Heiliges & Jaargetyr
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Geliefde geneesheer

deur Mike Oettle

UIT my kinderjare kom daar ’n herinnering aan ’n rympie: “Matthew, Mark, Luke and John, bless the bed that I lie on.” Matteus, Markus, Lukas en Johannes – wie was dan hierdie vier manne wat dieEvangelies geskryf het?

Lukas verskyn 18 Oktober op die kerkalmanak. Sy Evangelie verskyn derde in die tradisionele volgorde, na Markus – maar Markus se Evangelie is dan die vroegste, en het Matteus s’n vooruitgegaan.

Lukas was blykbaar die enigste uit die vier wat nie ’n Jood was nie. Daar word na hom verwys as geneesheer of dokter. Niks is met sekerheid bekend oor sy beroep nie, maar dit is waarskynlik dat hy, soos ander Griekse geneeshere, aan die mediese skool op die eiland Kos wat Hippokrates (460-377 nC) gestig het. In Paulus se briewe is daar ook verwysings na hom as “medewerker”. Die Encyclopædia Britannica stel dit dat dit die “meer beduidende” beskrywing is van Lukas, “want dit identifiseer hom as een van ’n professionele kader rondtrekkende Christen-‘werkers’, van wie veel onderwysers en predikers was”.[1] Paulus noem hom ook die “geliefde geneesheer”[2] – dit is miskien die bekendste beskrywing van Lukas, en Taylor Caldwell het dit gebruik vir die titel van haar roman Beloved Physician.

Dit word selfs betwis of Lukas self die Evangelie van Lukas en die boek Handelinge geskryf het, maar dit lyk waarskynlik dat hy wel altwee voortgebring het. Die verskeie verwysings na Antiochië in Sirië dui blykbaar aan dat dit sy tuisstad was, en die “ons”-dele van Handelinge – wat op die skrywer se teenwoordigheid tydens Paulus se reise wys – toon dat hy waarskynlik vir Paulus vergesel het tydens sy eerste besoek aan Griekeland in 51 nC, toe hy so ver as Filippi in Makedonia gereis het, en weer in 58 nC by Paulus aangesluit het, tydens sy finale reis na Jerusalem. Hy het blykbaar in Israel[3] aangebly toe Paulus op Cæsarea in die tronk was, en met Paulus saamgewerk het soos wat die gevangene besoeke toegelaat is. Dit is ook waarskynlik dat hy in hierdie tyd staaltjies bymekaargemaak het vir sy geskrifte, wat in die Britannica paslik beskryf word as ’n twee-volume literêre werk.[4] Twee jaar na Paulus se inhegtenisname verskyn hy weer saam met die Apostel tydens sy reis na Rome, en (volgens 2 Tim­o­teus 4:11) was hy blykbaar in Rome toe Paulus sy marteldood gesterf het (omstreeks 66 nC).

Dit is al wat ons uit die Bybel van Lukas kan wys word, maar geskrifte uit die 2de eeu vertel ons nog, al is dit met minder sekerheid dat dit akkuraat is. Dit is van hom gesê dat hy ’n man was wat “deur die Gees bewoë” was (dit wil sê, ’n profeet). Sommige geleerdes beweer dat hy of die skrywer was of die skribent was van die Brief aan die Hebreërs, en skribent van sommige van Paulus se briewe, weens ooreenkomste in die Griekse bewoording. Dit is moontlik, maar onwaarskynlik, dat hy die profeet Lucius is wat in Handelinge 13:1 en in Romeine 16:21 genoem word. Dieselfde 2de-eeuse bron beweer dat hy in in die ouderdom van 84 in Beiosië[5] “verslaap het, gevul met die Heilige Gees”.

Lukas word vandag erken as beskermheilige van dokters en van kunstenaars, en etlike antieke kunswerke word aan hom toegeskryf.

Die naam Lukas (in Grieks, Loukas [LoukaV]) beteken “van Lukania”.[6] In Engels het dit Luke of Luck geword, en het nà die Normandiese oorname in Engeland gewild geword. Eng­else familiename wat daarvan afgelei word is Lukes, Lucas, Luck, Luckett, Lucock, Lukin en Luckin. Lucius is ’n Romeinse naam wat van lux afgelei is, en wat “lig” beteken.

Die vier Evangelieskrywers, of Evangeliste, word in religieuse kuns deur die vier lewende wesens van Openbaring 4:6,7 voorgestel: ’n leeu (Markus), ’n os (Lukas), een met ’n mensegesig (Matteus) en ’n vlieënde arend (Johannes). Hierdie is die wesens wat so sing: “Heilig, heilig, heilig, is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” Dit is soortgelyk aan die vier lewende wesens van Esegiël 1:4-13, wat almal vier gesigte het: aan die regterkant ’n mensegesig en ’n leeugesig, en aan die linkerkant die gesigte van ’n os en ’n arend.



[1] Die woorde tussen aanhalingstekens is my vertaling van dit wat in die ensiklopedie verskyn.

[2] In die Afrikaanse Bybel van 1933 verskyn die bewoording as “die geneesheer Lukas, die geliefde”, en in die Nuwe Vertaling van 1983 is dit “Lukas, die dokter wat ek baie lief het”.

[3] Die Romeine het die Heilige Land Palestina genoem, nes die Arabiere vandag dit noem (in Arabies, Falastin), maar aangesien dit aan die Filistyne prominensie gee, verkies ek om dit Israel te noem.

[4] Dit is jammerlik dat die Evangelie van Johannes Lukas s’n van Handelinge skei, want dit was veronderstel dat die twee boeke saam gelees word. Dit is blykbaar geskryf vir die privaat biblioteek van ’n gelowige genaamd Teofilus (in Grieks, QeofiloV).

[5] Distrik benoorde die Golf van Korinte.

[6] ’n Streek van suid-Italië, wat tans Basilicata genoem word, wat in die voor-Klassieke tyd deur ’n Samnitiese stam verower is wat die Lucani genoem is. Die streek was later Griekssprekend.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Hierdie artikel is Oktobermaand 1991 in Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertaal.


Terug na indeks van heiliges

Terug na chronologiese indeks

Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


Skryf vir my: Mike Oettle