoriese romans, Blan­querna en Felix, en ’n versameling mistiese geskriftes onder die titel Llibre d’amic e amat.[4] Ander Spaanse mistici soos Sint Teresa van Avila en Sint Johannes van die Kruis (albei in die 16de eeu) het die tradisie van Ramon’s se leerstellings laat voortleef.

Maar in Rome is dit geglo dat hy geloof met rede verwar het – sy leerstellings is in der waarheid in 1376 verdoem – en dit was nie voor die 19de eeu dat die Katolieke Kerk toegelaat het dat hy vereer word. Vandag word Ramon in die Christelike lande van die Middellandse See algemeen vereer as beide mistikus en sendeling, en sy geskrifte is in die Catalaanse kultuur belangrik.

Tog, aangesien dat sy fokus gerig was op die sending na Islam, is dit jammer dat Ramon se opvolgers in daardie rigting so min vordering gemaak het. Is dit moontlik dat ons in die 21st eeu miskien uiteindelik sal sien dat dit in groot getalle vrugte voortbring?



[1] Om sy naam in Spaans uit te spreek, buig jou tong om ’n klank te maak wat L en J saamspan – LJoeLJ.

[2] Die konings van Majorca (dit wil sê, van die Baleariese eilande) was ’n junior-tak van die Aragonese koningshuis.

Die Spaanse spelling is Mallorca, maar die naam is maklik om in Afrikaans uit te spreek: sê net MaJORka.

[3] Spreek hierdie pleknaam uit as Bê-dja-ie-ah.

[4] In 1923 in Engels uitgegee as The Book of the Lover and the Beloved.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Hierdie artikel is Oktobermaand 1993 in Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertaal.

  • Terug na indeks van heiliges

    Terug na chronologiese indeks

    Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


    Skryf vir my: Mike Oettle