Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

’n Walliese apostel oor die see

deur Mike Oettle

KLAWERBLARE en slange is die embleme wat met Patrick, beskermheilige van Ierland, geassossieer word. Sy dag val op 17 Maart.

Nog die een nog die ander het enige vasgestelde verbintenis met die heilige nie: daar was nooit in Ierland enige slange nie, of so vertel die naturaliste vir ons, en daar is ook geen bewys daarvoor nie dat Patrick ooit die Drieëenheid verduidelik het deur middel van ’n klawerblaar wat hy gepluk het uit die grond waar hy gestaan het, sodat hy die twyfelinge van Laoghaire, hoë koning van Ierland, in die saal van Tara, die hoë koning se sentrale hof in Meath, kon gerusstel.

Nietemin toon kleurvensters steeds die ou heilige waar hy op slange staan, ter herinnering van die tyd toe hy na bewering vir hulle almal uit die Smarageiland gewerp het. Miskien is hulle simbolies van die booshede wat sy sending van die eiland verwyder het.

En selfs as dit nie waar is nie, het die verhaal van die klawerblaar steeds iets wat vir ons kan leer, want dit is wel ’n blaar wat beide drie en een is, soos die Here. Maar die die koning was wat die verduideliking gehoor het, kan niemand met sekerheid sê nie. Was Laoghaire hoë koning in Patrick se tyd, of het hy steeds gelewe? Waar was sy saal?

Al wat met sekerheid hieroor gesê kan word is dat Patrick homself in Antrim gebaseer het – die deel van Ierland wat die naaste lê aan die uitreikende vinger van Skotland wat die Mull of Kin­tyre genoem word – daar het die magtigste heerser van sy tyd sy hof gehad. En dan moet jy ook nie vergeet hoe lief is die Iere vir hulle nasionale blomembleem, die shamrock.

Patrick was nie die eerste sendeling in Ierland nie, ook nie die eerste biskop nie. Daardie eer het ene Palladius beval, wat in 432 nC deur pous Celestinus gestuur is om “eerste biskop aan die Iere wat in Christus glo” te wees. Maar hy was nie lank in Ierland voordat Patrick vir hom opgevolg het nie.

Patrick[1] is rondom 385 of 390 in Bannavem Taberniæ gebore, ’n Rooms-Britse dorp wat moontlik langs die Severnrivier gelê het. As Brit sou hy deur die Angel-Saksers Wallies[2] genoem gewees het. Sy vader, Cal­pur­nius, was ’n plaaslike raadslid en diaken, en sy oupa was ’n Katolieke priester.[3] In die ouderdom van 16 is hy deur slawehalers gevang en verkoop aan ’n eienaar in Hibernia (soos die Romeine Ierland genoem het, ’n land wat hulle nooit verower het nie)[4] – volgens oorlewering was dit op Slemish in Antrim. Daar is hy deur sy geloof in Christus krag gegee: ’n geloof wat hy in Brittanje nie sterk gehou het nie, maar waaraan hy nou in lange gebedsure vasgeklou het.

Nà ses jaar het hy ontsnap en per skip die eiland verlaat – volgens sommiges, was dit na die Vasteland, maar ander dat hy na ’n kort verdere gevangenskap na sy ouerhuis teruggekeer het. Pat­rick se Con­fes­sio (’n autobiografie) vertel van ’n droom waarin ’n man met die naam Victoricus vir hom ’n brief aflewer waarop die opskrif Vox Hiberniæ (Stem van die Iere) staan, waarin daar met hom gesmeek is om oor die Ierse See terug te vaar. Die ongeletterde Patrick het etlike jare sy vertrek uitgestel terwyl hy opgelei is en priester geword het. (Volgens Franse Katolieke was dit in Gallië, maar ander vertel dat dit in Brittanje was.) Kort na Palladius se dood is hy biskop gemaak en het per boot vertrek, maar was selfs toe twyfelagtig oor sy geskiktheid vir die taak.

Vreemd genoeg het Patrick die suid-ooste van Ierland, waar Palladius gewerk het, vermy, maar het feitlik elke ander landsdeel besoek. Hy het sy bisdom in Antrim opgerig, en later ander bisdomme in ander streke. “Vol vertroue in die Here het hy wyd en syd gereis, en het hy met onvermoeibare ywer gedoop en in die geloof gevestig. Op ’n diplomatiese wyse het hy geskenke gebring aan ’n koninkie hier en ’n regter daar, maar het hy van niemand enige gawes terugontvang. Minstens eenmaal is hy in boeie gevang. Met ’n ander geleentheid het hy met liriese patos ’n laaste vaarwel aan sy bekeerlinge toegespreek nadat hulle deur die soldate van Coroticus[5] gedood of gevange geneem is. Hy was sorgvuldig dat hy met die heidene regmatig gehandel het, maar het nietemin in aanhoudende vrees vir martelaardom geleef.”[6] Alhoewel dit soms van hom gesê is dat hy die biskopsamp uitgesoek het, staan een feit duidelik uit in al sy geskrifte (in swaar bewoorde Latyns): dat hy ’n man was van uiters eenvoudige geloof.

Patrick het nie die hele Ierland bekeer nie, maar met sy dood in 461 het hy dit ’n land gelaat waar die Christelike Geloof sterk bevestig was. Hy het ook vir die Geloof in die Britse eiland ’n vastrapplek gevestig, want die Angel-Saksers sou in hulle gebied die Kerk laat uitsterf. Nà Patrick sou manne eers die Geloof na Caledonia[7] dra en op die ou end terug na noord-Engeland.



[1] Die naam Patricius beteken een van edellike geboorte – die ou Romeinse aristokrasie is Patrisiërs genoem.

[2] Die Duitse invallers het die inboorlinge Wallies genoem, wat vreemdelinge beteken. Dit is blykbaar ontleen van “Galliër”; die Britte was Galliërs wie se voorouers die Engelse Kanaal oorgesteek het.

Aan die ander hand was die Iere Kelte wie se aankoms die Galliërs voorafgegaan het.

[3] Die Kerk van Rome het nie voor die Middeleeue daarop aangedring dag priesters selibaat moet wees nie.

[4] Die inwoners van Ierland, en die aanvallers wat hulle oor die see na Brittanje gestuur het, is deur die Romeine Scotti genoem, maar ook hierdie naam het hulle nie self gebruik nie.

[5] ’n Britse kaptein en slawehaler wat ’n aantal Ierse Christene gevange geneem het. Patrick se vaarweltoespraak is neergeskryf in ’n brief (die Epistola), wat saam met die Confessio behoue gebly het.

[6] Aangehaal uit die Encyclopædia Britannica (my vertaling).

[7] Caledonia was nog ’n naam wat slegs die Romeine gebruik het; hierdie was van toepassing op noord-Brittanje.

Nadat ’n aantal Gaëlies-sprekendes uit Antrim ’n koninkryk in Argyll gevestig het (hierdie naam beteken Land van die Gaële), het hulle die res van noord-Brittanje verower, wat toe Skotland genoem is.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Hierdie artikel is Maartmaand 1993 in Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertaal.

  • Terug na indeks van heiliges

    Terug na chronologiese indeks

    Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle