Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Kort en bondig

deur Mike Oettle

JY kan skaars vir Markus vergeet, want hy is die skrywer van die oudste van die vier Evangelies – alhoewel dit in die tradisionele rangskikking van die Nuwe Testament tweede geplaas word. Hy skryf ook die kortste van die Evangeliste, of Evangelieskrywers – sy skryfstyl is met dié van ’n joernalis vergelyk, want hy gee slegs die feite.

Indien dit aanvaar word dat die Evangelis dieselfde persoon is as Johannes Markus,[1] wat verskeie male in die Evangelies genoem word, weet ons van hierdie man heelwat. Maar soos almal wat vir Christus tydens Sy bediening gevolg het, het sy legende ook gegroei. Die Koptiese of Egiptiese Kerk noem hom sy stigtende vader, sy eerste biskop, en word hy ook met die stad Venesië en sy magtige republikeinse ryk verbind. Sy simbool as Evangelis is ’n gevleuelde leeu, wat dikwels in Venesiaanse kuns voorkom.

Johannes Markus se moeder was ’n invloedryke lid van die groepie van Christus se volgelinige in Jerusalem, en word dit gesê dat die bokamer – waar die Laaste Aandmaal gehou is, waar Jesus voor sy dissipels verskyn het en waar die Heilige Gees soos vlam op die Pinksterdag verskyn het – in hulle huis was. Daar is ook ’n teorie dat dit Johannes Markus was wat in Markus 14:51,52 gemeld word as ’n jong man wat vir Christus nà Sy inhegtenisname gevolg het:

“’n Sekere is saam agter Jesus aan, met net ’n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop.”[2]

Hy het later saam met beide Paulus en Petrus gereis. Sy neef Barnabas het hom saam met Paulus geneem op sy eerste sendingreis, maar op Perga[3] het hy na Jeru­salem teruggekeer. Paulus was hieroor ongelukkig en het met Barnabas rusie gehad. Die gevolg was dat Markus en Barnabas saam in Siprus gaan preek het. (Handelinge 13 en 15) Markus het later in Rome by Paulus aangesluit, waar Paulus ’n gevangene was, en hom gehelp. (Kol­os­­sense 4:10)

Petrus verwys aandoenlik na Markus as sy “seun”. (1 Petrus 5:13) Dit klop met die tradisie dat die Evangelie van Markus ’n versameling is van Petrus se herinneringe aan die lewe van Jesus. Markus het waarskynlik sy Evangelie in Rome of op ’n ander plek in Italië geskryf.

Die Evangelie, wat geskryf is vir Griekssprekende Christene, het min oor konfrontasies tussen Jesus en die Joodse godsdienstige owerhede te sê, ook haal dit min uit die Ou Testament aan. Dit wil voorkom of beide Matteus en Lukas dit as buitelyn gebruik het en in die skrywe van hulle Evangelies ander materiaal bygebring het. Dit word betwis oor of Markus sy skryfwerk voltooi het met die ontdekking van die leë graftombe (Markus 16:1-8) of dan ook die finale verse van hoofstuk tot by vers 20 ook geskryf het, maar sonder hierdie versie is die storie onvoltooid en het dit ’n onnatuurlike einding.

Dit word nie in die Nuwe Testement geskryf waar Markus sy laaste dae deurgebring het nie, maar daar is ’n blywende tradisie dat hy hom in Alexandrië, die groot Griekse stad op die Nyldelta, gaan vestig het, die stad se eerste biskop geword het, en toe onder òf Nero òf Trajanus ’n marteldood gesterf het.

Sy stoflike oorskot is in Alexandrië behou tot vroeg in die 9de eeu, toe dit na Venesië geneem is – somigges vertel dat Venesiaanse koopmanne dit gesteel het. ’n Kerk is in sy eer gebou wat in 976 afgebrand het, waarna ’n nuwe basiliek opgerig is wat nie slegs Markus se relieke bevat het nie, maar ook ’n indrukwekkende reeks mosaïeke oor Markus se lewe, sy dood en die verskuiwing van sy oorskot na Venesië. Dit is glad nie toeval nie dat die beroemde ontdekkingsreisiger Polo wat in die 1270s Sjina bereik het, die doopnaam Marco gehad het.



[1] Hierdie kombinasie van ’n Hebreeuse naam, Joganan (Johannes), en ’n Latynse naam, Marcus, dui moontlik aan dat sy familie in Romeinse kringe beweeg het en wou hê dat hulle seun ’n naam sou hê wat vir die heersende buitelanders aanvaarbaar sou wees. Dit kan vergelyk word met die gebruik waar swart Suid-Afrikaners dikwels ’n Afrikaanse, Engelse of Latynse naam met ’n naam in hulle eie taal kombineer.

Marcus is aan die Romeinse oorlogsgod, Mars, afgelei, en kom blykbaar van marti­cos, wat blykbaar gedissiplineeerd of tugmeester beteken. In Grieks is dit Markos, in Italiaans Marco. ’n Verkleinvorm is Marcellus (Mar­cel). Die familienaam Marks beteken soms “seun van Markus”, maar mag ook die betekenis dra van ’n bewoner van die mark of grens.

(Hierdie betekenis van “mark” kom ook voor in die edeltitel markgraaf: ’n graaf wat die bykomstige verantwoordelikheid gedra het van die verdediging van ’n grensgebied, en daarby ’n hoër rang in die adelstand.)

[2] Die Aramaïse (en Hebreeuse) wat in Grieks en ander tale met die betekenis van kaal of naak vertaal word, verwys blykbaar na iemand wat slegs ’n ledekleed dra. God het vir Jesaja beveel om drie jaar lank “naak” en kaalvoet, soos ’n krygsgevangene, te gaan, en dan om te profeteer dat die Assiriërs vir die Egiptenare op hierdie wye sou wegmarsjeer. Miga en ander profete het ook so na naaktheid verwys.

[3] Perga (tans Ihsaniye, in Turkye) was ’n Griekse stad langs die oostelikse arm van die See van Marmora, oorkant die baai vanaf Nikomedia (tans Izmit), wat Konstantyn se hoofstad sou wees. Perga het aan die begin gelê van die moeilike bergroete na die provinsie Frigië.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Hierdie artikel is Aprilmaand 1994 in Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertaal.

  • Terug na indeks van heiliges

    Terug na chronologiese indeks

    Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


    Skryf vir my: Mike Oettle