Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Die oorspronklike Kersvader

deur Mike Oettle

JY sal nie vir Nikolaas[1] van Myra op die jongse kerk-almanakke vind nie – die Rooms-Katolieke Kerk het in 1969 sy feesdag laat vaar en dit saam met etlike ander na 1 Januarie verskuif.

Tog is dit moeilik om van hierdie heilige te vergeet – dit kan selfs gesê word dat die sekulêre wêreld van hom die god van Kersfees gemaak! En in die daardie tyd van die jaar wanneer Advent totaal vergeet word in ’n wilde dolheid van Kersfeesvieringe wat blykbaar in die middel van November hul aanvang neem, is dit miskien ’n gebruiklike verskoning om vir iemand in Kersvader-kleding te kry om 6 Desember geskenke uit te deel en om dit te dek deur om te sê: “Wel, dit is na alles Sint Nikolaasdag!”

Ongelukkig is daar heelwat meer van Nikolaas te vertel as wat vir seker bekend is, want baie legendes is om sy naam geweef. Wat as feit genoem kan word is dat hy biskop was van die stad Myra, wat toe een van die hoofstede was van die provinsie Licië, in Klein-Asië. (Die ruïnes van Myra kan vandag gevind word naby die Turkse dorpie Demre, sowat 150 km oos van die Griekse eiland Rhodos.)

As biskop van Myra het Nikolaas in 325 nC die eerste Konsilie van Nikea, naby die latere Konstantinopel, bygewoon, en dit lyk of hy ’n jaar of twee daarna oorlede is. Hy is blykbaar op Patara in Licië (tans Kalamaki, Turkye) gebore, en het as jong man na Pales­tina en Egipte gereis. Kort na sy terugkeer na Licië is hy as biskop gekies.

Tydens die keiser Diocletianus se vervolging van die Kerk (wat in 303 begin het en voortgeduur het tot sy abdikasie in 305), is Nikolaas in die tronk gewerp en is in alle waarskynlikheid nie vrygelaat nie tot ongeveer die tyd van die keiser Konstantyn se sege in die Ooste in 324.

Miskien is die gewildste legende oor Nikolaas die een van die verarmde wewenaar-edelman wat skaars die benodigdhede, laat staan nog enige bruidskat, vir sy drie dogters kon voorsien. Drie nagte agtermekaar het Nikolaas ’n sak goud die huis binnegegooi, waardeur die dogters met ryk mans kon trou. Die drie sake word simbolies as drie goue balle voorgestel wat Nikolaas voorstaan; hy is beskermheilige van pandjieshouers, wat hierdie kenteken (gewoonlik onwetend) gebruik om hul besighede aan te dui.

Hy is ook beskermheilige van matrose as gevolg van ’n insident tydens sy reis na die Heilige Land waarin sy gebede na berig word ’n storm laat stilstaan het, en sodoende die skip van ’n wrak gered het en wonderbaarlik ’n verdrinkte matroos weer laat leef het. ’n Gewilde beeld toon Nikolaas in sy biskoplike toga en biskopsmus waar hy horisontaal in die lug sweef bo ’n stormagtige see en ’n boot wat in die nood verkeer. (Dit is natuurlik onakkuraat, want Nikolaas het daardie reis onderneem voordat hy biskop geword het.)

Hy word ook getoon waar hy drie naakte seuns in ’n kuip seën: tydens ’n hongersnood is drie seuns na bewering deur ’n bose herbergier doodgemaak, stukkend gesny en gesout om as kos voorberei te word voordat Nikolaas hulle weer lewendig gemaak het.

Dit word ook geglo dat hy voor Konstantyn in ’n droom verskyn het, en die keiser om genade gesmeek het vir drie offisier wat ter dood veroordeel is – hulle is natuurlik vrygelaat.

Nikolaas het tydens die Middeleeue ’n uiters gewilde heilige geword, en is sy naam aan meer kerke in Engeland verleen as enige ander heilige. Van sy naam afgelei is die Engelse familiename Nicholls, Nicholson, Colson en Collins. Hy is beskermheilige van beide Griekeland en Rusland en van stede soos Fribourg in Switserland, en Moskou.

Die afkorting van sy naam het vir ons die meer Germaans-klinkende Claes, Claas, Klaas en Claus.

’n Gewilde gebeurtenis op Sint Nikolaasdag in baie dele van Engeland en Europa was die verkiesing van ’n seuntjie-biskop wat tot op die dag van die Heilige Onskuldiges (28 Desember) “geheers” het.

Nikolaas se oorskot is in 1087 vanuit die kerk op Myra gesteel en na Bari, in Italië, geneem, waar dit in die 11de-eeuse basiliek van San Nicola lê – wat natuurlik ’n gewilde pelgrimsoord is.

Nikolaas se legende is ook op ’n manier nà die Kerkhervorming gesteel, toe Prot­estante Duitsers en Nederlanders – en uiteindelik die Franses ook – die gebruik opgeneem het om hom as Kersvader of Vader Januarie te vier, op òf 25 Desember òf 1 Januarie.

Die Nederlanders het hom Sinter Claes genoem – maar dit moet erken word dat die Sinter Claes-idee ouer is as die Hervorming. Tot vandag toe is dit die gebruik in Holland en Zeeland dat die ou biskop 6 Desember per skip “uit Spanje” aankom – iets wat sekerlik terugdateer tot die dae toe Nederland se heerser die koning van Spanje was – vergesel van sy assistent, Zwarte Piet. Piet dra ’n sak steenkool, en sy taak is om vir stout kinders ’n steenkoolklont te gee.

Die Engelse nedersetters in Noord-Amerika het die Sinterklaas-idee van die Nederlanders oorgeneem toe Nieuw Amsterdam New York geword het – en “Santa Claus” het toe by Kersfees koning gekraai.

Miskien as ons hom sy tradisionele dag van 6 Desember sal teruggee, en aan hom dink as ’n biskop met sy biskopsmus, kan ons wegkom van daardie lawwe beeld van ’n “right jolly old elf” in ’n rooi gewaad met wit pelsvoering wat Clement C Moore vir ons gegee het in sy gedig The Night before Christmas[2] – wat kan in ’n warm Mediterreense land meer bespotlik wees as ’n ou wat op ’n slee ry wat deur rendiere aangetrek word!

Miskien sal ons dan ook dit kan regkry om Christus alleen in die algemene beeld van Kersfees te kan eer.



[1] In Grieks, Nikolaos (NikolaoV), afgelei van woorde wat “sege” en “volk” beteken.

[2] In 1822 in New York geskryf, en oorspronklik A Visit from St Nicholas getitel. Moore was ’n professor van Bybelse geskiedenis en behoort van beter te geweet het!


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Hierdie artikel is die Desember 1990/Januarie 1991-uitgawe van Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertaal.

  • Terug na indeks van heiliges

    Terug na chronologiese indeks

    Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


    Skryf vir my: Mike OettleMike Oettle