deur Mike Oettle
DIE fees van Sint Martinus – of Martinmas, soos dit in Engels heet – val op 11 November. In die vorige artikel het ons oor Martinus geleer, die Romeinse soldaat wat sy lewe aan Christus gewy het en sedertdien vir pasifiste geïnspireer het. Maar soos ek aangedui het, was Martinus se belewenisse as soldaat en die Ariër-ketters se mishandeling van hom slegs deel van sy storie, want ons het nog nie vir hom met ’n biskopsmus gesien nie.
Die jaar 371 nC, toe Martinus omtrent 56
jaar oud was, het hy buite die stad Limonum (Poitiers) as monnik geleef. ’n
Kort ent buitekant die stad was ’n plek wat tans Ligugé genoem word. Daar het
hy alleen gaan bly en uiteindelik die stigter geword van wat blykbaar die eerste
klooster was in Transalpynse Gallië (tans Frankryk). Sy vriend Hilarius (of
Hilaire) is in 360 nC as biskop van die stad herstel.
Op Ligugé het hy ’n nuwe soort monastiese
lewe ontwikkel: in die woestyne van die Midde-Ooste, waar die toegewyde lewe
ontstaan het, het manne alleen gaan bly om ’n gebedslewe te lei. Daar het hulle teen die demone wat, soos hulle geglo het, die woestyne bewoon het, oorlog gevoer. Maar Martinus het sy volgelinge geleer om in evangelisme aktief te wees, sowel as in gebed. Hulle het ook gevas en fisies gearbei. Hy het bekend geword as iemand waartoe ’n mens hom kon wend as hy siek was, of om twiste te besleg.
Teen sy wil is Martinus toe in 371 biskop
gemaak van die stad Cæsarodunum oop die Ligerrivier[1] – en weereens het hy ’n klooster gestig, op die kranse van die Liger 3 km
van die stad op ’n plek wat later Marmoutiers sou heet. Hier het hy ook
onderrig begin gee vir toekomstige priesters, en ’n seunskool het daaruit
gegroei. Hier het verskeie toekomstige Kerkleiers gekom om opgelei te word,
waaronder die seun van ’n Romeins-Britse stamhoof uit Cumbria, genaamd
Ninianus, wat die Apostel aan die Pikte sou word.
Maar terwyl die monnikeklooster behoue
gebly het, is die monument aan Martinus wat die langste gehou het, dit wat ’n die wêreld oor in plattelandse distrikte sal vind, want hy was die eerste biskop
wat die Kerk uit die stede geneem het na die land van die heidene (plattelanders) – hy kan met reg die beskermheilige van die plattelandse
parogie genoem word.
Daar word van hom vertel dat hy op ’n
sekere dorpie die gemeente se toestemming gekry het vir die afbreek van hul
tempel. Maar toe hy die afkap van ’n heilige denneboom beveel het, het die
manne van die dorpie hom kwalik geneem en gesê hulle sal hul boom beskerm. Na
onderhandeling het Martinus ingestem om onder die boom te staan en sy God se
reddingsmag te demonstreer. Die juigende heidene het met mening hulle byle aan
die werk gesit, want hulle het verwag dat die boom die biskop sou platval.
“Soos die boom begin splinter het, het Martinus sy hand gelig in die teken van
die Kruis. Die stam het begin oorval, gehuiwer en, asof dit skielik deur die
wind gevang is, van rigting verander en aan die teenoorgestelde kant
neergeval.”[2] Hierna is die hele dorp gedoop.
Martinus is nie slegs met evangelisme
geseën nie, maar ook genesing, en deur sy gebede is die beroemde digter
Paulinus van Nola van sy blindheid genees, en naby Autricum (tans Chartres) het
’n dooie kindjie weer geleef.
Die Priscilliaanse ketterleer het ook
gesorg dat Martinus kontroversieel betrokke geraak het. Die Hispaanse biskop
Priscillianus het nie slegs gepreek dat ’n mens hom van alle plesier moet
onthou, en enkele vreemde dinge oor die Drieëenheid daarby, maar is ook aan
toordery skuldig bevind en is deur die keiser Magnus Maximus ter dood
veroordeel. Martinus het na Augusta Treverorum in Belgica[3] gereis om vir Priscillianus se lewe te pleit. Hy het geargumenteer dat die
biskop deur die Kerk gedissiplineer moet word, nie die Staat nie. Maar
Priscillianus is tereggestel – die eerste ketter wat gedood is – en sy
ketterleer het veld gewen, veral in Hispania (Spanje).
Martinus
het 8 November 397 gesterf, 60 km vanaf sy stad op ’n plek wat tans
Candes-St Martin genoem word, en is hy 11 November op Cæsarodunum begrawe. Hy
was so bemind dat hy die eerste nie-martelaar geword het wat as heilige geëer
is, en kerke is dwarsoor Europe aan sy naam toegewy. Ninianus se kerk op
Whithorn in Galloway is na hom vernoem. Twee beroemde Engelse kerke, een op
Kantelburg en nog een in Londen (St Martin’s-in-the-Fields), dra sy naam. Teen
die jaar 1800 het 173 antieke kerke in Engeland alleen sy naam gedra, en in
Frankryk deel 500 dorpies en 4 000 parogiekerke hierdie onderskeiding.
Die almanak van die Book of Common Prayer dra tweemaal sy naam: 11 November en 4 Julie, die dag waarop hy as biskop ingeseën is. In Europa word wolklose, warm winterweer dikwels in die eerste twee weke van November aangetref; dit word Sint Martinus se Somer genoem.
[1] Tans Tours, langs die
Loire-rivier in Frankryk.
[2] Aangehaal (my vertaling) uit Stars Appearing deur Elfrieda Vipont.
[3] Tans Trier, in die Duitse Land Rynland-Palts.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks